Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 1/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Ysman” hou wetenskaplikes besig
  • Cholera in Afrika
  • Presbiteriane herroep besluit oor vroulike predikante
  • Die mens se kosvoorraad word bedreig
  • Besmette bloed
  • Ma trotseer leeuwyfie
  • New York is die ergste
  • ’n Prostituutgemeenskap
  • Die TV word geblameer
  • Rugprobleme
  • Kusbesoedeling in Asië
  • Dilemma vir spiritiste
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1992
  • VIGS—sy tragiese slagting onder kinders
    Ontwaak!—1991
  • Waarom ’n groeiende probleem?
    Ontwaak!—2003
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 1/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

“Ysman” hou wetenskaplikes besig

Twee Duitse plesierstappers was verbaas om verlede September ’n hardbevrore lyk in ’n gletser naby die grens tussen Oostenryk en Italië te vind. Die grieselige vonds is al die bes bewaarde “prehistoriese” mens genoem wat in Europa gevind is. Die lyk, die “Simulaun-mens”, wat vernoem is na die gletser waar hy gevind is, “begin nou om ná intensiewe wetenskaplike pogings van sy geheime te openbaar”, berig die Süddeutsche Zeitung. Die “ysman” het klere, jagwapens en ’n rugsak met ’n houtraam by hom gehad, en wetenskaplikes het die artikels gebruik om te bepaal dat die vonds ongeveer 4000 jaar oud is. Dit is interessant dat die kwaliteit van sy klere en toerusting meer gesofistikeerd is as wat baie deskundiges ooit sou kon droom.

Cholera in Afrika

Die aantal choleragevalle in Afrika gedurende die eerste sewe maande van 1991 is byna dubbel die totaal van 1990, het Nigerië se Daily Times gesê. Die Times het, met verwysing na ’n verslag deur die Wêreldgesondheidsorganisasie oor die epidemie, gesê dat die epidemie nou 20 Afrikalande raak, waaronder party lande met geen vorige gevalle van die siekte nie. Sedert Januarie 1991 is daar al 48 860 gevalle op die kontinent aangemeld, met ’n dodetal van 3736. Cholera het ook onlangs in Suid-Amerika gewoed.

Presbiteriane herroep besluit oor vroulike predikante

In 1975 het die Presbiteriaanse Kerk in Australië besluit om vroue toe te laat om as predikante in daardie kerk georden te word. Maar op 11 September 1991 het die Presbiteriaanse bestuursliggaam, die Nasionale Algemene Vergadering, hierdie besluit herroep en by meerderheid van twee stemme teen een besluit om vroue die bediening te belet. Maar die vyf vroue wat in die tydperk tussenin georden is, is by uitsondering toegelaat om as predikante aan te hou dien. En twee ander vroue wat as kandidate aanvaar is, is ook toegelaat om met hulle ordening voort te gaan op die voorwaarde dat hulle nie van gemeente verander nie. Die besluit was onder baie gemeentelede ongewild, en daar is sprake dat groepe wat daarteen gekant is dit in die hof wil betwis. Kritici wat sterker daarteen gekant is, voorspel selfs dat die besluit die kerk sal verdeel en dat baie—veral vroue—dalk sal verkies om die Presbiteriaanse Kerk heeltemal te verlaat.

Die mens se kosvoorraad word bedreig

Die goewerneur van die staat Amazonas het die Brasiliaanse Instituut vir Omgewings- en Hernieubare hulpbronne verlof gevra om alligators te jag. Waarom? Volgens die tydskrif Veja ‘versteur die groot bevolking alligators mense se lewe. In Nhamundá is daar byvoorbeeld 200 alligators vir elke menslike inwoner, en die mens tree nie altyd as oorwinnaar uit die stryd wat die kwessie van kos betref nie.’ Veja verduidelik dat alligators nie net die vis opeet voor die vissermanne opdaag nie, maar hulle val ook hoenders en varke aan. Die goewerneur sê: “Die mens het die reg om die alligator dood te maak wanneer dit sy kos wegneem.”

Besmette bloed

Regter José Eduardo Carreira Alvim het die Brasiliaanse federale regering en die staat Rio de Janeiro gevonnis om skadevergoeding aan die gesin van die musikant Francisco Mário de Souza te betaal omdat hy die vigs-virus deur ’n bloedoortapping gekry het, berig die tydskrif Veja. Die musikant, ’n hemofilie-lyer, het in 1988 gesterf. Volgens Veja het goewerneur Leonel Brizola gesê dat sy staat sal betaal. “As ek die regter was”, het hy glo gesê, “sou ek dieselfde besluit geneem het.” Maar die federale regering is van plan om appèl aan te teken. Die finale besluit kan verreikende gevolge hê, omdat, soos die tydskrif gesê het, slegs “70% van die bloed wat in die 3600 bloedbanke in die land beskikbaar is noukeurig ondersoek word”.

Ma trotseer leeuwyfie

’n Ma, haar twee seuns en ’n jong vriend het ’n koppie in ’n wildpark in Botswana geklim om na ’n witkruisarend se nes te kyk. Halfpad teen die heuwel op het hulle, volgens die tydskrif oor die natuur Custos, ’n onheilspellende gegrom van agter ’n bos gehoor. Hulle het instinktief begin hardloop, maar toe het die ma raad onthou wat sy eenkeer gelees het om nie so te reageer nie. “Ek het vinnig omgedraai”, verduidelik Jill Olivier, “en ’n yslike leeuwyfie gesien wat gelukkig ongeveer vyf meter van my af tot stilstand gekom het.” Toe het die dappere Jill die drie seuns agter haar luid instruksies gegee om nie te beweeg nie. “Ek was baie bang”, voeg sy by, “maar ek het geweet dat ek dit nie kon waag om my oë van hare af weg te neem nie, omdat sy my dalk sou aanval.” Die leeuwyfie het na ongeveer twee minute agteruit begin beweeg. Met haar oë nog op die dier gerig, het Jill ook agteruit begin beweeg. Skielik het die leeuwyfie omgedraai en weggehardloop. Jill sluit af met hierdie goeie raad: “Moenie die veld as vanselfsprekend aanvaar nie en loop altyd saam met iemand wat ervare is.”

New York is die ergste

Van die 25 grootste stede in die Verenigde State het New York-stad in 1990 die tweede agtereenvolgende jaar die meeste roofaanvalle gehad. Volgens die jaarverslag van die Federal Bureau of Investigation is ’n rekordgetal van 100 280 roofvoorvalle verlede jaar by New York-stad se polisie aangemeld. Dit beteken dat 1 uit elke 73 mense in die stad gedurende die jaar op straat of andersins beroof is. Ná New York het Chicago, Baltimore, Detroit, New Orleans, Washington, Dallas, Boston en Los Angeles gevolg—wat elkeen die 25 stede se gemiddelde van 9,7 roofvoorvalle vir elke 1000 inwoners oorskry het. New York-stad het, ten spyte van sy rekordgetal van 2262 moorde verlede jaar, na die tiende plek vir moorde per capita gedaal, met 30,9 moorde vir elke 100 000 inwoners. Boaan die lys was die nasie se hoofstad, Washington DC. Daar was 77,8 moorde vir elke 100 000 inwoners. Vuurwapens is volgens die verslag in 3 uit elke 5 moorde gebruik.

’n Prostituutgemeenskap

Vila Mimosa is na bewering die oudste en bekendste prostitusiesentrum in Rio de Janeiro, Brasilië. Volgens die Argentynse koerant Clarín is daar meer as 400 prostitute in hierdie gemeenskap wat uit twee blokke bestaan. Om hierdie vroue op te voed en te vermaak, saai ’n nuwe radiostasie tans nuus, onderhoude, advertensies en musiek spesiaal vir prostitute uit. “Die meeste van die omroepers is prostitute”, berig Clarín. Die verspreiding van vigs is ’n bron van groot kommer onder baie prostitute. Die koerant voeg by dat daar meer as 17 000 vigs-slagoffers in Brasilië is, met ’n verdere 350 000 tot 450 000 mense wat met die virus besmet is maar wat nog nie vigs ontwikkel het nie.

Die TV word geblameer

Die televisie word weer eens geblameer vir die agteruitgang in studente se leesvermoë. Die uitslae van mondelinge toetse van studente in die Verenigde State wat universiteit toe wil gaan, het in 1991 ’n ongeëwenaarde laagtepunt bereik. William M. Honig, superintendent van openbare onderwys in Kalifornië, het gesê: “Hoe meer televisie jy kyk, hoe swakker is jou leesvermoë.” Michael Fitzmaurice van die National Association of Broadcasters het die televisie daarenteen verdedig. Hy het gesê: “Een ding waarvan ons seker is, is dat sukses op skool grootliks afhang van die tyd wat ouers daaraan bestee om vir hulle kinders te lees. Selfs al gooi jy die televisie weg gaan akademiese vermoëns nie verbeter nie.”

Rugprobleme

“Elke derde Duitser ly voortdurend weens rugpyn”, berig die Duitse dagblad Schweinfurter Tagblatt. Volgens Gebhard Glück, Minister van Maatskaplike Dienste in Beiere, kom die dae wat mense weens rugprobleme van die werk af wegbly neer op 75 miljoen werksdae per jaar. Dit is nie net volwassenes of bejaardes wat hieraan ly nie, maar 11 persent van die jongmense onder 18 wat ondersoek is, het ook ruggraatprobleme gehad. Dit word glo hoofsaaklik veroorsaak deur swaar voorwerpe verkeerd op te tel, deur ’n verkeerde liggaamshouding, deur verkeerd te sit en deur inspannende liggaamsbewegings terwyl hulle aan sport en ander vorme van ontspanning deelneem.

Kusbesoedeling in Asië

Die besoedeling van kuswater wek al hoe meer kommer in Asië en die Stille Oseaan, berig die tydskrif Asiaweek. Charles Birkeland, ’n marinebioloog aan die Universiteit van Guam, het vir die tydskrif gesê dat al hoe meer mense sedert die middel-sewentigerjare in die hospitaal opgeneem moes word of gesterf het omdat hulle vergiftigde skulpdiere geëet het. Die skulpdiere word waarskynlik besmet wanneer hulle organismes eet wat, op hulle beurt, van besoedelde stowwe leef. Die bron van hierdie besoedelde stowwe? Volgens Asiaweek is ’n hoofverdagte die nutriëntbelaaide afloop wat in die see uitspoel wanneer tropiese woude afgekap word.

Dilemma vir spiritiste

Zé Arigó, ’n geesmedium wat in 1971 gesterf het en beweer het dat hy namens ’n gees genaamd ‘dokter Fritz’ praat, het tans 13 sogenaamde opvolgers in Brasilië. Volgens die tydskrif Veja lewer hierdie oorvloed mediums wat ‘dokter Fritz’ verteenwoordig ’n probleem op vir Brasilië se 6,9 miljoen spiritiste. Die president van die Federasie vir Spiritiste van São Paulo het volgens berig gesê: “Dit is teoreties moontlik dat ’n gees in meer as een mens geïnkarneer kan word. Maar ons begin dink dat daar te veel ‘dokter Fritze’ is.” Tog sê Veja: “Spiritisme is ’n gedesentraliseerde beweging, sonder enige vaste hiërargie, en dit het geen gesag om te sê deur wie dokter Fritz werklik kommunikeer en wie net ’n namaaksel is nie.” Maar spiritisme is nie ’n dilemma vir diegene wat op die Bybel vir onderrig staatmaak nie. Dit veroordeel alle vorme van spiritisme.—Deuteronomium 18:10-12.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel