Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 4/22 bl. 25-27
  • Plek van aanbidding word aan die brand gesteek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Plek van aanbidding word aan die brand gesteek
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Sy het wrede mishandeling verduur
  • Hulp van heinde en ver
  • Oorkom tragedie in Jehovah se krag
    Ontwaak!—1996
  • ‘God is nie partydig nie’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • ‘Gelukkig is die mens wat wysheid gevind het’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Reëlings vir plekke van aanbidding
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 4/22 bl. 25-27

Plek van aanbidding word aan die brand gesteek

SONDAGMIDDAG, 4 Oktober 1992, het ’n waansinnige man in Wonjoe, Republiek Korea, by ’n Koninkryksaaltjie wat op die tweede verdieping geleë is, ingestorm. Daar was meer as 90 aanbidders in die stampvol saaltjie. Die man het verskeie kere geskreeu: “Bring my vrou uit!” Toe sy vrou hom hoor, het sy gou by die agterste nooddeur uitgeglip.

Die man het ’n kannetjie petrol op die mat voor die hoofuitgang uitgegooi. Toe het hy, ondanks die aanwesiges se pleidooie, die mat aan die brand gesteek. Die petrol het letterlik ontplof en vlamme en swart rook laat opskiet dak toe, in die rigting van die verhoog en toe terug deur die hele saal. Binne sekondes het vlamme en rook ’n groot deel van die gehoor verswelg. Dit het by al die vensters uitgeborrel.

Baie het deur die agterste uitgang of deur die vensters tot op ’n smal lys ontvlug. Daarvandaan het hulle tot op die dak van ’n aangrensende gebou en toe tot op die grond geklim. Ander het eenvoudig van die tweede verdieping af gespring. Toe die brandstigter maak dat hy wegkom, het hy die beseerdes wat tot op die grond gespring het minagtend geskop.

Die reisende opsiener, wat die spesiale openbare toespraak gehou het, het uitgeroep: “Maak gou, red die kinders.” Oorlewendes glo dat hy en sy vrou kon ontkom het as hulle nie probeer het om ander te help nie. Hulle was onder die 15 wat gesterf het; altesaam 26 ander is beseer. ’n Ander man, wat later in die hospitaal gesterf het, het sy lewe gewaag toe hy bejaardes gehelp het om uit te kom.

Die wat gesterf het, was voor in die saal. Die reisende opsiener en sy vrou is deur digte rook oorval en het versmoor. Die oorledenes was uit nege gesinne; drie was kinders van 3, 4 en 14 jaar. Dit is eintlik ’n wonderwerk dat daar nie meer gesterf het of beseer is nie, aangesien die saal beknop was en die vlamme dit onmoontlik gemaak het om deur die hoofuitgang te ontvlug.

Sewe brandweerwaens en 30 brandweermanne was gou op die toneel, maar die brand het só vinnig versprei dat dit toe reeds lewens geëis het. Die vlamme is binne ’n uur geblus. Maar weens die hewigheid van die vuur was dit baie moeilik om die oorledenes te identifiseer, en dit het meer as twee uur geduur.

Wonjoe se polisie het die man wat die brand gestig het later in hegtenis geneem en hom van moord en brandstigting aangekla. Terwyl hy onder polisiebewaking was, het hy probeer selfmoord pleeg, maar hy het misluk.

Sy het wrede mishandeling verduur

Toe die brandstigter se vrou in Bybelleerstellings begin belangstel het, het hy haar gereeld begin dreig. In die middel van September, sowat twee weke voordat die reisende opsiener die Wonjoe-gemeente van Jehovah se Getuies besoek het, het die brandstigter sy vrou geslaan totdat sy haar bewussyn verloor het. Toe, nadat sy bygekom het, het hy lakverdunner oor haar gegooi en haar aan die brand gesteek. Maar net toe die vuur begin brand, het hy tot besinning gekom en dit gou geblus.

Op die tragiese Sondag het die man sy vrou verbied om Koninkryksaal toe te gaan. Hoewel hy briesend kwaad geword het, het sy haar nie laat intimideer nie. Sy het gemeen dat sy in hierdie kwessie van aanbidding eerder aan God gehoorsaam moet wees as aan enige mens, haar man inkluis (Handelinge 5:29; Hebreërs 10:24, 25). Sy het dus die vergadering bygewoon.

Ná die brandstigting by die Koninkryksaal het haar man se prokureur druk op die vrou probeer uitoefen om ’n verklaring te teken wat sê dat sy haar man tot sy gruweldaad gedryf het deur te weier om van ’n fanatiese godsdiens af te sien en omdat sy nie ’n goeie vrou vir hom was nie. Sy wou egter nie die verklaring teken nie. Sy het geweier om die waarheid te verdraai deur te sê dat die verskriklike ramp enigsins aan haar studie van die Bybel toegeskryf kan word.

Die naweek ná die tragedie het die vrou by ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies voortgegaan met haar besluit om haar te laat doop as simbool van haar toewyding om Jehovah God, die Soewerein van die heelal, te dien.—Psalm 83:18.

Hulp van heinde en ver

Kort nadat die takkantoor van Jehovah se Getuies in Ansoeng, sowat 100 kilometer van Wonjoe af, van die ramp gehoor het, is hulp vir die beseerdes en hulle gesinne gestuur, asook vir die oorledenes se gesinslede. Daar is nie net geld voorsien nie, maar Christen- ouere manne is van die takkantoor af gestuur om vas te stel watter ander hulp nodig was.

Reëlings is getref sodat die gemeente ’n ander Koninkryksaal in Wonjoe kon gebruik, en ander voorsienings is beskikbaar gestel aan diegene wat dit nodig gehad het. Mede-Christene van oor die hele Republiek Korea het gou hulp begin verleen. Trouens, baie mense het kort ná die ramp van ander stede af gekom en hulle hulp aangebied. Voorbeelde van die donasies wat ontvang is, is waar een gemeente van 75 Getuies R3540 gestuur het terwyl ’n ander gemeente van 87 R6490 geskenk het.

Die Christen- ouere manne van die gemeente waar die tragedie plaasgevind het, het hulle bes gedoen om ander te help, maar húlle was onder diegene wat die grootste verliese gely het. Twee van die presiderende opsiener se kinders was onder die oorledenes, ’n ander Christen- ouere man het sy seun verloor en nog ’n ander ouere man se gesig is baie lelik verbrand. Ondanks alles wat hierdie Christene verloor het, het hulle en die hele gemeente kalm en standvastig in die geloof gebly.

’n Paar dae ná die tragedie het ’n verteenwoordiger van die takkantoor die massabegrafnis gelei. Baie Getuies van oor die hele land het dit bygewoon en daardeur hulle liefde vir en besorgdheid oor hulle vriende getoon. Betuigings van medelye is selfs van baie takkantore van Jehovah se Getuies in verskillende wêrelddele ontvang.

Die hoof van die plaaslike polisiedepartement se Intelligensieafdeling het die begrafnis bygewoon en is deur die Getuies se gedrag beïndruk. Hy het opgemerk hoe stil en kalm hulle was en hoe goed hulle die ander behandel het wat in die brand verliese gely het. Die direkteur van die Buro vir die Samelewing en Nywerheid was ook by die begrafnis. Toe hy later hoor van die liefdevolle donasies wat van oor die hele land ontvang is, het hy gesê dat dit nie sonder geloof gedoen kon word nie. Die onderburgermeester van Wonjoe het ook opregte belangstelling getoon. Hy het gesê dat hy persoonlik deur die kalmte, wedersydse liefde en organisasievermoë van die Getuies beïndruk is.

Hierdie tragedie is bloot ’n verdere bewys dat ons “in die laaste dae [met hulle] swaar tye” lewe (2 Timotheüs 3:1). Ons moet verwag dat sulke verskriklike dinge sal gebeur. Maar Jehovah se Getuies in Wonjoe is nie ontmoedig nie. Hulle is vasbeslote om hulle aanbidding van die enigste ware God, Jehovah, voort te sit en met volharding sy wil te doen.—Vertel deur Ontwaak!-medewerker in die Republiek Korea.

[Prente op bladsy 26]

Regs: Die Koninkryksaal en (onder) die uitgebrande verhoog waar baie gesterf het

Onder: Soe, Soen-ok, wat twee kinders in die brand verloor het, word deur ’n mede-Getuie vertroos, en Sjim, Hio-sjin, ’n Christen- ouere man van wie twee kinders beseer is

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel