Aanbid Jehovah as ’n gesin
1 In Bybeltye het gesinslede baie dinge saam gedoen. Hulle het as ’n gesin daaglikse take verrig en, bowenal, Jehovah aanbid (Lev. 10:12-14; Deut. 31:12). Vandag doen gesinslede op baie plekke bitter min dinge saam. Maar Christene besef die waarde daarvan om dinge as ’n gesin te doen, veral wanneer dit by aanbidding kom. Dit verskaf die Insteller van die gesinsreëling ongetwyfeld groot vreugde om te sien dat gesinne hom in eenheid aanbid!
2 Preek saam: Wanneer ’n gesin saam werk om die goeie nuus te verkondig, versterk dit die gesinsband. Daarom sal ’n ouer man nie net saam met ander in die gemeente aan die predikingswerk deelneem nie, maar ook gereeld saam met sy vrou en kinders werk (1 Tim. 3:4, 5). Al het reisende opsieners ’n vol program, sit selfs hulle tyd opsy om saam met hulle vrou in die bediening te werk.
3 Ouers wat saam met hulle kinders preek, kan hulle help om vooruitgang te maak as evangeliedienaars. Kinders sal nie net sien dat die bediening hulle ouers vreugde en bevrediging verskaf nie, maar ook hoe hulle ouers uiting gee aan hulle liefde vir Jehovah en vir hulle medemens (Deut. 6:5-7). Dit word nie minder belangrik wanneer die kinders in die huis ouer word nie. ’n Egpaar met drie seuns tussen die ouderdomme van 15 en 21 gaan nog steeds gereeld saam met hulle in die bediening uit. Die vader het gesê: “Ons leer hulle elke keer iets. En ons maak seker dat dit ’n aangename, aanmoedigende ondervinding is.”
4 Berei saam voor: Gesinne het gevind dat dit voordelig is om saam vir die bediening voor te berei. Kinders geniet dikwels oefensessies waarin gesinslede beurte maak om die aanbieding te doen of die huisbewoner te wees. Party gebruik ’n paar minute aan die einde van die gesinstudie hiervoor.
5 Ons ervaar meer vreugde wanneer ons aan belangrike en bevredigende bedrywighede deelneem saam met dié vir wie ons lief is. Hoe genotvol is dit tog vir gesinslede om saam in die veldbediening van huis tot huis te werk sowel as om herbesoeke te doen en Bybelstudies te hou! Wanneer jy Jehovah so saam met jou gesin aanbid, kan jy met vreugde sê: “Wat my en my huis betref, ons sal Jehovah dien.”—Jos. 24:15.