Versterk vir beproewinge wat voorgelê het
SOOS VERTEL DEUR EDWARD MICHALEC
Die “sheriff” van Wharton, Texas, VSA, was woedend. Terwyl hy my vir die vierde keer tronk toe geneem het, het hy geskreeu: “Waarom luister jy nie na bevele nie?”
“Ek het die volste reg om dit te doen”, het ek impulsief geantwoord. Dit het die “sheriff” nog woedender gemaak, en hy het my met ’n leerknuppel begin slaan. Ander beamptes het ook ingespring en my met hulle pistoolkolwe geslaan.
DIT het byna 60 jaar gelede gebeur. Wanneer ek terugkyk, kan ek sien dat Jehovah God sulke situasies gebruik het om my te leer om die uitdagings die hoof te bied waarvoor ek te staan sou kom as een van die enigste twee Getuies van Jehovah in Bolivia, ’n Suid-Amerikaanse land so groot soos Frankryk. My ondervinding sal jou dalk help om te sien hoe Jehovah jou kan versterk wanneer jy met verskillende beproewinge te kampe het.
Terwyl ek in 1936 in ’n radioherstelwinkel in Boling, Texas, gewerk het, het ek ’n radio-uitsending gehoor van ’n toespraak deur Joseph F. Rutherford, die destydse president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap. Sy toespraak het oor die seëninge gehandel wat God se Koninkryk vir die gehoorsame mensdom gaan bring. Dit het werklik my belangstelling gewek (Matteus 6:9, 10; Openbaring 21:3, 4). Ek het later ’n paar van Rutherford se boeke in ons biblioteek gevind en hulle begin lees.
My stiefma het bekommerd geraak oor my belangstelling in wat sy “al daardie ou godsdiensboeke” genoem het. Sy het hulle weggesteek en gedreig om hulle te verbrand. Toe ek aan die Wagtoringgenootskap geskryf het vir intekeninge op Die Wagtoring en The Golden Age, ’n vroeëre naam vir die Ontwaak!, het die Genootskap gevra dat William Harper, van die toe onlangs gestigte Wharton-gemeente, my besoek. Kort voor lank het ek, my stiefma, my broer en my jonger halfbroer almal die Bybel saam met broer Harper gestudeer. Nie lank daarna nie het ons almal ons toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer.
In 1938 het Shield Toutjian, ’n reisende verteenwoordiger van die Genootskap, ons by ons huis in Boling besoek en ’n Bybeltoespraak gehou. Ons woonkamer was stampvol—mense het selfs in die deuropeninge van aangrensende vertrekke gestaan. Broer Toutjian het gepraat oor hoe die profeet Jeremia daarin volhard het om vir die mense in sy dag te preek ten spyte van hulle teenstand (Jeremia 1:19; 6:10; 15:15, 20; 20:8). Deur middel van sulke toesprake het Jehovah ons versterk vir beproewinge waarvoor ons te staan sou kom.
’n Besluit en die gevolge daarvan
Ek het spoedig besef dat ek ’n besluit sal moet neem. Vroeër het ek handel gestudeer en aansien in die handelswêreld probeer verwerf. Ek het ’n sakeonderneming vir die verkoop en herstel van radio’s gehad, en ek het vir ’n telefoonmaatskappy gewerk en telefoonlyne aangelê. Maar nou het ek begin besef dat ware sukses in die lewe behels dat ons ons Skepper, Jehovah God, behaag. Daarom het ek my sakeonderneming toegemaak en ’n kampeerbussie opgeknap. Teen 1 Januarie 1939 het ek aangesluit by ’n groep pioniers, oftewel voltydse bedienaars, naby Three Rivers, in die Karnes-distrik, Texas.
In September 1939 het die Tweede Wêreldoorlog in Europa uitgebreek. Teenstanders het die geleentheid misbruik om teen Jehovah se Getuies te laster. Hulle het beweer dat ons vyfdekolonners, of spioene vir die Spilmoondhede, is. Baie het hierdie valse aantygings geglo en ons lastig begin val. Gedurende die vroeë veertigerjare is ek nege of tien keer in die tronk gegooi, met inbegrip van die geval wat vroeër genoem is toe die sheriff en sy handlangers my so erg geslaan het. Ek moes agterna doktersbehandeling kry.
Terloops, hierdie selfde sheriff het later aangebied om ’n man wat aangekla is weens onwettige dobbelary teen vervolging te vrywaar in ruil vir ’n guns—die man, ’n frisgeboude olieveldwerker, moes my aanrand. Gevolglik het die man my met ’n ketting aangeval toe ek eendag tydskrifte op straat aangebied het! ’n Paar beamptes het opgedaag, maar in plaas van hom te arresteer, het hulle mý toegesluit! Later het my aanvaller vir my vertel waarom hy my so sonder rede aangeval het en om verskoning gevra.
Wat beproewings my geleer het
Hierdie beproewings waarmee ek te kampe gehad het, het in werklikheid my geloof in God versterk. Om maar een ding te noem, ek kan nie onthou dat ek pyn gevoel het terwyl ek geslaan is nie, maar ek onthou wel die kalmte en vrede wat ek agterna ervaar het (Handelinge 5:40-42). Ek het dus geleer om op te tree soos die apostel Paulus gemaan het: “Laat ons ons verbly terwyl ons in verdrukkinge is, aangesien ons weet dat verdrukking volharding voortbring” (Romeine 5:3). Toe ek later teruggedink het aan hoe hulle my geslaan het, het dit my vasbeslote gemaak om met Jehovah se hulp nooit toe te laat dat enige van Satan se agente my stilmaak nie.
Maar ek het nog ’n waardevolle les geleer. My taktlose opmerking: “Ek het die volste reg om dit te doen”, het die sheriff kwaad gemaak. Later het hy my weer gekonfronteer, en hierdie keer was hy woedend omdat die Getuies nie in oorlog betrokke raak nie (Jesaja 2:4). Hy het my probeer uitlok deur te vra: “As jy opgeroep sou word om jou land te verdedig, sal jy gaan?”
Aangesien ek teen dié tyd geleer het om taktvol te wees, het ek geantwoord: “As ek seker is dat dit Jehovah se wil is, sal ek dit beslis doen.” Daardie antwoord het sy woede laat bedaar, en niks het verder gebeur nie.
Opleiding vir my lewenstaak
’n Hoogtepunt in my lewe was om in 1944 die derde klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead by te woon. Hierdie skool bied ’n opleidingskursus van vyf maande aan vir sendingwerk. Voordat ek hierdie skool bygewoon het, was ek ontsettend bang om voor ’n gehoor te praat. Maar die gereelde toesprake wat ons voor ongeveer honderd studente moes hou, en dikwels in ’n opelugteater, het my werklik gehelp. Maxwell Friend, ons instrukteur van die openbare spreekkuns, het my onderbreek en uitgeroep: “Broer Michalec, ek kan jou nie hoor nie!” Ek het gevolglik begin besef dat my stem in werklikheid redelik kragtig is.
Nadat Nathan H. Knorr, die destydse president van die skool, aangekondig het dat my sendingtoewysing Bolivia is, onthou ek dat hy my vermaan het: “Jy sal talle nederige mense daar vind. Wees liefdevol, geduldig en bedagsaam teenoor hulle.” Aangesien die Tweede Wêreldoorlog nog aan die gang was, moes ons ’n tydjie wag voordat ons na ons toewysings kon vertrek. Uiteindelik, op 25 Oktober 1945, het ek en Harold Morris—’n klasmaat—op die El Alto-lughawe aangekom, net buite La Paz, die hoofstad van Bolivia. So het ons die enigste twee Getuies in die derde grootste land in Suid-Amerika geword.
’n Bus het ons van die lughawe af, 4100 meter bo seespieël, geneem na die hoofstad, La Paz, wat op die bodem en kante van ’n groot canyon uitgestrek lê. Dit was ’n uitdaging om daaraan gewoond te raak om in ’n plek te woon wat ver oor die 3000 meter bo seespieël geleë is.
’n Klein, onstuimige begin
Ons het dadelik begin om mense van huis tot huis te besoek. Hulle was vriendelik en geduldig met ons terwyl ons met ons gebroke Spaans gesukkel het. Kort voor lank het ons 18 tot 20 weeklikse tuisbybelstudies elk gehou. Ses maande later, op 16 April 1946, het ’n klein, gelukkige groepie saam met ons vir die jaarlikse herdenking van Christus se dood vergader. Kort daarna het nog vier Gileadgegradueerdes gekom, waaronder Elizabeth Hollins, wat later my vrou geword het.
Ek en broer Morris het weldra ander stede begin besoek, waaronder Cochabamba en Oruro, wat destyds die tweede en derde grootste stede in Bolivia was. Toe ek aan broer Knorr verslag doen oor die belangstelling wat ons gevind het en die Bybellektuur wat ons versprei het, het hy aan die hand gedoen dat ons hierdie stede elke drie maande of wat besoek om diegene te help wat belangstelling getoon het. Baie van hierdie vriendelike, gasvrye mense het later Getuies van Jehovah geword.
Aangesien die Tweede Wêreldoorlog net die vorige jaar tot ’n einde gekom het, was daar politieke beroeringe in Bolivia. Politieke wedywering en vrees dat Nazisme in Suid-Amerika sou herleef, het gespanne straatoptogte en sluipmoorde tot gevolg gehad. In die somer van 1946 is die president van die land doodgemaak, en sy liggaam is aan ’n lamppaal voor die presidentspaleis opgehang. Met tye kon die mense weens die geweld nie eers hulle huise verlaat nie.
Terwyl Elizabeth eendag met die bus deur die stadsplein gery het, het sy drie jong mans gesien wat aan pale opgehang is. Dit het haar met afgryse vervul en sy het saggies uitgeroep. ’n Medepassasier het gesê: “As jy nie daarvan hou nie, kyk weg.” Sulke gebeure het ons laat besef dat ons grootliks op Jehovah moet staatmaak.
Maar te midde van die onrus het Bybelwaarheid in nederige harte begin wortelskiet. In September 1946 is ’n takkantoor in La Paz geopen, en ek is as takopsiener aangestel. ’n Gehuurde woonstel waarin die kantoor was, het ook as ’n sendinghuis gedien. ’n Paar maande later, toe die eerste gemeente in Bolivia gestig is, het ons hierdie selfde woonstel as ons vergaderplek gebruik.
In 1946 het ons ook openbare toesprake begin hou. Die eerste toespraak is in die Munisipale Biblioteeksaal in die middestad van La Paz gehou. ’n Vriendelike Joego-Slawiese man wat die Bybel saam met ons gestudeer het, het ’n kennisgewing in die plaaslike koerant geplaas om die toespraak te adverteer. Die saal was redelik vol. Aangesien ek nog steeds met my Spaans gesukkel het, was ek baie bang om daardie toespraak te hou. Maar met Jehovah se hulp was die vergadering ’n sukses. Op die ou end was dit die eerste van vier opeenvolgende toesprake wat ons in die saal gehou het.
In 1947 is nog ses Gileadsendelinge gestuur en in 1948 nog vier. Die huise wat ons kon huur, het baie min moderne geriewe gehad. Behalwe dat ons met ons besige program as sendelinge moes byhou, was dit nodig dat ons, die vroeë sendelinge, uiteindelik deeltyds moes werk om geld te kry om ons verslete klere te vervang. Dit was ook ’n uitdaging om van die een stad na die ander te kom. Ek het dikwels agterop ’n oop vragmotor oor koue bergpasse gereis. Maar Jehovah het voortgegaan om vir ons versterkende aanmoediging deur sy organisasie te gee.
In Maart 1949 het broer Knorr en sy sekretaris, Milton Henschel, van New York af gekom en ons drie sendinghuise in La Paz, Cochabamba en Oruro besoek. Hoe aanmoedigend was dit tog om te hoor van die groot uitbreiding in baie lande en van die nuwe Bethelhuis en drukfasiliteite wat by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn in aanbou was! Broer Knorr het voorgestel dat ons ons huis en Koninkryksaal op ’n sentraler plek in La Paz moes hê. Hy het ons ook vertel dat nog meer sendelinge gestuur sou word.
Later in 1949 het ons ons eerste kringbyeenkoms gehad, in die stad Oruro. Dit was aanmoedigend vir baie van ons nuwe Christenbroers en -susters om mekaar vir die eerste keer te ontmoet. Teen daardie tyd het Bolivia al ’n hoogtepunt van 48 Koninkryksverkondigers bereik en drie gemeentes gehad.
My getroue metgesel
As gevolg van jare se sendingdiens saam, het ek en Elizabeth mekaar leer ken en liefkry. Eindelik, in 1953, is ons getroud. Sy het, net soos ek, in Januarie 1939 die pionierdiens betree. Daardie vroeë jare in die pionierdiens was ook vir haar moeilik. Weens haar moedige predikingsbedrywighede is sy ook tronk toe geneem, terwyl hulle haar soos ’n slegte misdadiger deur die strate begelei het.
Elizabeth erken dat sy bang was toe sy aan inligtingsoptogte deelgeneem het en plakkate gedra het wat gesê het: “Religie is ’n strik en ’n bedrogspel.” Maar sy het gedoen wat Jehovah se organisasie ons op daardie tyd beveel het. Soos sy gesê het, sy het dit vir Jehovah gedoen. Daardie ondervindinge het haar versterk vir die beproewinge wat sy gedurende daardie vroeë jare in Bolivia verduur het.
Verskeie toewysings
Ná ons troue het ons ’n paar jaar lank baie van ons tyd in die reisende werk deurgebring. Ons het nie net die vier gemeentes in Bolivia besoek nie, maar ook al die afgesonderde groepe belangstellendes sowel as elke dorp met ’n bevolking van meer as 4000. Ons doel was om enige belangstelling in Bybelwaarheid onder die mense wat in daardie plekke gebly het op te spoor en lewendig te hou. Dit was opwindend om te sien dat daar teen die middel-sestigerjare ’n gemeente in byna elke klein dorpie was wat ons sowat tien jaar tevore besoek het.
Intussen het ek gesondheidsprobleme ondervind wat vererger is deur die feit dat La Paz so hoog bo seespieël is. In 1957 het ’n ander broer dus die verantwoordelikheid op hom geneem om toesig oor die tak te hou, en ek en Elizabeth is aangewys na die sendinghuis in Cochabamba, ’n stad in ’n vallei wat nie so hoog bo seespieël is nie. By ons eerste vergadering was ’n paar sendelinge teenwoordig, maar nie ’n enkele Boliviaan nie. Teen die tyd dat ons Cochabamba 15 jaar later, in 1972, verlaat het, was daar twee gemeentes. Nou is daar 35 gemeentes in die Cochabamba-vallei, met meer as 2600 Koninkryksverkondigers!
In 1972 is ons na Santa Cruz in die tropiese laagland gestuur. Ons bly nog steeds hier in ’n paar kamers bo-op ’n Koninkryksaal. Toe ons hier gekom het, het Santa Cruz ook twee gemeentes gehad, maar nou is daar oor die 45, met meer as 3600 verkondigers wat aan die Christelike bediening deelneem.
Hoe bly is ons tog dat ons al meer as 50 jaar in ons sendingtoewysing is en gesien het hoe sowat 12 300 van Jehovah se volk in hierdie land ingesamel word! Dit het ons waarlik vreugde verskaf om hierdie dierbares te help.
’n Gelukkige lewe waarin ons ander gedien het
Voordat ek na my sendingtoewysing vertrek het, het die Wagtoringgenootskap se regsadviseur, Hayden C. Covington, wat ook van Texas is, gesê: “Ed, in Texas het ons baie beweegruimte gehad. Maar in ’n sendinghuis sal jy saam met ander ingehok wees. Dit sal beteken dat jy veranderinge moet aanbring.” Hy was reg. Dit is ’n uitdaging om so na aan ander te lewe, maar dit is net een van die baie uitdagings waarvoor ’n Christensendeling te staan kom.
As jy dit dus oorweeg om jou tuiste te verlaat om Jehovah in ’n ander gebied te gaan dien, moet jy onthou dat die lewe van ’n ware volgeling van Christus diens aan ander behels (Matteus 20:28). ’n Sendeling moet hom derhalwe daarop voorberei om ’n lewe van selfverloëning te aanvaar. Party dink dalk dat hulle vernaamheid sal verwerf. Dalk sal hulle—wanneer hulle hulle vriende en familie tuis groet. Maar dit verdwyn wanneer jy in die dorpie of die arm stadsgebied aankom waarheen jy toegewys is. Wat is my raad?
Wanneer jy voor moeilikhede te staan kom, soos gesondheidsprobleme, die gevoel dat jy van jou familie afgesny is of as jy dalk sukkel om met jou Christenbroers in ’n toewysing oor die weg te kom, moet jy dit alles as deel van jou opleiding beskou. As jy dít doen, sal jy mettertyd beloon word, soos die apostel Petrus geskryf het: “Nadat julle ’n klein rukkie gely het, sal die God van alle onverdiende goedhartigheid . . . self julle opleiding voltooi; hy sal julle standvastig maak, hy sal julle sterk maak.”—1 Petrus 5:10.
Edward Michalec het op 7 Julie 1996 gesterf, terwyl hierdie artikel gefinaliseer is.
[Prent op bladsy 19]
In 1947 in Bolivia
[Prent op bladsy 20, 21]
Klasse in die openbare spreekkuns is dikwels buite gehou, soos hierdie latere foto van die amfiteater by Gilead toon
[Prent op bladsy 23]
Saam met my vrou