Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 11/8 bl. 22-25
  • Portretfotografie—Hoe om dit reg te doen

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Portretfotografie—Hoe om dit reg te doen
  • Ontwaak!—1996
  • Soortgelyke materiaal
  • Herinneringe—Deur net ’n knoppie te druk!
    Ontwaak!—1991
  • Hoe fotografie die lig gesien het
    Ontwaak!—2006
  • Sien die onsigbare—die wetenskap van die optika
    Ontwaak!—1991
  • Verbeter jou vaardighede in die bediening – Hoe om by ’n kamera of ’n interkom te getuig
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2020
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 11/8 bl. 22-25

Portretfotografie—Hoe om dit reg te doen

Daar is min dinge wat meer waardeer word as foto’s van geliefde vriende en familielede. ’n Goeie foto of portret is per slot van rekening meer as net ’n kiekie; dit is ’n beeld wat veronderstel is om die diepste wese van iemand se persoonlikheid vas te lê!

Die probleem is dat professionele foto’s gewoonlik duur is—buite die bereik van sommige van ons. En wanneer jy self mense probeer afneem, vind jy gou uit dat dit veel meer behels as net mik en druk. Dit is omdat ’n goeie foto nie net die onderwerp insluit nie, maar ook die beligting, die agtergrond, die omgewing, die liggaamshouding, die gesigsuitdrukking en die kleur.

Maar as jy ’n kamera het en bereid is om jou daarop toe te lê om ’n paar basiese tegnieke te leer, kan jy bevredigende foto’s neem. Hoe? Om dit te beantwoord, sal ons ’n paar vrae stel aan ’n professionele portretfotograaf wat meer as tien jaar ondervinding op hierdie gebied het.

• Wat is eerstens die geheim daarvan om iemand vir die kamera te laat glimlag? Maak seker dat die persoon wat jy wil afneem in die stemming daarvoor is! Gestel jy wil byvoorbeeld ’n foto van ’n dogtertjie neem. As sy moeg of honger is, sal dit moeilik wees om haar samewerking te kry. Daarbenewens sal moegheid haar gesig en oë gespanne laat lyk, wat afbreuk aan die foto sal doen. Moedig haar dus aan om ’n bietjie te rus en ’n ligte versnapering te geniet voordat die fotosessie begin.

Dit help ook as daar wisselwerking tussen julle is. Wees vrolik en opgeruimd. Gesels met haar sodat sy ontspan, maar moenie probeer om haar histeries te laat lag nie. Dit laat die oë op skrefies trek en bring bloed na die gesig. Probeer ’n verskeidenheid gesigsuitdrukkings afneem. Hoe meer foto’s jy neem, hoe beter is jou kanse om die uitdrukking te kry wat daardie persoon die beste kenmerk.

• Wat van kleredrag en persoonsversorging? In groepfoto’s is kleurharmonie wenslik. As jy byvoorbeeld ’n foto van ’n gesin neem, kan jy voorstel dat hulle kleure dra wat bymekaar pas. Of laat hulle almal miskien dieselfde kleure dra. Onthou egter dat groot mense beter lyk in donker kleure en dat maer mense beter lyk in ligte kleure.

Jy moet ook aandag skenk aan besonderhede: Hang die klere reg, met die minimum kreukels? Hang die das reg? Is die hare netjies? Jou oog sien miskien nie hare wat nie op hulle plek is nie, maar die kamera sal wel! As die persoon wat jy afneem ’n vrou is, is haar grimering reg aangewend?

• Wat van mense wat ’n bril dra? Dit kan ’n probleem skep as gevolg van blikkering. Kyk eers deur jou beeldsoeker om te sien of daar enige ongewenste blikkering is. Indien wel, laat die persoon sy kop stadig draai totdat die weerkaatsing van die middel van die oog af wegbeweeg of verdwyn. Soms sal dit help as die persoon sy ken laat sak—maar pasop dat dit nie lyk of hy ’n dubbele ken het nie!

• Maak dit saak wat op die agtergrond is? Beslis! ’n Besige agtergrond vol kragdrade, paaie of voertuie sal net afbreuk doen aan jou foto. Soek dus na ’n agtergrond wat dit wat jy wil afneem, sal laat uitstaan of interessanter sal maak, soos ’n boom, ’n struik met blomme, ’n houtheining of selfs die kant van ’n ou skuur.

• Gestel jy neem die foto binnenshuis? Jy kan die persoon op ’n stoel of ’n rusbank laat sit voor ’n ligte muur of ’n binnenshuise plant. Dit is veral interessant om die persoon uit te beeld terwyl hy of sy werk of besig is met ’n geliefkoosde stokperdjie of bedrywigheid, met die werksbank, lessenaar of naaldwerk in die agtergrond.

• Gestel jy kan nie ’n mooi agtergrond kry nie? Probeer die agtergrond uit fokus laat. Dit werk die beste met buitelugfoto’s, waar jy die persoon ver van die agtergrond af kan plaas. Jy doen dit deur die f-syfer, of die grootte van die lensopening, te verstel. ’n Laer f-syfer, soos f5.6, sal die persoon in fokus plaas, maar sal die agtergrond verdof.—Sien foto nommer 1.

• Enige wenke oor samestelling? Eerstens help dit as jy jou kamera op ’n driepoot opstel; dan kan jy meer op samestelling konsentreer. Gewoonlik is foto’s van mense vollengte, driekwart (van die middellyf af op) of ’n naby foto (kop en skouers of net die kop). (Sien foto nommer 2.) Enige lens tussen 105 en 150 millimeter sal net reg wees vir foto’s van mense. As jy nie die lens aan jou kamera kan verstel of vervang nie, kan jy nader aan of verder van die persoon af probeer beweeg totdat jy die beeld kry wat jy verlang. Terloops, dit is altyd raadsaam om ’n spasie bo die kop, aan die kante en onder die voete te laat. Sodoende voorkom jy dat die kop, die voete of die lyf afgesny word as jy dalk die foto laat vergroot. Want hoe meer jy vergroot, hoe meer van die beeld kan in die vergrootproses verlore gaan, na gelang van hoeveel spasie daar aan die kante van die foto is.

Die reël van derdes is ’n nuttige riglyn. Dit behels dat jy die persoon se gesig of oë een derde van die bo-, onder- of sykant van die prent af plaas. (Sien foto nommer 3.) Maar soms werk dit tog goed om die oë in die middel van die foto te hê.

• Wat daarvan om die persoon te laat poseer? Laat die persoon na die kamera kyk terwyl hy in ’n ontspanne posisie sit, staan of lê, maar effens na die kant toe gedraai. As die gesig te rond lyk, moet jy die persoon sy kop of lyf effens laat draai sodat die lig net op die helfte van die gesig val. Die helfte wat in die skaduwee is, moet die naaste aan die kamera wees. Dit sal die gesig smaller laat lyk. As jy daarenteen die gesig voller wil laat lyk, moet jy die persoon sy kop of lyf laat draai totdat die hele gesig verlig is.

Skenk veral aandag aan die hande. Hulle moet ontspanne lyk en moet in ’n posisie wees wat natuurlik is vir die persoon wat jy afneem; hulle kan byvoorbeeld liggies teen die ken of die kant van die gesig rus. Moenie, as die persoon staan, die algemene fout begaan om die arms langs die sye te laat hang met die hande wat reguit na onder wys nie. Dit is beter as die hande iets vashou of in ’n natuurlike posisie rus.

• Enige wenke vir wanneer paartjies afgeneem word? Laat hulle hulle koppe effens na mekaar toe buig. Dit is gewoonlik die beste om nie albei op dieselfde vlak te hê nie. Jy kan hulle in ’n posisie probeer plaas waar die een persoon se oë op dieselfde vlak as die ander persoon se neus is.—Sien foto nommer 4.

• Kom ons praat oor beligting. Wat is die beste tyd van die dag om buitelugfoto’s te neem? Laat in die middag. Die lug is gewoonlik stil, en die kleur van die lig is warmer. Probeer jou vriend so plaas dat die sonlig die een kant van sy gesig verlig, met net ’n driehoekie lig wat op die skadukant van die gesig val. Dit sal voorkom dat die persoon sy oë op skrefies trek. Beweeg jou kamera na die skadukant van die gesig as jy ’n profielfoto wil neem. Terloops, maak seker dat die sonlig nie op jou kamera se lens skyn nie.

• Wat as die lig te skerp is? Probeer jou vriend so plaas dat die son agter hom is.

• Sal dit nie sy gesig in die skaduwee laat wees nie? Ja, maar jy kan jou flits gebruik om die skadugedeeltes te verlig. Party kameras doen dit outomaties. ’n Ander oplossing is om ’n vriend as ’n assistent te gebruik. Hy of sy kan ’n weerkaatser of ’n groot stuk wit karton so hou dat dit gedempte sonlig op die persoon wat afgeneem word se gesig weerkaats.

• Wat van binnenshuise beligting? Jy kan natuurlike lig gebruik deur die persoon naby ’n venster te plaas. ’n Dun gordyn kan gebruik word om die lig te demp. Indien nodig, kan jy jou flits of ’n kartonweerkaatser gebruik om dele van die gesig te verlig wat te donker lyk.—Sien foto nommer 5.

• Wat as daar nie genoeg beskikbare lig is nie? In sulke situasies sal jy jou flits moet gebruik. Probeer die persoon op ’n plek met ’n wit symuur plaas. Hou jou flits skuins sodat lig van die symuur af weerkaats. Met die lig wat van die kant af kom, sal jy meer beheer hê oor hoeveel van die gesig verlig word.

Dit sal weliswaar ’n bietjie leer en probeer verg om goeie resultate te kry. Maar die basiese beginsels van portretfotografie is eenvoudig. Met versigtige beplanning en aandag aan besonderhede kan jy, selfs met die eenvoudigste kamera, ’n goeie foto neem—’n foto wat baie jare lank genot aan jou en jou geliefdes sal verskaf!

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel