Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 7/22 bl. 24
  • Kurk—Selletjies wat jou tot groot nut strek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kurk—Selletjies wat jou tot groot nut strek
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die kurkeik
  • Van die boom na die bottel—Die verhaal van kurk
    Ontwaak!—2011
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2011
  • Hou aan om die saad te saai—Jehovah sal dit laat groei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 7/22 bl. 24

Kurk—Selletjies wat jou tot groot nut strek

IN DIE 1660’s het die wetenskap ’n groot stap vorentoe geneem toe Robert Hooke in Engeland ’n stukkie kurk geneem en daarna gekyk het deur die mikroskoop wat hy spesiaal gebou het. Hy het gevind dat die materiaal nie homogeen is nie, maar dat dit uit ’n groot aantal klein, luggevulde eenhede bestaan. Hy het dit selle genoem, uit die Latynse woord cella, wat “kamertjie” beteken.

Kurkselle is inderdaad klein. Geen ander materiaal wat uit selle bestaan, of dit nou natuurlik of sinteties is, het soveel selle per volume-eenheid soos kurk nie. Daar is gemiddeld nagenoeg 20 000 van hulle per kubieke millimeter! Hulle is so klein dat dit nie eens moontlik is om die gedetailleerde struktuur van die sel met ’n gewone mikroskoop te sien nie. Navorsers aan die universiteite van Cambridge, Engeland, en Luleå, Swede, het elektronmikroskope gebruik en die ingewikkelde bou van die kurksel bekendgemaak. En dit is hierdie struktuur—’n sessydige prisma met geriffelde wande, soos dié van ’n trekklavier se blaasbalk—wat aan kurk sy ongewone en nuttige hoedanighede gee.

Kurk is lig in gewig, dit kan dryf, dit is sterk, duursaam en stabiel. Dit is veerkragtig en saampersbaar. Dit hou lug, olie en water uit. Dit absorbeer vibrasie, het goeie wrywingshoedanighede en is ’n swak warmtegeleier. Sintetiese materiale het dit nie vervang as die geskikste materiaal vir bottelproppe wat maklik ingedruk en uitgetrek kan word en goed kan seël nie. Weens hulle chemiese stabiliteit en elastisiteit kan hulle wyn jare lank preserveer sonder dat dit bederf. Kurk word ook op groot skaal gebruik vir isolering, klankdigting, vloerbedekkings, kennisgewingborde, pakstukke, skoensole en dobbers vir visvang en boeie—om net ’n paar te noem.

Die kurkeik

Terwyl ’n dun kurklaag in die bas van alle bome aangetref word, word die meeste van die wêreld se kommersiële kurk verkry van die kurkeik van die Mediterreense gebied—hoofsaaklik Portugal, Spanje en Algerië. Die kurkeik is ’n immergroen boom. Die bas van die kurkeik kan met veiligheid afgehaal word, en nuwe kurk sal selfs weer vorm!

Die bas van die kurkboom het twee algemene lae. Die dik buitelaag wat uit dooie selle bestaan, dien as ’n beskermende omhulsel en beskerm die boom teen hitte, meganiese besering of waterverlies. Dit is hierdie laag wat deur ’n proses genaamd stroping geoes word. Maar ’n mens moet versigtig wees om nie die lewende binnelaag te beskadig nie, anders sal geen nuwe kurk vorm nie.

Die boom kan gestroop word wanneer dit volgroeid is en sy buitebas verdik het—dit duur gewoonlik 20 tot 25 jaar. Nadat die kurk van die boom afgestroop is, word dit ’n paar dae lank drooggemaak. Daarna word dit gekook om van die looisuur en sap ontslae te raak. Dit maak dit ook meer elasties en maak die kurk sag sodat dit reguit gemaak en in bondels gepak kan word om verskeep te word. Die growwe buitelaag word ook deur hierdie proses losgemaak en word dan afgeskraap. Die boom word agt tot tien jaar laat staan sodat sy buitebas weer kan vorm, waarna dit weer geoes kan word. Die beste kurk word na die tweede stroping verkry, en ’n boom kan langer as honderd jaar produktief wees.

Daar word tans meer as ’n halfmiljoen ton kurk per jaar geproduseer—gelyk in volume aan 28 miljoen ton staal. Jaarliks word sowat 20 miljard proppe vir net wynbottels gemaak. Baie van die gebruike van kurk is al langer as 2000 jaar bekend. ’n Studie wat aan die Cambridge-Universiteit gedoen is, sê: “Min materiale het so ’n lang geskiedenis of het die mededinging met mensgemaakte surrogate so goed deurstaan.” Sy geheim? Die kurkselletjie met sy unieke bou—’n skeppingswonder.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel