Hoe om verkragting te verwerk
Mary is 33 jaar gelede verkrag terwyl sy met ’n mes gedreig is. Vandag bons Mary se hart en haar palms sweet wanneer sy dit probeer beskryf. “Dit is die vernederendste ervaring wat ’n vrou kan deurmaak”, sê sy na aan trane. “Dit is ’n haatlike, aaklige ding.”
VERKRAGTING kan een van die vernietigendste emosionele gebeurtenisse in ’n mens se lewe wees, en die gevolge daarvan kan lewenslank voortduur. In een studie het byna ’n derde van die verkragtingslagoffers met wie daar onderhoude gevoer is dit al oorweeg om selfmoord te pleeg, en die oorgrote meerderheid het gesê dat die belewenis hulle vir goed verander het.
Die gevolge kan veral traumaties wees as die vrou haar aanvaller geken het. ’n Verkragtingslagoffer wat haar verkragter geken het se kanse is kleiner dat ander haar sal help omdat sy niemand vertel wat gebeur het nie, of sy vertel hulle en niemand glo dat dit verkragting was nie. Aangesien sy leed aangedoen is deur iemand wat sy vertrou het, is die kanse ook groter dat sy haarself sal verwyt en haar vermoë om ander na waarde te skat in twyfel sal trek.
Aanvaar hulp
Baie verkragtingslagoffers se aanvanklike reaksie is skok en ontkenning. Een vrou is net voor ’n belangrike universiteitseksamen verkrag. Sy het die verkragting op die agtergrond geskuif tot nadat sy die eksamen geskryf het. Nog iemand wat ’n verkragting deurgemaak het, het gesê: “Ek kon myself net nie sover kry om enigiets daarvan te onthou nie, want my vriend wat ek vertrou het, het reg voor my oë in ’n aanvaller verander. Ek het nie geweet dat jy verkrag kan word deur iemand wat jy ken nie. Dit klink dalk belaglik, maar daardie opvatting het my sonder enige hoop gelaat. Ek het so eensaam gevoel.”
Party vroue hou aan om dit wat gebeur het, te ontken deur niemand van hulle verkragting te vertel nie. Hulle onderdruk die voorval jare lank, wat die genesingsproses vertraag en ander emosionele probleme veroorsaak wat die slagoffer dalk nie besef uit die verkragting voortspruit nie.
Genesing begin gewoonlik nie voordat jy met ander daaroor praat nie. ’n Betroubare vriend kan jou help insien dat wat met jou gebeur het inderdaad verkragting was en dat dit nie jou skuld was nie. ’n Ou gesegde lui: “’n Ware vriend het altyd lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd dat daar benoudheid is” (Spreuke 17:17, NW). Geestelike herders kan ook “wees soos ’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën” (Jesaja 32:2; 1 Thessalonicense 5:14). Party slagoffers moet dalk ’n verkragtingkrisissentrum of ’n professionele raadgewer nader om hulle hulle gevoelens te help verwerk.
Slagoffers is dikwels bang om oor hulle verkragting te praat vanweë skuldgevoelens, veral as hulle tydens die aanranding seksueel gestimuleer is. Hulle voel moontlik onrein en waardeloos en verwyt hulleself vir die verkragting—al dra niemand behalwe die verkragter die skuld nie.
“Dit het gehelp om ’n goeie vriend te hê om mee te praat”, het Mary gesê, wat ’n mede-Christen in haar vertroue geneem het. “Ek kon met haar gesels sonder om onrein te voel en te voel asof daar ’n stigma aan my kleef omdat ek verkrag is.”
Ondersteun haar
Aan die ander kant sal dit verkeerd en liefdeloos van die slagoffer se vriende wees om agteraf kritiek te lewer of dit op hulleself te neem om te besluit of sy “werklik verkrag is”. Moet nooit beweer dat sy dit geniet het of onsedelik was nie. Die belangrikste ding wat ’n vriend kan doen wanneer daar om hulp gevra word, is om haar te glo. Stel haar gerus. Wees beskikbaar om te luister wanneer sy daaroor wil praat, maar moenie daarop aandring dat sy jou meer besonderhede gee nie.
As die verkragting kort gelede plaasgevind het, kan vriende die slagoffer help om mediese hulp te kry en ’n veilige blyplek aanbied. Moedig haar aan om die verkragting aan te meld, maar laat sy die besluite neem. Sy was so pas in ’n situasie waarin sy alle beheer ontneem is. Laat haar toe om ’n mate van daardie beheer te herwin deur haar te laat besluit wat om volgende te doen.
Gesinne van verkragtingslagoffers moet die versoeking weerstaan om emosioneel op die situasie te reageer. Hulle wil dalk na iemand soek wat hulle vir die verkragting kan blameer of hulle wil wraak neem op die verkragter, wat nie die slagoffer sal help nie (Romeine 12:19). Dit is nutteloos om enigeen behalwe die verkragter te blameer vir wat gebeur het, en dit is gevaarlik om wraak te wil neem. Dit sal veroorsaak dat sy bekommerd is oor die veiligheid van haar geliefdes pleks dat sy haar heeltemal op haar genesingsproses toespits.
Gesinne moet ook daarvan bewus wees dat baie slagoffers geslagsomgang na ’n verkragting anders beskou. In hulle gedagtes het seks ’n wapen geword, en hulle kan dit moeilik vind om ’n tyd lank geslagsomgang te hê, selfs met iemand wat hulle liefhet en vertrou. Om dié rede moet ’n man nie daarop aandring dat sy vrou geslagsomgang voortsit totdat sy daarvoor gereed is nie (1 Petrus 3:7). Gesinne kan help deur ’n gevoel van eiewaarde by ’n jong vrou op te bou en aan haar te toon dat hulle haar steeds liefhet en respekteer ten spyte van wat met haar gebeur het. Voortdurende ondersteuning sal nodig wees namate die slagoffer stappe doen om emosioneel te genees, wat soms ’n tydsame proses is.
Hoe om vrees en depressie die hoof te bied
Vroue wat al verkrag is, sê dat vrees hulle oorweldigendste reaksie is. Die meeste verkragtingslagoffers het nie verwag om die aanranding te oorleef nie. Later is hulle dalk bang dat hulle weer verkrag sal word of selfs bang dat hulle die verkragter toevallig sal sien.
Soortgelyke geluide, reuke en plekke kan die vrees wat tydens die verkragting ondervind is, laat terugkeer. As ’n vrou in ’n stegie verkrag is, kan sy bang wees om in ’n stegie in te gaan. As sy tuis verkrag is, sal sy dalk nooit weer daar veilig voel nie en verplig wees om te verhuis. Dit kan selfs onaangename herinneringe oproep as sy ’n soortgelyke reukweerder ruik as wat die verkragter aangehad het.
Hoewel min verkragtings swangerskap tot gevolg het, is baie slagoffers doodbang vir dié moontlikheid. Baie is ook tereg bekommerd dat hulle ’n seksueel oordraagbare siekte opgedoen het. Ongeveer die helfte ondervind depressie, ’n gevoel van wanhoop en waardeloosheid, wat verskeie weke tot verskeie maande kan duur. Hulle kan ook te kampe hê met angs, fobieë en paniekaanvalle.
Hoewel vroue dalk nie in staat is om ’n verkragting af te weer nie, kan hulle mettertyd beheer uitoefen oor hulle gedagtes, gevoelens en reaksies op die aanranding. Hulle kan leer om negatiewe gedagtes met ’n positiewe beskouing van hulleself te vervang.
“Pleks van jouself te vertel hoe swak, waardeloos of hulpeloos jy is, moet jy leer om jouself te vertel hoe goed jy vaar en hoe ver jy gevorder het sedert die verwardheid wat onmiddellik na die aanranding gevolg het”, het Linda Ledray in Recovering From Rape gesê. “Elke dag wat jy minder oorweldig is deur negatiewe gedagtes en gevoelens moet jy vir jouself sê: ‘Ek is besig om beheer oor my lewe te herwin.’”
Vrees kan ook verwerk word deur te leer om vas te stel wat presies daartoe aanleiding gee. Wanneer die slagoffer vasgestel het wat die oorsaak is, kan sy haar afvra: Hoe realisties is daardie vrees? As sy byvoorbeeld iemand sien wat soos die verkragter lyk, kan sy haarself daaraan herinner dat hy nie die verkragter is nie en dat hy haar nie gaan seermaak nie.
Nog ’n aanbevole manier om vrees te verwerk, is stelselmatige desensifisering. Die vrou stel ’n lys op van bedrywighede of situasies waarvoor sy bang is en rangskik dit só dat dit waarvoor sy die minste bang is bo-aan die lys is terwyl dit waarvoor sy die bangste is onderaan is. Dan stel sy haarself voor in die situasie met die minste spanning tot sy nie meer daarvoor bang is nie. So gaan sy al met die lys af totdat sy op haar gemak voel wanneer sy aan al die situasies dink.
Met die hulp van ’n vriend kan sy dit dan verder voer deur die bedrywighede in die werklikheid uit te voer, soos om saans uit die huis te gaan of alleen te wees. Sy kan haar vrees eindelik so beheers dat dit nie meer ’n uitwerking op haar daaglikse roetine het nie. ’n Vrees vir sekere bedrywighede—soos om saans deur ’n donker stegie te stap—is egter normaal, en dit sal nutteloos wees om onrustigheid in daardie situasies te probeer oorkom.
Omskep woede
Verkragtingslagoffers ondervind ook ’n gevoel van woede, wat aanvanklik op alle mans gerig is, maar, met verloop van tyd, gewoonlik net op die verkragter gerig word. Mense wat kwaad is, haal dit dikwels op almal uit. Ander reageer moontlik deur hulle gevoelens te onderdruk. Maar woede kan konstruktief omskep word, en die manier waarop ’n vrou haar woede verwerk, kan tot haar genesing bydra. Die Bybel sê: “Word toornig [kwaad] en moenie sondig nie.”—Efesiërs 4:26.
Slagoffers hoef eerstens nie bang te wees om hulle woede in woorde te stel nie. Hulle kan met ander daaroor praat. Betrokkenheid by die regsproses of die hou van ’n verslag kan as ’n uitlaatklep dien. Hulle kan ook liggaamlike oefeninge doen om van hulle woede ontslae te raak, soos om tennis, muurbal of handbal te speel, te stap, te draf, fiets te ry of te swem, wat boonop help om depressie teen te werk.
Jy kan beheer oor jou lewe herwin.
Wat sal ’n einde maak aan verkragting?
As ’n mens ’n einde aan verkragting wil maak, is dit onvoldoende as vroue verkragters net vermy of teen hulle weerstand bied. “Dit is mans wat verkrag en mans wat gesamentlik die vermoë het om ’n einde aan verkragting te maak”, het ’n skrywer, Timothy Beneke, in sy boek Men on Rape gesê.
Verkragting sal nie ophou voordat mans ophou om vroue as blote seksvoorwerpe te behandel en leer dat gelukkige verhoudinge nie van gewelddadige oorheersing afhang nie. Volwasse mans kan hulle individueel daarteen uitspreek en ander mans beïnvloed. Mans sowel as vroue kan weier om te vinde te wees vir seksistiese grappies, om na rolprente te kyk wat seksuele aanrandings uitbeeld of om adverteerders te ondersteun wat seks uitbuit om produkte te verkoop. Die Bybel se raad is: “Hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam; ook nie gemeenheid en dwase of lawwe praatjies wat nie pas nie, maar liewer danksegging.”—Efesiërs 5:3, 4.
Ouers kan deur hulle voorbeeld respek vir vroue inskerp. Hulle kan hulle seuns leer om vroue te beskou soos Jehovah God hulle beskou. God is nie ’n aannemer van die persoon nie (Handelinge 10:34). Ouers kan hulle seuns leer om vriendskappe met vroue te sluit en net soos Jesus op hulle gemak te voel in hulle aanwesigheid. Hulle kan hulle seuns leer dat geslagsomgang ’n tere liefdedaad is wat net tot ’n mens se huweliksmaat beperk is. Ouers kan duidelik toon dat geweld nie geduld en dat oorheersing van ander ook nie op prys gestel sal word nie (Psalm 11:5). Hulle kan hulle kinders aanmoedig om geslagsake openhartig met hulle te bespreek en om seksuele druk te weerstaan.
’n Probleem wat binnekort sal ophou
Maar verkragting sal nie ophou sonder revolusionêre veranderinge in die wêreldgemeenskap nie. “Verkragting is nie net ’n individuele probleem nie, [maar] is ook ’n gesinsprobleem, ’n sosiale probleem en ’n nasionale probleem”, het die navorser Linda Ledray gesê.
Die Bybel belowe ’n wêreldwye gemeenskap sonder geweld, waar die mens nie meer ‘oor die ander tot sy ongeluk sal heers nie’ (Prediker 8:9; Jesaja 60:18). Die tyd sal binnekort aanbreek wanneer Jehovah God geen magsmisbruik meer sal duld nie, waaronder verkragting.—Psalm 37:9, 20.
In daardie nuwe wêreldgemeenskap sal almal geleer word om vreedsaam te wees en sal hulle mekaar liefhê ongeag hulle geslag, ras of nasionaliteit (Jesaja 54:13). En dan sal die ootmoediges sonder vrees vir vriende of vreemdelinge leef en sal hulle “hulle verlustig oor groot vrede”.—Psalm 37:11.
[Venster/Prent op bladsy 9]
As jy verkrag word
□ Kry mediese hulp.
□ As jy wil, kan jy vra dat ’n raadgewer vir verkragtingslagoffers jou met mediese en wetlike prosedures bystaan as daar een beskikbaar is.
□ Ontbied die polisie so gou moontlik. Raadgewers raai aanmelding vir jou veiligheid aan en vir dié van ander vroue. Aanmelding is nie dieselfde as geregtelike vervolging nie, maar as jy later op geregtelike vervolging besluit, sal jou saak nie so sterk wees as jy dit nie dadelik aangemeld het nie.
□ Behou bewyse. Moenie dadelik bad, skoon klere aantrek, hare was of kam of vingerafdrukke of voetspore tot niet maak nie.
□ Mediese personeel sal bewyse versamel en toetse doen vir seksueel oordraagbare siektes en swangerskap. As hulle middels aanbied om swangerskap te voorkom, oftewel ’n oggenddaarna-pil, moet Christene daarvan bewus wees dat sulke middels die liggaam ’n bevrugte eier kan laat afdryf.
□ Doen wat jy moet om veilig te voel—sit nuwe slotte aan, bly by ’n vriendin, versper jou deur—of dit nou lyk asof jy oorreageer of nie.
□ Vertrou bowenal op die Skrif vir vertroosting, bid tot Jehovah, en roep selfs sy naam gedurende en na die aanranding hardop uit. Steun op die ouere manne en ander intieme metgeselle in die gemeente vir hulp. Woon vergaderinge by as dit enigsins moontlik is, en assosieer met mede-Christene in die bediening.