Pornografie gaan universiteit toe
DIE “Matier & Ross-verslag” in die San Francisco Chronicle van 1 November l993 het ’n omstrede kursus bespreek wat by die Staatsuniversiteit van San Francisco aangebied word. Dit word deur professor John DeCecco aangebied oor die onderwerp van menslike seksualiteit. Matier en Ross laat hulle soos volg daaroor uit:
“Wat ’n kursus is dit tog. As jy op soek is na drie warm krediete vir ’n SFSU-graad, hoef jy net te kyk na die stomende (en soms reeds aanvaarde) vakke wat in die kursus se sillabus aangebied word.”
Die verslag noem dan masturbasie, transvestisme, manlike homoseksualiteit, lesbinisme, bestialiteit, sadomasochisme en nog ander. Die lesings oor party van hierdie bedrywighede sluit videokassette in.
Sulke bedrywighede kan met “die gruwelike gewoontes” (NW) vergelyk word wat Jehovah haat, soos in die Mosaïese wet in Levitikus hoofstuk 18 opgenoem word. Nadat dit bloedskande, egbreuk en ander seksuele perversiteite veroordeel, sê verse 22 en 23: “Met ’n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ’n mens met ’n vrou het nie. Dit is ’n gruwel. En jy mag met geen dier vleeslike gemeenskap hê om jou daardeur te verontreinig nie. ’n Vrou mag ook nie voor ’n dier gaan staan om daarmee te doen te hê nie. Dit is ’n gruwelike vermenging.”
Die beoefening van hierdie dinge wat deur Jehovah verafsku word, het sy veroordeling tot gevolg: “Verontreinig julle nie deur al hierdie dinge nie, want deur al hierdie dinge is die heidene verontreinig wat Ek voor julle uit verdryf. So het die land dan onrein geword; en Ek besoek sy ongeregtigheid daaraan, sodat die land sy inwoners uitspuug. Want almal wat enigeen van hierdie gruwels doen—die siele wat dit doen, moet uitgeroei word onder hulle volk uit.”—Levitikus 18:24, 25, 29.
Een student wat die SFSU-kursus volg, het professor DeCecco geprys omdat hy “stereotiepe gesindhede afbreek en toon dat hierdie mense net soos alle ander mense is”. Soos alle ander mense? Mense oor die algemeen is tog sekerlik nie betrokke by seksuele perversiteite soos homoseksualiteit, lesbinisme en sadomasochisme nie, en hulle beoefen ook nie geslagsgemeenskap met diere nie. Die sedelike verval van die samelewing neem vandag weliswaar onrusbarende afmetings aan, maar die aktiwiteite wat in hierdie universiteitskursus uitgebeeld word, is skreiende pornografie wat onder die dekmantel van vakkundige studie en navorsing aangebied word.