Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 12/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geletterdheid en gesondheid
  • Vrugtelose spitsberaad
  • Leer empatie aan
  • Vrouens of mans —Wie werk langer?
  • China se bevolking bereik 1,2 miljard
  • Slakke op die aanval
  • ’n Stille aanval gedurende die Tweede Wêreldoorlog
  • Wie wil tennis speel?
  • Plante met ’n “geheue”
  • ’n Surplus aan geestelikes
  • Kinders—Bates of laste?
    Ontwaak!—1993
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1997
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1992
  • Vroue leef langer maar nie noodwendig beter nie
    Ontwaak!—1997
Ontwaak!—1995
g95 12/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Geletterdheid en gesondheid

Volgens statistiek wat deur UNESCO (Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur) aangegee word, kan ’n hoër vlak van geletterdheid tot ’n langer lewensduur bydra. “Mense wat leer lees en skryf het”, sê die tydskrif UNESCO Sources, “is meer bewus van higiëne en gesondheidsorg; hulle is geneig om minder fatalisties te wees en om in die geval van siekte gouer ’n dokter te raadpleeg.” Geletterdheid is egter net een van die faktore wat die verwagte lewensduur beïnvloed. “Toegang tot mediese behandeling, die gesin se finansiële omstandighede en die maatskaplike milieu” speel ook ’n beslissende rol.

Vrugtelose spitsberaad

Nagenoeg 20 000 afgevaardigdes van regoor die wêreld het op 6-12 Maart 1995 in Kopenhagen, Denemarke, vergader vir ’n byeenkoms wat deur die Verenigde Nasies gesteun is met die tema: “Wêreldspitsberaad vir Maatskaplike Ontwikkeling.” Waarom het hulle vergader? Om maniere te bespreek om ’n einde te maak aan armoede, werkloosheid en diskriminasie in ontwikkelende lande. Dit het egter nie lank geneem om ’n vername struikelblok te identifiseer nie—’n gebrek aan fondse. Dit wil voorkom asof baie van die brandarm lande so diep in die skuld staan by die ryk nasies dat hulle selfs nie kan bekostig om hulle rente te betaal nie. Denemarke, wat die gasheer was, het aan die hand gedoen dat die ryk nasies hulle voorbeeld volg en die armste nasies se skuld kanselleer. Daar is egter een probleem. Baie van die armer nasies se skuld is as gevolg van wapenaankope. Indien die skuld gekanselleer word, sal hulle dus bloot die geleentheid gebruik om meer vuurwapens te koop, het ’n VN-raadgewer verduidelik.

Leer empatie aan

Navorsers wat ’n studie van empatie in kinders maak, het te kenne gegee dat die vermoë om ander se gevoelens te verstaan aangeleer word. “Daar is getoon dat kinders wat mishandel is nie met empatie op die angs van ander kinders reageer nie”, sê dr. Mark A. Barnett, ’n professor aan die Staatsuniversiteit van Kansas in Manhattan, soos aangehaal in The New York Times. “Hulle sal dalk na die beangste kind kyk en niks doen nie of na die kind toe gaan en skreeu en hom stamp.” Daarenteen “reageer ’n kind na wie se emosionele behoeftes omgesien word meer geredelik op die emosies van ander”, voeg hy by. Ouers moet dus nie net emosionele sekuriteit voorsien nie, maar ook aan hulle kinders toon hoe om empatie te hê. Soos dr. Barnett sê, maak ouers wat empatie betoon oor die algemeen kinders groot wat empatie met ander het.

Vrouens of mans —Wie werk langer?

Behalwe in Noord-Amerika en Australië werk vrouens oral langer ure by hulle sekulêre werk as mans, berig Populi, die tydskrif van UNFPA (Verenigde Nasies se Bevolkingsfonds). Die grootste gaping bestaan in Afrika en die Asië-Pasifiese gebied, waar vrouens in die arbeidsmag gemiddeld sowat 12 uur per week meer werk as mans. “In baie ontwikkelende lande”, sê die tydskrif, “werk vrouens nou 60-90 uur per week net om hulle skamele lewenstandaard van ’n dekade gelede te probeer handhaaf.” Intussen neem mans se aandeel aan huishoudelike werk in die nywerheidswêreld toe. “Maar”, verduidelik Populi, hierdie toename “is nie weens ’n meer gelyke verdeling van die daaglikse kook-, skoonmaak- en waswerk nie. Dit is eerder omdat mans langer neem met take soos om inkopies te doen.”

China se bevolking bereik 1,2 miljard

Vroeër vanjaar het China se bevolking die 1,2-miljard-kerf bereik, berig China Today. Die bevolking sou dalk nege jaar vroeër hierdie grootte bereik het as dit nie was vir die nasionale gesinsbeplanningsprogram wat in die sewentigerjare ingestel is nie. Teen die huidige groeitempo sal China se bevolking nietemin vroeg in die volgende eeu 1,3 miljard bereik. Alhoewel China geografies een van die wêreld se grootste lande is, is sy produksie van graan, vleis en eiers per kop laer as die produksie van lande wat meer ontwikkel is. Daarbenewens word die bewerkte grond as ’n geheel minder as gevolg van besoedeling en die digter bewoning van die land, het China Today gesê.

Slakke op die aanval

Voordat lewende Suid-Amerikaanse goue slakke ses jaar gelede as ’n voedselproduk in Viëtnam ingevoer is, het wetenskaplikes gewaarsku dat die slakke groot probleme sou veroorsaak as hulle ooit sou ontsnap. Blykbaar het die tyd geleer dat die wetenskaplikes reg was. Van die slakke het ontsnap en gou getoon dat hulle ’n voorliefde vir rys het. Die regering het toe die slakke verbied, maar talle klein besighede het in elk geval voortgegaan om hulle te teel en as voedsel te verkoop. Die Associated Press berig dat net agt van hierdie klein diertjies volgens die amptelike Viëtnamese Nuus een vierkante meter van ’n rysland in een dag kan verslind! Die slakke het na bewering reeds 31 000 hektaar rys vernietig en het na die land se vrugbaarste rysboustreek versprei. Een wyfieslak kan in ’n jaar ongeveer 40 miljoen eiers lê.

’n Stille aanval gedurende die Tweede Wêreldoorlog

Meer as 50 jaar gelede, toe die Tweede Wêreldoorlog op sy ergste gewoed het, het boere op die platteland van Colorado, VSA, dalk gedink dat hulle redelik veilig is teen ’n aanval van die vyand. Hoe verbaas moes een van daardie boere tog nie gewees het toe sy trekker skielik in ’n krater val wat deur ’n bomontploffing veroorsaak is nie! Blykbaar is die bom aan die ander kant van die Stille Oseaan gelanseer—per ballon. In ’n stille aanval gedurende dié wêreldoorlog het die Japannese besluit om uit weerwraak vir Amerikaanse lugaanvalle in 1942 meer as 9 000 waterstofballonne te lanseer wat klein brand- en personeelbomme vervoer het. Volgens die Scripps Howard-nuusdiens was die idee om bosbrande en paniek in die Verenigde State, ongeveer 10 000 kilometer daarvandaan, te veroorsaak. Die skade was betreklik gering, hoewel etlike mense gedood is. Daar is 285 gevalle aangemeld wat met die ballonne verband gehou het, en op bevel van die regering het die media die nuus hieroor verswyg om paniek te voorkom.

Wie wil tennis speel?

Die vraag na onwettige dwelms in Australië se gevangenisse het aanleiding gegee tot etlike nuwe metodes om dwelms te smokkel. “Mense vul tennisballe met onwettige dwelms en gebruik rakette om hulle in Australiese tronke in te slaan”, berig die Reuters-nuusdiens. Die gevangeniswoordvoerder Keith Blyth sê: “Hulle verpak die dwelmmiddel en draai dit dan toe (in ’n plastiekhulsel).” Dan sit hulle dit in ’n tennisbal en gooi of slaan dit letterlik oor die heining. In ’n poging om die toevloei te keer, het die Suid-Australiese regering onder andere oorweeg om “dwelmsnuffelhonde” te gebruik om buitekant die staatstronke te patrolleer om “mense met verdagte tennisballe” op te spoor, het Blyth verduidelik. ’n Ander vindingryke smokkelaar het ’n kruisboog gebruik om die dwelms oor ’n gevangenismuur te skiet. Die berig het egter gesê dat die “meer tradisionele metode om dwelms in koeke weg te steek” en dit by die gevangenis in te dra nog steeds gewild is.

Plante met ’n “geheue”

Wanneer hulle aangeval word, vervaardig baie plante chemikalieë om hulle aanvallers af te weer. Die tydskrif New Scientist berig dat party ook die aanval in hulle “geheue” vaslê, wat hulle in staat stel om die afwerende gifstowwe vinniger te begin vervaardig indien hulle weer aangeval word. ’n Ruspe wat aan ’n tabakblaar kou, veroorsaak die vervaardiging van jasmoonsuur, wat na die wortels gaan. Dit het die vervaardiging van nikotien tot gevolg, wat na die blare terugkeer om dit onaangenaam vir die eter te maak. Plante met wortels wat voorheen aan die suur blootgestel is, het vinniger op die aanval gereageer. “Dit gee te kenne dat plante wel ’n geheue het”, sê Ian Baldwin van die Staatsuniversiteit van New York in Buffalo.

’n Surplus aan geestelikes

Die afname in die lidmaatskap van Kanada se Protestantse kerke het tot ’n “ongeëwenaarde surplus aan Protestantse geestelikes gelei”, berig The Globe and Mail. Gedurende die afgelope tien jaar het die lidmaatskap van die Anglikaanse Kerk in Montreal, Quebec, van 67 000 na 27 000 gedaal, terwyl die aantal priesters dieselfde gebly het. Die surplus aan geestelikes het tot gevolg gehad dat sommige deeltydse werk moes aanvaar of van werkloosheidsversekering gebruik moet maak. In Toronto, Ontario, het die Presbiteriaanse Kerk met ’n soortgelyke krisis te kampe. Jean Armstrong, die adjunksekretaris van bedienings- en kerkampte, sê: “Ons is nie seker hoe lank gemeentes voltydse predikante nog sal kan bekostig nie.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel