Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 6/8 bl. 23-27
  • Ly jy aan rugpyn?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ly jy aan rugpyn?
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Kringloop van pyn
  • Waarom die rug pyn
  • Wat jy kan doen om die pyn te verlig
  • Die soeke na behandeling
  • Die pyn wat nie meer daar sal wees nie
    Ontwaak!—1994
  • Vooruitgang in die behandeling van pyn
    Ontwaak!—1994
  • My stryd om met RSD saam te leef
    Ontwaak!—1997
  • Meer as ’n wrede vyand
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 6/8 bl. 23-27

Ly jy aan rugpyn?

“Die pyn was verskriklik. Dit het gevoel asof iemand ’n vuurhoutjie gevat en my rug aan die brand gesteek het! Al wat ek onthou, was dat ek vooroor gebuk het om my suster se seuntjie van stukke gebreekte glas af weg te skuif toe my hele rug skielik as ’t ware ontvlam het. Ek het dae lank in daardie posisie gebly, nie in staat om orent te kom nie. Ek het nog nooit sulke pyn ervaar nie”, sê Karen, 32, ’n huisvrou en moeder van twee.

NAAS hoofpyn is rugpyn die algemeenste kwaal waaraan mense in die Verenigde State ly. Dit is die vernaamste oorsaak van langtermynongeskiktheid in mense jonger as 45 en die derde vernaamste oorsaak in mense ouer as 45. In hulle soeke na verligting bestee lyers jaarliks ongeveer 24 miljard dollar (80 miljard rand)—vier keer meer as wat in 1991 aan vigs-behandeling bestee is.

Volgens dr. Alf L. Nachemson, ’n wetenskaplike navorser op die gebied van rugprobleme, het daar in die afgelope dekade wêreldwyd tweemiljard pasiënte aan pyn in die laer rug gely. “Die een of ander tyd in ons aktiewe lewe sal 80 persent van ons in ’n sekere mate aan rugpyn ly”, het hy gesê.

’n Kringloop van pyn

Rugpyn tref geen onderskeid nie. Beide handearbeiders en kantoorwerkers is geneig om rugbeserings op te doen. Mans en vroue, oud en jonk, kan ’n slagoffer van hierdie pyn word. Wanneer die pyn herhaaldelik terugkeer en onophoudelik is, kan dit jou werk, inkomste en gesin sowel as jou rol in die gesin raak en kan dit ook emosionele lyding veroorsaak. Hoe?

Mense bevind hulle in ’n kringloop van pyn, sê die boek The Fight Against Pain. Fisiese pyn veroorsaak angs en depressie wat op hulle beurt tot intenser en langduriger pyn lei. ’n Jong ouer of broodwinner kan byvoorbeeld druk by die werk, van sy gesin of vriende hê omdat rugprobleme dalk sy normale bedrywighede belemmer.

“Ek vind dat die grootste probleem ’n gebrek aan begrip en empatie aan die kant van my gesin en vriende is. Mense is geneig om te dink dat die pyn nie so erg kan wees nie en verstaan nie hoeveel jy werklik ly nie”, het die 35-jarige Pat gesê, ’n sekretaresse wat in 1986 die eerste van haar talle rugpynaanvalle gekry het. “Aangesien jy nie weet wanneer of waar die pyn kan opvlam nie, is jy geneig om nie te veel dinge te beplan nie. Dit lyk moontlik of jy taamlik ongesellig is, omdat jy nie uitnodigings aanvaar, iemand se pasgebore babatjie optel en glimlag nie, net omdat jy pyn verduur. Die pyn kan jou beheer as jy dit toelaat.”

Waarom die rug pyn

Is rugpyn onvermydelik? Wat kan jy doen om dit te verlig of te voorkom? Wanneer moet jy mediese hulp vir jou rug soek? Hoewel chroniese rugpyn ’n teken van talle inwendige siektes kan wees, gaan hierdie bespreking die aandag op twee oorsake van rugpyn vestig—tussenwerwelskyfbreuke en spierspasmas.

Tussenwerwelskyfbreuke is ’n vername oorsaak van rugkwale onder jong en middeljarige volwassenes. Daar word dikwels na sulke tussenwerwelskyfbreuke as “verskuifde werwels” verwys, wat ’n verkeerde benaming is aangesien hulle nie werwels is of in en uit posisie kan skuif nie.

Wanneer iemand sy twintigerjare bereik, begin die sponsagtige binnekant van die skywe hulle elastisiteit en vogtigheid verloor wat die skyf laat krimp. Maar dit veroorsaak gewoonlik nie pyn nie. Party mense ervaar egter baie pyn wanneer ’n deel van die sponsagtige binnekant ’n breuk veroorsaak, oftewel deur die buitenste ring van die veselagtige weefsel peul.

Die tydskrif Fortune sê oor die skywe: “As hulle eers verby ’n sekere punt agteruitgegaan het, kan die geringste druk—iets so kleins soos ’n nies of as jy buk om ’n stereostel te skuif—die oorsaak wees dat ’n breuk vorm.”

Skywe dien as skokbrekers tussen die eerste 24 rugwerwels, of bene van die ruggraat. Hierdie bene is op mekaar gestapel en vorm ’n vertikale tonnel, die ruggraatkanaal, waardeur die rugmurg loop. Tussen elke paar rugwerwels is daar ’n klein openinkie waardeur ’n bondel senuwees, wat ’n senuweewortel genoem word, die kanaal verlaat, een bondel aan elke kant. ’n Skyf kan ’n breuk vorm en teen ’n sekere senuwee druk. Hierdie druk kan senuweeseine onderbreek wat prikkels na en van ander dele van die liggaam oordra.

’n Baie pynlike toestand wat as heupsenuweepyn bekend staan, kan byvoorbeeld ontstaan as daar druk op die wortels van die heupsenuwee uitgeoefen word. ’n Hele paar senuweewortels wat uit die laer deel van die ruggraat kom, vorm die heupsenuwee. Daar is een aan elke kant wat van die agterkant van elke dy tot sover as die knie strek en dan in ander senuwees vertak. Heupsenuweepyn begin gewoonlik in die laer rug en versprei tot in die heup en sitvlak en dan ondertoe aan die agterkant van die dye, soms so ver as die kuit en voet. Die gevolg is dat ’n mens hangvoet kan kry—’n toestand waar die voet sleep omdat die beenspiere nie die tone kan optel nie. ’n Lyer kan ook tintelende sensasies, ’n dooie gevoel of verswakte spiere in die aangetaste been ervaar.

As die werwel op senuweewortels in die cauda equina druk, ’n groep senuwees wat net onder die middel geleë is en wat die blaas en die ingewande help funksioneer, kan die persoon sukkel om te urineer of te ontlas. Mense met enige van hierdie simptome moet dadelik ’n dokter raadpleeg, aangesien dit tekens van ernstige neurologiese probleme kan wees.

Wanneer die spiere saamgetrek en ontspanne is, help die rugspiere die ligamente om ’n ondersteunende rol te speel en dit voorkom dat die ruggraat ineenstort en stel die ruggraat in staat om te buig en te draai. Maar onder druk kan ’n spier wat nie fisies fiks is nie in ’n spasma gaan en só styftrek dat dit ’n harde bult vorm. Aangesien rugspasmas sonder waarskuwing ontstaan en die lyer tydelik buite aksie stel, kan dit uiters pynlik wees. Een lyer beskryf die pyn as ’n “reeks aardbewings wat skielik in jou rug begin”.

Dokters stem saam dat spierspasmas plaasvind om te keer dat ’n mens verdere skade aan verswakte spiere veroorsaak. ’n Boek van Time-Life, The Fit Back, sê: “Deur die rug buite aksie te stel, dwing die spasma jou om te gaan lê, wat die beste ding is om te doen. Hierdie posisie plaas nie net die minste spanning op jou rug nie, maar dit laat ontsteekte weefsel toe om hulleself te herstel.”

Om ooreising van die rug te voorkom, wat dikwels tot spasmas aanleiding gee, moet die rug-, maag- en dyspiere fiks en ferm gehou word. Verslapte maagspiere kan byvoorbeeld ooreising van die rug veroorsaak, aangesien hulle nie die nodige ondersteuning gee nie en hulle die stremming van die liggaam se gewig op die ruggraat nie so goed kan weerstaan nie. As die maagspiere ferm is, vorm hulle ’n “spiergordel” wat voorkom dat die laer rug in ’n holrugposisie buig. ’n Holrug, ’n uitermatige kromming van die laer rug, trek die werwels van die laer rug uit posisie.

Wat jy kan doen om die pyn te verlig

’n Swak liggaamshouding, swaarlywigheid, swak spiere en spanning is vier faktore wat tot die waarskynlikheid van pyn in die laer rug bydra. Gewone bewegings wat nie reg uitgevoer word nie, soos om te sit, te staan of voorwerpe op te tel, is ander faktore wat daartoe aanleiding kan gee.

Daar bestaan ’n onderlinge verband tussen ’n goeie liggaamshouding en sterk maag- en rugspiere. Die korrekte liggaamshouding laat die spiere reg funksioneer, terwyl goeie spiertonus onmisbaar vir ’n goeie liggaamshouding is. Vir ’n goeie liggaamshouding moet die ruggraat ’n natuurlike S-kurwe vorm. Dit beteken nie ’n snaarstywe ruggraat nie.

As die verkeerde liggaamshouding reggestel word, kan pyn as gevolg daarvan uitgeskakel word, sê Robin McKenzie in die boek Treat Your Own Back en voeg by: “Maar met verloop van tyd sal die gebruiklike swak liggaamshouding, as dit nie reggestel word nie, die struktuur van die gewrigte verander, uitermatige slytasie kom voor en veroudering van die gewrigte vind gevolglik op ’n vroeë ouderdom plaas.”

Oortollige gewig, veral om die maag, kan die rug ook ooreis omdat dit ’n trekkrag uitoefen op die spiere wat die rug ondersteun. ’n Gereelde oefenprogram is ’n sleutel tot ’n fikse en gesonde rug. Al is daar nie meer pyn nie, is oefening noodsaaklik omdat rugpyn wat verdwyn het geneig is om weer onverwags sy verskyning te maak. ’n Volledige mediese evaluasie word aanbeveel vóór daar met ’n oefenprogram begin word. ’n Dokter kan gepaste oefeninge vir iemand se rugprobleem aanbeveel of hy kan die persoon na ’n fisioterapeut verwys.

Baie navorsers meen dat spanning ’n mens ook vatbaar kan maak vir rugprobleme. Spanning kan in party mense tot spasmas aanleiding gee aangesien voortdurende spanning spiere laat saamtrek en rugpyn tot gevolg het. Die hantering of uitskakeling van die oorsake van spanning kan die moontlikheid van rugpyn help verminder.

Mense wat baie by die werk sit of wat lang afstande reis, kan hulle rug ooreis. Volgens ’n Sweedse studie word baie meer gewig op die laer rug geplaas wanneer ’n mens sit. Hierdie gevaar word ongelukkig groter wanneer kantoorstoele gebruik word wat die rug nie voldoende steun nie. Dit sal dalk help as jy met gereelde tussenposes opstaan en dan ’n ruk lank staan of ’n paar minute rondloop.

Wanneer swaar of selfs ligte voorwerpe opgetel word, moet ’n mens versigtig wees om nie jou rugspiere te gebruik nie. Daar word aanbeveel dat die knieë gebuig word sodat die rugspiere nie al die gewig hoef te dra nie.

Iemand wat in ongemaklike posisies werk, is ook geneig om met rugprobleme te sukkel. Werkers wat by ’n rolband werk, verpleegsters, elektrisiëns, huishoudsters en boere moet almal lang tye vooroor buk as hulle hulle werk doen. Om die gevaar van rugbeserings te verminder, beveel fisioterapeute aan dat ’n mens gereeld rus en van posisies verander. Mense wat lank staan, word aangeraai om ’n stoeltjie of ’n ander soort voetbankie te gebruik en om die een voet effens hoër op te lig om die laer rug sodoende reguit te maak.

Die soeke na behandeling

Vir die meeste mense wat weens swak spiere met rugpyn sukkel, beveel dokters konserwatiewe behandeling aan—om in die bed te rus, van hitte en massering gebruik te maak, te oefen en in die beginstadium medisyne te gebruik wat pyn verlig en inflammasie teenwerk. Wat laasgenoemde betref, rig dr. Mark Brown van die Universiteit van Miami se Mediese Fakulteit ’n waarskuwing. Hy sê in die Verenigde State is die langdurige gebruik van medisyne ’n vername oorsaak van rugpyn, dit wil sê weens die newe-effekte van medikasie. Mense moet versigtig wees om nie ’n weerstandsvermoë teen ’n medisyne te ontwikkel nie, wat tot ’n groter dosis en moontlike verslawing kan lei.

Fisioterapie en chiropraktiese behandeling kan ook aan sommige lyers hulp verleen en verligting gee. Die tydskrif HealthFacts sê in die Verenigde State gaan twee derdes van alle pasiënte met rugpyn na ’n chiropraktisyn.

’n Operasie is dalk nodig om die probleem reg te stel of om die pyn te verlig wat met tussenwerwelskyfbreuke verband hou. Maar dokters beveel meestal eers konserwatiewe behandeling vir die meerderheid rugpynlyers aan. Dit sal verstandig wees as mense wat vertel word dat hulle ’n operasie nodig het ’n tweede of derde opinie kry.

Vir miljoene lyers is chroniese maar draaglike rugpyn ’n deel van die lewe. Baie berus hulle in die pyn, maar probeer dat dit nie op hulle daaglikse bedrywighede inbreuk maak nie. Hulle is bewus van die faktore wat pyn veroorsaak en neem stappe om dit te voorkom of om dit die hoof te bied. Hulle doen gereeld oefening, handhaaf die regte gewig, verbeter hulle liggaamshouding en verminder spanning in hulle lewe. Ondanks herhaaldelike pynaanvalle weens ’n tussenwerwelskyfbreuk en spierspasmas volg Karen, wat in die begin genoem is, blymoedig ’n besige rooster en bestee sy baie tyd aan die predikings- en onderrigtingswerk van Jehovah se Getuies. Soos Karen behou talle lyers ’n positiewe gesindheid, en hulle probeer om hulle rugpyn te beheer.

[Venster op bladsy 24]

’n Paar wenke om rugpyn te voorkom

☞ Moenie iets met ’n vinnige rukbeweging optel nie. Pleks van vooroor te buig, buig jou knieë.

☞ Vra hulp as jy swaar voorwerpe optel.

☞ Wanneer jy ’n paar pakkies dra, balanseer die gewig aan elke kant. As jy een swaar voorwerp dra, dra dit met albei arms voor en teen jou liggaam. As jy dit langs jou dra, moet jy dit nie heeltyd aan dieselfde kant dra nie.

☞ Wanneer jy reis, gebruik ’n opvoubare bagasietrollie en/of ligte bagasie met skouerbande.

☞ Wanneer jy pakkies uit ’n motor se bagasiebak haal, hou die pakkies naby jou liggaam voor jy hulle uitlig.

☞ Wanneer jy stofsuig, gebruik ’n stofsuier met ’n lang handvatsel. Pleks van vooroor te buig om onder voorwerpe te stofsuig, kniel op een knie en gebruik kniekussinkies. As jy wel vooroor moet buig, gebruik dan, wanneer moontlik, een hand om op iets te steun.

☞ As jy kantoorwerk doen, moenie net by ’n lessenaar sit nie, maar staan ook soms by ’n werksoppervlakte wat heuphoogte is.

☞ Kniel as jy tuinwerk doen en verdeel die werk in korter takies. As jy staan, moet jy nie vooroor buig nie.

☞ Doen gereeld rugoefeninge, al is dit net 10 tot 15 minute per dag. Doen matige oefeninge as jy ouer is.

☞ As jy beddens opmaak, kniel met een knie op die bed en stut jouself met een arm as jy oor die bed strek. Wanneer jy lakens glad stryk of insteek, kniel op die grond aan elke kant van die bed.

☞ Wanneer jy oor groot afstande bestuur, hou stil om te rus. As die rugleuning van die motorsitplek nie gemaklik is nie, gebruik ’n kussing om die ruimte te vul waar die sitplek nie jou laer rug behoorlik steun nie.

☞ Moenie op harde oppervlaktes draf nie. Dra die regte oefenskoene.

☞ Gebruik ’n kussing of ’n ander ondersteuning vir jou rug wanneer jy in ’n leunstoel of op ’n rusbank sit. Staan stadig op en gebruik jou bene om jouself op te stoot.

☞ As jy ure lank by die werk sit, kry ’n stoel met ’n rugleuning wat jou rug behoorlik steun. Staan nou en dan op en loop ’n bietjie rond.

☞ Moenie vir lang rukke oor die laaie van ’n liasseerkas buk nie, maar sit op ’n stoel as jy kan.

☞ As jy gedurende die dag hoëhakskoene moet dra, bring ’n gemakliker paar saam en ruil hulle om wanneer moontlik.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel