’n Goeie manier waarop ons Koninkryksliedere kan geniet
God se knegte beskou musiek as ’n pragtige gawe van Jehovah (Jak. 1:17). Baie gemeentes geniet dit om Koninkryksliedere saggies voor en ná hulle gemeentelike vergaderinge te speel. Teokratiese musiek is kalmerend en laat ons welkom voel by die vergaderinge. Dit help om ons in die regte stemming vir aanbidding te bring. En wanneer die nuwer liedere in ons liedereboek gespeel word, help dit ons om met die wysies vertroud te raak en om die liedere reg te sing. As sulke musiek ná die vergadering gespeel word, handhaaf dit ’n opbouende atmosfeer waarin almal aanmoedigende assosiasie kan geniet. Liggame van ouer manne moet dus die nodige reëlings tref om musiek uit Sing to Jehovah—Piano Accompaniment voor en ná die vergadering te speel. Hulle moet sorg dat die musiek nie te hard gespeel word nie en dat almal nog steeds kan gesels.