Ons beskou die wêreld
Kinders wat sterf
In vergelyking met kinders in 25 ander nywerheidslande is die kanse 12 keer groter dat kinders in die Verenigde State doodgeskiet sal word, 5 keer groter dat hulle moordslagoffers sal wees en 2 keer groter dat hulle selfmoord sal pleeg, berig The Dallas Morning News. “Ons het verwag dat Amerika hoër syfers sou hê, maar ons was verbaas oor hoe groot die verskil is”, sê Etienne Krug, koördineerder van die verslag vir die Sentrums vir Siektebeheer in Atlanta, Georgia. Van die faktore wat verband hou met die gewelddadige sterfgevalle onder kinders is dwelms, armoede, gebroke gesinne en beperkte geleenthede vir opvoeding.
Infeksies wat deur voedsel oorgedra word
Die groeiende verbruikersaanvraag na “’n verskeidenheid van vars produkte regdeur die jaar” tesame met “’n wêreldwye mark wat produkte oornag om die aarde kan vervoer”, dra in die Verenigde State by tot die verskyning van nuwe siektes wat deur voedsel oorgedra word, berig JAMA (The Journal of the American Medical Association). Gegrond op studies wat oor die laaste tien jaar gedoen is, skat wetenskaplikes dat mikrobes wat deur voedsel oorgedra word “jaarliks van 6,5 miljoen tot 81 miljoen mense siek maak en ongeveer 9000 sterfgevalle in die Verenigde State veroorsaak”. Sommige deskundiges meen ook dat die toenemende verbruik van voedsel wat organies gekweek word (voedsel wat met dieremis bemes is) tot die probleem kan bydra. Volgens die verslag deur JAMA “kan E coli 70 dae lank in beesmis lewe en vermenigvuldig in voedsel wat met beesmis bemes word, tensy hitte of bymiddels soos sout of preserveermiddels gebruik word om die mikrobes dood te maak”.
“Heilige” ape—’n las
Vir so lank as wat enigiemand kan onthou, is daar resusape in Vrindavan, Indië, sê die primatoloog Iqbal Malik. Baie beskou die ape as heilig, en hulle kon ongehinderd in hierdie heilige stad van die Hindoes rondbeweeg sonder vrees dat iemand hulle sou vang—tot nou toe. Volgens die tydskrif New Scientist het die resusbevolking in die laaste jare geweldig toegeneem omdat daar meer pelgrims is wat hulle voer. Mense glo dat dit hulle voorspoedig sal maak as hulle die ape voer. Maar oor die jare het die ape byna heeltemal afhanklik geword van die mense se vrygewigheid omdat daar baie min groenigheid is. “Hulle het begin om sakke te steel en by huise in te gaan op soek na kos.” Inwoners het ingestem om tot 60 persent van die aapbevolking te laat vang en in plattelandse gebiede te hervestig. Malik sê: “Die gode het ’n las geword.”
Skoene wat knyp?
Hoewel die beentjies van ons voete laat in ons adolessensiejare ophou groei, verander ons voete regdeur ons lewe. Neil Koven, president van die Kanadese Voetheelkundige Vereniging, sê: “Namate ons ouer word, is ons voete geneig om ’n bietjie platter te word en om oop te sprei sodat hulle langer en breër word. Dit is omdat ons ligamente ’n bietjie losser of slapper word.” Skoendeskundiges skat dat tot die helfte van alle volwassenes die verkeerde grootte skoen dra—die wydte van die skoen is die algemeenste probleem—wat bydra tot liddorings, eelte, toonknobbels en misvormings van die tone. Is jou skoene te styf? “Staan kaalvoet op ’n stuk papier en trek die buitelyn van al twee jou voete af. Sit dan jou skoene bo-op die papier en trek die buitelyn daarvan af. As jy die lyne vergelyk, sal jy kan sien in watter mate jy jou voete in jou skoene indruk”, sê die koerant The Toronto Star. As jy ’n skoen wil hê wat net reg pas, moet jy jou voete laat meet elke keer as jy skoene koop, en koop hulle in die middag of in die aand nadat jy besig was op jou voete.
“Onbekende vyande” word gesoek
In 1997 het allergieë en hooikoors vir mense in Rome, Italië, twee maande vroeër as gewoonlik begin, sê Corriere della Sera. Een allergis meen dat die vroeë stuifmeelaanslag veroorsaak is deur “die algemene styging in die planeet se gemiddelde temperatuur, wat die lengte van die winter merkbaar verkort het”. Die koerant sê dat “die aangename dae onbekende stuifmeel gebring het, waarvoor deskundiges op die gebied geen teenmiddel het nie”. Hulle het dus reeds begin “soek na die onbekende oorsaak”, maar intussen “ly pasiënte aan allergieë, waarvan die oorsake nie vasgestel kan word nie”.
Misbroodwagte
Die Katolieke Kerk van St. Charles in Picayune, Mississippi, het wagte begin plaas om seker te maak dat niemand uitloop sonder om die Kommuniemisbrood te sluk nie. Hierdie stap is gedoen nadat mense ’n paar keer uit die kerk uitgeloop het met die misbrood, of Hostie, wat Katolieke as heilig beskou. Volgens The Dallas Morning News beweer die geestelike John Noone dat “Satanaanbidders die hostie in die hande wil kry” om dit te “ontheilig”. Die Kommuniewagte se werk is om gemeentelede dop te hou en te sien of hulle werklik sluk. As hulle dit nie doen nie, word die kerkgangers vriendelik gevra om die Hostie in te sluk of terug te gee.
Terugflitse van videobeelde
Volgens ’n verklaring wat in die tydskrif Pediatrics gepubliseer is, “toon ’n aantal eksperimentele studies dat musiekvideo’s ’n betekenisvolle uitwerking op mense se gedrag kan hê deur kykers ongevoelig vir geweld te maak en tieners meer geneig te maak om voorhuwelikse seks goed te keur”. Wat ouers die meeste bekommer, is die lirieke in heavy metal en gangsta-rap. “Vir ’n klein groepie tieners kan musiekvoorkeure uiters veelseggend wees. Talle studies toon dat ’n voorkeur vir heavy metal ’n sterk aanduiding kan wees van vervreemding, dwelm- en alkoholmisbruik, sielkundige versteurings, selfmoordgevaar, om stereotipe oor geslagsrolle te vorm of waaghalsige gedrag gedurende adolessensie.” Die verslag, wat tussen 1995 en 1996 deur agt dokters opgestel is, sê: “As kykers ’n liedjie hoor nadat hulle die videoweergawe daarvan gesien het, kry hulle onmiddellik ‘terugflitse’ van die visuele beelde in die video.”
Papier van olifantmis
Toe Mike Bugara se bure hom potte vol olifantmis in sy agterplaas sien kook het, was hulle heel verstaanbaar nogal bekommerd. Sommige het gedink hy beoefen toorkuns, maar hy was eintlik besig om papier te maak. Mnr. Bugara het eers papier van piesang-, mielie- en bloekomblare gemaak. Maar ’n oorvloedige voorraad veselryke mis van Kenia se olifantbevolking het die geesdriftige bewaringsgesinde laat wonder of hy dit kon gebruik om papier mee te maak. Hy het besluit dat dit ’n goeie manier sal wees om “mense [meer] bewus te maak van die voordele wat dit inhou om die spesie te bewaar”, berig die tydskrif New Scientist. Nou word sy papier van olifantmis gebruik vir uitnodigingskaartjies vir Kenia se Natuurlewediens se 50ste herdenking wat hierdie jaar gehou word.
Eetrituele
Die TV is die “middelpunt van baie hedendaagse rituele gedrag”, sê The New York Times. Een voorbeeld wat gegee word, is die gebruik onder mense om te eet terwyl hulle televisie kyk—nou ’n ritueel in lande regoor die wêreld. In Mexiko, byvoorbeeld, eet baie gesinne hulle aandete terwyl hulle na strooisages kyk. ’n Onlangse opname in Frankryk het getoon dat “62 persent van maaltye geëet word met die TV aan”. In China geniet kykers spesiale TV-programme terwyl hulle aan geroosterde waatlemoenpitte peusel. Hierdie swart pitte is ook gewild onder TV-kykers in Israel, saam met sonneblomsade en pimperneute. TV-happies in die Filippyne sluit in gebraaide hoenderpote, varkore en pengerygde hoenderingewande. ’n Geliefkoosde peuselhappie is balut—“gekookte eendembrio’s wat nog nie uitgebroei het nie en uit die dop met ’n knypie klipsout geëet word”, sê die Times.
Kostelose choleravoorkoming
Wetenskaplikes reken dat hulle ’n kostelose metode gevind het om cholera te voorkom—om drinkwater deur sari’s te filtreer! Navorsers by die Universiteit van Maryland, in die Verenigde State, en die Internasionale Sentrum vir Navorsing oor Diareesiektes, in Dacca, Bangladesj, het gevind dat bakterieë wat cholera veroorsaak in die ingewande voorkom van copepode, planktonagtige skaaldiere wat in water lewe. As water deur vier lae sarimateriaal gegooi word, kan meer as 99 persent van die cholerabakterie verwyder word. Die sari kan dan ontsmet word deur dit twee uur lank aan direkte sonlig bloot te stel, of dit, gedurende die reënseisoen, met goedkoop ontsmettingsmiddels te behandel. Die Londense koerant The Independent berig dat veldtoetse hierdie jaar sal begin, wanneer mense wat in die betrokke gebiede woon, geleer sal word hoe om die metode te implementeer.
Amerika se liefde vir vuurwapens
“Volgens ’n nasionale opname woon 4 uit 10 Amerikaanse volwassenes in huise met vuurwapens, en daardie huise het gemiddeld twee vuurwapens elk”, berig New York se Daily News. “In die opname het 25% gesê hulle het ’n pistool, 27% ’n haelgeweer en 29% ’n koeëlgeweer.” Baie huise het meer as een soort vuurwapen.