God
Definisie: Die Opperwese, wie se onderskeidende naam Jehovah is. Hebreeus gebruik uitdrukkings vir “God” wat die gedagte van krag, majesteit, waardigheid en voortreflikheid bevat. In teenstelling met die ware God is daar valse gode. Sommige van hulle het hulself godheid toegeëien; ander word verafgood deur diegene wat hulle dien.
Bestaan daar gegronde redes om aan God te glo?
Ps. 19:2: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.”
Ps. 104:24: “Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!”
Rom. 1:20: “Sy onsigbare dinge [“hoedanighede”, NW] kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word.”
Die tydskrif New Scientist het gesê: “Die lekebeskouing duur voort—dat wetenskaplikes godsdiens ‘verkeerd bewys’ het. Dit is ’n beskouing wat algemeen verwag dat wetenskaplikes ongelowiges moet wees; dat Darwin die laaste spykers in God se doodskis ingeslaan het; en dat ’n reeks wetenskaplike en tegnologiese nuwighede sedertdien die moontlikheid van ’n opstanding heeltemal uitgeskakel het. Dit is ’n beskouing wat van alle waarheid ontbloot is.”—26 Mei 1977, bl. 478.
’n Lid van die Franse Akademie vir Wetenskap het gesê: “Die orde in die natuur is nie deur die menslike verstand uitgedink of deur sekere waarnemingsvermoëns bewerkstellig nie. . . . Die bestaan van orde vooronderstel die bestaan van ’n intelligensie wat organiseer. Sodanige intelligensie kan net God s’n wees.”—Dieu existe? Oui (Parys, 1979), Christian Chabanis, wat Pierre-Paul Grassé aanhaal, bl. 94.
Wetenskaplikes het meer as 100 chemiese elemente geidentifiseer. Die atoomstruktuur van hierdie elemente toon ’n ingewikkelde wiskundige verhouding tussen die elemente. Die periodieke tabel dui op ooglopende ontwerp. Sulke verbasende ontwerp kan onmoontlik ’n ongeluk, die produk van toeval, wees.
Ter toeligting: Wanneer ons ’n kamera, ’n radio of ’n rekenaar sien, erken ons geredelik dat dit deur ’n intelligente ontwerper geskep is. Sou dit dan redelik wees om te sê dat verreweg ingewikkelder dinge—die oog, die oor en die mensebrein—nie by ’n intelligente Ontwerper ontstaan het nie?
Kyk ook bladsye 379-381, onder “Skepping”.
Bewys die bestaan van goddeloosheid en van lyding dat daar geen God is nie?
Beskou enkele voorbeelde: Beteken die feit dat messe al gebruik is om moord te pleeg dat niemand hulle ontwerp het nie? Is die gebruik van straalvliegtuie om bomme in oorlogstyd te werp bewys dat hulle geen ontwerper gehad het nie? Of is dit nie eerder die doel waarvoor hierdie dinge gebruik word wat vir die mensdom droefheid veroorsaak nie?
Is dit nie waar dat baie kwale die gevolg van die mens se slegte lewensgewoontes is en die feit dat hy die omgewing vir homself en ander bederf het nie? Is die oorloë wat deur mense gevoer word nie ’n groot oorsaak van menselyding nie? Is dit nie ook waar dat, hoewel miljoene weens ’n gebrek aan voedsel ly, daar meer as genoeg voedsel in ander lande is, sodat menslike hebsug een van die onderliggende probleme is nie? Al hierdie dinge is bewys, nie dat daar geen God is nie, maar dat mense hulle Godgegewe vermoëns en die aarde self jammerlik misbruik.
Gee God werklik om wat met ons gebeur?
Inderdaad! Beskou die getuienis: Die Bybel sê vir ons dat God die mens ’n volmaakte begin gegee het (Gen. 1:27, 31; Deut. 32:4). As die mens egter God se guns wou behou, moes hy aan sy Maker gehoorsaam wees (Gen. 2:16, 17). Indien die mens gehoorsaam was, sou hy voortgegaan het om volmaakte menselewe te geniet—geen siekte, geen lyding, geen dood nie. Die Skepper sou die mens van die nodige leiding voorsien het en sou Sy krag gebruik het om die mens teen enige ramp te beskerm. Maar die mens het God se leiding verwerp; hy het die weg van selfbeskikking ingeslaan. Deur iets te probeer doen waarvoor hy nooit ontwerp is nie, het hy homself onheil op die hals gehaal (Jer. 10:23; Pred. 8:9; Rom. 5:12). Maar deur die eeue heen het God geduldig diegene uitgekies wat uit liefde vir hom en sy weë bereid is om hom te dien. Hy bied hulle die geleentheid om al die seëninge te geniet waarvan mense se onvolmaaktheid en wanbestuur hulle beroof het (Openb. 21:3-5). God se voorsiening deur middel van sy Seun om mense van sonde en die dood te verlos, is ’n wonderlike blyk van God se groot liefde vir die mensdom (Joh. 3:16). God het ook ’n vasgestelde tyd bepaal wanneer hy die verderwers van die aarde gaan verderf en liefhebbers van geregtigheid in staat gaan stel om die lewe in ooreenstemming met sy oorspronklike voorneme te geniet.—Openb. 11:18; Ps. 37:10, 11; kyk ook onder “Lyding” en “Goddeloosheid”.
Is God ’n werklike persoon?
Hebr. 9:24: “Christus het . . . ingegaan . . . in die hemel self om nou voor die aangesig [“die persoon”, NW] van God vir ons te verskyn.”
Joh. 4:24, KNT: “God is ’n Gees.”
Joh. 7:28, NW: “Hy wat my gestuur het, bestaan werklik”, het Jesus gesê.
1 Kor. 15:44: “Daar is ’n natuurlike liggaam, en daar is ’n geestelike liggaam.”
Het God gevoelens soos die wat ons met lewende mense assosieer?
Joh. 16:27: “Die Vader self het julle lief, omdat julle My liefgehad en geglo het dat Ek van God uitgegaan het.”
Jes. 63:9: “In al hulle benoudheid was Hy benoud . . . deur sy liefde en deur sy medelyde het Hý hulle verlos.”
1 Tim. 1:11, NW: “Die gelukkige God.”
Het God ’n begin gehad?
Ps. 90:2: “Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God.”
Is dit redelik? Ons verstande kan dit nie ten volle begryp nie. Maar dit is nie ’n gegronde rede om dit te verwerp nie. Beskou enkele voorbeelde: (1) Tyd. Niemand kan na ’n sekere oomblik as die begin van tyd wys nie. En dit is ’n feit dat hoewel ons lewens eindig, tyd nie eindig nie. Ons verwerp nie die gedagte van tyd omdat daar aspekte daarvan is wat ons nie ten volle begryp nie. Ons reël eerder ons lewens daarvolgens. (2) Ruimte. Astronome vind geen begin of einde van die ruimte nie. Hoe dieper hulle die heelal binnedring, hoe meer is daar. Hulle verwerp nie wat die getuienis aantoon nie; baie sê dat die ruimte oneindig is. Dieselfde beginsel geld vir die bestaan van God.
Ander voorbeelde: (1) Astronome deel ons mee dat die hitte van die son by sy kern 15 000 000 grade Celsius is. Verwerp ons daardie gedagte omdat ons sulke intense hitte nie ten volle kan begryp nie? (2) Hulle sê vir ons dat ons Melkweg so groot is dat dit 100 000 jaar sal duur vir ’n ligbundel wat teen 300 000 kilometer per sekonde trek om daardeur te beweeg. Kan ons verstande werklik so ’n afstand begryp? Maar ons aanvaar dit omdat wetenskaplike getuienis dit steun.
Wat is redeliker—dat die heelal die produk van ’n lewende, intelligente Skepper is? of dat dit bloot per toeval sonder intelligente leiding uit ’n lewelose bron ontstaan het? Sommige persone aanvaar laasgenoemde beskouing, want andersins sou dit beteken dat hulle die bestaan moet erken van ’n Skepper wie se eienskappe hulle nie ten volle kan begryp nie. Maar dit is alom bekend dat wetenskaplikes nie die werking van die gene wat in lewende selle is en wat bepaal hoe hierdie selle gaan groei, ten volle verstaan nie. Hulle verstaan ook nie die werking van die mensebrein ten volle nie. Maar wie sou ontken dat hierdie dinge bestaan? Moet ons werklik verwag om alles te verstaan omtrent ’n Persoon wat so groot is dat hy die heelal, met al sy ingewikkelde ontwerpe en ontsaglike grootte, tot stand kon bring?
Is dit belangrik om God se naam te gebruik?
Rom. 10:13: “Elkeen wat die Naam van die Here [“Jehovah”, NW] aanroep, sal gered word.”
Eseg. 39:6, NW: “Mense sal moet weet dat ek Jehovah is.”
Jesus het vir sy Vader gesê: “Ek het u Naam aan hulle [sy ware volgelinge] bekend gemaak en sal dit bekend maak.”—Joh. 17:26.
Kyk ook bladsye 217, 218, onder “Jehovah”.
Maak dit saak watter God ons dien, solank ons net ’n godsdiens het?
1 Kor. 10:19, 20: “Wat sê ek dan? . . . Dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie.”
2 Kor. 4:4: “Die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.” (Hier word die Duiwel ’n “god” genoem. Kyk 1 Johannes 5:19; Openbaring 12:9.)
Matt. 7:22, 23: “Baie sal in daardie dag vir My [Jesus Christus] sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Selfs wanneer ’n persoon bely dat hy ’n Christen is, is dit geen waarborg dat hy die ware God op aanneemlike wyse dien nie.)
Kyk ook bladsy 172, onder “Godsdiens”.
Watter soort “God” is Jesus as Jehovah “die enigste ware God” is?
Jesus self het sy Vader “die enigste ware God” genoem (Joh. 17:3, NAV). Jehovah self het gesê: “Buiten My is daar geen God nie” (Jes. 44:6). Die apostel Paulus het aan ware Christene geskryf dat daar “maar een God, die Vader . . . is” (1 Kor. 8:5, 6). Jehovah is dus uniek; niemand anders deel sy posisie nie. Jehovah staan in skerp teenstelling met alle voorwerpe van aanbidding soos afgode, mense wat verafgood word en Satan. Hulle is almal valse gode.
Jesus word in die Skrif “’n god”, selfs “Sterke God”, genoem (Joh. 1:1, NW; Jes. 9:5). Maar dit sê nêrens dat hy, soos Jehovah, almagtig is nie (Gen. 17:1). Daar word gesê dat Jesus “die afskynsel is van [God se] heerlikheid”, maar die Vader is die Bron van daardie heerlikheid (Hebr. 1:3). Jesus probeer geensins om sy Vader se posisie te verkry nie. Hy het gesê: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien” (Luk. 4:8). Hy bestaan “in die gestalte van God”, en die Vader het beveel dat “in die Naam van Jesus sou buig elke knie”, maar dit word gedoen “tot heerlikheid van God die Vader”.—Filip. 2:5-11; kyk ook bladsye 232-236.
As iemand sê—
‘Ek glo nie aan God nie’
Jy kan antwoord: ‘Was dit nog altyd u beskouing? . . . Het u, voordat u daardie gevolgtrekking gemaak het, getuienis ondersoek wat u oortuigend gevind het?’ Dan kan jy byvoeg: ‘Dit is ’n onderwerp waarin ek baie belangstel en ek het al baie daaraan gedink. ’n Paar gedagtes wat ek baie nuttig gevind het, was: . . . (Kyk die tussenhofie “Bestaan daar gegronde redes om aan God te glo?” op bladsy 160, en ook bladsye 379-381, onder “Skepping”.)’
Of jy kan sê: ‘Bedoel u dat u nie glo dat daar ’n Skepper is nie, of het u soveel skynheiligheid in die kerke gesien dat u nie glo wat hulle leer nie?’ Indien dit laasgenoemde is, kan jy byvoeg: ‘Daar bestaan ’n groot verskil tussen die kerke van die Christendom en die ware Christelike godsdiens. Dit is waar dat die Christendom mense verdruk het, maar die Christelike godsdiens het nie. Die Christendom het oorlog gevoer, maar nie die Christelike godsdiens nie. Die Christendom het versuim om behoorlike morele leiding te gee, maar die Christelike godsdiens het nie. God se Woord, die Bybel, steun nie die Christendom nie. Inteendeel, dit veroordeel die Christendom.’
’n Ander moontlikheid: ‘Ek het interessante gesprekke gevoer met ander wat soos u dink. Sommige het gesê dat hulle eenvoudig nie geloof in God met al die lyding en goddeloosheid in die wêreld kon versoen nie. Is dit hoe u voel? (Indien dit die geval is, kan jy van die materiaal op bladsye 161, 162, onder die tussenhofie “Bewys die bestaan van goddeloosheid en van lyding dat daar geen God is nie?” gebruik.)’
‘Ek glo slegs wat ek kan sien, en ek het God nog nooit gesien nie’
Jy kan antwoord: ‘Daardie beskouing kom deesdae baie algemeen voor. En daar is ’n rede daarvoor. Ons lewe in ’n samelewing wat materiële besittings beklemtoon. Maar u is ’n persoon wat daarvan hou om realisties te wees, nie waar nie?’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Is daar dinge wat ons nie met ons oë kan sien nie, maar wat ons glo bestaan omdat daar gegronde redes is om dit te glo? Wat van die lug wat ons inasem? Ons voel dit wanneer daar ’n luggie trek. Ons voel hoe dit ons longe vul, al kan ons dit nie sien nie. Omdat ons die gevolge waarneem, bestaan daar goeie rede om daaraan te glo, nie waar nie?’ (2) ‘En ons kan nie swaartekrag sien nie. Maar wanneer ons iets laat val, sien ons dat swaartekrag in werking is. Ons sien ook nie reuke nie, maar ons neus neem dit waar. Ons kan nie klankgolwe sien nie, maar ons ore hoor hulle. Ons glo dus in dinge wat ons nie kan sien nie—mits daar goeie rede bestaan om dit te doen, nie waar nie?’ (3) ‘Wel, bestaan daar getuienis dat ’n onsigbare God werklik bestaan? (Gebruik materiaal op bladsye 160, 161, onder die tussenhofie “Bestaan daar gegronde redes om aan God te glo?”)’
‘Ek het my eie begrip van God’
Jy kan antwoord: ‘Ek is bly om te hoor dat u ’n persoon is wat al oor hierdie saak gedink het en dat u aan God glo. Mag ek vra: Wat is u begrip van God?’ Dan kan jy byvoeg: ‘Ek is seker u besef dat dit belangrik is om seker te maak dat wat ons glo, ooreenkom met wat God self sê. Mag ek vir u net een tersaaklike gedagte uit die Bybel toon? (Jes. 45:18).’