Vindingryke ingenieurs
Deur Ontwaak!-medewerker in Suid-Afrika
HET jy al ooit sulke natuurlike konstruksies soos dié op hierdie bladsy gesien? Miershope is in Afrika iets algemeens in die veld. Party het die vorm van ’n nou skoorsteen wat soms meer as ses meter hoog is. Ander is groot grondhope wat ’n gunstelinguitkykpos vir roofdiere soos leeus is.
Binne elke miershoop is daar talle gange en kamers wat deur etlike miljoene klein termiete bewoon kan word. Party termiete kweek hulle eie swamtuine en kry dit reg om hulle selfs gedurende jare van droogte goed nat te hou. Hoe is dit moontlik? Gedurende die dertigerjare, toe ’n groot droogte dele van Suid-Afrika verwoes het, het ’n natuurkenner, dr. Eugene Marais, twee rye termiete ontdek, een wat opwaarts en een wat afwaarts in ’n tonnel beweeg het. Die miertjies het tot op ’n diepte van ongeveer 30 meter gegrawe! Hulle het ’n natuurlike fontein bereik. Eugene Marais het dus ontdek hoe hulle dit regkry om hulle swamtuine gedurende die droogte nat te hou.
Michael Main verduidelik in sy boek Kalahari dat ’n tipiese miershoop “glo die mees gevorderde nes is wat deur enige dier ter wêreld gebou word. . . . Almal probeer 100 persent lugvogtigheid en ’n algemene temperatuur van tussen 29°C en 31°C verkry en handhaaf, wat sowel die swam as die termiet pas. . . . Elke nes is in werklikheid ’n eenheid met volmaakte lugversorging.”
Kyk nou hoe hierdie neste gebou word. Die termiete poleer die een sandkorreltjie ná die ander en heg hulle dan aan mekaar. Stel jou voor hoeveel miljoene sandkorrels gebruik word om een miershoop te bou! “Die grootste konstruksies wat die mens op hierdie aarde gebou het: Egipte se piramides, Londen se ondergrondse spoorwegstelsel, New York se wolkekrabbers . . . is in vergelyking met die werke van die termiet . . . soos molshope in vergelyking met berge”, skryf Eugene Marais in sy boek The Soul of the White Ant. “As jy grootte in ag neem”, sê hy voorts, “sal ’n mens ’n gebou so hoog soos die Matterhorn [’n bergspits van 4,478 meter in Switserland] moet oprig as jy wil hê dat jou werk gelyk aan ’n termiettoring van [12 meter] moet wees.”
Maar van watter nut is termiete vir die mens? Om maar een ding te noem, termiete eet dooie plantmateriaal en raak sodoende van baie afvalstowwe ontslae. ’n Inligtingsbord in die Nasionale Krugerwildtuin sê: “Deur die droë materiaal onder die grond in te sleep, verminder hulle nie net die brandgevaar nie, maar bemes hulle ook die grond daaronder.”
Jy stem moontlik ook saam dat nederige termiete aan die vereistes voldoen om vindingryke ingenieurs genoem te word.