Jehovah verlos die geteisterde
“Baie is die rampspoede van die regverdige, maar uit hulle almal verlos Jehovah hom.”—PSALM 34:19.
1, 2. Voor watter probleem het ’n getroue Christen te staan gekom, en waarom ervaar ons dalk soortgelyke gevoelens?
’N JONG vrou met die naam Keikoa is al meer as 20 jaar een van Jehovah se Getuies. Sy het ’n tyd lank as ’n gewone pionier, of voltydse Koninkryksverkondiger, gedien. Sy het hierdie voorreg hoog op prys gestel. Maar nie lank gelede nie is Keiko oorweldig deur gevoelens van hopeloosheid en eensaamheid. “Al wat ek kon doen, was huil”, sê sy. Om teen haar negatiewe denke te stry, het Keiko meer tyd aan persoonlike studie gewy. “Maar ek kon nog steeds nie van hierdie gevoelens ontslae raak nie”, sê sy. “Dit het die punt bereik waar ek wou sterf.”
2 Het jy al met soortgelyke gevoelens van wanhopigheid geworstel? As een van Jehovah se Getuies het jy oorvloedige rede om vreugdevol te wees omdat godvrugtige toegewydheid “belofte inhou vir die teenswoordige en die toekomstige lewe” (1 Timoteus 4:8). Jy lewe op die oomblik in ’n geestelike paradys! Maar beteken dit dat jy beskerm is teen alle beproewinge? Beslis nie! Die Bybel sê: “Baie is die rampspoede van die regverdige” (Psalm 34:19). Dit is nie verbasend nie, want “die hele wêreld lê in die mag van die bose”, Satan die Duiwel (1 Johannes 5:19). Ons almal ervaar die gevolge van daardie werklikheid in meerdere of mindere mate.—Efesiërs 6:12.
Die gevolge van teistering
3. Gee Bybelse voorbeelde van God se knegte wat intense ontsteltenis verduur het.
3 Langdurige ontsteltenis kan ons ’n somber uitkyk op die lewe gee (Spreuke 15:15). Dink aan die regskape man Job. Te midde van ’n swaar beproewing het Job gesê: “Die mens, uit ’n vrou gebore, lewe ’n kort rukkie en is sat van ontsteltenis” (Job 14:1). Job het sy vreugde verloor. Hy het selfs ’n tyd lank gedink dat Jehovah hom verlaat het (Job 29:1-5). Job was nie die enigste kneg van God wat intense benoudheid verduur het nie. Die Bybel vertel ons dat Hanna “bitter van siel” was omdat sy kinderloos was (1 Samuel 1:9-11). Toe ’n gesinsituasie Rebekka gepynig het, het sy gesê: “Ek het ’n afsku gekry van my lewe” (Genesis 27:46). Toe Dawid oor sy oortredinge nagedink het, het hy gesê: “Die hele dag het ek bedroef rondgeloop” (Psalm 38:6). Hierdie paar voorbeelde toon duidelik dat godvresende manne en vroue van die voor-Christelike era soms intense ontsteltenis deurgemaak het.
4. Waarom is dit nie verbasend dat daar “terneergedrukte siele” onder hedendaagse Christene is nie?
4 Wat van Christene? Die apostel Paulus het dit nodig geag om vir die Tessalonisense te sê om “vertroostend met die terneergedrukte siele [te praat]” (1 Tessalonisense 5:14). Een naslaanwerk toon dat die Griekse woord wat met “terneergedrukte siele” vertaal word, kan verwys na diegene “wat tydelik oorweldig voel deur die druk van die lewe”. Paulus se woorde dui daarop dat party geesgesalfdes in daardie gemeente in Tessalonika neerslagtig was. Daar is ook terneergedrukte siele onder hedendaagse Christene. Maar waarom voel hulle mismoedig? Kom ons kyk na drie algemene oorsake.
Ontsteltenis weens ons sondige natuur
5, 6. Watter vertroosting kan ons uit Romeine 7:22-25 put?
5 In teenstelling met verdorwe mense wat “alle sedelikheidsgevoel verloor het”, word ware Christene deur hulle sondige toestand gekwel (Efesiërs 4:19). Hulle voel dalk soos Paulus, wat geskryf het: “Ek skep werklik behae in die wet van God na die mens wat ek innerlik is, maar ek sien in my lede ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my verstand en my wegvoer as gevangene van die wet van die sonde wat in my lede is.” Toe het Paulus uitgeroep: “Ellendige mens wat ek is!”—Romeine 7:22-24.
6 Het jy al ooit soos Paulus gevoel? Dit is nie verkeerd om terdeë bewus te wees van jou onvolmaakthede nie, want dit kan jou die erns van sonde laat besef en jou meer vasbeslote maak om die kwaad te vermy. Maar jy hoef jou nie gedurig te pynig oor jou tekortkominge nie. Nadat Paulus sy ontsteltenis in die woorde hierbo uitgedruk het, het hy bygevoeg: “Aan God die dank deur middel van Jesus Christus, ons Here!” (Romeine 7:25). Ja, Paulus het die vertroue gehad dat Jesus se vergote bloed hom van oorgeërfde sonde kon loskoop.—Romeine 5:18.
7. Wat kan iemand help om nie ontsteld te raak oor sy sondige neigings nie?
7 As jy oorweldig voel deur jou sondige natuur, kan jy vertroosting put uit die woorde van die apostel Johannes, wat geskryf het: “As iemand ’n sonde begaan, het ons ’n helper by die Vader, Jesus Christus, ’n regverdige. En hy is ’n soenoffer vir ons sondes, en tog nie net vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld” (1 Johannes 2:1, 2). As jy ontsteld is weens jou sondige neigings, moet jy altyd onthou dat Jesus vir sondaars gesterf het, nie vir volmaakte mense nie. Ja, “almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God”.—Romeine 3:23.
8, 9. Waarom moet ons selfveroordelende gedagtes verwerp?
8 Maar gestel jy het in die verlede ’n ernstige sonde gepleeg. Jy het ongetwyfeld in gebed met Jehovah hieroor gepraat, dalk al baie maal. Jy het geestelike hulp van Christen- ouer manne ontvang (Jakobus 5:14, 15). Jy was waarlik berouvol en het dus deel van die gemeente gebly. Of moontlik het jy God se organisasie ’n ruk lank verlaat, maar jy het later berou gehad en weer ’n rein posisie verkry. Wat die geval ook al is, jou vorige sondes kom dalk weer by jou op en ontstel jou. As dit gebeur, moet jy onthou dat Jehovah persone wat waarlik berouvol is, “ryklik vergewe” (Jesaja 55:7). Wat meer is, hy wil nie hê jy moet dink dat jy heeltemal verdoem is nie. Dit sou Satan se oogmerke bevorder (2 Korintiërs 2:7, 10, 11). Die Duiwel gaan vernietig word omdat hy dit verdien, maar hy wil hê dat jy moet dink jy verdien dieselfde oordeel (Openbaring 20:10). Moenie toelaat dat Satan slaag in sy plan om jou geloof te vernietig nie (Efesiërs 6:11). “Weerstaan hom” eerder in dié saak, net soos op ander gebiede.—1 Petrus 5:9.
9 In Openbaring 12:10 word Satan “die beskuldiger van ons broers”—gesalfde Christene—genoem. Hy ‘beskuldig hulle dag en nag’ voor God. As jy oor daardie vers nadink, kan dit jou help besef dat Satan, die valse beskuldiger, verheug sal wees as jy jouself beskuldig en veroordeel, hoewel Jehovah dit nie doen nie (1 Johannes 3:19-22). Waarom sou jy jou in so ’n mate oor jou tekortkominge bly folter dat jy wil tou opgooi? Moenie toelaat dat Satan jou verhouding met God vernietig nie. Moet nooit toelaat dat die Duiwel jou verblind vir die feit dat Jehovah ‘barmhartig en genadig is, nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid’.—Eksodus 34:6.
Ons beperkings kan ons ontmoedig
10. Hoe word ons dalk deur ons beperkings ontmoedig?
10 Party Christene voel ontmoedig omdat hulle diens aan God belemmer word deur hulle beperkings. Is dit hoe jy voel? Dalk word jy deur ’n ernstige siekte, bejaardheid of ander omstandighede verhinder om soveel tyd in die bediening deur te bring as voorheen. Christene word weliswaar aangemoedig om tyd vir God se diens uit te koop (Efesiërs 5:15, 16). Maar sê nou werklike beperkings verhinder jou om meer in die bediening te doen en dit ontmoedig jou?
11. Hoe kan ons baat vind by Paulus se raad in Galasiërs 6:4?
11 Die Bybel spoor ons aan om nie traag te wees nie, maar om “navolgers [te] wees van dié wat deur geloof en geduld die beloftes beërf” (Hebreërs 6:12). Ons kan dit alleenlik doen as ons hulle goeie voorbeeld ondersoek en hulle geloof probeer navolg. Maar ons sal nie daarby baat vind as ons ons ongunstig vergelyk met ander en die gevolgtrekking maak dat niks wat ons doen, goed genoeg is nie. Dit sal dus goed wees as ons Paulus se raad toepas: “Laat elkeen sy eie werk op die proef stel, en dan sal hy net met betrekking tot homself rede tot vreugde hê, en nie in vergelyking met die ander persoon nie.”—Galasiërs 6:4.
12. Waarom kan ons ons verheug in ons diens aan Jehovah?
12 Christene het alle rede om hulle te verheug, selfs al word hulle deur ernstige gesondheidsprobleme beperk. Die Bybel verseker ons: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het . . . nie” (Hebreërs 6:10). Omstandighede buite jou beheer maak dit dalk vir jou moeilik om soveel as voorheen te doen. Maar met Jehovah se hulp kan jy moontlik ’n groter aandeel aan sekere aspekte van die Christelike bediening hê, soos telefoongetuieniswerk of om briewe te skryf. Jy kan daarvan seker wees dat Jehovah God jou sal seën vir jou heelhartige diens en die liefde wat jy vir hom en jou medemens toon.—Matteus 22:36-40.
“Kritieke tye” kan ons vermoei
13, 14. (a) In watter opsigte kan hierdie “kritieke tye” vir ons teistering veroorsaak? (b) Hoe is ’n gebrek aan natuurlike geneentheid vandag duidelik te sien?
13 Hoewel ons uitsien na die lewe in God se regverdige nuwe wêreld, lewe ons op die oomblik in ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’ (2 Timoteus 3:1). Ons put vertroosting uit die wete dat ontstellende gebeure aandui dat ons verlossing naby is. Nietemin word ons geraak deur die toestande om ons. Byvoorbeeld, gestel jy is werkloos. Werk is dalk skaars, en met die verloop van maande wonder jy moontlik of Jehovah jou benarde situasie sien of jou gebede hoor. Of miskien het jy die slagoffer van diskriminasie of ’n ander soort onreg geword. Selfs om net koerantopskrifte te lees, kan veroorsaak dat jy soos die regverdige man Lot voel, wat “baie ontsteld” (“vermoei”, Young’s Literal Translation of the Holy Bible) was oor die losbandige gedrag van die mense om hom.—2 Petrus 2:7.
14 Daar is een spesifieke aspek van die laaste dae wat ons nie kan ignoreer nie. Die Bybel het voorspel dat baie mense “sonder natuurlike geneentheid” sal wees (2 Timoteus 3:3). Geneentheid tussen gesinslede is iets wat in baie gesinne heeltemal ontbreek. Trouens, “getuienis dui daarop dat mense groter gevaar loop om deur gesinslede doodgemaak, aangerand of emosioneel of seksueel misbruik te word as deur enigiemand anders”, sê die boek Family Violence. “Die plek waar mense geliefd en veilig behoort te voel, is vir party volwassenes en kinders die gevaarlikste plek.” Dié wat aan ’n ongesonde huislike milieu blootgestel is, kan in latere jare tye van angstigheid en wanhopigheid ervaar. Sê nou dit is waar van jou?
15. Hoe oortref Jehovah se liefde dié van enige mens?
15 Die psalmis Dawid het gesing: “As my eie vader en my eie moeder my sou verlaat, sal Jehovah my opneem” (Psalm 27:10). Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat Jehovah se liefde dié van enige menseouer oortref! Al is dit hoe pynlik om deur ’n ouer verwerp, mishandel of verlaat te word, hou dit nie verband met hoeveel Jehovah vir jou omgee nie (Romeine 8:38, 39). Onthou dat God dié wat hy liefhet, na hom toe trek (Johannes 3:16; 6:44). Ongeag hoe jy deur mense behandel is, jou hemelse Vader is lief vir jou!
Praktiese stappe om neerslagtigheid te verlig
16, 17. Wat kan iemand wat neerslagtig is, doen om geestelik sterk te bly?
16 Jy kan praktiese stappe neem om neerslagtigheid die hoof te bied. Byvoorbeeld, jy kan ’n opbouende program van Christelike bedrywighede volg. Peins oor God se Woord, veral wanneer dit voel of ontmoediging jou oorweldig. Die psalmis het gesing: “Toe ek gesê het: ‘My voet sal beslis wankel’, het u liefderyke goedhartigheid, o Jehovah, my bly onderskraag. Toe my verontrustende gedagtes binne-in my baie geword het, het u vertroostinge my siel begin streel” (Psalm 94:18, 19). Gereelde Bybellees sal help om jou verstand te vul met vertroostende woorde en bemoedigende gedagtes.
17 Gebed is ook noodsaaklik. Selfs al vind jy dit moeilik om jou diepste gevoelens in woorde uit te druk, weet Jehovah wat jy probeer sê (Romeine 8:26, 27). Die psalmis het hierdie versekering gegee: “Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag. Nooit sal hy die regverdige laat wankel nie.”—Psalm 55:22.
18. Watter praktiese stappe kan iemand neem wat aan depressie ly?
18 Party voel wanhopig weens kliniese depressie.b As dit waar is van jou, kan jy jou aandag probeer toespits op God se nuwe wêreld en die tyd wanneer “geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie” (Jesaja 33:24). As jou negatiewe gevoelens baie meer as net ’n geval van terneergedruktheid is, sal dit dalk wys wees om professionele hulp te kry (Matteus 9:12). Dit is ook belangrik om aandag aan jou gesondheid te gee. ’n Gebalanseerde dieet en oefening kan voordelig wees. Maak seker dat jy die nodige rus kry. Moenie tot laat televisie sit en kyk nie, en vermy vorme van ontspanning wat jou fisies en emosioneel sal uitput. Hou bowenal aan om godvrugtige werke te verrig! Hoewel die tyd nog nie aangebreek het dat Jehovah ‘elke traan sal afvee’ nie, sal hy jou help om te volhard.—Openbaring 21:4; 1 Korintiërs 10:13.
Ons is “onder die magtige hand van God”
19. Wat beloof Jehovah vir geteisterdes?
19 Die rampspoede van die regverdige is dalk baie, maar die Bybel verseker ons: “Uit hulle almal verlos Jehovah hom” (Psalm 34:19). Hoe doen God dit? Toe die apostel Paulus herhaaldelik gebid het om van sy “doring in die vlees” verlos te word, het Jehovah vir hom gesê: “My krag word in swakheid tot volmaaktheid gebring” (2 Korintiërs 12:7-9). Wat het Jehovah Paulus beloof, en wat beloof hy jou? Nie genesing in dié tyd nie, maar die krag om dit te verduur.
20. Waarvan word ons in 1 Petrus 5:6, 7 verseker, ondanks ons beproewinge?
20 Die apostel Petrus het geskryf: “Verneder julle . . . onder die magtige hand van God, sodat hy julle op die bestemde tyd kan verhef; terwyl julle al julle sorge op hom werp, want hy sorg vir julle” (1 Petrus 5:6, 7). Omdat Jehovah vir jou omgee, sal hy jou nie verlaat nie. Hy sal jou ondersteun ondanks die beproewinge waarvoor jy te staan kom. Hou in gedagte dat getroue Christene “onder die magtige hand van God” is. Terwyl ons Jehovah dien, gee hy ons die krag om te volhard. As ons getrou is aan hom, kan niks ons blywende geestelike skade aandoen nie. Mag ons dus ons onkreukbaarheid teenoor Jehovah handhaaf sodat ons die ewige lewe in sy beloofde nuwe wêreld kan beërf en die dag kan sien wanneer hy inderdaad die geteisterde vir goed verlos het!
[Voetnote]
a Naam is verander.
b Kliniese depressie is nie net mismoedigheid nie, maar ’n gediagnoseerde toestand waarin die bedroefdheid intens en langdurig is. Vir verdere inligting, sien Die Wagtoring van 15 Oktober 1988, bladsye 25-9; 15 November 1988, bladsye 21-4; en 1 September 1996, bladsye 30-1.
Onthou jy?
• Waarom gaan selfs knegte van Jehovah gebuk onder teistering?
• Wat is party faktore wat God se knegte mismoedig kan laat voel?
• Hoe help Jehovah ons om ons kwellinge die hoof te bied?
• In watter opsig is ons “onder die magtige hand van God”?
[Prente op bladsy 25]
Ondanks beproewinge het Jehovah se knegte alle rede om hulle te verheug
[Prent op bladsy 28]
Telefoongetuieniswerk is een manier om Jehovah jou beste te gee