Waar is al die kwaggas heen?
KYK mooi hoe die kwagga (Equus quagga) lyk—sodat jy nie bedrieg word nie. Van voor gesien, kon hy met ’n sebra verwar word. Van agter af het kwaggas soos perde gelyk. Van die kant af sou jy vergewe word as jy albei sien—want dit is presies hoe die kwagga gelyk het.
Ongelukkig is jou kanse om ooit ’n kwagga te sien daarmee heen, want op 12 Augustus 1883 is die laaste een van hierdie eksotiese diere in ’n dieretuin in Amsterdam dood. Al wat vandag oorbly, is 23 opgestopte kwaggas, sewe geraamtes en ’n paar kunstenaarsvoorstellings soos die een wat jy hier sien.
Wat ’n ramp is dit tog! Eens op ’n tyd het daar groot kuddes kwaggas oor die hele Suider-Afrika voorgekom. Toe die eerste Boesman- en Hottentotstamme van Suider-Afrika hoor watter hoes- en blafgeluide die kwaggas maak, was dit vir hulle só snaaks dat hulle hulle net vanselfsprekend vernoem het na die geluid wat hulle gemaak het—“kwagga kwagga”. Toe, gedurende die 19de eeu, het die weergalmende geknal van die jagter se geweer ongelukkig seker gemaak dat die kwagga onder die swygende geledere van die uitgestorwe spesies tel.
Maar volgens mnr. Reinhold Rau, hoof van die taksidermie-afdeling van die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad, is alles nie verlore nie. Waarom nie? Toe deskundiges die DNS (deoksiribonukleïensuur) van droë spierweefsel en bloed uit opgestopte kwaggas ondersoek het, het hulle gevind dat die kwagga bloot ’n subspesie van die gewone sebra, of bontkwagga, was. Dit beteken dat daar onder die gewone sebras, waarvan daar nog baie is, ’n groot moontlikheid bestaan dat latente kwaggagene deur keusteelt gestimuleer kan word om na vore te kom.
En dit is hierdie moontlikheid wat mnr. Rau saam met die Eksperimentele Kwaggateelkomitee ondersoek. Uit Natal en die Etosha-wildreservaat in Namibië is sebras met min strepe op hulle agterbene en kruis uitgekies en met mekaar gepaar. Tot dusver toon die eerste vulletjies wat gebore is belowende resultate.
Baie spesies kan nie soos die kwagga weer geteel word nie. ’n Mens ys wanneer jy hoor dat 15 tot 20 persent van alle lewende spesies op aarde dalk teen die jaar 2000 uitgewis sal wees. Hierdie tragiese verlies van verskeidenheid onder lewende dinge is grootliks aan die mens se vernietigende optrede te wyte. Die kwaggaherwinningsprogram is dus bloot ’n druppel in die emmer.
Maar daar is darem goeie hoop. In ’n profesie wat in die laaste boek van die Bybel, Openbaring, opgeteken is, belowe die Skepper van al die spesies op aarde, wat op tienmiljoene gestel word, om “die verderwers van die aarde te verderf” (Openbaring 11:18). Sonder sulke vernietigende magte sal getroue mense hulle rol as opsigters van die planeet Aarde behoorlik vervul.—Genesis 1:28; Jesaja 11:6-9.
[Foto-erkenning op bladsy 24]
Courtesy of Africana Museum, Johannesburg