Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 6/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoeveel sterre ons kan sien
  • Die hoofoorsake van sterftes in die Verenigde State
  • Kinders en oorlog
  • Jodium in die sout
  • Stadion word “herseën”
  • 80 000 aardbewings in 40 jaar
  • Die Groot Groen Muur
  • Satanisme in die gevangenis
  • Onderstromings in die Suidsee
  • Argentynse studie oor verkragting
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1991
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1993
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1991
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 6/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Hoeveel sterre ons kan sien

Het jy al ooit opgekyk na die sterbesaaide naghemel en gewonder hoeveel sterre jy kan sien? Die tydskrif Sky & Telescope het onlangs hierdie eeue oue vraag aangeroer, en die antwoord is nie so voor die hand liggend as wat ’n mens dalk sou dink nie. Volgens sterrekundenaslaanwerke, het die tydskrif gesê, kan die gemiddelde waarnemer 2 862 sterre in die hemelruim oor ’n redelike donker voorstad in die noorderbreedtes sien. Maar nie al hierdie sterre is op enige gegewe tydstip bo die plaaslike horison nie; baie kom op en gaan onder. Daarbenewens is baie sterre wat maklik gesien kan word wanneer hulle direk oorhoofs is, onsigbaar wanneer hulle naby die horison is. Dit is omdat die ster se lig op sulke geringe hoogtes deur meer van die aarde se atmosfeer moet dring om ’n waarnemer se oë te bereik. Sky & Telescope sê ten slotte dat ongeveer 1809 sterre gedurende die hele jaar vir ’n waarnemer op 40 grade noorderbreedte sigbaar sou wees.

Die hoofoorsake van sterftes in die Verenigde State

Wat is die hoofoorsake van sterftes in die Verenigde State? ’n Onlangse studie wat in The Journal of the American Medical Association gepubliseer is, het vasgestel wat die vernaamste eksterne, of niegenetiese, faktore is wat tot die sterftes gedurende een jaar bygedra het. Ná ’n omvattende ondersoek na statistiek het die studie bevind dat, van die 2 148 000 sterftes in die Verenigde State in 1990, ongeveer 400 000 deur tabak veroorsaak is; 300 000 deur dieet en oefengewoontes; 100 000 deur alkohol; 90 000 deur mikrobiese agense; 60 000 deur gifstowwe soos omgewingsbesoedelstowwe of -besmetters in voedsel of water; 35 000 deur vuurwapens; 30 000 deur seksuele gedrag; 25 000 deur motorvoertuie en 20 000 deur onwettige dwelmgebruik. Die studie het bevind dat sulke eksterne faktore tot altesaam die helfte van alle sterftes in een jaar bydra.

Kinders en oorlog

Volgens ’n onlangse verslag van die Britse noodlenigingsagentskap Red die Kinders het oorlog gedurende die afgelope tien jaar baie gevaarliker vir burgerlikes—veral kinders—as vir soldate geword. Volgens ’n berig in die Associated Press het die agentskap se oorsese woordvoerder gesê: “Nege uit 10 oorlogslagoffers is burgerlikes. Kinders is baie dikwels die hoofslagoffers—en dit is inderdaad baie waarskynliker dat húlle eerder oorlogslagoffers sal wees as soldate.” Die verslag van 25 bladsye gee ’n samevatting van die uitwerking wat die afgelope dekade op die wêreld se kinders gehad het en voorsien die volgende sombere statistiek. Meer as 1,5 miljoen kinders het in oorloë oor die wêreld gesterf; meer as 4 miljoen is verlam, verblind, het breinskade opgedoen of is vermink; meer as 12 miljoen het hulle huis verloor; 10 miljoen het vlugtelinge geword; 5 miljoen moes noodgedwonge in vlugtelingkampe gaan woon en 1 miljoen is van hulle gesin geskei. Een uit elke 200 kinders in die wêreld het gedurende die afgelope dekade weens oorlog trauma ervaar en moes hulp ontvang om die emosionele angs te oorkom.

Jodium in die sout

Die Verenigde Nasies-kinderfonds skat dat ’n gebrek aan jodium in die dieet ten minste 600 miljoen mense se gesondheid aantas. Onder diegene wat aangetas word, veroorsaak die tekort blykbaar dat ongeveer 100 000 babas elke jaar as kretins (fisies onderontwikkeld en verstandelik vertraag as gevolg van ernstige skildklierafwykings) gebore word, en dit belemmer die fisiese en verstandelike ontwikkeling van nog 50 miljoen kinders. ’n Gebrek aan jodium veroorsaak ook kropgeswel, ’n vergroting van die skildklier. Dit is maklik en goedkoop om ’n jodiumtekort te voorkom—gebruik eenvoudig gejodeerde sout. Daar is reeds begin om die wêreld se soutvoorraad gedurende 1995 te jodeer en om afwykings wat deur ’n jodiumtekort veroorsaak word teen die jaar 2000 uit te skakel.

Stadion word “herseën”

’n Sokkerspan in Pescara, Italië, het onlangs die hulp van ’n Katolieke biskop ingeroep om ontslae te raak van die “ongeluk” wat hulle gery het, berig die koerant La Repubblica. Die spanbestuurder het ’n daadwerklike ingryping deur die geestelikes versoek omdat hy moeg was vir die langdurige “ongeluk”, wat oor die algemeen aan die stadion toegeskryf is. ’n Priester het die stadion ’n tyd tevore geseën, en die span het hulle volgende wedstryd gewen. Personeellede, ondersteuners en spelers wat ’n “herseëning” bygewoon het—’n viering van die mis daar op die stadion se paviljoen deur die biskop self—hoop dat die span hierdie keer selfs beter sal vaar. Toe die stadion aanvanklik geopen is, is dit ook geseën, maar “blykbaar het die besprinkeling van reukwerk tydens die opening sy krag verloor”, sê La Repubblica.

80 000 aardbewings in 40 jaar

“Die seismologiese stasie in Bensberg naby Keulen [Duitsland] het meer as 80 000 aardbewings in alle wêrelddele geregistreer”, berig Frankfurter Allgemeine Zeitung. Dit is bekend gemaak deur professor Ludwig Ahorner, die hoof van die stasie wat die aarde se skuddings en trillings al 40 jaar lank bestudeer. Hoe kan die stasie aardbewings registreer wat in ander wêrelddele plaasvind? Deur instrumente te gebruik wat so sensitief is dat hulle selfs die geringe vibrasies in die aarde registreer wat veroorsaak word deur winterstormgolwe wat op die Noordseekus, ongeveer 200 kilometer daarvandaan, breek. Die sterkste aardbewing wat die stasie tot nog toe in Duitsland geregistreer het, het in April 1992 voorgekom. Dit het 5,9 op die Richterskaal geregistreer.

Die Groot Groen Muur

Die Groot Muur van China, wat eeue gelede net deels daarin geslaag het om die invallende Mongoolse magte te keer, het moontlik nou eers tot sy eie reg gekom. Volgens Science News is groot gordels bome sedert die vyftigerjare al met die muur langs geplant. Hierdie Groot Groen Muur, soos dit genoem word, bestaan uit ongeveer 300 miljoen bome. Die doel daarvan: om as ’n versperring te dien teen die stofstorms wat China vanuit die Gobi-woestyn en ander droë gebiede teister. Die resultate? In die vyftigerjare is die stad Beijing elke lente deur 10 tot 20 stofstorms geteister, wat sigbaarheid vir 30 tot 90 uur elke maand tot minder as een kilometer verminder het. Maar teen die sewentigerjare het die aantal storms elke lente tot minder as vyf afgeneem, en hulle veroorsaak matiger vermindering van sigbaarheid vir minder as tien uur per maand. Volgens Science News het een atmosferiese chemikus gesê dat hierdie uitgestrekte gordel woude “waarskynlik een van die drastiesste programme vir die wysiging van die weersgesteldheid in die 20ste eeu is”.

Satanisme in die gevangenis

Gevangenisamptenare in Colorado, VSA, het ’n gevangene die reg ontsê om sataniese rituele in sy sel uit te voer. ’n Federale gevangenisregulasie het Duiwelaanbidding verbied; daarbenewens het die amptenare gemeen dat van die items wat die gevangene vir aanbidding versoek het—wat ’n kort houtstaf, ’n ghong, ’n swart kleed, kerse en kershouers, ’n kelk asook reukwerk insluit—as wapens gebruik kan word. ’n Federale regter in Denver het die besluit egter onlangs herroep en het beslis dat die gevangene die grondwetlike reg het om sy godsdiens in die gevangenis te beoefen. Die regter het verder gesê dat die uitspraak teen Duiwelaanbidding ongrondwetlik is. Volgens ’n verslag deur die Associated Press het die regter in sy uitspraak geskryf: “Ons moet aan die duiwel gee wat hom toekom.” Die gevangene dien ’n vonnis van tien jaar uit vir ontvoering.

Onderstromings in die Suidsee

’n Verslag deur die Stille Oseaan-konferensie van Kerke in Fidji toon dat hoofstroomkerkowerhede in die Suidsee onrustig is oor die groei van wat hulle NGG’s (Nuwe Godsdiensgroepe) noem. Die NGG’s wat hoofsaaklik hier ter sprake is, is die Assemblies of God, die Sewendedag-Adventiste, die Mormone, Jehovah se Getuies en lede van die Baha’i-geloof. Volgens die verslag deur Manfred Ernst het ongeveer 20 persent van die eilandbewoners reeds by hierdie gelowe aangesluit. Die kerke kla dat NGG’s verhinder dat politieke veranderinge plaasvind omdat party van hulle nie politieke partye of protesbewegings ondersteun nie; ander sal nie by vakbonde aansluit nie. “Volgens Ernst”, het die Mainichi Daily News gesê, “word NGG’s gewilder as gevolg van die onaantreklikheid van tradisionele hoofstroom- Christelike kerke.”

Argentynse studie oor verkragting

Van Januarie tot Oktober 1994 het een Argentynse provinsie, Córdoba, 254 gevalle van verkragting gerapporteer. Die koerant Clarín van Buenos Aires het gesê dat ’n polisieverslag van Córdoba “die mite oor seksuele oortredings verwerp het”. Verkragters is nie altyd net perverse mense wat anonieme slagoffers in die donker bekruip nie; volgens hierdie verslag word 4 uit elke 10 persone wat verkrag word in hulle eie huis deur hulle eie vader, stiefvader of ander familielede verkrag. Ander statistiek in die polisieverslag toon dat ‘van die 254 gevalle wat vanjaar gerapporteer is 36 persent in die slagoffers se huis plaasgevind het; 23 persent toe hulle danssale verlaat het; 13 persent op openbare strate; 10 persent op oop stukke grond; 6 persent op boupersele en 3 persent op voetbalvelde, in ruskamers by bushaltes, in gevangenisselle en op vakansiebusse’. Die verslag sluit af deur te sê dat die polisie 66,54 persent van die sake opgelos het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel