Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 11/1 bl. 24-28
  • “God het ’n blymoedige gewer lief”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “God het ’n blymoedige gewer lief”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Insameling vir die behoeftiges
  • ’n Beroep op hulle vrygewigheid
  • Blymoedige gewers van vandag
  • Oorvloedige vrygewigheid bring vreugde mee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • “Eer Jehovah met jou waardevolle dinge”—Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Hoe party tot die Koninkrykspredikingswerk bydra
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Waarom moet ons vir Jehovah gee?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 11/1 bl. 24-28

“God het ’n blymoedige gewer lief”

JEHOVAH is die verpersoonliking van vrygewigheid. Trouens, die Bybel sê dat hy die Gewer van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk” is (Jakobus 1:17). Beskou byvoorbeeld die dinge wat God geskep het. Hy het voedsel gemaak wat heerlik is, nie smaakloos nie; blomme wat kleurryk is, nie vaal nie; sonsondergange wat skouspelagtig is, nie kleurloos nie. Ja, elke faset van Jehovah se skepping lewer bewys van sy liefde en vrygewigheid (Psalm 19:2, 3; 139:14). Daarbenewens is Jehovah ’n blymoedige Gewer. Hy geniet dit om aan sy knegte goed te doen.—Psalm 84:12; 149:4.

Die Israeliete is beveel om God se vrygewigheid in hulle handelinge met mekaar te weerspieël. “Jy [moet] jou hart nie verhard en jou hand nie toehou vir jou arm broer nie”, het Moses vir hulle gesê. “Jy moet aan hom gewillig gee, en jou hart moet nie bedroef wees [nie]” (Deuteronomium 15:7, 10). Aangesien die Israeliete uit die hart moes gee, moes hulle behae skep in dade van vrygewigheid.

Christene het soortgelyke vermanings ontvang. Trouens, Jesus het gesê dat ‘dit geluk verskaf om te gee’ (Handelinge 20:35). Jesus se dissipels het ’n goeie voorbeeld gestel deur blymoedig te gee. Die Bybel sê byvoorbeeld dat diegene wat in Jerusalem gelowiges geword het “hulle besittings en eiendomme verkoop en die opbrengs onder almal verdeel [het], volgens elkeen se behoefte”.—Handelinge 2:44, 45.

Maar hierdie vrygewige Judeërs het later ook armoedig geword. Die Bybel sê nie presies hoe dit met hulle gebeur het nie. Party geleerdes sê dat die hongersnood waarna daar in Handelinge 11:28, 29 verwys word, moontlik die oorsaak daarvan was. In alle geval, die Judese Christene was in ’n benarde posisie, en Paulus wou seker maak dat daar na hulle behoeftes omgesien word. Hoe sou hy dit doen?

’n Insameling vir die behoeftiges

Paulus het selfs gemeentes uit Masedonië se hulp ingeroep, en hy het gereël dat ’n insameling ten behoewe van die armoedige Christene in Judea gehou word. Paulus het aan die Korintiërs geskryf: “Julle [moet] ook so doen soos ek aan die gemeentes van Galasië bevel gegee het. Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle by sy eie huis iets opsy sit en opspaar na gelang van sy voorspoed.”a—1 Korintiërs 16:1, 2.

Dit was Paulus se voorneme dat hierdie geld gou na die broers in Jerusalem gestuur word, maar die Korintiërs het stadig op Paulus se instruksies gereageer. Waarom? Het hulle onverskillig gestaan teenoor die benarde posisie van hulle Judese broers? Nee, want Paulus het geweet dat die Korintiërs “in alles oorvloedig is, in geloof en woord en kennis en alle erns” (2 Korintiërs 8:7). Hulle was waarskynlik baie besig om aandag te skenk aan ander uiters belangrike sake wat Paulus in sy eerste brief aan hulle aangespreek het. Maar nou was die situasie in Jerusalem dringend. Daarom het Paulus die kwessie in sy tweede brief aan die Korintiërs aangespreek.

’n Beroep op hulle vrygewigheid

Paulus het eers vir die Korintiërs vertel van die Masedoniërs, wat op voorbeeldige wyse op die noodlenigingspoging gereageer het. Paulus het geskryf: “Hulle oorvloedige vreugde en hulle diep armoede gedurende ’n groot beproewing onder verdrukking [het] die rykdom van hulle vrygewigheid oorvloedig laat word.” Dit was nie nodig om die Masedoniërs aan te por nie. Inteendeel, Paulus het gesê dat “hulle ons uit eie beweging met groot aandrang bly smeek het om die voorreg om goedgunstig te gee”. Die blymoedige vrygewigheid van die Masedoniërs is des te meer opmerkenswaardig as ons in gedagte hou dat hulle self in “diep armoede” verkeer het.—2 Korintiërs 8:2-4.

Het Paulus ’n gees van mededinging onder die Korintiërs probeer verwek toe hy die Masedoniërs geprys het? Beslis nie, want hy het geweet dat dit nie die regte manier is om mense aan te spoor nie (Galasiërs 6:4). Daarbenewens het hy geweet dat die Korintiërs nie beskaamd gemaak moes word sodat hulle die regte ding kon doen nie. Hy het eerder die vertroue gehad dat die Korintiërs werklik hulle Judese broers liefgehad het en graag tot die noodlenigingspoging wou bydra. “Reeds ’n jaar gelede”, het hy vir hulle gesê, “het [julle begin] om nie net te doen nie, maar ook om te wil doen” (2 Korintiërs 8:10). Om die waarheid te sê, in party aspekte van die noodlenigingspoging het die Korintiërs self ’n goeie voorbeeld gestel. “Ek ken julle bereidwilligheid waaroor ek aangaande julle by die Masedoniërs roem”, het Paulus vir hulle gesê en toe bygevoeg: “Julle ywer het die meeste van hulle aangevuur” (2 Korintiërs 9:2). Maar nou moes die Korintiërs hulle ywer en hulle bereidwilligheid tot dade laat oorgaan.

Gevolglik het Paulus vir hulle gesê: “Laat elkeen doen net soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie teësinnig of onder dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief” (2 Korintiërs 9:7). Paulus se doel was dus nie om druk op die Korintiërs uit te oefen nie, want ’n persoon kan beswaarlik ’n blymoedige gewer wees as hy gedwing word. Paulus het blykbaar aangeneem dat hulle reeds die regte beweegrede het, dat elkeen hom reeds voorgeneem het om te gee. Daarbenewens het Paulus vir hulle gesê: “As die bereidheid eerste daar is, is dit veral aanneemlik volgens wat ’n mens het, nie volgens wat ’n mens nie het nie” (2 Korintiërs 8:12). Ja, as die bereidheid daar is—wanneer iemand deur liefde beweeg word—sal wat hy gee vir God aanneemlik wees, ongeag hoe klein die bedrag dalk lyk.—Vergelyk Lukas 21:1-4.

Blymoedige gewers van vandag

Die noodlenigingspoging ten behoewe van die Judese Christene is ’n uitmuntende voorbeeld vir ons dag. Jehovah se Getuies het ’n wêreldwye predikingskampanje onderneem en verkwik miljoene wat geestelik honger ly (Jesaja 65:13, 14). Hulle doen dit in gehoorsaamheid aan Jesus se bevel: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle . . . en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.”—Matteus 28:19, 20.

Dit is nie ’n maklike opdrag om uit te voer nie. Dit behels dat sendinghuise en meer as honderd takfasiliteite regoor die wêreld onderhou word. Dit bring ook mee dat Koninkryksale en Byeenkomssale gebou moet word sodat aanbidders van Jehovah geskikte plekke sal hê om te vergader en mekaar aan te moedig (Hebreërs 10:24, 25). Soms verleen Jehovah se Getuies ook noodlenigingshulp in gebiede wat deur natuurrampe verwoes is.

Dink ook aan die ontsaglike uitgawe om drukwerk te doen. Elke week word daar gemiddeld meer as 22 000 000 eksemplare van Die Wagtoring of ongeveer 20 000 000 eksemplare van die Ontwaak! gedruk. Benewens hierdie gereelde voorraad geestelike voedsel is daar die miljoene boeke, brosjures, oudio- en videokassette wat elke jaar vervaardig word.

Hoe word al hierdie werk geldelik gesteun? Deur vrywillige bydraes. Dit word nie vir publisiteit of om ’n selfsugtige beweegrede bygedra nie, maar om ware aanbidding te bevorder. Gevolglik maak dit die gewer gelukkig as hy bydra, en dit bring ook God se seëning mee (Maleagi 3:10; Matteus 6:1-4). Selfs kinders onder Jehovah se Getuies toon dat hulle vrygewige, blymoedige gewers is. Toe die vierjarige Allison byvoorbeeld hoor dat ’n orkaan verwoesting in ’n deel van die Verenigde State aangerig het, het sy $2 (R12) bygedra. “Dit is al die geld in my spaarbussie”, het sy geskryf. “Ek weet die kinders het al hulle speelgoed en boeke en poppe verloor. Miskien kan julle hierdie geld gebruik om ’n boek te koop vir ’n dogtertjie wat so oud soos ek is.” Maclean, wat agt jaar oud is, het geskryf dat hy bly is geeneen van die broers is in die storm dood nie. Hy het bygevoeg: “Ek het $17 [R107] verdien deur saam met my pa wieldoppe te verkoop. Ek wou iets met my geld koop, maar toe het ek aan die broers gedink.”—Sien ook die venster hierbo.

Dit moet Jehovah se hart waarlik verbly as hy sien hoe oud en jonk die belange van sy Koninkryk eerste stel deur ‘hom met hulle waardevolle dinge te eer’ (Spreuke 3:9, 10, NW). Niemand kan Jehovah natuurlik verryk nie, want hy besit alles (1 Kronieke 29:14-17). Maar om dié werk te ondersteun, is ’n voorreg wat die aanbidder die geleentheid gee om te toon dat hy Jehovah liefhet. Ons is dankbaar teenoor almal wie se hart hulle op hierdie manier beweeg het.

[Voetnoot]

a Hoewel Paulus “bevel gegee het”, beteken dit nie dat hy arbitrêre eise gestel het nie. Paulus het eintlik net toesig gehou oor die insameling, waarby verskeie gemeentes betrokke was. Daarbenewens het Paulus gesê dat elkeen “by sy eie huis” moes gee “na gelang van sy voorspoed”. Met ander woorde, elke bydrae moes privaat en vrywillig gegee word. Niemand is gedwing nie.

[Venster op bladsy 26, 27]

MANIERE WAAROP PARTY VERKIES OM TE GEE BYDRAES VIR DIE WÊRELDWYE WERK

Baie sit ’n bedrag opsy wat hulle in die bydraebussies plaas. Gemeentes stuur hierdie geld elke maand na die wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York, of na die plaaslike takkantoor.

Vrywillige geldelike bydraes kan ook regstreeks na die Tesourierskantoor, Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, 25 Columbia Heights, Brooklyn, New York 11201-2483 of na die Genootskap se plaaslike takkantoor gestuur word. Juwele of ander kosbare artikels kan ook geskenk word. ’n Kort brief wat meld dat dit ’n regstreekse skenking is, moet hierdie bydraes vergesel.

REËLING VIR VOORWAARDELIKE SKENKINGS

Geld kan onder ’n spesiale reëling aan die Wagtoringgenootskap gegee word op voorwaarde dat dit aan die skenker teruggegee sal word indien hy dit self nodig sou kry. Tree asseblief in verbinding met die Rekeningafdeling by die adres hieronder vir meer inligting.

BEPLANDE SKENKINGS

Buiten regstreekse en voorwaardelike skenkings van geld is daar ander maniere om tot voordeel van die Koninkryksdiens in alle wêrelddele te gee. Dit sluit in:

Versekering: Die Wagtoringgenootskap kan as die begunstigde van ’n lewensversekeringspolis of in ’n aftree-/pensioenskema benoem word.

Aandele en obligasies: Aandele en obligasies kan aan die Wagtoringgenootskap geskenk word, hetsy as ’n regstreekse skenking of ooreenkomstig ’n reëling waarvolgens die inkomste steeds aan die skenker betaal word.

Vaste eiendom: Verkoopbare vaste eiendom kan regstreeks aan die Wagtoringgenootskap geskenk word of dit kan geskenk word op voorwaarde dat die skenker gedurende sy of haar leeftyd daar kan bly woon. Voordat enige vaste eiendom aan die Genootskap oorgedra word, moet ’n mens eers met die Genootskap in aanraking kom.

Testamente: Eiendom of geld kan deur ’n wettige testament aan die Wagtoringgenootskap bemaak word.

Die Rekeningafdeling moet in kennis gestel word en ’n afskrif ontvang van die betrokke dokument wat met enige van hierdie reëlings verband hou. Diegene wat in enige van hierdie reëlings vir beplande skenking belangstel, moet skriftelik of per telefoon met die Rekeningafdeling in verbinding tree by die adres hieronder of by die Genootskap se kantoor in hulle land.

REKENINGAFDELING

Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania

Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740, Suid-Afrika

Telefoon: (011) 761-1000

[Venster op bladsy 28]

Kinders is ook blymoedige gewers!

Ek wil dit vir julle gee om vir ons meer boeke te druk. Ek het die geld gespaar deur my pa te help. Baie dankie vir al die harde werk wat julle doen.—Pamela, sewe jaar oud.

Ek stuur vir jull R43,30 om met die bou van meer Koninkryksale te help. Ek het dit gedurende die vakansie verdien toe ek ’n limonade-stalletjie gehad het.—Selena, ses jaar oud.

Ek het ’n hen grootgemaak wat vir my ’n haan en nog ’n hen uitgebroei het. Ek het hierdi laaste hen aan Jehovah toegewy. Sy het uiteindelik drie henne uitgebroei, wat ek verkoop het. Ek sluit die bedrag hierby in vir Jehovah se werk.—Thierry, agt jaar oud.

Dit is al geld wat ek het! Gebruik dit asseblief wyslik. Dit was moeilik om te spaar. Hier is R133.—Sarah, tien jaar oud.

Ek het met ’n skooltaak die eerste prys gewen, en toe moes ek aan die distrikskompetisie deelneem. Ek het daar ook die eerste plek gewen en toe tweede prys in die streekfinale. Ek het elke keer geld gewen. Ek wil van daardie geld aan die Genootskap gee. Ek voel dat ek hierdie pryse gewen het weens die opleiding wat ek op die Teokratiese Bedieningskool ontvang het. Ek het die vrymoedigheid gehad om my praatjie voor die beoordelaars te hou.—Amber, graad ses.

Ek wil dit graag vir julle gee om vir Jehovah te gee. Vra hom wat om daarmee te doen. Hy weet alles.—Karen, ses jaar oud.

[Prente op bladsy 25]

Die bedrywighede van Jehovah se Getuies word deur vrywillige bydraes gesteun

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel