Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 11/8 bl. 22-24
  • Waarom is my ouers so buierig?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom is my ouers so buierig?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Spanning en druk
  • Krisis in die middeljare
  • Plaas jou ouers in perspektief
  • Hoe kan ek met buierige ouers oor die weg kom?
    Ontwaak!—1993
  • Hoe kan ek my ouers beter leer ken?
    Ontwaak!—2009
  • Wat moet ek doen as my ouers stry?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Waarom toon my ouers nie groter belangstelling in my nie?
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 11/8 bl. 22-24

Jongmense vra . . .

Waarom is my ouers so buierig?

“MAMS is eenvoudig onmoontlik”, sê jong Jeanette.a “As sy moeg is, moet ek dit ontgeld. Niks wat ek sê, is reg nie.” Jim het ’n soortgelyke probleem. “As iets skeef loop”, sê hy, “moet jy dit sonder enige grondige rede ontgeld. As die motor byvoorbeeld nie wil vat nie, sal my pa op my skreeu—asof dit my skuld is!”

Dit is ’n baie algemene klagte onder tieners: Hulle ouers is buierig, knorrig en onvoorspelbaar. Die een dag is hulle gelukkig, opgewek en vertrou hulle jou. Die volgende dag is hulle bedruk en kritiseer hulle alles wat jy sê en doen. “Hulle skreeu op my sonder enige rede”, kla een jong persoon.

Maar hoe verwarrend dit ook al soms lyk, byna almal—ouers inkluis—se buie verskil van tyd tot tyd. Dit is ’n deel van menswees. Die Bybel praat dus van verskeie individue en sê dat hulle in “’n vrolike bui”, “’n vriendelike bui” of selfs in “’n strydlustige bui” was (Ester 1:10, NW; Job 11:19, NW; Handelinge 12:20, NW). Dit lyk asof party buiveranderinge verband hou met verskillende biologiese siklusse. Vroue ondervind byvoorbeeld dikwels buiveranderinge gedurende stadiums van die menstruele siklus. En dit is nie ongewoon dat lede van albei geslagte ’n fisiese of emosionele laagtepunt in die namiddag en die aand ondervind nie.

Spanning en druk

’n Artikel in die American Health sê: “Baie keer het slegte buie ’n fisiese oorsprong. Terwyl siekte en ’n swak dieet daartoe kan lei, is uitputting gewoonlik die vernaamste oorsaak.” Ons lewe in “swaar tye”, en in baie gesinne, indien nie die meeste nie, moet die ma en die pa albei sekulêr werk (2 Timotheüs 3:1). Uitputting en vermoeidheid is algemene newe-effekte. Omdat party ouers emosioneel uitgemergel is deur voortdurende druk, voel hulle dalk soos regverdige Job wat homself beskryf het as “deurdrenk van ellende”.—Job 10:15, NW; 14:1.

Wanneer ouers so in hulle eie moeilikhede vasgevang is, kan kommunikasie daaronder ly. Jong Jason kla: “Hulle sê vir jou om iets te doen, en jy doen dit. Maar dan beweer hulle hulle het vir jou gesê om iets anders te doen en raak hulle omgekrap. Jy word kwaad en dan straf hulle jou omdat jy omgekrap is!”

Soms kan die druk van die lewe ouers ook van die nodige emosionele krag beroof om op jou behoeftes te reageer. Spreuke 24:10 sê: “Het jy jou ontmoedig betoon op die dag van benoudheid? Jou krag sal gering wees” (NW). Een ouer het erken: “Ek laai Diana dikwels by die skool op as ek van die werk af kom op pad huis toe. Sy sal in die motor klim en begin praat oor al die dinge wat daardie dag by die skool gebeur het—en party dae het ek net nie die krag om te luister nie. Ek is te gedaan en te vasgevang in my eie dag se gebeure om nog die geduld te hê om na hare te luister.” Dit voel dalk soos persoonlike verwerping wanneer ouers so optree, maar dikwels is dit niks meer as uitputting nie.

“Dit is ook moontlik”, merk die skrywer Clayton Barbeau op, “dat jou ouers probleme het waarvan jy glad nie weet nie. Baie jongmense onderskat die ekonomiese probleme van die gesinslewe. As ’n mens behuisings- en voedseluitgawes en die werksonsekerheid van die hedendaagse werkplek in ag neem, bekommer jou ouers hulle dalk oor dinge waarvan hulle jou nie vertel het nie, maar wat hulle met mekaar bespreek.” Of hulle het dalk verantwoordelikhede van ’n vertroulike aard om na te kom. Een Christenvader dien as ’n opsiener in ’n gemeente van Jehovah se Getuies. Sy dogter sê: “As daar partykeer ’n klomp gemeentelike probleme is wat hom hinder, raak hy regtig knorrig. Hy probeer om ons dit nie te laat ontgeld nie, maar hy is so gespanne dat hy nie ander dinge kan hanteer nie.” Spreuke 12:25 stel dit goed: “Bekommernis in die hart van ’n mens druk dit neer.”

Jou ouers probeer sulke kommer dalk moedig vir jou wegsteek. Maar dit is soos ’n spreuk dit stel: “By verdriet van die hart is die gees neerslagtig” (Spreuke 15:13). Soms kan hulle innerlike pyn vir hulle te veel word, en die kleinste irritasies kan ’n stortvloed van opgekropte frustrasie tot gevolg hê. “Partykeer as my pa van die werk af kom”, sê een tienermeisie, “is hy omgekrap oor wat by die werk gebeur het. En as ek vergeet het om iets te doen, herinner my pa my daaraan. Dan soek hy na iets anders waaroor hy op my kan skreeu.”

Dit ly geen twyfel dat skeltaal vermy moet word nie (Kolossense 3:8). Ouers word deur God beveel om hulle kinders nie te vertoorn nie (Efesiërs 6:4). Maar selfs die regverdige man Job het, onder die druk van angswekkende omstandighede, “wilde woorde” gespreek (Job 6:3, NW). Voordat jy dus jou ouers streng begin oordeel, vra jou af: ‘Hoe reageer ek wanneer ek ’n moeilike dag gehad het of wanneer ek onder baie druk verkeer? Raak ek soms nukkerig of geïrriteerd?’ As dit die geval is, kan jy miskien meer vergewensgesind teenoor jou ouers wees.—Vergelyk Mattheüs 6:12-15.

’n Tiener met die naam Chad het persoonlik uitgevind hoe spanningsvol sy pa se lewe werklik is. “Ek werk saam met my pa in sy onderneming waar hy motors verf en herstel”, sê hy, “en nou kan ek sien onder hoeveel druk hy verkeer. Hy hardloop die hele dag lank in ’n miljoen rigtings!”

Krisis in die middeljare

In 2 Korinthiërs 7:5 het die apostel Paulus erken dat hy ‘verskrikkinge van binne’ gehad het. Van julle ouers se buie is miskien die gevolg van innerlike onrus. Die boek The Healthy Adolescent sê: “Net soos die adolessent met die probleme van die jeug worstel, so worstel ouers met probleme wat met die ouderdom gepaardgaan. Laasgenoemde nader hulle middeljare wat, soos die tienderjare, ’n moeilike tydperk vol van sy eie krisisse is.”

Vir sommige ouers is die besef dat die jare aanstap, ontstellend. “Dit het vir my begin voel asof my lewe ten einde loop”, het een vader gesê. “My werk was nie meer opwindend nie, my kinders het planne begin maak om die huis te verlaat, ek het oud gevoel en ek kon aan niks anders as my aftrede dink om na uit te sien nie.” Terwyl jy in “die fleur van jou lewe” is, verduur hulle dalk die fisiese probleme wat met die ouderdom gepaardgaan (Prediker 11:10). Jou ma ondervind byvoorbeeld dalk die hormoonveranderinge van menopouse en die dikwels hinderlike simptome daarvan—uitputting, rugpyn, warmgloede en buiveranderinge, om maar ’n paar te noem.b

Hoe nader jy aan volwassenheid kom, hoe meer moet jou ouers die werklikheid van die Bybel se woorde in Genesis 2:24 onder die oë sien: “Die man [sal] sy vader en moeder verlaat.” Jy is dalk reeds besig om heeltemal onafhanklik van hulle te raak! Die boek Talking With Your Teenager sê: “Dit kan werklik seermaak. . . . Ons [die ouers] voel dalk dat [ons kinders] ons nie meer soos vantevore liefhet nie . . . Ons adolessente is dikwels meer terughoudend, gee minder uiting aan hulle gevoelens en tree meer verdedigend op. Hulle begeerte om nie saam met ons te wees nie, om ondervinding buite die gesin op te doen en om besluite en planne sonder ons te maak, toon dat ons nie meer so belangrik in hulle lewe is soos vantevore nie.”

Dit is gevolglik maklik om te sien waarom jou ouers soms veral buierig of liggeraak is wanneer dit kom by sake wat jou toenemende onafhanklikheid betref. Jong Steve sê: “My ouers is vergeetagtig. Jy sê vir hulle jy gaan uit, en later vra hulle jou: ‘Waarheen gaan jy?’ Jy sê: ‘Ek het mos gesê ek gaan vlugbal speel.’ Hulle sê: ‘Jy het ons niks gesê nie’, en hulle begin op jou te skreeu. Dit gebeur gedurig.” Maar wat vir jou na kleingeestigheid of knorrigheid lyk, weerspieël dalk bloot hulle diepe liefde vir en besorgdheid oor jou. Hulle weet hoe sleg die wêreld is, en hoewel hulle jou behoefte aan onafhanklikheid erken, is hulle soms baie besorg oor jou welsyn. (Vergelyk 2 Korinthiërs 11:3.) Hulle oorreageer dalk op dinge of hulle is nie konsekwent nie. Behoort jy hulle enigsins minder lief te hê?

Plaas jou ouers in perspektief

Toe jy jonger was, het jy dalk gedink jou ouers weet alles en is sterker as enigiemand anders. Namate jy ouer en verstandiger word, word hulle foute dalk duideliker. En wanneer ouers nou en dan buierig of knorrig is, is dit maklik om op hulle te begin neersien. Maar die Bybel waarsku ons om nie ‘met ’n ouer te spot nie’ (Spreuke 30:17). Buitendien is hulle heel waarskynlik nie die enigste buierige mense in julle huis nie. “Ek word ook soms buierig”, het een meisie erken. Miskien is jy baie meer liggeraak, ongesellig of terughoudend as wat jy besef.

Hoe dit ook al sy, pleks dat jy met ’n kritiese oog na jou ouers kyk, moet jy probeer om “medelydend” en empatiek teenoor hulle te wees (1 Petrus 3:8). Dit sal jou help om hulle buie te hanteer, soos die volgende artikel in die reeks sal toon.

[Voetnote]

a Van die name is verander.

b Vir meer inligting oor die middeljare en die uitdagings wat dit bied, sien die Ontwaak! van 22 Junie 1983 en 8 Augustus 1983.

[Prente op bladsy 23]

Baie ouers word eenvoudig emosioneel deur die eise van die lewe uitgemergel

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel