Die kuns om met liefde te luister
“DANKIE dat jy geluister het.” Het enigiemand dit onlangs vir jou gesê? Wat ’n kompliment is dit tog nie! ’n Goeie luisteraar word deur so te sê almal waardeer. As ons goed luister, kan ons mense verkwik wat ontsteld is of wat onder probleme gebuk gaan. En help dit ons nie om mense se geselskap te geniet as ons ’n goeie luisteraar is nie? Om met liefde te luister, is in die Christengemeente ’n noodsaaklike deel daarvan om “op mekaar ag [te] gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor”.—Hebreërs 10:24.
Maar baie mense is slegte luisteraars. Hulle hou daarvan om raad te gee, oor hulle eie ondervindinge te praat of hulle beskouing te gee in plaas daarvan om na ander te luister. Dit is werklik ’n kuns om te luister. Hoe kan ons leer om met liefde te luister?
’n Noodsaaklike sleutel
Jehovah is ons “Grootse Onderrigter” (Jesaja 30:20). Hy kan ons baie leer oor hoe om te luister. Kyk byvoorbeeld na hoe Jehovah die profeet Elia gehelp het. Uit vrees vir koningin Isebel se dreigemente het Elia na die wildernis gevlug en gesê dat hy wou sterf. God se engel het daar met hom gepraat. Terwyl die profeet oor sy vrese gepraat het, het Jehovah geluister, en toe het Hy sy groot krag geopenbaar. Die gevolg? Elia was nie meer bang nie en het na sy toewysing teruggekeer (1 Konings 19:2-15). Waarom neem Jehovah die tyd om na die kwellinge van sy knegte te luister? Want hy is besorg oor hulle (1 Petrus 5:7). Hier is die sleutel om ’n goeie luisteraar te word: Jy moet vir ander omgee en opreg besorg wees oor hulle.
Toe ’n man in Bolivia ’n ernstige oortreding begaan het, het hy dit waardeer dat ’n medegelowige sulke besorgdheid teenoor hom betoon het. Die man verduidelik: “Dit was een van die ongelukkigste tye van my lewe. Ek kon maklik opgehou het om Jehovah te probeer dien as dit nie was vir ’n broer wat die tyd geneem het om na my te luister nie. Hy het nie baie gesê nie, maar die wete dat hy genoeg omgegee het om na my te luister, het my werklik versterk. Ek het nie ’n oplossing nodig gehad nie; ek het geweet wat ek moes doen. Maar ek moes net weet dat iemand omgee oor hoe ek voel. Die feit dat hy geluister het, het verhoed dat ek deur wanhoop oorweldig is.”
Jesus Christus is ’n goeie voorbeeld van iemand wat die kuns verstaan het om met liefde te luister. Kort ná Jesus se dood het twee van sy dissipels van Jerusalem af gereis na ’n dorpie omtrent 11 kilometer daarvandaan. Hulle was ongetwyfeld ontmoedig. Daarom het die verrese Jesus Christus saam met hulle begin loop. Hy het weldeurdagte vrae gevra om hulle aan die praat te kry, en die dissipels het daarop gereageer. Hulle het vertel watter verwagtinge hulle gekoester het en hoe teleurgesteld en verward hulle op daardie stadium gevoel het. Jesus was besorg oor hulle, en die feit dat hy met liefde geluister het, het die twee dissipels beweeg om ook te luister. Toe het Jesus “vir hulle dinge in die hele Skrif uitgelê wat op hom betrekking het”.—Lukas 24:13-27.
Om eerste te luister, is ’n liefdevolle manier om ander te kry om na ons te luister. “My ouers en my skoonouers het die manier waarop ek my kinders grootmaak, begin kritiseer”, sê ’n Boliviaanse vrou. “Hulle kommentare het my gegrief, maar ek het onseker van myself gevoel as ’n ouer. Omtrent daardie tyd het een van Jehovah se Getuies my besoek. Sy het my van God se beloftes vertel. Dit was egter die manier waarop sy my mening gevra het wat my laat besef het dat hierdie persoon bereid is om te luister. Ek het haar ingenooi, en kort voor lank het ek my probleem aan haar verduidelik. Sy het geduldig geluister. Sy het my gevra wat ek vir my kinders wou hê en hoe my man daaroor voel. Dit was ’n verligting om by iemand te wees wat bereid was om my te probeer verstaan. Toe sy my begin wys wat die Bybel oor die gesinslewe sê, het ek geweet dat ek met iemand praat wat besorg is oor my situasie.”
“Die liefde . . . soek nie sy eie belang nie”, sê die Bybel (1 Korintiërs 13:4, 5). Om met liefde te luister, beteken dus dat ons ons eie belange opsyskuif. Dit sal dalk vereis dat ons die televisie of selfoon afskakel of die koerant neersit wanneer ander oor ’n ernstige saak met ons praat. Om met liefde te luister, beteken dat ons intense belangstelling in die ander persoon se gedagtes moet toon. Dit vereis dat ons ons daarvan weerhou om oor onsself te begin praat deur iets te sê soos: “Dit herinner my aan iets wat ’n ruk gelede met my gebeur het.” Hoewel dit aanvaarbaar is in ’n vriendelike gesprek, moet ons ons persoonlike belange opsyskuif wanneer iemand ’n ernstige probleem bespreek. Opregte belangstelling in ander kan op nog ’n manier geopenbaar word.
Luister om gevoelens te onderskei
Job se metgeselle het ten minste tien van sy redevoerings aangehoor. Job het nogtans uitgeroep: “Ag, as ek maar iemand gehad het wat na my luister!” (Job 31:35). Waarom? Omdat die manier waarop hulle geluister het, geen vertroosting verskaf het nie. Hulle was nie besorg oor Job nie en wou ook nie sy gevoelens verstaan nie. Hulle het beslis nie meegevoel betoon as simpatieke luisteraars nie. Maar die apostel Petrus maan: “Julle [moet] almal eensgesind wees, meegevoel betoon, broederlike geneentheid en tere medelye hê, nederig van verstand wees” (1 Petrus 3:8). Hoe kan ons meegevoel betoon? Een manier is deur besorgdheid oor die ander persoon se gevoelens te toon en dit te probeer verstaan. Om simpatieke opmerkings te maak soos: “Dit moes ontstellend gewees het” of “Dit moes vir jou gevoel het of hulle jou verkeerd verstaan het”, is een manier om te wys dat ons besorg is. Nog ’n manier is om wat die persoon sê, in ons eie woorde te stel en sodoende te wys dat ons verstaan wat hy gesê het. Om met liefde te luister, beteken dat ons nie net aandag skenk aan die woorde nie, maar ook aan die emosies waaraan subtiel uiting gegee word.
Roberta is ’n ervare voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies. Hy vertel: “Ek het op ’n stadium gefrustreerd geraak met my bediening. Daarom het ek gevra om met die reisende opsiener te praat. Hy het werklik geluister en my gevoelens probeer verstaan. Dit het selfs gelyk asof hy verstaan dat ek bang was dat hy my sou kritiseer weens my gesindheid. Die broer het my verseker dat my gevoelens verstaanbaar was, want hy het ook al soortgelyke gevoelens ervaar. Dit het my werklik gehelp om voort te gaan.”
Kan ons luister sonder om saam te stem met wat gesê word? Kan ons vir iemand sê dat ons dit waardeer dat hy vir ons gesê het hoe hy voel? Ja. Sê nou ’n jong seun raak betrokke by ’n bakleiery by die skool of ’n tienermeisie kom huis toe en sê dat sy verlief is? Is dit nie vir ’n ouer beter om te luister en te probeer verstaan wat in die jongmens se gedagtes omgaan voordat hy verduidelik wat gepaste en ongepaste gedrag is nie?
“Raad in die hart van ’n man is soos diep waters”, sê Spreuke 20:5, “maar die man met onderskeidingsvermoë sal dit uitskep.” As ’n wyse en ervare persoon nie geneig is om ongevraagd raad te gee nie, moet ons moontlik vrae vra sodat ons sy raad kan ontvang. Dieselfde geld wanneer ons met liefde luister. Dit verg onderskeidingsvermoë om iemand aan die praat te kry. Dit help om vrae te vra, maar ons moet versigtig wees dat ons vrae nie in private sake indring nie. Dit sal dalk help om voor te stel dat die een wat praat, met sake begin waaroor dit vir hom maklik is om te praat. Byvoorbeeld, ’n vrou wat oor probleme in haar huwelik wil praat, sal dit moontlik makliker vind om eers te praat oor hoe sy en haar man ontmoet en getrou het. Iemand wat in die Christelike bediening onbedrywig geraak het, sal dit moontlik makliker vind om eers te verduidelik hoe hy die waarheid leer ken het.
Luister met liefde—’n uitdaging
Om te luister wanneer iemand kwaad is vir ons, kan ’n uitdaging wees, want ons is van nature geneig om onsself te verdedig. Hoe kan ons die uitdaging die hoof bied? “’n Sagte antwoord keer woede af”, sê Spreuke 15:1. Een manier waarop ’n mens ’n sagte antwoord kan gee, is deur die persoon vriendelik uit te nooi om te praat en dan geduldig te luister wanneer hy sê waaroor hy gegrief voel.
Tydens hewige argumente herhaal twee mense dikwels bloot wat hulle alreeds gesê het. Albei voel dat die ander een nie luister nie. Hoe goed sal dit tog wees as een van hulle stilbly en werklik luister! Dit is natuurlik belangrik om selfbeheersing aan die dag te lê en jou op ’n verstandige en liefdevolle manier uit te spreek. Die Bybel sê vir ons: “Wie sy lippe in toom hou, tree verstandig op.”—Spreuke 10:19.
Die vermoë om met liefde te luister, kom nie vanself nie. Dit is egter ’n kuns wat deur inspanning en dissipline aangeleer kan word. Dit is beslis ’n vaardigheid wat die moeite werd is om te verkry. Om werklik te luister wanneer ander praat, is ’n blyk van ons liefde. Dit dra ook by tot ons geluk. Hoe wys is dit dus tog om die kuns om met liefde te luister, aan te leer!
[Voetnoot]
a Naam is verander.
[Prent op bladsy 11]
Wanneer ons luister, moet ons ons eie belange opsyskuif
[Prent op bladsy 12]
Om te luister wanneer iemand kwaad is, kan ’n uitdaging wees