Die Gedenkmaalseisoen—’n Tyd om meer te doen
1. Watter uitwerking het “seisoenfeeste” op godvresende Israeliete gehad?
1 Op vasgestelde tye gedurende die jaar het die eertydse Israeliete “seisoenfeeste van Jehovah” gehou (Lev. 23:2). Die feit dat hulle tyd ingeruim het om oor die goedheid van hulle God te peins, het hulle groot vreugde verskaf en hulle beweeg om ywerig te wees vir rein aanbidding.—2 Kron. 30:21–31:2.
2, 3. Waarom is dit gepas dat ons tydens die Gedenkmaalseisoen meer doen op geestelike gebied, en wanneer sal ons die Gedenkmaal hou?
2 In hedendaagse tye neem ons vreugdevolle teokratiese bedrywigheid elke jaar tydens die Gedenkmaalseisoen toe. Gedurende hierdie tyd dink ons diep na oor die kosbare gawe wat Jehovah ten behoewe van ons gegee het—sy enigverwekte Seun (Joh. 3:16; 1 Pet 1:18, 19). Wanneer ons peins oor die liefde wat God en sy Seun betoon het, kan ons nie anders as om Jehovah te loof en ons in te span om God se wil te doen nie.—2 Kor. 5:14, 15.
3 Vanjaar sal die Here se Aandmaal op Donderdag 24 Maart, ná sononder, gehou word. Hoe kan ons tydens Maart, April en Mei meer in die bediening doen?
4, 5. (a) Wat het party gehelp om meer mense met die goeie nuus te bereik? (b) Wat het jy in julle omgewing doeltreffend gevind?
4 Bereik meer mense: Soek na maniere om soveel mense moontlik te bereik wanneer jy velddiens doen. Kan jy reël om van deur tot deur te werk wanneer meer mense by die huis is, soos in die laatmiddag of in die aand? As party in julle boekstudiegroep graag voor die studie velddiens wil doen, kan die boekstudieopsiener reël om ’n kort velddiensvergadering te hou sodat julle in nabygeleë gebied kan werk.
5 Nog ’n manier waarop baie mense bereik kan word, is deur getuieniswerk in openbare plekke te doen. ’n Suster in Japan wou hulppionierdiens doen al het sy ’n voltydse werk gehad. ’n Ouer man het voorgestel dat sy elke dag voordat sy werk toe gaan, naby ’n treinstasie straatgetuieniswerk doen. Nadat sy haar skugterheid en die bespotting van party pendelaars oorkom het, het sy ’n tydskrifroete van sowat 40 mense opgebou, wat pendelaars, stasiewerkers en winkeleienaars daar naby ingesluit het. Sy het gemiddeld 235 tydskrifte per maand versprei. Deur net ’n paar minute per dag skriftuurlike gedagtes met mense te bespreek, kon sy ses Bybelstudies begin.
6. Hoe kan jongmense meer doen op geestelike gebied?
6 Geleenthede om te getuig: Baie verkondigers wat nog op skool is, het gedurende die jaar skoolvakansies. Dit kan ’n geleë tyd wees om hulppionierdiens te doen. Jong Christene kan ook meer doen deur by die skool te getuig. Jy sal dalk verbaas wees oor hoe nuuskierig jou klasmaats moontlik oor jou opvattings is. Jy kan gerus tydens klasbesprekings of in opstelle ’n getuienis gee. Ander het dit met behulp van ons video’s gedoen. Party het Bybelstudies met klasmaats begin en hulle gehelp om tot toewyding en doop te vorder. Dit is uitstekende maniere om “die naam van Jehovah [te] loof”.—Ps. 148:12, 13.
7. (a) Hoe het ’n broer geleenthede benut om vir ander te getuig? (b) Het jy al ’n soortgelyke ondervinding gehad?
7 Probeer om oor ons wonderlike God en sy merkwaardige beloftes te praat wanneer jy van dag tot dag met mense in aanraking kom. ’n Broer wat elke dag met dieselfde treine ry, getuig vir die ander pendelaars wanneer dit gepas is. Hy het byvoorbeeld elke dag sowat vyf minute lank vir ’n jong man getuig terwyl hy op een stasie vir sy volgende trein gewag het. Die jong man en sy kollega het gevolglik tot ’n Bybelstudie ingestem. Die Bybelstudie is op die trein gehou terwyl hulle gery het. ’n Ruk later het ’n bejaarde vrou wat na hulle gesprekke geluister het, die broer genader en ’n Bybelstudie gevra. Sy geniet ook haar studie op die dae wanneer sy trein ry. So het die broer al met tien verskillende mense op die trein gestudeer.
8. Watter aspek van die bediening kan diegene wat deur ouderdom of gesondheidsprobleme beperk word, in staat stel om meer in die bediening te doen?
8 Sê nou ouderdom of gesondheidsprobleme beperk dit wat jy kan doen? Daar is nog steeds maniere waarop jy meer lof aan Jehovah kan bring. Het jy al telefoongetuieniswerk probeer? As jy onseker is hoe om dit te doen, kan jy vir jou boekstudieopsiener sê. Hy kan dalk reël dat verkondigers wat hierdie metode gebruik, saam met jou werk. As julle saamwerk, kan julle by mekaar leer en mekaar help om ’n doeltreffende getuienis te gee. Daar is goeie wenke vir telefoongetuieniswerk in Ons Koninkryksbediening vir Februarie 2001, bladsye 5-6.
9. Hoe kan ons Bybelstudente help om aan die vereistes te voldoen om saam met die gemeente aan die openbare bediening deel te neem?
9 Wanneer nuwelinge die Gedenkmaal bywoon, kan dit hulle aanspoor om meer lof aan Jehovah te bring. Jy kan hulle help om enige vrees om aan die formele predikingswerk deel te neem, te oorkom deur aanmoedigende velddiensondervindinge te vertel en hulle voortdurend op te lei om Bybelleerstellings te verduidelik en hulle geloof te verdedig (1 Pet. 3:15). As ’n Bybelstudent die begeerte uitspreek om die goeie nuus te begin verkondig, moet jy met die presiderende opsiener praat. Hy sal ’n vergadering met die student reël om vas te stel of hy aan die vereistes voldoen om saam met die gemeente aan die openbare bediening deel te neem. Dit maak Jehovah se hart beslis bly om te sien dat nuwelinge hulle aan sy kant van die universele geskil skaar!—Spr. 27:11.
10. (a) Hoe kan ’n goeie rooster ons help om hulppionierdiens te doen? (b) Kon jy reël om verlede jaar tydens die Gedenkmaalseisoen hulppionierdiens te doen? Hoe het jy dit gedoen?
10 Kan jy hulppionierdiens doen? Die vereiste van 50 uur vir hulppioniers moet ernstig opgeneem word (Matt. 5:37). Dit beteken dat jy sal moet reël om gemiddeld 12 uur per week in die velddiens deur te bring. Pas een van die voorgestelde hulppionierroosters op bladsy 5 by jou omstandighede? Kan jy andersins ’n rooster uitwerk wat dit vir jou moontlik sal maak om in Maart, April of Mei hulppionierdiens te doen? Vra Jehovah om jou pogings te seën om meer in die bediening te doen.—Spr. 16:3.
11. Hoe kan die ouer manne en bedieningsknegte diegene ondersteun wat as hulppioniers sal dien?
11 Die ouer manne en bedieningsknegte sal jou pogings om tydens hierdie Gedenkmaalseisoen groter lof aan Jehovah te bring, ten volle ondersteun. Baie van hulle sal waarskynlik ook hulppionierdiens doen. Die ouer manne sal bykomende velddiensvergaderinge reël as dit nodig is, soos in die laatmiddag, op weeksaande en oor naweke. Om te bepaal waar en wanneer hierdie vergaderinge gehou sal word en wie beskikbaar sal wees om die leiding te neem, kan die ouer manne met diegene praat wat vaste planne het om pionierdiens te doen of wat dit oorweeg. Die ouer manne sal sake so probeer reël dat daar ander verkondigers sal wees om mee saam te werk op die dae en tye wat jy vir die bediening opsygesit het. Op dié manier kan planne stewig bevestig word, en jy kan talle goeie dinge bereik.—Spr. 20:18.
12. Wat beweeg ons om Jehovah te alle tye te loof?
12 Doen jou uiterste bes: As jou omstandighede jou nie toelaat om hulppionierdiens te doen nie, moet jy onthou dat Jehovah ons pogings en opofferings aanvaar ‘volgens wat ons het, nie volgens wat ons nie het nie’ (2 Kor. 8:12). Ons het soveel om Jehovah voor te dank. Dawid het tereg geskryf: “Ek sal Jehovah te alle tye loof; sy lof sal voortdurend in my mond wees” (Ps. 34:1). Mag ons vasbeslote wees om dit tydens hierdie Gedenkmaalseisoen te doen.
[Venster op bladsy 3]
Hoe kan jy meer doen?
◼ Getuig wanneer mense by die huis is
◼ Getuig in openbare plekke
◼ Getuig by die werk of skool
◼ Doen telefoongetuieniswerk
◼ Dien as ’n hulppionier
[Tabel op bladsy 5]
Voorgestelde hulppionierroosters—Rooster om 12 uur per week velddiens te doen
Oggende—Maandag tot Saterdag
Enige dag kan met Sondag vervang word.
Dag Tyd Ure
Maandag Oggend 2
Dinsdag Oggend 2
Woensdag Oggend 2
Donderdag Oggend 2
Vrydag Oggend 2
Saterdag Oggend 2
Aantal ure: 12
Twee volle dae
Enige twee dae van die week kan gekies word. (Na gelang van die dae wat gekies word, is die totaal van hierdie rooster dalk net 48 uur vir die maand.)
Dag Tyd Ure
Woensdag Volle dag 6
Saterdag Volle dag 6
Aantal ure: 12
Twee aande en die naweek
Enige twee weeksaande kan gekies word.
Dag Tyd Ure
Maandag Aand 1 1⁄2
Woensdag Aand 1 1⁄2
Saterdag Volle dag 6
Sondag Halfdag 3
Aantal ure: 12
Drie middae en Saterdag
Enige dag kan met Sondag vervang word.
Dag Tyd Ure
Maandag Middag 2
Woensdag Middag 2
Vrydag Middag 2
Saterdag Volle dag 6
Aantal ure: 12
My persoonlike velddiensrooster
Besluit hoeveel uur jy per dag gaan werk.
Dag Tyd Ure
Maandag
Dinsdag
Woensdag
Donderdag
Vrydag
Saterdag
Sondag
Aantal ure: 12