Is jy gereed vir informele getuieniswerk?
1. Watter voorbeeld toon dat informele getuieniswerk doeltreffend kan wees?
1 Informele getuieniswerk kan baie doeltreffend wees. Daar is baie voorbeelde in die Bybel van informele getuieniswerk wat goeie resultate opgelewer het (Joh. 4:7-15). Wat kan ons doen om vir hierdie soort getuieniswerk voor te berei?
2. Hoe kan ons kleredrag en persoonsversorging ons help om gereed te wees om te getuig?
2 Kleredrag en persoonsversorging: As ons te alle tye behoorlike aandag aan ons kleredrag en persoonsversorging gee, sal ons vryelik met ander oor ons geloof kan gesels (1 Tim. 2:9, 10). As ons ongemaklik oor ons voorkoms voel, sal dit ons heel waarskynlik verhinder om te getuig. In teenstelling hiermee kan ons netjiese, skoon voorkoms op sigself ander se nuuskierigheid prikkel. ’n Netjies geklede Getuie-egpaar wat op reis was, het byvoorbeeld langs ’n Moslem-man gesit. Hy het na hulle voorkoms gekyk en gevra of hulle Christene is. Dit het tot ’n drie uur lange Bybelbespreking gelei.
3. Hoe het jy al, in navolging van Jesus se voorbeeld, ’n gesprek begin?
3 Hoe om gesprekke te begin: Toe Jesus die Samaritaanse vrou by Jakob se fontein teëgekom het, het hy die gesprek begin deur haar eenvoudig vir ’n bietjie water te vra. Ons kan ’n gesprek op ’n soortgelyke manier begin deur kortliks ’n stelling te maak of ’n eenvoudige vraag te vra. Hoewel ons soms dalk huiwerig sal wees, kan ons ‘die vrymoedigheid bymekaarskraap’ om ’n gesprek te begin deur op Jehovah se hulp staat te maak.—1 Tess. 2:2.
4. Hoe kan ons ons voorberei om informeel te getuig?
4 Skep geleenthede: Baie verkondigers het maniere gevind om informeel te getuig. Kyk na jou omstandighede en dink aan die mense wat jy waarskynlik van dag tot dag sal teëkom. Dra die gepaste lektuur en ’n klein Bybel saam met jou. Wees oplettend en toon belangstelling in die mense om jou. Wanneer jy dink aan die geleenthede wat jy dalk deur die loop van die dag sal hê, sal jy heel moontlik gereed wees om ’n goeie getuienis te lewer.—Fil. 1:12-14; 1 Pet. 3:15.
5. Waarom moet informele getuieniswerk nie aan die toeval oorgelaat word nie?
5 Ons het twee goeie redes om geleenthede aan te gryp om informeel te getuig—liefde vir God en liefde vir ons naaste (Matt. 22:37-39). Met die oog op die dringendheid van die predikingswerk kan ons nie informele getuieniswerk aan blote toeval oorlaat nie. Ons moet gereed wees om elke gepaste geleentheid te benut om die goeie nuus van die Koninkryk aan ander mee te deel terwyl daar nog tyd is.—Rom. 10:13, 14; 2 Tim. 4:2.