Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 1/22 bl. 3-5
  • Die sedelike verval is wydverspreid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die sedelike verval is wydverspreid
  • Ontwaak!—1992
  • Soortgelyke materiaal
  • Obseniteit in musiek
    Ontwaak!—1991
  • Wat het van sedelikheid geword?
    Ontwaak!—1993
  • Gaan waardes agteruit?
    Ontwaak!—2003
  • 7 Waardes
    Ontwaak! — 2018
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 1/22 bl. 3-5

Die sedelike verval is wydverspreid

Dit besmet elke faset van die samelewing

DIE samelewing is vandag in ’n vakuum wat waardes betref. Baie lewenstyle het dit laat verbrokkel. Baie mense redeneer soos volg: ‘Elke lewenstyl is ’n aanvaarbare alternatief. Verdra jy myne, dan verdra ek joune. Doen wat jy wil, ek doen wat ek wil. Laat elkeen doen waarin hy sin het. Daar is baie maniere waarop jy te werk kan gaan en elkeen is reg; niks is verkeerd nie. Daar is geen sonde meer nie. Staan op jou regte. Vreedsame protes is ’n fluisterstem; gebruik geweld as jy gehoor wil word. Geweld is ’n vorm van die vrye woord. Jy kan seks hê met wie jy wil en net hoe jy wil. Obseniteit is kuns. Lewe en laat lewe.’

Of is dit ‘sterf en laat sterf’? Tot diep in die 20ste eeu het mense nog baie besliste idees gehad oor wat reg en wat verkeerd is, wat sedelik en wat onsedelik is, wat eervol en wat oneervol is—en baie mense het dit steeds. Maar vir ander mense het ’n verandering in die vyftigerjare ingetree, en die invloed daarvan het uitgebrei. Al die idees oor deug, moraliteit, eer en etiek is as onlogies, onmenslik en onaanvaarbaar voorgestel. Die idees wat begin oorheers het, het individualiteit bevorder. Hulle het die siening voorgestaan dat elke persoon volgens doelwitte moet leef wat hy self gestel het. Nou was die aanvaarbare sedes dat mense verdraagsaam moet wees, elkeen vir homself moet besluit en mekaar nie moet veroordeel nie. In hierdie nuwe filosofie is dit verbode om te verbied.

Die rampspoedige gevolge van hierdie filosofie het aangehou toeneem totdat dit in die tagtigerjare onrusbarende afmetings aangeneem het, en in die negentigerjare neem dit steeds toe. Hier is net ’n paar verslae oor die rampspoedige gevolge. Die eerste is ’n toespraak oor waardes wat deur die ondervoorsitter van ’n vereniging in die stad New York gegee is by ’n konferensie oor sake-etiek:

“Politici bedrieg hulle kiesers. Makelaars kul hulle kliënte. Amptenare van handelsbanke laat hul organisasies ten gronde gaan en laat die belastingbetaler dan daarvoor betaal. Predikers en aspirantpresidente is ontrou aan hulle vrouens. Kinders is oneerlik in eksamens en miljoene vernietig hulleself en ander deur die verwoesting wat dwelms en misdaad veroorsaak. . . . Vyftig persent van alle huwelike eindig in ’n egskeiding. Twee-en-twintig persent van alle kinders word vandag buite die huwelik gebore en een derde van alle kinders sal by stiefouers bly voor hulle 18 is. Dit is duidelik dat die verbrokkeling van die gesin groot afmetings aanneem. As jy aanvaar dat die vorming van waardes by die huis begin—reeds vroeg in die lewe—is die redes vir ’n verval in etiek duidelik.”—Vital Speeches of the Day, 1 September 1990.

Koerante, tydskrifte, nuusuitsendings, rolprente en televisieprogramme weerspieël elke dag die afname in tradisionele waardes. In ’n toespraak by die Universiteit van Chicago het die voorsitter van die Chase Manhattan Corporation gesê:

“Of jy eers na die sportblad, die verslag uit Washington of die sakegedeelte blaai, die getuienis is dieselfde. Die sportblad is vol van die nuutste skandale oor spelers wat omgekoop word om nie punte aan te teken nie, universiteitspanne wat geskors word weens werwingoortredings en professionele atlete wat dwelms gebruik. Die nuus uit Washington handel oor meineedverhore, federale regters wat aangekla word, mense wat hulle invloed verkoop en die nuutste wetgewer wat deur die House Ethics Committee ondersoek word. Blaai jy na die sakegedeelte, vind jy onthullings oor ingewydehandel en dies meer.”—Vital Speeches of the Day, 1 Augustus 1990.

Die aanslag is so onophoudelik en meedoënloos dat mense ongevoelig raak daarvoor. Hierdie skandale skok hulle nie meer nie. Die spreker wat pas aangehaal is, het hieroor kommentaar gelewer: “Baie Amerikaners word nie meer geskok wanneer hulle hoor van nog ’n afwyking van etiese norme nie. Veroordeelde misdadigers is nie meer uitgeworpenes nie. Hulle is beroemd. Hulle word na partytjies in hoë kringe genooi. Hulle skryf suksesboeke.”

Wall Street se Ivan Boesky het ’n toespraak aan studente by ’n sakeskool afgesluit deur sy arms bokant sy kop te hou, ’n oorwinningsteken te maak en te sê: “Mag gierigheid seëvier!” Later het sy gierigheid gemaak dat hy hom aan ingewydehandel skuldig gemaak het, en hy is verhoor, skuldig bevind, beboet en gevangenisstraf opgelê. Sy boete was $100 miljoen, maar hy het meer as ’n halfmiljard dollar oorgehou. Michael Milken, nog ’n manipuleerder op Wall Street, is $600 miljoen beboet vir sy rommelobligasie-transaksies—hy het byna soveel in een jaar gemaak! Hy het dit reggekry om een en ’n half miljard dollar oor te hou.

Die tydskrif Industry Week het ’n artikel gepubliseer waarvan die titel die vraag geopper het: “Vergeet etiek—en behaal sukses?” ’n Konsultant uit Utah het gedink dat sake-etiek versleg het en het gesê: “My waarnemings dui daarop dat hoe suksesvoller die sakeman is, hoe onetieser is die gedrag.” ’n Bestuurder uit Michigan het gesê: “Ons het ’n beleid aangaande etiek, maar die middelvlakbestuur ignoreer die reëls deur te rasionaliseer: ‘Dit is nie oneties nie, dit is net sakevernuf.’” ’n Toesighouer uit Miami kla: “Etiek verloor vinnig die stryd; wins is die belangrikste, ongeag die prys.” Ander sakemanne het dit meer prontuit gestel: “Enigiets is aanvaarbaar”, het een gesê. ’n Ander een het bygevoeg: “Ons beleid is: As jy nie betrap sal word nie, doen dit.”

Dit is nie net sakemanne wat bydra tot die verval van sedelike standaarde nie. Die waardevirus het tot in elke faset van die samelewing versprei. Te veel regsgeleerdes is bedrieërs, pleks van mense wat die wet respekteer. Te veel wetenskaplikes maak hulle aan wangedrag en bedrog skuldig om skenkings van die regering te ontvang. Te veel dokters kry die reputasie dat hulle meer in geld belangstel as in hulle pasiënte—en te veel van hulle pasiënte beraam planne om wanpraktyksake aanhangig te maak.

Woonbuurte steier onder die aanslag van dwelms, misdaad en bendeoorloë. Huweliksontrou vernietig gesinne. Klein kindertjies word die slagoffers van seksuele molestering, waaronder kinderpornografie. Geslagsomgang onder tieners lei tot swangerskappe, aborsies en verwaarloosde babas. Dwelmverkopers dring skoolgronde binne. Skoolkinders dra messe en vuurwapens, en hulle leesvermoë verswak al hoe meer. Die beste remediërende opleiding hiervoor is dat ouers vir hulle kinders lees, maar dikwels is ouers te besig om vir hulle gesin te sorg of hulle is te betrokke by hulle eie selfverwesenliking.

Die musiekbedryf dra by tot die sedelike verval, hoofsaaklik deur party eksentrieke, heavy metal-rockgroepe. ’n Voorligtingsbeampte het verduidelik: “Rockmusiek het die volmaakte medium geword om die idee van vrye seksuele dade te verkondig en te versprei, en om die gebruik van dwelms te verheerlik. Rockmusiek het ook ’n kragtige invloed uitgeoefen om minagting te wek vir ouers, die ouer geslag en sosiale instellings wat gekant is teen die lewenstyl wat met onsedelikheid en dwelms gepaardgaan.”

Een van hulle doelwitte is om aanstoot te gee, te skok en aandag te trek met lirieke wat uitstortings van kru, growwe, walglike en afskuwelike vieslikhede is en wat propvol van die wrede misbruik van vroue is. Orale en anale seks wat op baie maniere beskryf word, seksuele misbruik wat aangemoedig word en verlustiging in verkragting wat so wreed is dat vroulike geslagsorgane geskeur word—daar is geen perk aan die afstootlike obseniteit wat verheerlik word nie. Toe een groep vir onwelvoeglikheid in die hof verhoor is, het ’n professor aan die Duke-universiteit hulle as literêre genieë geprys en hulle walglike obseniteit verdedig deur te sê dat dit artistieke waarde het. Die jurie het saamgestem en tot die gevolgtrekking gekom dat die lirieke nie obseniteit is nie, maar dat dit kuns is.

’n Soortgelyke getuienis van die bederwing van die samelewing se waardes is die feit dat een van die afstootlikste rap-albums verlede jaar ‘in die drie weke nadat dit vrygestel is soveel kopieë (meer as 1 miljoen) verkoop het dat dit die nr. 1-posisie bereik het. Dit beteken dat dit toe die gewildste ding in die musiekbedryf was.’ Die name wat vir hierdie rockgroepe gekies word, pas by die lirieke: “Daar is nou minstens 13 groepe wat na die manlike geslagsdele vernoem is, 6 na die vroulike geslagsdele, 4 na sperma, 8 na aborsie en een na ’n vaginale infeksie.”—U.S.News & World Report.

’n Professor aan die Universiteit van Boston het kommentaar gelewer oor die Mapplethorpe-uitstalling: “Ek het dit by die Instituut vir Kontemporêre Kuns in Boston gesien. Daar, soos elders, is die werke as ’t ware in afdelings gerangskik. Die meer eksplisiete foto’s was . . . so ontstellend pornografies as wat ’n mens jou maar kan voorstel. Ek weet nie of dit ‘homo-eroties’ was nie, maar dit was foto’s wat dade uitbeeld wat ek self sou dink onmoontlik is, wat nog te sê van genotvol.” Die geskil oor die welvoeglikheid van die uitstalling is in die hof verhoor en ’n jurie het besluit dat die onwelvoeglikheid daarvan kuns is. Beslis nie kuns nie, definitief nie sedelik verantwoordelik nie en bewys van ’n verdere aftakeling van standaarde van die kunstenaars en dié wat na hulle werk kyk.

Ons het perke nodig. Ons het stabiliserende riglyne nodig. Ons het ideale nodig om voor te werk. Ons moet na die oorspronklike bron van onvervalste waardes terugkeer.

[Lokteks op bladsy 4]

Skandale skok mense nie meer nie

[Lokteks op bladsy 5]

Juries verklaar dat afstootlike obseniteit kuns is

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel