Iets beters as wêreldberoemdheid
Jare nadat ek ’n beroemde beeldhouer in Europa geword het, het ’n medekunstenaar beskuldigend vir my gesê: “Jy het kuns in die steek gelaat!” Voor ek vertel waarom hy my hiervan beskuldig het, wil ek eers vertel hoe ek ’n beeldhouer geword het.
IN DIE dorpie Aurisina, waar ek gebore is, het die meeste van die mans in ’n antieke steengroef gewerk. Aurisina is geleë in die noorde van Italië naby Triëst en digby die voormalige Joego-Slawië. Toe ek 15 was, het ek ook in die dorp se steengroef begin werk. Dit was in 1939, die jaar toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het. Omdat ek met klip gewerk het, wou ek graag ’n beroemde beeldhouer word. Ek wou ook nooit sterf nie. Albei hierdie begeertes het onbereikbaar gelyk.
Toe die oorlog in 1945 geëindig het, het ek verhuis om by my suster in Rome te gaan woon. Ek wou daar by die akademie vir kuns inskryf. Ek was in die wolke toe my wens bewaarheid is en ek vir ’n studiekursus van drie jaar aanvaar is! My studies is betaal met behulp van verskeie liefdadigheidsorganisasies.
Geestelike honger
Ek het ook my geestelike honger probeer bevredig deur kerkdienste by te woon, waaronder dié van die Heilsleër en die Waldense. Ek het selfs kursusse by ’n Jesuïete-universiteit gevolg, en een keer het ek ’n seminaar van drie dae bygewoon wat deur ’n biskop aangebied is. Gedurende hierdie kursus is ons nie toegelaat om met mekaar te praat nie, maar ons moes ons toelê op gebed, bepeinsing, belydenis en die biskop se aanbiedinge.
Agterna het ek besef dat my geloof nie versterk is nie. “Waarom het ek nie ’n sterk geloof ontwikkel nie?” het ek die biskop gevra.
“Geloof is ’n gawe van God”, het die biskop geantwoord, “en hy gee dit aan wie hy wil.” Sy antwoord het my so diep teleurgestel dat ek opgehou het om na God te soek en my uitsluitlik aan my kunsstudies begin toewy het.
Ek verwerf internasionale roem
Nadat ek in 1948 my studies in Rome voltooi het, het ek ’n studiebeurs ontvang om ’n jaar aan die akademie vir kuns in Wene, Oostenryk, te studeer. Ek het die volgende jaar daar gegradueer en ’n studiebeurs aanvaar om nog ’n jaar in Ljubljana, Slowenië (voorheen deel van Joego-Slawië), te studeer. My doel was toe om na Parys, Frankryk, die middelpunt van die skone kunste, te verhuis.
Maar in 1951 het ek die geleentheid gekry om in Stockholm, Swede, te werk. Ek het daarheen verhuis met die doel om geld te spaar sodat ek my kunsloopbaan in Parys kon voortsit. Maar toe ontmoet ek vir Micky, en ons is in 1952 getroud en het ons in Stockholm gevestig. Ek het werk gekry by ’n klein werkswinkel waar ek beeldhouwerk van klip, marmer en graniet gemaak het. Van hulle word uitgestal by die Millesgarden, ’n park en museum in die dorp Lidingö, naby Stockholm.
In Rome het ek ’n ou metode van bronsgietery geleer—die wassmeltproses—en ek het onderrig gegee in bronsgietery aan die Kunsvakopleidingskool en by die Akademie vir Kuns in Stockholm. Later is ek toegelaat om ’n bronsgietery by die Skansen-opelugmuseum in Stockholm te gebruik. Daar het ek, dikwels voor ’n gehoor, beeldhouwerke uit brons of lood geskep. Ek is ook gehuur om antieke beeldhouwerke te restoureer wat aan die destydse koning van Swede, Gustaaf VI, behoort het. Dit word ten toon gestel in die Koninklike Paleis sowel as die kasteel van Drottningholm in Stockholm.
Tussen 1954 en 1960 is my werk deur die pers en deur kunskritici geprys. Baie van my beeldhouwerke is in groot stede in Europa ten toon gestel, waaronder Stockholm, Rome, Ljubljana, Wene, Zagreb en Belgrado. In Belgrado het maarskalk Tito van my beeldhouwerke vir sy private versameling gekoop. In die Moderne Gallery in Rome is daar ’n groot torso van ’n vrou wat ek uit graniet gemaak het, en van my werk word by die Albertina-museum in Wene ten toon gestel. Die Moderne Museum in Stockholm het een van my beeldhouwerke uit brons en lood, en die Moderne Gallery in Ljubljana het ’n beeldhouwerk uit brons.
Hernieude belangstelling in godsdiens
Nadat ons ’n paar jaar getroud was, het Micky opgemerk dat ek weer in godsdiens begin belangstel. Ek het bly wonder: ‘Waar is die geloof waarvoor die eerste Christene bereid was om te sterf?’ Ek het weer kerkdienste begin bywoon, soos dié van die Pinksterkerk en die Adventiste. Ek het selfs die Islam en Boeddhisme ondersoek.
Voordat ek in 1959 ’n kunsuitstalling in Milaan, Italië, bygewoon het, het ek my tuisdorp Aurisina ’n paar dae lank besoek. Die dorpenaars het my vertel van ’n man wat volgens hulle baie van die Bybel geweet het. Hy was een van Jehovah se Getuies. Toe ek die geleentheid gehad het om met hom te praat, het hy my dinge in die Bybel gewys wat ek nooit voorheen gesien het nie. Ek het geleer dat die mens ’n siel is—hy het nie ’n siel wat apart van sy liggaam is nie—en dat die menslike siel sterflik is, nie onsterflik soos ander godsdienste leer nie.—Genesis 2:7; Esegiël 18:4.
Verder het die man vir my gewys dat God se voorneme toe hy Adam en Eva geskep het, nie was dat hulle moes sterf nie, maar dat hulle vir ewig in geluk op die aarde moes lewe. Die eerste mensepaar het gesterf omdat hulle ongehoorsaam was (Genesis 1:28; 2:15-17). Ek het geleer dat God, deur sy Seun as ’n losprys te gee, voorsiening gemaak het vir mense om die vooruitsig te geniet op ewige lewe, wat deur Adam se ongehoorsaamheid verloor is (Johannes 3:16). Dit het my groot vreugde verskaf om hierdie dinge te leer.—Psalm 37:29; Openbaring 21:3, 4.
’n Keerpunt
Kort daarna het ek na Swede teruggekeer, waar ek en Micky Jehovah se Getuies probeer opspoor het. Ons kon egter nie ’n adres vir hulle kry nie. Maar ’n paar dae later het ons deurklokkie gelui, en daar was hulle voor ons deur! Ek het die lektuur wat hulle by my gelaat het, begin lees, en ek was gou oortuig daarvan dat dit die waarheid bevat. Maar ek wou my mening bevestig deur met ’n ou vriend te gesels, ’n Katolieke aartsbiskop wat ek leer ken het tydens my studies in Rome gedurende die laat veertigerjare. Ek het hom dus in Januarie 1961 gaan sien.
My vriend was toe in beheer van al die Katolieke sendingbedrywighede regoor die wêreld. Wat ’n verrassing het daar op my gewag! Dit het my verstom om uit te vind dat die aartsbiskop nie eens basiese Bybelkennis gehad het nie. Toe ons gepraat het oor wat by die dood gebeur, het hy gesê: “Wat ons nou glo, sal dalk op die ou end heeltemal die teenoorgestelde wees.” En toe ons die apostel Petrus se verwysing na die Bybelbelofte van “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” bespreek het, was hy nie seker wat hierdie belofte beteken nie.—2 Petrus 3:13; Jesaja 65:17-25.
Met my terugkoms in Stockholm het ek die Bybel gereeld begin studeer saam met een van die Getuies wat ek en my vrou leer ken het. Ek was baie bly om te sien hoe Micky se belangstelling in die studie toegeneem het. Ek het uiteindelik op 26 Februarie 1961 my toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer, en Micky is die jaar daarna gedoop.
Aanpassings in my werk
In 1956 het ons ’n babadogtertjie gehad en in 1961 ’n seuntjie. Aangesien ons nou ’n gesin gehad het om te onderhou, moes ek ’n vaste werk kry. Ek was baie bly om ’n uitnodiging te kry om ’n groot monument in my geboortedorp te bou. Dit sou ter nagedagtenis wees van die guerrillastryders wat in die Tweede Wêreldoorlog gesterf het. Die monument sou vir my ’n baie winsgewende projek gewees het. Maar nadat ek verskeie faktore oorweeg het—onder andere dat ek maande lank weg sou wees van my gesin en die Christengemeente en dat ek in ’n land sou wees waar Kommunisme gedy het en waar dit nie maklik sou wees om geestelike belange na te streef nie—het ek die aanbod van die hand gewys.
’n Ander projek het vir my ’n gewetensprobleem geskep. Ek is gevra om ’n groot ornament vir ’n nuwe krematorium in Swede te maak. Nadat ek dit klaargemaak het, is ek na die onthulling genooi. Maar nadat ek uitgevind het dat die Biskop van Stockholm my werk gaan onthul, het ek besluit om nie aan die seremonie deel te neem saam met mense wie se leringe en gebruike reëlreg in stryd is met God se Woord nie.—2 Korintiërs 6:14-18.
Omdat dit so moeilik was om gereeld werk te kry as ’n beeldhouer het dit vir my moeilik geword om behoorlik in my gesin se materiële behoeftes te voorsien (1 Timoteus 5:8). Ek het biddend oorweeg wat ek kon doen om ’n bestaan te maak. Daarna het ’n argitek vir my ’n model gebring van ’n gebou wat hy ontwerp het. Hy het my gevra om dit te fotografeer. Aangesien ek ’n goeie kennis van fotografie gehad het omdat ek self foto’s van my beeldhouwerke geneem het, was ek maar te bly om die werk te aanvaar. Gedurende daardie jare is baie konstruksiewerk in Swede gedoen, en die modelle moes gefotografeer word. Ek het dus baie werk by talle argitekte gekry en kon goed na my gesin omsien.
Dit was gedurende hierdie tyd dat ek die Italiaanse Kultuurinstituut in Stockholm besoek het om oor die goeie nuus van God se Koninkryk te praat (Matteus 24:14). Ek het die direkteur van die instituut geken en kon ’n afspraak met hom maak. Dit was nadat hy uitgevind het dat ek nie meer as ’n beeldhouer werk nie, dat hy uitgeroep het: “Jy het kuns in die steek gelaat!” Ek het verduidelik dat ek belangriker verpligtinge teenoor God en my gesin het.
Ek moet erken dat kuns ’n tyd lank die belangrikste ding in my lewe was. Ek het egter tot die besef gekom dat dit in my geval sou wees asof ek twee here probeer dien indien ek my loopbaan verder sou najaag (Matteus 6:24). Ek was oortuig daarvan dat ek niks belangrikers kon doen as om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig nie. Daarom het ek die persoonlike besluit geneem om my werk as ’n beeldhouer op te gee, en Jehovah God het my besluit ryklik geseën.—Maleagi 3:10.
Voorregte van Christelike bediening
Gedurende die vroeë sewentigerjare het baie immigrante in Swede van die suide en ooste van Europa belangstelling in Bybelwaarheid begin toon. Van 1973 af het ek dus die voorreg gehad om die Bybel te studeer met immigrante wat Italiaans, Spaans en Serbo-Kroaties gepraat het, en ek het nuwe gemeentes en studiegroepe vir hierdie taalgroepe help stig. Ek is aangestel om Christelike streekbyeenkomste in Italiaans te reël en om Bybeldramas by hierdie byeenkomste aan te bied. By geleentheid het ek ook die voorreg gehad om gemeentes in Swede as ’n reisende opsiener te bedien.
Omdat ek gehelp het om Italiaanse streekbyeenkomste in Swede te reël, was ek in aanraking met die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Rome. Die Italiaanse broers het vir my gesê dat daar ’n tekort aan gemeentelike ouer manne in Italië was as gevolg van die geweldige groei in die predikingswerk daar. In 1987 het ek en Micky dus na Ligurië, naby Genua, Italië, verhuis. Teen daardie tyd was ons kinders groot en op hulle eie. Ons het twee wonderlike jare in Italië deurgebring en het gehelp om ’n nuwe gemeente in Ligurië te stig. Ons het ten volle ervaar hoe waar die woorde van Spreuke 10:22 is: “Die seën van die HERE—dit maak ryk.”
Ek en Micky probeer soms die seëninge opnoem wat ons van Jehovah ontvang het, en die lys word lank. Buiten dat ons gehelp het om nuwe gemeentes te stig, kon ons verskeie mense, waaronder ons eie kinders, help tot toewyding en doop en om daarna ryp Christene te word. Ek is nie spyt oor my besluit om my lewe as ’n bekende beeldhouer prys te gee nie, aangesien ek ’n baie lonender loopbaan gekies het om ons liefdevolle God, Jehovah, te dien. Ek en my geliefdes het danksy Jehovah ’n vaste hoop vir ewige lewe ontvang!—Soos vertel deur Celo Pertot.
[Prent op bladsy 13]
Besig met ’n beeld in 1955
[Prent op bladsy 15]
Saam met my vrou