Die Opkoms En Ondergang Van Wêreldhandel
Deel 3—Hebsugtige handel wys sy kleure
MET die aanbreek van die 16de eeu is die Europese handel in die noorde oorheers deur die Hanseverbond, ’n handelsvereniging van Noord-Duitse dorpe; in die weste deur Engeland en die Nederlande en in die suide deur Venesië.
Venesië het eeue lank die speseryhandel oorheers. Verdrae wat met die Arabiere, en later met die Ottomaanse Turke, gesluit is, het die Oosterse handelsroetes met welslae teen moontlike mededingers gesluit. As ander hierdie monopolie wou verbreek, moes hulle nuwe roetes na die Verre-Ooste vind. Die soektog het begin. Een gevolg van hierdie soektog was die ontdekking en onderwerping van die Amerikas.
Gedurende die negentigerjare van die vyftiende eeu het die pous Portugal en Spanje pouslike verlof gegee om ’n veldtog te onderneem om die wêreld wat toe nog onbekend was te onderwerp. Maar dit was meer as net godsdiensoortuiging wat hierdie twee Katolieke magte aangedryf het. Professor Shepard Clough sê: “Sodra die aanspraakmakers hulle kleim op die pasontdekte wêrelddele afgepen het, het hulle probeer om so vinnig moontlik al die ekonomiese voordele wat hulle kon uit hulle vondste te kry.” Hy voeg by: “Daar was ’n amper onnatuurlike wellus in die haas waarmee die pioniers verwag het om ryk te word. Hier was ’n interessante verklaring van die beweegredes vir die verkenning, asook van die heersende ideologieë in die Westerse wêreld.” Die sinlike begeerte na goud en bekeerlinge het die Spaanse veroweraars in hulle plundering van die Nuwe Wêreld aangedryf.
Intussen het die Nederlande tot ’n oorheersende handelsmag gegroei, iets wat nie een van die ander handelsreuse kon stuit nie. Trouens, gedurende die 17de eeu was dit duidelik dat net Engeland magtig genoeg was om die Nederlanders aan te durf. Ekonomiese mededinging het toegeneem. Binne 30 jaar, teen 1618, het die Engelse die grootte van hulle vloot verdubbel; teen die middel van die 17de eeu was die Nederlandse handelsvloot ongeveer vier keer so groot as die gesamentlike vlote van Italië, Portugal en Spanje.
Die handelsentrum van Europa het gevolglik van die Middellandse See-gebiede na die Atlantiese See-gebiede verskuif. Clough noem dit ’n “handelsomwenteling” en “een van die groot gebiedsverskuiwings in die geskiedenis”, wat ’n “ekonomiese welstand [geskep het] wat Wes-Europa se politieke en kulturele leierskap in die Westerse beskawing moontlik gemaak het”.
Ryke wat op meer as net suiker en speserye gebou is
In 1602 het die Nederlanders ’n aantal handelsmaatskappye wat deur hulle handelaars bestuur is, verenig en die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie gevorm. Buiten die feit dat hulle gedurende die daaropvolgende dekades ’n mate van handelsukses in Japan en Java behaal het, het hulle wat nou as Wes-Maleisië, Sri Lanka en die Molukke (Spesery-eilande) bekend staan van die Portugese verower. “Soos die Portugese en die Spanjaarde”, sê Clough, “wou [die Nederlanders] die voordele van Oosterse handel net vir hulleself hou.” En dit is geen wonder nie! Die handel was so winsgewend dat die Nederlande teen die 17de eeu die rykste staat per kapita in Wes-Europa was. Amsterdam het die finansiële en handelsentrum van die Westerse wêreld geword.—Sien venster, bladsy 23.
Denemarke en Frankryk het soortgelyke kompanjies gevorm. Maar die eerste maatskappy, en die een wat daarna die invloedrykste was, die Engelse Oos-Indiese Kompanjie, is in 1600 opgerig. Dit het die Franse en die Portugese uit Indië verdring. Later het die Engelse ook in China die handel oorheers.
Intussen het die Nederlandse Wes-Indiese Kompanjie in die Westelike Halfrond met suiker, tabak en pelse handel gedryf. En die Engelse het, nadat hulle in 1670 die Hudson’s Bay Company in Kanada opgerig het, probeer om ’n noordwestelike deurgang na die Stille Oseaan te vind terwyl hulle met die lande naby Hudsonbaai handel gedryf het.
Joernalis Peter Newman sê dat die stryd tussen die Hudson’s Bay Company en een van sy mededingers, die North West Company, “’n handelsmededinging om markte en pelse was, maar dit het gou in ’n soektog na mag en gebied verander. . . . Albei kante het hulle rekeninge met bloed vereffen.” Die eintlike slagoffers was die Indiane met wie albei maatskappye handel gedryf het. “Sterk drank het die betaalmiddel van die pelshandel geword”, sê hy, en hy voeg by dat hierdie “handel in drank gesinne verwoes het en die Indiaanse kultuur vernietig het”.a
Só het twee magtige en invloedryke ryke ontstaan wat albei op meer as net suiker en speserye gebou is—hulle is ook op bloed gebou! Hebsugtige handel het sy kleure gewys. Soos The Columbia History of the World sê: “Die Nederlanders en Engelse het die oseane van die wêreld bevaar as agente vir handelsondernemings . . . Vir hierdie maatskappye was die winsoogmerk die belangrikste.”—Ons kursiveer.
Wins ten koste van ander
Van die 16de tot die 18de eeu het ’n ekonomiese stelsel wat as merkantilisme bekend staan Europese denke baie beïnvloed. The New Encyclopædia Britannica verduidelik: “[Merkantilisme] het nadruk gelê op die gedagte dat die verkryging van rykdom, veral rykdom in die vorm van goud, van die grootste belang was vir die nasionale beleid. . . . Die handelsbeleid wat deur die merkantilistiese filosofie voorgeskryf is, was net so eenvoudig: moedig uitvoere aan, ontmoedig invoere en neem die opbrengs van die gevolglike uitvoersurplus in goud.”
Die uitvoering van hierdie beleid het dikwels verskriklike onregte tot gevolg gehad. Kolonies is uitgebuit deurdat daar beslag gelê is op tonne goud om die moederland te bevoordeel. Merkantilisme het, om dit eenvoudig te stel, die egosentriese, hebsugtige gesindheid weerspieël wat die handelswêreld sedert sy ontstaan aangemoedig het, ’n gees wat nog bestaan.
Merkantilisme het sy kritici gehad, van wie die Skot, Adam Smith, een van die bekendstes was. Smith, ’n beroemde sosiale filosoof en politieke ekonoom, het in 1776 ’n studie oor ekonomie uitgegee met die titel An Inquiry Into the Nature and Causes of the Wealth of Nations. Hoewel Smith teen merkantilisme gekant was, het hy hom nie uitgespreek oor die najaging van wins wanneer eiebelang die beweegrede is nie. Inteendeel, hy het beweer dat mense deur ’n “onsigbare hand” gelei word wat hulle aanspoor om by ekonomiese mededinging betrokke te raak wanneer hulle hulle eie belange najaag; maar hy het ook beweer dat daardie selfde eiebelang tot nut van die hele gemeenskap kan strek.
Smith het die teorie van laissez-faire (Frans: “laat maar loop”) voorgestaan, die idee dat regerings so min as moontlik in die ekonomiese sake van mense moet inmeng. Hy het dus die ideologie van klassieke kapitalisme duidelik verwoord.
Kapitalisme, vandag se oorheersende en, soos sommige beweer, suksesvolste ekonomiese stelsel, word gekenmerk deur private besit van eiendom en deur vrye handel tussen mense of maatskappye wat met mekaar om wins meeding. Kapitalisme se moderne geskiedenis het in die 16de eeu in die dorpe van Sentraal- en Noord-Italië begin, maar het sy oorsprong baie vroeër gehad. Afgetrede professor in geskiedenis Elias J. Bickerman verduidelik dat “die ekonomiese gebruik van ons woord ‘kapitaal’, wat van die Latynse woord caput af kom en ‘kop’ beteken, na ’n Babiloniese term verwys wat ook ‘kop’ beteken en dieselfde ekonomiese betekenis gehad het”.
Handel wys sy kleure in die najaging van individuele of nasionale eiebelang. Byvoorbeeld, dit het nie gehuiwer om die waarheid te verswyg nie. The Collins Atlas of World History sê: “Die kaarttekenaar was ook al ’n akteur in, en by geleentheid ’n gyselaar van, handelstrategieë. Ontdekkings onthul tallose bronne van rykdom. Kan die kaarttekenaar toegelaat word om hierdie inligting aan die wêreld te onthul? Moet hy dit nie eerder van potensiële mededingers verberg nie? . . . In die sewentiende eeu het die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie nie dokumente uitgegee wat aan sy mededingers inligting sou verskaf nie.”
Die handel het baie erger dinge gedoen. Van die 17de tot die 19de eeu het dit ’n bedryf gemaak deur ongeveer tienmiljoen Afrikane as slawe te verkoop, van wie duisende op pad na die Amerikas gesterf het. Die boek Roots, deur Alex Haley, en die televisiedrama daaroor in 1977, het hierdie lelike tragedie grafies uitgebeeld.
Boustene—Hoe sou hulle gebruik word?
Sedert die begin van die mensegeskiedenis het onvolmaakte mense deur die proefmetode geleer. Hulle het nie deur goddelike openbaring nie, maar deur onvermoeide navorsing of miskien per ongeluk, basiese wetenskaplike waarhede ontdek, wat vir nuwe uitvindsels gebruik is. In 1750, terwyl Groot-Brittanje begin wegbeweeg het van ’n landbou-ekonomie na een wat deur industrie en die gebruik van masjiene oorheers is, was party van hierdie uitvindsels—soos boustene—beskikbaar om ’n nuwe wêreld mee te bou.
Die windmeul, wat reeds in die sesde of sewende eeu G.J. in Iran en Afghanistan bekend was, het die weg gebaan vir die ontdekking en ontwikkeling van ander energiebronne. Maar sou hebsugtige handel bereid wees om af te sien van buitensporige winste om te verseker dat hierdie bronne veilig, besoedelingvry en betroubaar is? Of sou hulle misbruik maak van energiekrisisse—of dit selfs veroorsaak—sodat hulle self daaruit voordeel kan trek?
Buskruit, wat in die tiende eeu in China uitgevind is, was ’n seëning vir myn- en bouwerk. Maar sou hebsugtige handel die sedelike moed hê om dit nie te misbruik deur wapens te vervaardig wat wapenhandelaars ten koste van menselewens sou verryk nie?
Gietyster, wat waarskynlik reeds in die sesde eeu G.J. in China beskikbaar was, was ’n voorloper van die staal waarop ’n moderne wêreld gebou is. Maar sou hebsugtige handel bereid wees om sy winste te verminder sodat die besoedeling, die ongelukke en die kongestie voorkom kon word wat deur ’n industriële tydperk meegebring sou word?
Dit sou met die verloop van tyd duidelik word. In elk geval, hierdie en ander boustene was bestem om ’n wêreldomwenteling te help veroorsaak wat, op sy beurt, tot iets sou lei wat die wêreld nog nooit tevore gesien het nie. Lees in ons volgende nommer: “Die Industriële Omwenteling—Waartoe het dit gelei?”
[Voetnoot]
a Nog ’n onskuldige slagoffer van hebsugtige kommersialisme in die Nuwe Wêreld was die 60 miljoen Noord-Amerikaanse buffels wat eenvoudig uitgewis is, dikwels net vir die velle en die tonge.
[Venster op bladsy 23]
Die bankbedryf
v.G.J.: Antieke Babiloniese en Griekse tempels het die muntstukke van deponeerders in bewaring gehou; omdat nie almal hulle muntstukke terselfdertyd wou hê nie, kon party aan ander mense geleen word.
Middeleeue: Die moderne bankwese begin, wat ontwikkel is deur Italiaanse handelaars wat reisende geestelikes as agente gebruik het om kredietbriewe van een land na ’n ander te neem; in Engeland begin goudsmede om die geld wat by hulle vir bewaring gedeponeer is op rente uit te leen.
1408: ’n Inrigting wat deur sommige die voorloper van moderne banke genoem word, is in Genua, Italië, gestig en is deur soortgelyke inrigtings in Venesië (1587) en Amsterdam (1609) gevolg. Een geskiedkundige sê dat “die doeltreffende dienste wat deur die Bank van Amsterdam gelewer is daartoe bygedra het om Amsterdam die finansiële sentrum van die wêreld te maak”.
1661: Die Bank van Stockholm, ’n tak van die Bank van Amsterdam, het banknote (beloftes deur die bank om die toonder te betaal) begin uitgee, ’n gebruik wat later deur die Engelse vervolmaak is.
1670: Die eerste verrekeningskantoor, wat in Londen opgerig is, was ’n bankinrigting om gemeenskaplike skuld in te vorder en rekeninge te vereffen; die geboorte van die hedendaagse tjek, ook in hierdie jaar, het ’n bankklant in staat gestel om depositokwitansies na ander banke oor te dra of ’n deel van sy kredietbalans na ander mense oor te dra.
1694: Die Bank van Engeland word gestig, ’n bank wat die voortou geneem het in nootuitgifte (die skepper van papiergeld).
1944: Skepping van die Internasionale Bank vir Rekonstruksie en Ontwikkeling, ook die Wêreldbank genoem, ’n gespesialiseerde agentskap wat nou verwant is aan die Verenigde Nasies en ontwerp is om finansiële hulp aan lidlande te verleen vir die rekonstruksie of ontwikkeling van projekte.
1946: Internasionale Monetêre Fonds wat gestig is om “monetêre samewerking, geldeenheidbestendiging, handelsuitbreiding te bevorder; betalingsbalansprobleme te hanteer”.—The Concise Columbia Encyclopedia.
1989: Die Delors-plan stel voor dat die Europese Gemeenskap ’n gemeenskaplike geldeenheid aanvaar en ’n Europese Sentrale Bank gedurende die negentigerjare oprig.
1991: Oopstelling van die Europese Bank vir Rekonstruksie en Ontwikkeling, ’n instelling wat in 1990 deur meer as 40 nasies gevorm is om finansiële hulp te voorsien om die verswakte ekonomieë van Oos-Europa te herstel.
[Prent op bladsy 21]
Die Indiane, wat dikwels met sterk drank betaal is, was slagoffers van handel met die witmense
[Erkenning]
Harper’s Encyclopædia of United States History