STUDIE 6
Regte beklemtoning
WANNEER jy hardop praat of lees, is dit nie net belangrik dat jy individuele woorde reg uitspreek nie, maar ook dat jy sleutelwoorde en gedagtedraende uitdrukkings op so ’n manier beklemtoon dat die gedagtes duidelik verstaanbaar is.
Regte beklemtoning behels meer as om net die klem op ’n paar of selfs baie woorde te laat val. Die regte woorde moet beklemtoon word. As die verkeerde woorde beklemtoon word, sal die betekenis van wat jy sê, dalk vir jou gehoor onduidelik wees, en hulle gedagtes sal moontlik dan begin dwaal. Al is die materiaal leersaam, sal ’n toespraak sonder die regte beklemtoning vir die gehoor minder motiverend wees.
Gedagtes kan op verskillende maniere beklemtoon word, en die maniere kan dikwels gekombineer word: deur harder te praat, deur groter intensiteit, deur stadig en op ’n afgemete manier te praat, deur voor of ná ’n stelling te pouseer (of albei) en deur gebare en gesigsuitdrukkings. In sommige tale kan gedagtes ook beklemtoon word deur op ’n laer of ’n hoër stemtoon te praat. Neem die materiaal en die omstandighede in ag om te bepaal wat die beste sal wees.
Wanneer jy besluit wat om te beklemtoon, kan jy die volgende in ag neem. (1) In enige sin word die woorde wat beklemtoon moet word, nie net deur die res van die sin bepaal nie, maar ook deur die konteks. (2) Beklemtoning kan gebruik word om die begin van ’n nuwe gedagte te laat uitstaan, hetsy dit ’n hoofpunt of net ’n gedagtewending is. Dit kan ook die aandag op die einde van ’n redenasie vestig. (3) ’n Spreker kan beklemtoning gebruik om te toon hoe hy oor ’n saak voel. (4) Regte beklemtoning kan ook gebruik word om die hoofpunte van ’n toespraak te laat uitstaan.
Om beklemtoning op hierdie maniere te kan gebruik, moet ’n spreker of ’n openbare leser sy materiaal goed verstaan en werklik wil hê dat sy gehoor dit moet inneem. Aangaande onderrigting wat in die dae van Esra gegee is, sê Nehemia 8:8: “Hulle het bly voorlees uit die boek, uit die wet van die ware God; dit is uitgelê en betekenis is daaraan gegee; en hulle het wat voorgelees is, deurentyd verstaanbaar gemaak.” Dit is duidelik dat diegene wat God se Wet by daardie geleentheid gelees en verduidelik het, die belangrikheid daarvan besef het om hulle gehoor te help om die betekenis van wat gelees is, te verstaan, te onthou en toe te pas.
Iets wat soms ’n probleem kan skep. Die meeste mense kan hulle gedagtes in gewone gesprekke duidelik uitdruk. Maar wanneer hulle materiaal lees wat deur iemand anders geskryf is, vind hulle dit soms moeilik om te bepaal watter woorde of uitdrukkings beklemtoon moet word. Die geheim is om die materiaal goed te verstaan. Dit vereis dat ’n mens wat geskryf is, sorgvuldig moet bestudeer. As jy gevra word om materiaal by ’n gemeentelike vergadering te lees, moet jy dus deeglik voorberei.
Party mense gebruik wat ’n mens “periodieke beklemtoning” kan noem. Hulle beklemtoon woorde met redelik reëlmatige tussenposes, ongeag of sulke beklemtoning betekenisvol is of nie. Ander beklemtoon funksiewoorde deur te veel klem op voorsetsels en voegwoorde te laat val. Wanneer beklemtoning nie tot die duidelikheid van die gedagtes bydra nie, word dit maklik ’n steurende aanwensel.
Party sprekers probeer gedagtes beklemtoon deur harder te praat, maar op ’n manier wat die gehoor laat voel dat daar met hulle geraas word. Dit lewer natuurlik selde die beste resultate. As die beklemtoning nie natuurlik is nie, kan die spreker die indruk skep dat hy uit die hoogte met sy gehoor praat. Hoeveel beter is dit tog om hulle eenvoudig op grond van liefde te bereik en hulle te help om te sien dat wat gesê word, skriftuurlik en redelik is!
Hoe om te verbeter. Iemand wat ’n probleem met beklemtoning het, is dikwels nie bewus daarvan nie. Iemand anders sal dit dalk onder sy aandag moet bring. As jy hierin moet verbeter, sal die skoolopsiener jou help. Vra ook gerus enigiemand anders wat ’n goeie spreker is, om jou te help. Vra hom om aandagtig te luister wanneer jy lees en praat en jou dan wenke te gee sodat jy kan verbeter.
Eerstens sal jou raadgewer moontlik voorstel dat jy ’n artikel in Die Wagtoring gebruik om te oefen. Hy sal ongetwyfeld vir jou sê om individuele sinne te ontleed om te bepaal watter woorde of frases beklemtoon moet word sodat dit maklik is om te verstaan. Hy sal jou dalk daaraan herinner om veral aandag te skenk aan sekere woorde wat skuins gedruk is. Onthou dat woorde in ’n sin saamwerk. Dikwels moet ’n groep woorde beklemtoon word, nie net een woord nie. In sommige tale word studente aangespoor om noukeuriger aandag te skenk aan hoe skryftekens beklemtoning aandui.
Om jou nou verder te leer wat beklemtoon moet word, sal jou raadgewer jou dalk aanspoor om na meer as die sin te kyk. Wat is die hoofgedagte wat in die hele paragraaf ontwikkel word? Hoe moet dit beïnvloed wat jy in die individuele sinne beklemtoon? Kyk na die titel van die artikel en na die vetgedrukte onderhofies waaronder jou materiaal verskyn. Hoe beïnvloed dit watter uitdrukkings jy gaan beklemtoon? Jy moet al hierdie faktore in ag neem. Maar wees versigtig om nie te veel woorde te beklemtoon nie.
Hetsy jy praat of lees, jou raadgewer sal jou moontlik ook aanspoor om beklemtoning te gebruik na aanleiding van die opeenvolging van gedagtes. Jy moet weet waar die gedagte eindig of waar een belangrike gedagte na ’n ander oorgaan. Die gehoor sal dit waardeer as jou aanbieding hulle van hierdie plekke bewus maak. Dit kan gedoen word deur die klem te laat val op woorde soos in die eerste plek, vervolgens, laastens, gevolglik en dit is dus redelik.
Jou raadgewer sal jou aandag ook vestig op gedagtes wat jy met groter gevoel moet oordra. Om dit te doen, kan jy woorde beklemtoon soos baie, heeltemal, hoegenaamd nie, ondenkbaar, belangrik en altyd. As jy dit doen, kan jy jou gehoor se beskouing oor wat jy sê, beïnvloed. Meer sal hieroor in Studie 11, “Hartlikheid en gevoel”, gesê word.
Om jou gebruik van beklemtoning te verbeter, sal jy ook aangespoor word om presies te weet watter hoofpunte jy wil hê jou gehoor moet onthou. Dit sal verder bespreek word in verband met openbare voorlesing in Studie 7, “Hoofgedagtes beklemtoon”, en in verband met toesprake in Studie 37, “Hoofpunte laat uitstaan”.
As jy in jou veldbediening wil verbeter, moet jy noukeurig aandag skenk aan hoe jy tekste lees. Maak ’n gewoonte daarvan om jou af te vra: ‘Waarom lees ek hierdie teks?’ Vir ’n onderrigter is dit nie altyd voldoende om die woorde bloot reg uit te spreek nie. Dalk is dit nie eers genoeg om die teks met gevoel te lees nie. As jy iemand se vraag beantwoord of vir hom ’n basiese waarheid leer, is dit goed om die woorde of uitdrukkings in die teks te beklemtoon wat die punt onder bespreking ondersteun. Anders sal die persoon vir wie jy lees, dalk die punt mis.
Aangesien beklemtoning behels dat ’n mens groter klem op sekere woorde en frases laat val, sal ’n onervare spreker moontlik geneig wees om daardie woorde en frases te sterk te beklemtoon. Dan klink dit amper soos wanneer iemand begin leer om ’n musiekinstrument te speel. Maar met meer oefening sal die individuele “note” eenvoudig ’n deel van die pragtige en gevoelvolle “musiek” word.
Nadat jy sommige van die basiese beginsels geleer het, sal jy in staat wees om ervare sprekers waar te neem en by hulle te leer. Jy sal gou agterkom wat deur verskillende grade van beklemtoning bereik kan word. En jy sal die waarde daarvan besef om gedagtes op verskillende maniere te beklemtoon sodat die betekenis daarvan duidelik is. As jy leer om regte beklemtoning te gebruik, sal dit jou ’n baie beter leser en spreker maak.
Moenie net die basiese beginsels van beklemtoning leer en dan daarmee tevrede wees nie. Om ’n bekwame spreker te word, moet jy daaraan bly werk totdat jy beklemtoning onder die knie het en dit kan gebruik sodat dit vir ander natuurlik klink.