Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 2/8 bl. 11-13
  • Moet ons die “rasie” bywoon?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet ons die “rasie” bywoon?
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Entoesiasme of fanatisme?
  • Moet ek by die skoolspan aansluit?
    Ontwaak!—1991
  • Moet ek by ’n sportspan aansluit?
    Ontwaak!—1996
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1992
  • Spansport—is dit goed vir my?
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 2/8 bl. 11-13

Jongmense vra . . .

Moet ons die “rasie” bywoon?

‘VEG span, veg!’ ‘Wen, wen, wen!’ Die strydkrete word oor en oor met stygende entoesiasme en byna godsdienstige ywer gedreunsing. Die stadion weergalm van die ritmiese maat van musiek en tromslae. Seuns en dogters met kleurryke kostuums lei die strydkrete en segeliedere, terwyl hulle hulle maats beïndruk met akrobatiese toertjies en wilde danspassies. Spanafrigters en sportbestuurders verseker almal grootpraterig van die oorwinning. Dan, onder die dawerende toejuiging van hulle ondersteuners, maak die tuisspan hulle opwagting. Die skare word feitlik tot waansin opgesweep en die opwinding loop hoog. Hulle gaan wen!

In baie skole word daar met groot verwagting uitgesien na sulke byeenkomste om spangees te bou, wat algemeen ’n rasie genoem word. En hoewel allerlei byeenkomste van tyd tot tyd gehou word om entoesiasme vir verskillende skoolprojekte aan te wakker, word rasies gehou vir sportgeleenthede wat voorlê: rugby, sokker, bofbal, basketbal. Rasies is vir baie jongmense meer as bloot ’n onderbreking van die skoolroetine. Dit is ’n geleentheid om die skoolspan die nodige ondersteuning te gee, om hulle sporthelde aan te moedig en om hulle span tot die oorwinning aan te spoor! Rasies dien ook om skoolgees en ’n samehorigheidsgevoel onder skoliere aan te wakker.

Dit is waar dat nie almal in sport belangstel nie. Party skoliere geniet eenvoudig die geesdrif, pret en opwinding van die byeenkomste. “Dis ’n tyd om uitgelate en verspot te wees”, sê een jeugdige. Vir ander is sportbyeenkomste ’n geleentheid om klasse te mis—of om vrylik met die ander geslag te meng. “Dis ’n tyd vir ouens en hulle asters om bymekaar te wees”, sê een tienerseun.

Hoe dit ook al sy, baie opvoeders meen dat dit ’n noodsaaklike deel van die opvoedingsproses is om die skool se sportgeleenthede te ondersteun. In haar boek The High School Survival Guide—An Insider’s Guide to Success skryf Barbara Mayer: “Enige skolier wat die hoërskool verlaat sonder . . . om op die paviljoen te sit en die tuisspan toe te juig . . . het van die gelukkigste tye en beste geleenthede in die grootwordproses misgeloop wat hy in ’n lang tyd sal hê.” Dit is geen wonder dat sommige skole toelaat dat rasies gereelde klasse vervang nie.

As sulke geleenthede wel by jou skool plaasvind, het jy moontlik al gewonder of jy hulle moet bywoon. Trouens, daar word dalk druk op jou uitgeoefen om hulle by te woon. As jy hulle nie bywoon nie, kan ander jou selfs as snobbisties of as dislojaal beskou. Daar is nietemin goeie redes waarom jong Christene dit nie bywoon nie.

Entoesiasme of fanatisme?

Dit beteken nie dat die Bybel teen sport gekant is nie. Die Bybel erken dat “liggaamlike oefening . . . ’n bietjie waarde” het (1 Timotheüs 4:8, Today’s English Version). Baie Christene—jonk en oud—geniet dit om na sport te kyk en om aan verskillende sportsoorte deel te neem. Wanneer matigheid voor oë gehou word, kan sport aangenaam, nuttig, wees.a

Rasies kan egter gesonde entoesiasme vir sport in dodelike fanatisme omskep. Volgens die boek Sports and Games in the Ancient World kon “koorsagtige applous, geskreeu en gejuig gehoor word” tydens die eertydse Romeinse sportgeleenthede. Dit verbaas ’n mens geensins dat “fanatisme uiteraard gefloreer” het nie. Tydens gevegte van die gladiators “het toeskouers uitroepe laat hoor soos ‘Maak hom dood! Slaan hom! Steek hom!’” en het hulle ongevoelig gestaan teenoor die feit dat hulle die koelbloedige moord op ’n medemens aanmoedig.

Sportfanatisme is vandag ook net so lewendig en ongesond. Na ’n Europese sokkerwedstryd waartydens geweld onder ondersteuners tot die dood van 38 mense gelei het, het die tydskrif Discover aan die hand gedoen dat die “gevoel van anonimiteit”, wat ontstaan wanneer ’n mens ’n deel van ’n skare is, hiervoor verantwoordelik was. Mense voel gevolglik minder aanspreeklik vir hulle dade. Maar die Bybel waarsku in Exodus 23:2, (NW): “Jy mag die skare nie volg met bose oogmerke nie.” Maar kan dit regtig so boos wees om maar net vir jou span te skreeu en hulle toe te juig? Ja. Die tydskrif Discover het opgemerk dat “die toejuiging en geskreeu by ’n sportgeleentheid ’n soort mondelinge aggressie verteenwoordig, wat by party mense maklik in fisiese aggressie kan oorslaan”.

Kan dit derhalwe nuttig wees om strydkrete en rymwoorde te dreunsing wat sportmanne aanspoor om hulle teenstanders te verpletter? Jong Gerald onthou die rasies wat hy altyd bygewoon het: “Hulle was rumoerig en het gepaardgegaan met luidrugtige geskreeu. Soms het die skare te rumoerig geraak. Die byeenkomste was meer soos oorlogsrituele wat ons tot oproerigheid aangespoor het. Woorde soos ‘maak dood’, ‘trap hulle’ en ‘slaan hulle’ is deurentyd gebruik.” Soms het woorde in dade oorgegaan. Jong Perry onthou ’n byeenkoms waartydens “almal stokke geneem het en ’n replika van die teenstanders se gelukbringer begin slaan het. Toe alles verby was, was die gelukbringer aan flarde.”

Wie is bestand teen so ’n aansteeklike gees van gewelddadigheid? Die Bybel waarsku dus tereg: “Slegte gesprekke bederf goeie sedes” (1 Korinthiërs 15:33). Soos een skolier erken het: “Jy kan nie help om beïnvloed te word om die dinge te doen wat almal om jou doen nie.” En as jy jou aan geweld skuldig maak, kan dit ernstige gevolge inhou. Onthou hoe die eertydse Edomiete die Babiloniërs aangepor het toe hulle Jerusalem geplunder het. “Breek weg, breek weg, tot op die grond met hom!” het die Edomiete uitgeroep (Psalm 137:7). God het egter hulle wraaksugtige, gewelddadige gees summier veroordeel (Obadja 1:1, 8, 12). Kan enigiemand vandag soortgelyk optree en hom nie God se misnoeë op die hals haal nie?

Nie alle rasies—en nie alle sportgeleenthede—is weliswaar gewelddadig nie. Maar is dit van pas, selfs as daar ’n mate van stemmigheid is, dat ’n Christen woorde dreunsing wat ’n fanaties lojale of selfs vererende gesindheid teenoor ’n skool of sportspan openbaar? (Vergelyk Exodus 20:5.) Strook die geskreeu van uittartende strydkrete met die raad wat in Efesiërs 4:29, 31 gegee word? Daar lees ons: “Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie . . . Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid.” Sal die bywoning van ’n emosiebelaaide byeenkoms jou help om die vrug van God se gees, wat “sagmoedigheid” en “selfbeheersing” insluit, aan te kweek? (Galasiërs 5:22). Of sal dit eenvoudig die goddelose gees van strawwe mededinging opwek?—Vergelyk Filippense 2:3.

Omstandighede verskil natuurlik. In sommige gevalle is dit verpligtend om die oggendbyeenkoms by te woon, en ’n rasie kan ’n deel van die program uitmaak. Rasies verskil self in styl en inhoud. Hoewel geen vaste reël ten opsigte van die bywoning daarvan gemaak kan word nie, sal dit verstandig wees as ’n jong Christen sulke sake met sy ouers bespreek en die verskillende faktore oorweeg wat daarby betrokke is. (Sien Spreuke 24:6.) As jy besluit om nie aan rasies deel te neem nie, sal jy dalk hewige portuurdruk moet verduur. Maar onthou altyd dat jou hoogste lojaliteit teenoor God is—nie teenoor die een of ander skool of span nie.

[Voetnoot]

a Sien die reeks artikels oor die onderwerp “Sport—Watter plek beklee dit?” in die Ontwaak! van 22 Augustus 1991.

[Venster op bladsy 13]

‘Ek wil ’n rasieleier wees!’

Baie jong meisies—en seuns—smag na die aansien, erkenning en gewildheid wat gepaardgaan met die posisie van rasieleier. “Dit gee jou groter selfvertroue wanneer jy mense opsweep en hulle opgewonde laat raak”, sê Lisa, ’n meisie wat in die tydskrif Seventeen aangehaal word. “En dit is ’n lekker gevoel as almal vir jou kyk!” Ander jongmense hou van die sosiale moontlikhede wat ’n rasieleier te beurt kan val. Toe werwers probeer het om Hannah te oorreed om haar vir die uitdunne beskikbaar te stel, het hulle vir haar gesê: “Dit sal jou gewild maak, en jy sal die seuns se aandag geniet.” Party meisies beweer dat dit hulle eiewaarde verhoog het om rasieleier te wees.

Maar die lewe van ’n rasieleier bestaan nie net uit dirigeerstokke en akrobatiese spronge nie. Daar is dikwels strawwe mededinging tydens die uitdunne; verwerping kan traumaties wees. Daar kan openlike vyandigheid tussen spanne van mededingende skole wees. Boonop verg party van die bewegings wat deesdae deur rasieleiers uitgevoer word die vaardigheid van Olimpiese gimnaste. Beserings kom algemeen voor. Rasieleiers moet derhalwe elke week ure lank oefen. ’n Handboek vir rasieleiers merk op: “Dit moet vir rasieleiers ’n lewenswyse wees waaraan hulle toegewy is.”

Kan ’n Christen hom werklik “toewy” aan iets so ydel soos die bevordering van skoolgees? Beswaarlik; en dit sal ook nie vir ’n jong Christen van pas wees om ’n skare aan te spoor om strydkrete te dreunsing of om liedjies te sing wat gewelddadigheid verheerlik of sportspanne of -helde verafgood nie. En soos ons reeds gemeld het, is die gevaar van “slegte gesprekke” ’n geldige rede tot kommer (1 Korinthiërs 15:33). Laat ons ook nie die ooglopende probleme oor die hoof sien wat kan opduik wanneer iemand voor ander paradeer—en dans—in die onbeskeie drag wat rasieleiers dikwels moet dra nie.—1 Timotheüs 2:9.

As ’n mens dit alles in aanmerking neem, is dit duidelik dat dit vir ’n jong Christen onvanpas is om ’n rasieleier te wees. Sy of haar toewyding aan Jehovah is veel belangriker.

[Prent op bladsy 12]

Strook die gees wat tydens rasies aangewakker word met Christelike beginsels?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel