Ekwatoriaal-Guinee—’n skatkamer vol verrassings
Deur Ontwaak!-medewerker in Ekwatoriaal-Guinee
DAAR is ’n land in Afrika waar olifante en gorillas nog in die oerwoud aangetref word, waar kommersialisme amper nie opgemerk word nie en waar kinders nog vir verbygangers waai. En buite Afrika het baie min mense al ooit daarvan gehoor.
Sy naam—Ekwatoriaal-Guinee—is nie ’n verkeerde benaming nie. Die land, wat ongeveer so groot soos België is, lê byna op die ewenaar. In Desember 1990 het ek die twee vernaamste streke besoek: die eiland Bioko en Mbini, ’n klein strokie in Afrika.
My eerste verrassing was om te hoor dat die meeste van sy 350 000 inwoners, buiten hul stamtale, Spaans vlot praat. Ek het uitgevind dat dit die enigste Spaanssprekende land in Afrika geword het weens een van daardie skielike wendings in die koloniale geskiedenis.
Die Europese verbintenis
Ongeveer 20 jaar voordat Columbus Amerika ontdek het, het die Portugese seevaarder Fernão do Pó die Golf van Guinee verken toe hy die vulkaniese eiland Bioko met sy welige plantegroei gesien het. Die skoonheid daarvan het hom so bekoor dat hy dit Formosa (Pragtig) genoem het. Jare later het ’n ander beroemde ontdekkingsreisiger, Sir Henry Stanley, dit as “die juweel van die oseaan” beskryf.
Maar die ongerepte skoonheid van die streek is eeue lank deur die aaklige slawehandel ontsier. Die strategiese ligging van Bioko en Corisco (nog ’n Guinese eiland net langs die kus van Mbini) het hulle ideale vaste haltes gemaak om Afrika-slawe na die Amerikas te verskeep. Van die 16de tot die 19de eeu is honderdduisende slawe van hierdie twee eilande af verskeep.
Die Portugese het hulle aanspraak op Bioko en die aangrensende kus in 1778 aan die Spanjaarde afgestaan om ’n geskil tussen die twee lande met betrekking tot hulle gebiedsaansprake in die vergeleë Suid-Amerika op te los. Spanje het dus sy eie bron van slawe in Afrika gekry en op sy beurt afstand gedoen van sy aansprake op Portugese gebied in Brasilië.
Maar die grense was nie duidelik afgebaken nie, en daar was min Spaanse koloniseerders. In die 19de eeu, gedurende Europa se wedloop om kolonies in Afrika te kry, het Frankryk en Duitsland op die vastelandgebied oortree, terwyl Brittanje die eiland van Bioko begeer het. Dit was eers in 1900 dat die grense van Ekwatoriaal-Guinee uiteindelik vasgestel is, waarna dit ’n Spaanse kolonie gebly het totdat dit in 1968 onafhanklik geword het.
“’n Glimlag word beantwoord”
Die mense van Ekwatoriaal-Guinee was vir my ’n fassinerende etniese verskeidenheid. Op die eiland Bioko is daar die Bube, terwyl die lang Hausa in die twee hoofstede uitstaan. Hulle is immigrante uit die noorde en is Guinee se vernaamste handelaars. Die Fang-stam is die grootste stam op die vastelandgedeelte van die land en die meeste staatsdienslede is van hulle stam. Guinese glimlag maklik, wat waarheid verleen aan die Fang-spreekwoord wat sê: “’n Glimlag word beantwoord.”
Tradisionele handwerk en gebruike is nog volop. Dit het my gefassineer om te sien hoe die Guinese hulle eie huise, hoewel dit eenvoudig is, van materiale bou wat hulle in die woud kry. Vissermanne hol nog steeds hulle eie boomkano’s uit en vang vis deur hierdie eeue oue metode.
Duisende Guinese drom elke dag saam op die opelugmarkte van Bata en Malabo, die hoofstede van die land. ’n Besoek aan die mark het my ’n kykie na die mense en hulle leefwyse gegee. Die markte verkoop alles denkbaar—van tweedehandse moersleutels tot ape (aapvleis is lekker in ’n bredie). Verskillende bottels met kragtige tuisgemaakte reinigingsmiddels deel ’n plek met netjiese hopies boontjies en knoffelhuisies. In Guinee is tyd nie baie belangrik nie en dit het vir my gelyk of die stalletjies nooit toemaak nie, ten minste nie voor sononder of voordat alles verkoop is nie.
In baie Fang-statte het ek ’n groot gemeenskaplike hut gesien. Daar is vir my gesê dat dit ’n Casa de la Palabra (Huis van die Woord) genoem word. Dit is hier waar die mense van die stat bymekaarkom en hulle geskille besleg nadat albei kante hulle griewe, of “woorde”, gelug het. Dit is ’n oop hut sodat almal wat wil na die saak kan luister.
Die tropiese woud—’n Skat om te bewaar
Maar vir my is dit veral die ekwatoriale woud wat Guinee opsom. Toe ons eers uit die dorpe was, het die oerwoud se welige plantegroei dit laat lyk asof ons deur ’n groen tonnel ry. Groen is die kleur van Guinee, groen in al sy skakerings, groen wat na elke tropiese reënbui opnuut glinster. Kronkelende rankplante, groot bamboesbosse en honderde boomsoorte groei saam en vorm ’n groen mantel oor die land. Die tropiese woud—wanordelik tog harmonieus—is iets wat ons gerus op ons ontboste planeet kan bewaar.
Groot streke van Ekwatoriaal-Guinee bevat steeds ongerepte tropiese woude, waarvan party as toekomstige nasionale parke uitgesoek is. En die woud is nie net dekoratief nie. Dit voorsien voedsel, brandstof en selfs medisyne vir die Guinese. Dit is nie verbasend dat ’n reusagtige tropiese boom, die kapokboom, die hoofkenmerk van die Guinese landswapen is nie.
Ek kon nie anders as om beïndruk te wees deur die skoonheid van Bioko nie, ’n skoonheid wat die vroeë Europese ontdekkingsreisigers vyf eeue gelede ook beïndruk het. Dit is ’n bergagtige eiland met baie vulkaniese kraters waarvan party mere geword het en dus tot die verskeidenheid van die natuurskoon bydra. Die hoogste vulkaniese spits op die eiland toring byna 3000 meter bo seevlak uit, en sy beboste hange is die tuiste van ’n verskeidenheid eksotiese voëls en skoenlappers wat ’n spatsel kleur by die welige plantegroei voeg.
Hoog op in die berg het dit my geboei om die klein suikerbekkies dop te hou terwyl hulle tussen die struike en blomme op die berghange rondfladder. Die groen en rooi vere van die mannetjies het soos juwele in die middagson geglinster. Soos die Amerikaanse kolibrie eet hulle smaaklik aan die nektar van groot blomme of aan die insekte wat hulle tussen die blomblare kry.
Unieke fauna van die woud
’n Ongelooflike verskeidenheid wilde diere word in die ekwatoriale woud, veral op die vasteland, aangetref. Buffels en olifante, wat kleiner soorte is as dié in die Afrika-savanne, bewoon die digte oerwoud. Maar die uitsonderlikste dier in die woud is waarskynlik die gorilla, wie se getalle oral in Afrika krimp. Ek het met ’n mak jong gorilla gespeel wie se ma deur jagters doodgemaak is. Sy hartseer uitdrukking het my aan die gorilla se onsekere toekoms in die hande van die mens laat dink.
Vyf-en-twintig jaar gelede het dit natuurkenners oral in die wêreld verbaas om te hoor dat ’n albinogorilla in Guinee gevind is. Dit was die eerste bekende geval van albinisme by gorillas. Sy hare was heeltemal wit en hy het ’n pienk vel en blou oë gehad. Hy is Copito de Nieve (Sneeuvlokkie) genoem en is uiteindelik na die Barcelona-dieretuin in Spanje geneem, waar hy nog steeds die publiek vermaak.
Die eerste ding wat ek in die woud agtergekom het, is dat ’n mens in werklikheid min diere sien. Baie diere slaap gedurende die dag, en dit is slegs gedurende die nag dat die woud werklik begin lewe. Teen skemeraand verlaat duisende vrugtevlêrmuise hulle slaapplekke om die woud se blaredak te fynkam, en visuile begin hulle nagtelike patrollie van die strome en riviere. Grootoog nagapies spring van tak tot tak asof dit helder oordag is.
Gedurende die dag is dit hoofsaaklik voëls en skoenlappers wat lewe en kleur aan die woud gee. Yslike swawelstertvlinders, met hulle helder swart en groen vlerke en fladderende vlug, is die opvallendste. Bo in die lug vorm die gedempte gekoer van die groen vrugteduiwe ’n kontras met die hees geroep van die lomp neushoringvoëls.
Op die grond het ek ’n blou en oranje Afrika-koggelmander gesien wat op ’n omgevalde boomstomp die wêreld staan en dophou het. Afgesien van die beweging van sy tong wat enige mier binne bereik rats opgeskep het, het hy bewegingloos gestaan.
Ongelukkig kon ek nie een van Guinee se unieke rivierbewoners sien nie. Langs die oewers en die watervalle van die Mbía-rivier leef die wêreld se grootste padda, Conraua goliath. Hierdie paddas kan drie kilogram of meer weeg en van kop tot tone 0,9 meter lank wees. Volgens navorser Paul Zahl van National Geographic kan hulle met hulle kragtige bene in een reusesprong drie meter ver spring.
In Ekwatoriaal-Guinee is die ondergaande son eerder oranje as rooi, wat jou daaraan herinner dat die atmosfeer hier nie so besoedeld is as in ander dele van die wêreld nie. Die verbruikersgemeenskap het min skade aangerig, en die bome van die woud vul daagliks die suurstof aan. Sulke ongerepte dele van die wêreld is baie skaars. Hopelik sal hierdie ekwatoriale skat een van hulle bly.
[Kaarte op bladsy 24]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
AFRIKA
Ekwatoriaal-Guinee
EWENAAR
[Kaart]
Bioko
Mbini
[Prente op bladsy 25]
Vissermanne hol steeds hulle boomkano’s uit
Gemeenskaplike hut (“Casa de la Palabra”) waar mense van die stat bymekaarkom en hulle geskille besleg
[Prente op bladsy 26]
jong gorilla
visuil
bosnagapie
Afrika-vlinder