STUDIE 41
Verstaanbaar vir ander
MOENIE net inligting oordra wanneer jy praat nie. Probeer om wat jy sê, verstaanbaar te maak vir dié wat na jou luister. Dit kan jou help om doeltreffend te kommunikeer, hetsy jy met die gemeente praat of met mense wat nie Getuies is nie.
Verstaanbare spraak behels baie dinge. Sommige daarvan word in Studie 26, “Logiese ontwikkeling van materiaal”, gedek. Ander word behandel in Studie 30, “Belangstelling in die ander persoon getoon”. In hierdie studie gaan ons ’n paar bykomende punte bespreek.
Eenvoudige woorde, eenvoudige styl. Eenvoudige woorde en kort sinne is kragtige kommunikasiemiddele. Jesus se Bergpredikasie is ’n uitstekende voorbeeld van ’n toespraak wat alle mense kan verstaan, ongeag wie hulle is of waar hulle woon. Die begrippe is dalk nuut vir hulle. Hulle kan nogtans verstaan wat Jesus gesê het omdat hy sake bespreek het wat vir ons almal van belang is: hoe om gelukkig te wees, hoe om verhoudinge met ander te verbeter, hoe om sorge die hoof te bied en hoe om sin in die lewe te vind. En hy het sy gedagtes in gewone taal uitgedruk (Matt., hfst. 5-7). Die Bybel bevat natuurlik baie voorbeelde van sinne waarvan die lengte en konstruksie verskil. Jou hoofdoel moet wees om gedagtes duidelik en verstaanbaar uit te druk.
Selfs wanneer jy diep materiaal bespreek, kan ’n eenvoudige styl dit makliker maak om te verstaan. Hoe kan ’n mens jou bespreking eenvoudig hou? Moenie jou gehoor met onnodige besonderhede oorlaai nie. Rangskik jou materiaal sodat dit jou hoofpunte aanvul. Kies jou sleuteltekste sorgvuldig. Lees en bespreek tekste eerder as om haastig van die een na die ander te gaan. Moenie ’n goeie gedagte onder ’n klomp woorde toegooi nie.
Pas hierdie selfde beginsels toe wanneer jy ’n tuisbybelstudie hou. Moenie al die besonderhede probeer verduidelik nie. Help die student om die hoofgedagtes duidelik te verstaan. Hy kan later, tydens sy persoonlike studie en by gemeentelike vergaderinge, die dieper besonderhede leer.
Goeie voorbereiding is nodig om materiaal op ’n eenvoudige manier te kan aanbied. Jy moet jou onderwerp goed verstaan voordat jy dit vir ander verstaanbaar kan maak. Wanneer jy iets goed verstaan, kan jy redes gee waarom dit so is. Jy kan dit ook in jou eie woorde verduidelik.
Verduidelik onbekende uitdrukkings. Om iets verstaanbaar te maak, verg soms dat jy die betekenis van uitdrukkings verduidelik wat jou gehoor nie ken nie. Moenie jou gehoor se kennis oorskat nie, maar moet ook nie hulle intelligensie onderskat nie. Weens jou studie van die Bybel sal jy dalk uitdrukkings gebruik wat vir ander mense vreemd klink. Mense wat nie met Jehovah se Getuies omgaan nie, sal nie sonder ’n verduideliking verstaan dat “oorblyfsel”, “getroue en verstandige slaaf”, “ander skape” en “groot menigte” spesifieke groepe mense identifiseer nie (Rom. 11:5; Matt. 24:45; Joh. 10:16; Op. 7:9). As iemand nie vertroud is met die organisasie van Jehovah se Getuies nie, sal hy waarskynlik ook nie verstaan wat woorde soos “verkondiger”, “pionier”, “kringopsiener” en “Gedenkmaal” beteken nie.
Party Bybelse uitdrukkings wat vryelik gebruik word, selfs deur mense wat nie Getuies is nie, moet dalk verduidelik word. Vir baie mense beteken “Armageddon” ’n kernslagting. Hulle assosieer “God se Koninkryk” moontlik met ’n innerlike toestand of met die hemel, maar nie met ’n regering nie. ’n Verwysing na die “siel” kan mense laat dink aan ’n sogenaamd geestelike deel van mense wat ná die dood van die liggaam voortleef. Volgens wat miljoene mense geleer is, is die “heilige gees” ’n persoon, ’n deel van die Drie-eenheid. Omdat soveel mense die Bybel se sedewette verwerp het, moet hulle moontlik selfs gehelp word om te verstaan wat die Bybel bedoel wanneer dit sê: “Vlug vir die hoerery.”—1 Kor. 6:18.
Tensy mense die Bybel gereeld lees, sal hulle moontlik die punt mis as jy eenvoudig sê: “Paulus het geskryf . . . ” of “Lukas het gesê . . . ” Hulle het miskien vriende of bure met daardie name. Jy sal dalk ter verduideliking moet bysê dat die persoon ’n Christenapostel of ’n Bybelskrywer was.
Vandag het gehore dikwels hulp nodig om tekste te verstaan wat mates of gebruike van antieke tye noem. Byvoorbeeld, die verklaring dat Noag se ark 300 el lank, 50 el breed en 30 el hoog was, beteken dalk nie veel vir hulle nie (Gen. 6:15). Maar as jy daardie selfde mates in terme van bekende plaaslike landmerke beskryf, sal jou gehoor hulle onmiddellik die grootte van die ark kan voorstel.
Gee die nodige verduideliking. As jy die betekenis van ’n saak vir jou gehoor wil opklaar, is meer as die korrekte definisie van ’n sekere woord dalk nodig. In die dae van Esra, in Jerusalem, is verduidelikings gegee wanneer die Wet gelees is. Om die volk te help om die betekenis daarvan te verstaan, het die Leviete die Wet verduidelik sowel as toegepas op die omstandighede waarmee die volk destyds te kampe gehad het (Neh. 8:8, 12). Jy moet eweneens tyd neem om tekste wat jy lees, te verduidelik en toe te pas.
Ná Jesus se dood en opstanding het hy aan sy dissipels verduidelik dat die gebeure wat daar plaasgevind het, ter vervulling van die Skrif was. Hy het ook hulle verantwoordelikheid as getuies van daardie dinge beklemtoon (Luk. 24:44-48). Wanneer jy mense help om te sien watter uitwerking die dinge wat hulle geleer is, op hulle lewe moet hê, sal hulle makliker verstaan wat dit werklik beteken.
Watter rol die hart speel. Selfs met goeie verduidelikings is daar natuurlik ander faktore wat kan bepaal of die persoon verstaan of nie. Wanneer iemand se hart onontvanklik is, verhinder dit hom om die sin te begryp van wat gesê word (Matt. 13:13-15). Vir mense wat vasbeslote is om sake uit ’n suiwer fisiese oogpunt te beskou, is geestelike sake dwaas (1 Kor. 2:14). Wanneer iemand so ’n gees openbaar, is dit dalk beter om eenvoudig die bespreking te beëindig—ten minste vir eers.
Maar in party gevalle is die hart onontvanklik weens moeilike omstandighede in die lewe. As so iemand ’n ruk lank die geleentheid gegee word om Bybelwaarheid te hoor, kan sy hart ontvanklik word. Toe Jesus vir sy apostels gesê het dat hy gegesel en doodgemaak sou word, het hulle dit nie verstaan nie. Waarom nie? Dit was nie wat hulle verwag het nie en beslis nie wat hulle wou hê nie! (Luk. 18:31-34). Maar mettertyd het 11 van daardie apostels wel verstaan, en hulle het dit getoon deur op te tree in ooreenstemming met wat Jesus hulle geleer het.
Uitwerking van ’n goeie voorbeeld. Mense word nie net deur ons woorde gehelp om te verstaan nie, maar ook deur ons gedrag. Wat hulle eerste besoek aan ’n Koninkryksaal betref, sê baie mense dat hulle die liefde onthou wat waarneembaar was, nie wat gesê is nie. Die geluk wat ons uitstraal, het baie huisbewoners eweneens gehelp om ontvanklik te word vir Bybelwaarheid. Nadat party gesien het hoe Jehovah se volk liefderyke goedhartigheid teenoor mekaar bewys en liefdevolle bedagsaamheid vir ander toon wanneer hulle voor moeilikhede te staan kom, het dit hulle laat besef dat die Getuies die ware godsdiens beoefen. Terwyl jy mense probeer help om Bybelwaarheid te verstaan, moet jy dus aandag skenk aan hoe jy dit verduidelik asook aan die voorbeeld wat jy stel.