Ons beskou die wêreld
Die Heilige Skrif in 2123 tale
Volgens die Wetterauer Zeitung het Hannah Kickel-Andrae, persattaché van die Duitse Bybelgenootskap, onlangs aangekondig dat die Heilige Skrif in meer as 2100 tale gelees kan word. Daar word geskat dat die mensdom ongeveer 6000 tale en dialekte praat. Dit beteken dat ten minste dele van God se Woord in meer as ’n derde van al die lewende tale beskikbaar is. Volgens die tydskrif Bibelreport word die hele Bybel nou in 349 tale uitgegee. Die “Nuwe Testament” is in nog 841 tale beskikbaar en ander dele van die Bybel in 933, vir altesaam 2123 tale. Die meeste vertaalspanne neem ongeveer vier jaar vir die vertaling van die “Nuwe Testament” en ongeveer agt vir die “Ou Testament”. Werk aan 600 ander vertaalprojekte is aan die gang.
Giftige walvis
Die koerant International Herald Tribune doen verslag van ’n dooie spermwalvis wat in die besige vaarwater aan die noordelike kus van Denemarke gevind is en wat soveel “kwik en kadmium [ingehad het] dat sy ingewande op ’n spesiale terrein vir gevaarlike afval begrawe moes word”. Die bron van hierdie giftige metale is nog nie bekend nie. Die tydskrif Time het dieselfde voorval bespreek en bygevoeg dat party dit as ’n besliste aanduiding van gevaarlike besoedeling van die seë beskou, terwyl dierkundiges dit aan natuurlike oorsake toeskryf. Walviskenner Carl Kinze, van die Dierkundige Museum in Kopenhagen, wys daarop dat spermwalvisse hoofsaaklik inkvisse eet, waarvan sommige van nature hoë vlakke kadmium bevat.
Dobbelary eis ’n hoë tol
In die Australiese staat Nieu-Suid-Wallis het ’n staatsgeborgde opname ’n paar skokkende statistieke aangaande die gevolge van dobbelary onthul. Volgens The Sunday Telegraph het byna 40 persent van die respondente gesê dat hulle elke week dobbel. Meer as 2 uit 10 het erken dat hulle meer as $100 (R350) per week aan die gewoonte bestee. “Jong, ongetroude mans wat dobbelmasjiene of wedrenne verkies het”, was die groep wat hoogs waarskynlik dobbelprobleme sal ontwikkel. Ander hoërisikogroepe het “mense wat minder as $20 000 [R70 000] per jaar verdien en afgetrede of werklose mense” ingesluit. Ook het die opname aan die lig gebring dat “byna 15 persent van die gesinne in NSW [Nieu-Suid-Wallis] al probleme met oordadige dobbelary ondervind het”. Daarbenewens word daar geskat dat “dobbelverslaafdes NSW $50 miljoen [R180 miljoen] per jaar kos aan verlore produktiwiteit, bankrotskap en egskeidingskostes”.
Katolieke onaanraakbares?
Deur die eeue heen het baie van dié wat in Indië in die kaste van die sogenaamde onaanraakbares gebore is Katolieke bekeerlinge geword in die hoop om van die Hindoekastestelsel weg te kom. “Maar dit het nie beteken dat hulle die lae stand van hulle kaste kon afskud nie”, sê die Paryse koerant Le Monde. Indiese Katolieke van hoë kastes behandel steeds Katolieke van lae kastes soos onaanraakbares. “Gevolglik”, sê Le Monde, “sit Katolieke van lae en hoë kastes op verskillende banke wanneer hulle kerk toe gaan om te bid.”
Vals titels
In die Verenigde State word die titels “voedingkundige”, “geneesheer” en “dieetkundige” dikwels deur selfverklaarde, ongekwalifiseerde mense gebruik. Volgens die Tufts University Diet & Nutrition Letter “kan enigiemand, ongeag sy geleerdheid, [in baie state] beweer dat hy ’n voedingkundige is sonder vrees vir regshandeling”. Navorsers het onlangs telefoongidse in 32 state nagegaan en uitgevind dat “minder as die helfte van die sogenaamde professionele ‘voedingkundiges’ en ‘geneeshere’ wat aangegee word betroubare bronne van goeie, wetenskaplike voedingsinligting is”. In die geelbladsye (kommersiële telefoongids) is gevind dat ongeveer 70 persent van die voedingkundiges wat as “Ph.D.’s” aangegee word vals grade het of onjuiste inligting verskaf.
Kindermag
“Brasiliaanse kinders is in beheer by die huis, beïnvloed hulle ouers se besluite en bestee byna $50 miljard (Am.) [R215 miljard] per jaar”, sê die tydskrif Veja. “Kinders besluit self op TV-programme omdat die grootmense met ander dinge besig is. Hulle gaan op skooluitstappies sonder die toesig van die vader of die moeder. . . . Hulle word by partytjies gelos en slaap oor by vriende.” Baie ouers van vandag “verkies kinders wat vol selfvertroue en onafhanklik is, selfs al is hulle nie so gehoorsaam soos kinders van vorige geslagte nie”. Maar volgens geestesgesondheidspraktisyn Alberto Pereira Lima Filho “kan [ouers] wat hulle rol as onderrigters prysgee nie duidelike perke vir hulle kinders stel nie”. Dit is dus nie verbasend dat ’n studie getoon het dat “40 persent van die kinders meer bewondering vir sokkerspelers as vir hulle ouers het” nie.
Voedoe word deur regering goedgekeur
Die Wes-Afrikaland Benin het “amptelike erkenning” aan “voedoeïsme” gegee, sê The Guardian van Nigerië. Volgens die koerant was dit die “eerste keer dat enige regering” amptelike status aan ’n “tradisionele Afrikagodsdiens” gegee het. Hierdie erkenning beteken dat mense wat voedoe beoefen wettiglik die reg het om tempels te bou waar offers gedoen kan word om onsigbare geeste te aanbid en te paai. Na raming beoefen 70 persent van die mense in Benin voedoe.
Duur ontwapening
Volgens Duitse navorsers “het krygsbesteding tussen 1985 en 1994 wêreldwyd met ongeveer 30 persent afgeneem, tot ‘slegs’ 800 miljard Amerikaanse dollar [R3,5 biljoen]”. Die Internasionale Sentrum vir Omsetting in Bonn (ISOB) het hierdie feite gepubliseer in hulle eerste jaarboek met die titel Conversion Survey 1996. Uit 151 lande het 82 hulle militêre uitgawes verminder, terwyl 60 dit vermeerder het. Volgens die Duitse tydskrif Focus is die “hoop op ‘vredesdividende’, dit wil sê die herverdeling van miljarde dollars vir die ontwikkeling van bystands- en maatskaplike programme, tot nog toe nie vervul nie”. Deskundiges by ISOB het gesê: “Die vermindering van krygstoerusting het uitgawes geskep wat die besparings op die gebied van bewapening kanselleer.”
Opwaslappe kan ’n mens siek maak
Wetenskaplikes het ’n aansienlike hoeveelheid skadelike bakterieë in gebruikte opwaslappe en kombuissponse gevind. Volgens die UC Berkeley Wellness Letter het ’n onlangse studie onthul dat daar uit die 500 nat lappe en sponse wat ondersoek is “twee derdes was wat bakterieë bevat het wat mense siek kan maak”. Ongeveer ’n kwart “het salmonella of stafilokokke bevat, twee hoofoorsake van voedselverspreide siektes” in die Verenigde State. Deskundiges stel voor dat sponse gereeld vervang en opwaslappe dikwels gewas moet word. “Jy kan opwaslappe en sponse saam met jou vuil skottelgoed in die skottelgoedwasser sit of in die wasmasjien”, sê die Wellness Letter. Nadat rou vleis bewerk is, kan oppervlaktes eerder met papierhanddoeke as met opwaslappe of sponse skoongemaak word.
Video vir opehartchirurgie
’n Paryse hospitaal het onlangs die eerste hospitaal ter wêreld geword om ’n opehartoperasie met behulp van ’n video op ’n 30-jarige vrou te doen, lui ’n berig in die Paryse dagblad Le Monde. Gewone opehartchirurgie vereis ’n opening van ongeveer 20 sentimeter al langs die borsbeen in die borskasholte. Hierdie nuwe tegniek vereis egter slegs ’n snit van vier sentimeter en ’n ander klein gaatjie vir ’n veseloptiese kamera om die chirurg te lei. In hierdie geval is bloedverlies, na-operatiewe skok en die gevaar van infeksie aansienlik verminder. Die pasiënt kon die hospitaal net 12 dae ná die operasie verlaat. Elke jaar ondergaan ongeveer eenmiljoen mense regoor die wêreld gewone opehartoperasies.
Teringplaag
“’n Derde van die wêreldbevolking is met TB [tering] besmet”, en daar word verwag dat 30 miljoen mense hierdie dekade aan die siekte sal sterf, sê The Times van Londen. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beklemtoon dat die nuwe plaag, soos hulle dit noem, algemener sal voorkom en verwoestender sal wees as vigs, met 300 miljoen mense wat waarskynlik in die volgende tien jaar besmet sal word. Die feit dat die basil in die lug versprei word, beteken dus dat TB aansteekliker is. In dele van Rusland is TB reeds ’n epidemie. Teringsoorte wat teen geneesmiddels bestand is, het ontstaan omdat baie TB-pasiënte nie hulle antibiotika-kursus van ses maande voltooi het nie, sê ’n mediese noodlenigingsagentskap in Brittanje. Die basille ontwikkel gevolglik immuniteit en leef voort.