Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 4/22 bl. 20-23
  • Die wetenskap—die mensdom se voortdurende soeke na waarheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die wetenskap—die mensdom se voortdurende soeke na waarheid
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die eerste soöloog neem die voortou
  • Babilon is oral
  • Vooruitgang vind stap vir stap plaas
  • Ja, die immerteenwoordige Grieke
  • Die wetenskap—Die mensdom se voortdurende soeke na waarheid
    Ontwaak!—1993
  • Die wetenskap—die mensdom se voortdurende soeke na waarheid
    Ontwaak!—1993
  • Tot watter mate kan jy die wetenskap vertrou?
    Ontwaak!—1998
  • Die Wetenskap—die mensdom se voortdurende soeke na waarheid
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 4/22 bl. 20-23

Deel 2

Die wetenskap—die mensdom se voortdurende soeke na waarheid

Die soeke begin

“NIEMAND weet wie eerste vuur ontdek het, die wiel uitgevind het, die pyl en boog ontwikkel het of die opkoms en die ondergang van die son probeer verduidelik het nie”, sê The World Book Encyclopedia. Maar dit ís ontdek, uitgevind, ontwikkel en verduidelik, en die wêreld was sedertdien nooit dieselfde nie.

Hierdie prestasies was die begin van ’n soeke na die waarheid wat nou reeds sesduisend jaar duur. Mense was nog altyd nuuskierig, aangesien hulle nog altyd die lewende en nielewende dinge in die wêreld om hulle wou verstaan. Hulle stel ook daarin belang om dit wat hulle leer, toe te pas en om dit op ’n praktiese manier te gebruik om hulleself te bevoordeel. Hierdie natuurlike dors na kennis en die begeerte om dit toe te pas, is die dryfkrag in die mensdom se voortdurende soeke na wetenskaplike waarheid.

Daardie eerste pogings om wetenskaplike kennis prakties toe te pas, het natuurlik nie bekend gestaan as tegnologie soos ons dit vandag ken nie. Trouens, die mense wat sulke pogings aangewend het, is ook nie wetenskaplikes genoem nie. Om die waarheid te sê, was die wetenskap soos ons dit vandag ken onbekend tydens die grootste deel van die mensdom se bestaan. Selfs in die 14de eeu, toe die Engelse digter Chaucer die woord “wetenskap” gebruik het, het hy bloot van al die soorte kennis gepraat. Dit was in ooreenstemming met die woord se etimologie, wat teruggevoer kan word na ’n Latynse term wat “om te weet” beteken.

Die eerste soöloog neem die voortou

Die wetenskap, ongeag wat dit oorspronklik genoem is, het sy begin in die tuin van Eden gehad toe mense die wêreld om hulle begin ondersoek het. Selfs voordat Eva geskep is, het Adam die opdrag ontvang om die diere name te gee. Ten einde geskikte name aan hulle te gee, moes hy hulle karaktertrekke en hulle gewoontes noukeurig bestudeer. Ons noem dit vandag die wetenskap van soölogie.—Genesis 2:19.

Adam en Eva se eerste kind, Kain, ‘het ’n stad gebou’; hy moes dus genoegsame wetenskaplike kennis gehad het om die nodige gereedskap te maak. Later is een van sy nakomelinge, Tubal-Kain, “’n smid wat allerhande koper- en ysterinstrumente gemaak het”, genoem. Teen daardie tyd het wetenskaplike kennis en tegnologie ongetwyfeld al toegeneem.—Genesis 4:17-22.

Teen die tyd dat Egipte ’n wêreldryk geword het—die eerste ryk wat in die Bybel genoem word—het wetenskaplike kennis in so ’n mate gevorder dat die Egiptenare reusepiramides kon bou. Die ontwerp van hierdie piramides is volgens The New Encyclopædia Britannica “eers suksesvol uitgevoer ná baie eksperimente waardeur groot ingenieursprobleme opgelos is”. ’n Grondige kennis van wiskunde was nodig om hierdie probleme op te los, en dit het die bestaan van sekere verwante wetenskaplike vaardighede aangedui.

Wetenskaplike nuuskierigheid was natuurlik nie net tot die Egiptenare beperk nie. Die Babiloniërs het, benewens die ontwikkeling van ’n kalender, ’n getal- en meetstelsel ontwerp. In die Verre-Ooste het die Chinese beskawing waardevolle wetenskaplike bydraes gelewer. En die vroeë voorvaders van die Inkas en die Majas in die Amerikas het ’n gevorderde beskawing ontwikkel wat Europese ontdekkingsreisigers later verbaas het, want hulle het nie sulke prestasies van “agterlike inboorlinge” verwag nie.

Maar nie alles wat hierdie eertydse volke aanvanklik as wetenskaplike waarheid beskou het, was wetenskaplik korrek nie. The World Book Encyclopedia sê dat die Babiloniërs, benewens die nuttige instrumente wat hulle vir wetenskaplike navorsing gemaak het, “ook die pseudowetenskap van astrologie ontwikkel het”.a

Babilon is oral

Vir Bybelstudente is eertydse Babilon sinoniem met valse aanbidding. In die astrologie wat daar beoefen is, is daar geglo dat verskillende gode oor elke deel van die hemele regeer. Die Bybel, wat leer dat daar net een ware God is, is wetenskaplik korrek wanneer dit die pseudowetenskap wat as astrologie bekend staan, verwerp.—Deuteronomium 18:10-12, NW; 1 Korinthiërs 8:6; 12:6; Efesiërs 4:6.

Godsdiens was ’n integrale deel van die vroeë mens se lewe. Daarom is dit verstaanbaar dat wetenskaplike kennis nie afgeskeie van godsdiensoortuigings en -beskouings ontwikkel het nie. Dit kan veral op die gebied van die mediese wetenskap gesien word.

“Antieke dokumente wat die Egiptiese samelewing en geneeskunde in die Ou Ryk verduidelik”, sê The New Encyclopædia Britannica, “toon dat die towerkuns en godsdiens integraal verband gehou het met die empiriorasionele mediese praktyk en dat die hooftowenaar aan die farao se hof ook baie keer as die nasie se hoofgeneesheer gedien het.”

Tydens die derde Egiptiese dinastie het ’n bekende argitek met die naam Imhotep bekendheid verwerf as ’n baie bekwame geneesheer. Hy is binne ’n eeu ná sy dood as Egipte se god van die geneeskunde aanbid. Teen die einde van die sesde eeu v.G.J. is hy tot ryksgod verhef. Die Britannica sê dat tempels wat aan hom toegewy is “baie keer propvol siekes was wat daar gebid en geslaap het met die oortuiging dat die god in hulle drome geneesmiddels aan hulle sou openbaar”.

Egiptiese en Babiloniese genesers is grootliks deur godsdiensbeskouings beïnvloed. The Book of Popular Science sê: “Die algemene teorie oor siekte was destyds, en vir geslagte daarna, dat koors, infeksie, skete en pyne veroorsaak word deur bose geeste, of demone, wat die liggaam binnedring.” Daarom het mediese behandeling gewoonlik godsdiensofferandes, towerspreuke of beswerings ingesluit.

Mettertyd, gedurende die vierde en vyfde eeu v.G.J., het ’n Griekse geneesheer met die naam Hippokrates hierdie beskouing bevraagteken. Hy is veral welbekend vanweë die Hippokratiese eed, wat nog oor die algemeen beskou word as die handleiding wat die mediese gedragsreëls bevat. Die boek Moments of Discovery—The Origins of Science sê dat Hippokrates ook “onder die eerstes was wat met die priesters gewedywer het om ’n verduideliking vir die mens se siektes te kry”. Hy het geneeskunde wetenskaplik beoefen en het natuurlike oorsake van siektes gesoek. Denkvermoë en ondervinding het die plek geneem van godsdiensbygeloof en ’n -raaiery.

Hippokrates het ’n stap in die regte rigting gedoen toe hy geneeskunde van godsdiensdogma geskei het. Ons word nietemin vandag nog herinner aan die geneeskunde se godsdiensagtergrond. Die simbool daarvan, die staaf van Asklepios, die Griekse god van geneeskunde, waarom daar ’n slang kronkel, kan teruggevoer word na die eertydse tempels van genesing waar heilige slange aangehou is. Volgens The Encyclopedia of Religion het hierdie slange “die vermoë van vernuwing van lewe en herlewing in gesondheid” voorgestel.

Hippokrates het later as die vader van geneeskunde bekend geword. Maar dit beteken nie dat hy nooit op wetenskaplike gebied verkeerd was nie. The Book of Popular Science sê dat party van sy onjuiste idees “vandag vir ons heel ongelooflik lyk”, maar dit waarsku teen mediese verwaandheid waar dit sê: “Party van die mediese teorieë wat nou as feit aanvaar word, sal waarskynlik vir mense van ’n toekomstige geslag net so ongelooflik lyk.”

Vooruitgang vind stap vir stap plaas

Die ontdekking van wetenskaplike waarheid is dus ’n geleidelike proses waarin die feite oor die eeue heen tussen die verkeerde teorieë uitgesoek is. Maar om dit moontlik te maak, moes die bevindings van die een geslag akkuraat aan die volgende geslag oorgedra word. Een manier waarop dit gedoen is, was ongetwyfeld mondelings, aangesien die mens geskep is met die vermoë om te praat.—Vergelyk Genesis 2:23.

Maar om waarnemings só oor te dra, sou nooit betroubaar genoeg gewees het vir die akkuraatheid wat wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang vereis nie. Inligting moes beslis op skrif bewaar word.

Ons weet nie presies wanneer mense begin skryf het nie. Maar toe hulle eers begin het, het hulle ’n wonderlike metode tot hulle beskikking gehad waardeur hulle inligting kon oordra waarop ander kon voortbou. Voordat papier uitgevind is—waarskynlik omstreeks 105 G.J. in China—is daar op dinge soos kleitablette, papirus en perkament geskryf.

Aansienlike wetenskaplike vooruitgang sou sonder getal- en meetstelsels onmoontlik gewees het. ’n Mens kan nie die belangrikheid van die stelsels se ontwikkeling oorbeklemtoon nie. The Book of Popular Science sê dat die toepassing van wiskunde “universeel” is, en dit herinner ons daaraan dat “die ontleding daarvan tot talle allerbelangrike wetenskaplike vorderinge gelei het”. Wiskunde is ook “van onskatbare waarde vir die chemikus, die fisikus, die astronoom, die ingenieur en ander”.

Deur die eeue heen het ander faktore momentum aan die soeke na wetenskaplike waarheid gegee. Soos byvoorbeeld reise. The Book of Popular Science verduidelik: “Iemand wat na ’n vreemde land gaan, sal heel waarskynlik vind dat sy nuuskierigheid deur nuwe gesigte, klanke, reuke en smake gewek word. Hy sal wil weet waarom dinge in ’n vreemde land so anders is; en in sy poging om sy nuuskierigheid te bevredig, sal hy wysheid verkry. Dit was die geval met die eertydse Grieke.”

Ja, die immerteenwoordige Grieke

Wanneer jy oor die geskiedenis van die godsdiens, politiek of handel lees, sal jy meer as net terloopse verwysings na die Grieke vind. En wie het nog nie gehoor van hulle bekende filosowe nie, ’n term wat “liefde vir wysheid” beteken en van die Griekse woord phi·lo·so·phiʹa kom? Die Grieke se liefde vir wysheid en dors na kennis was in die eerste eeu welbekend toe die Christenapostel Paulus hulle land besoek het. Hy het na die Epikureïese en Stoïsynse filosowe verwys wat soos “al die Atheners en die uitlanders wat by hulle gewoon het, vir niks anders tyd gehad [het] as om iets nuuts te sê en te hoor nie”.—Handelinge 17:18-21.

Daarom is dit nie verbasend nie dat die Grieke, van al die eertydse volke, aan die wetenskap die grootste erfenis nagelaat het. The New Encyclopædia Britannica wei daaroor uit: “Die Griekse filosofie se poging om ’n teorie oor die heelal te verstrek om die kosmologiese mites sodoende te vervang, het eindelik tot praktiese wetenskaplike ontdekkings gelei.”

Trouens, party Griekse filosowe het betekenisvolle bydraes tot die soeke na wetenskaplike waarheid gelewer. Hulle het daarna gestreef om ontslae te raak van die verkeerde beskouings en teorieë van hulle voorgangers terwyl hulle terselfdertyd gebou het op die fondament van wat korrek was. (Sien venster vir voorbeelde.) Van al die eertydse volke het die Griekse filosowe derhalwe die meeste soos hedendaagse wetenskaplikes gedink. Terloops, die woord “natuurfilosofie” is tot redelik onlangs gebruik om die wetenskap se verskillende vertakkings te beskryf.

Mettertyd is Griekeland met sy voorliefde vir filosofie polities deur die nuut gevormde Romeinse Ryk oorskadu. Het dit enige invloed op wetenskaplike vooruitgang gehad? Of sou die koms van die Christelike godsdiens ’n verskil maak? Deel 3 in ons volgende nommer sal dit beantwoord.

[Voetnoot]

a Astrologie, ’n studie van die beweging van hemelliggame in die geloof dat hulle mense se lewe beïnvloed of die toekoms voorspel, moenie verwar word met astronomie nie, die wetenskaplike studie van sterre, planete en ander natuurlike voorwerpe in die ruimte, wat nie spiritistiese verbintenisse het nie.

[Venster op bladsy 22]

Voor-Christelike Griekse “wetenskaplikes”

THALES van Milete (sesde eeu), wat veral bekend was vir sy werk in wiskunde en vir sy oortuiging dat water die kern van alle materie vorm, het ’n kritiese benadering van die kosmiese raamwerk gehad, en The New Encyclopædia Britannica sê dit was “deurslaggewend in die ontwikkeling van wetenskaplike denke”.

Sokrates (vyfde eeu) word deur The Book of Popular Science beskryf as “die skepper van ’n metode van ondersoek—dialektiek—wat baie ná aan die kern van die ware wetenskaplike metode kom”.

Demokritos van Abdera (vyfde tot vierde eeu) het die fondament help lê vir die atoomteorie van die heelal, sowel as die teorie oor die onvernietigbaarheid van materie en die besparing van energie.

Plato (vyfde tot vierde eeu) het die Akademie in Athene gestig as ’n instituut vir die stelselmatige najaging van filosofiese en wetenskaplike navorsing.

Aristoteles (vierde eeu), ’n kundige bioloog, het die Lyceum, ’n wetenskaplike inrigting wat op baie gebiede navorsing gedoen het, gestig. Sy beskouings het wetenskaplike denke meer as 1500 jaar oorheers, en hy is as die hoogste wetenskaplike gesag beskou.

Euklides (vierde eeu), die vernaamste eertydse wiskundige, is die bekendste vir ’n versameling kennis van “geometrie” wat van ’n Griekse woord kom wat “meting van die land” beteken.

Hippargos van Nicea (tweede eeu), ’n uitstekende astronoom en die grondlegger van trigonometrie, het sterre volgens hulle helderheid in magnitudes ingedeel, ’n stelsel wat basies nog in gebruik is. Hy was ’n voorloper van Ptolemeus, ’n uitmuntende geograaf en astronoom van die tweede eeu G.J., wat Hippargos se bevindinge uitgebrei het en geleer het dat die aarde die middelpunt van die heelal is.

[Prent op bladsy 23]

Asklepios se staaf, waarom daar ’n slang kronkel, herinner ons daaraan dat die wetenskap nie afgeskeie van godsdiensinvloed ontwikkel het nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel