Die aantrekkingskrag van Santeria
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MEXIKO
SANTERIA is al baie jare lank ’n vername godsdiens in Kuba. Maar hierdie godsdiensvorm het geleidelik na ander lande versprei. Een van die vernaamste markpleine in die middestad van Mexikostad het winkels wat hoofsaaklik Santeria-voorwerpe verkoop, soos kruise, kerse, gelukbringertjies en fetisje. Die meeste van hierdie winkels staan as botanicas bekend, en hulle kan in ander groot stede van die Amerikas gevind word. In die stad New York is daar baie advertensies vir botanicas in die telefoonboek, en daar is meer van hulle as ander godsdienswinkels in die geelbladsye.
Baie mense word deur die mistisisme en eksotiese aura van Santeria aangetrek. Elemente van Santeria kan in sommige gewilde Latyns-Amerikaanse musiek en literatuur gevind word. Santeria word al hoe meer sekulêr en kultureel eerder as godsdienstig, en dit is deur Afro-Karibiese musiek en kulturele geleenthede versprei.
Oorsprong in ou Afrika
Santeria het die basiese kenmerke en tradisies van ’n ou Afrikagodsdiens wat onder die Joroebas in Nigerië beoefen is. Toe die Joroebas tussen die 1770’s en die 1840’s as slawe na die Karibiese Eilande weggevoer is, het hulle hulle godsdiens saam met hulle geneem. Toe hulle in die Nuwe Wêreld gekom het, is hierdie Afrikaslawe gedwing om Katolisisme te aanvaar, maar hulle het geweier om heeltemal van hulle tradisies af te sien. Hulle het gevolglik ’n nuwe vorm van aanbidding geskep met elemente van albei godsdienste. So ’n versmelting van godsdiensgebruike word sinkretisme genoem.
In ’n poging om volgens hulle vorige opvattings te aanbid, het die slawe die Katolieke heiliges twee identiteite gegee, wat elkeen met ’n Afrikagod met besondere eienskappe en magte ooreengestem het. Gevolglik het Afrikagode en -godinne, wat orisha genoem word, die name en gedaantes van Katolieke heiliges aangeneem. Maar die rituele, gebruike en opvattings het dieselfde gebly as dié wat in Afrika beoefen is. ’n Santeriapriester in Kuba verduidelik: “Sinkretisme laat ons toe om die Katolieke god op die altaar te aanbid, maar wat ons sien is die Afrikagod daaragter.”
Godsdienste soos voedoe, obeah en macumba bestaan ook uit elemente van Rooms-Katolieke liturgie, sakramente en heilige voorwerpe wat met spiritistiese gebruike van Afrika gemeng is. Omdat die Katolieke Kerk in Latyns-Amerika van die begin af Afrikagodsdienste verbied het, moes Santeria lank in die geheim beoefen word. Uiteindelik het die Katolieke Kerk hierdie sinkretisme onder die slawe begin verdra.
Kenmerke van Santeria
Wat is die kenmerke van hierdie vorm van aanbidding? Santeros, soos die beoefenaars van Santeria nou genoem word, aanbid een opperwese en ’n groep van gode, of orisha, wat die Joroeba-godewêreld vorm. Santeriapriesters vertolk die wil van die orisha deur middel van bomenslike kragte. Die aanbidders word glo soms deur ’n orisha in besit geneem sodat hulle hulle wil bekend kan maak. Volgelinge kan ’n versoek tot die orisha rig deur gebed, musiek, behoorlike gedrag en offerandes. Altare speel ’n belangrike rol in die aanbidding; santeros rig dit in hulle huis op en sit blomme, rum, koek en sigare daarop sodat die gode gelukkig en hulpvaardig sal bly.
Lizette Alvarez het in ’n artikel in die New York Times oor Santeriafilosofie verduidelik: “Die godsdiens beklemtoon die hede en nie die hiernamaals nie, en dit vestig die aandag op natuurkragte. Elke god verteenwoordig ’n aspek van die natuur, soos donderweer, en ’n menslike eienskap, soos krag.” Santeriapriesters help mense om hulle daaglikse probleme op te los deur die orisha te raadpleeg. Hulle is nie Katolieke priesters nie, en hulle gewone Santeriarituele word in huise gehou en nie in tempels nie.
Mense wat emosionele en ekonomiese ondersteuning nodig het, word veral na Santeria aangetrek omdat dit ’n gemeenskapsgevoel, ’n uitgebreide familie, bied. Dié wat die meeste daartoe aangetrek word, is die minderbevoorregtes en ook immigrante wat na lande verhuis waar Santeria beoefen word. Volgelinge behoort aan ’n spesifieke gemeenskap met ’n manlike of vroulike santero wat as ’n peetouer, raadgewer en priester vir die gemeenskap dien. Nuwe lede word deur priesters ingewy tydens ’n seremonie wat musiek, danse en diereofferandes insluit. Diere word ook opgeoffer om geboortes, huwelike en sterftes te vier. Hoenders, bokke, duiwe en skilpaaie is van die diere wat gebruik word.
Die musiek van Santeria
Musiek speel ’n belangrike rol as ’n gereelde aspek van aanbidding in Santeria. Musiek word gebruik tydens bembés, of seremonies waarin daar op tromme geslaan word om die gode se hulp af te smeek. Spesifieke ritmes word gespeel om ’n spesifieke god aan te roep. Die klank is so hard dat die aanhoudende ritme van die tromme blokke ver gehoor kan word.
Slaginstrumente soos tromme en xilofone, of marimbas, word al eeue lank deur kultusse in Wes-Afrika gebruik. Dit was die vernaamste doel daarvoor toe slawe dit na Amerika gebring het. In Brasilië word die membrane van heilige tromme gemaak van die velle van diere wat ritueel geoffer is, en nuwe instrumente word gewoonlik gedoop, verkieslik met “heilige” water van ’n Katolieke Kerk. Ander tromme stel ’n sekere god voor, soos in die Afro-Karibiese kultuur van Haïti.
Dit is nie ongewoon om by die mark laserplate van gewyde musiek vir Santeria te vind nie, wat openlik so genoem word. Tromme is die vernaamste instrumente in die ritmes, en party stukke het titels wat eintlik name van Santeriagode of van gebruike van die godsdiens is. Met verloop van tyd het hierdie ritmes ook van die Latyns-Amerikaanse musiek beïnvloed. Santeriaterminologie is in party musiekstukke ingesluit.
Wat die Bybel sê
Daar is ’n noue verband tussen Santeria en spiritisme, ’n vorm van aanbidding wat deur die Bybel veroordeel word (Levitikus 19:31). God se Woord noem “die beoefening van spiritisme” onder “die werke van die vlees”, wat sal verhoed dat iemand God se Koninkryk beërf (Galasiërs 5:19-21). Die Skrif beveel ook dat diegene wat God se goedkeuring wil hê, moet “vlug vir die afgodery” en “die Vader met gees en waarheid [moet] aanbid”.—1 Korintiërs 10:14; Johannes 4:23, 24.
Christene moet daarop let dat Santeriagebruike en -musiek al hoe meer sekulêr van aard word. Verskeie vorme van vermaak en party aspekte van die Latyns-Amerikaanse kultuur is met elemente van Santeria deurweef. Dit word al hoe gewilder en word oor die algemeen as onskadelik beskou. Christene sal nietemin verstandig wees as hulle enigiets vermy wat direk in stryd met Bybelbeginsels is ongeag hoe gewild dit is of hoe onskadelik dit lyk.—2 Korintiërs 6:14-18.
[Venster/Prent op bladsy 25]
TERME WAT IN SANTERIA GEBRUIK WORD
Babalú-aye: God van genesing wat as “sint” Lazaro aanbid word.
Changó: God van vuur, donderweer, weerlig en ook beskermheilige van artillerie, wat as “sint” Barbara in die Katolieke godsdiens aanbid word.
Ifa Corpus: Stelsel van wette wat deur 256 simbole voorgestel word wat die Santeriatradisie afbeeld.
Ikole orun: Die “hemel” waarheen alle mense gaan wanneer hulle sterf. Maar slegte mense het hel op aarde en ly in ikole orun.
Obatalá: ’n God wat menselewe en bewustheid uit die grondstowwe van die aarde geskep het.
Ochún: Godin van riviere, liefde, die huwelik, geld, vreugde en oorvloed, wat ook dien as die Virgen de la Caridad, beskermheilige van Kuba.
Oggún: Beskermgod van mynwerkers en arbeiders, wat as “sint” Petrus aanbid word.
Oloddumare: Die opperwese, wat die heelal geskep het.
Orumila: ’n God wat ’n persoon se lot beslis.
Yemayá of Xemayá: Godin van die seë en van vrugbaarheid, wat met die Maagd Maria, of die Virgen de Regla in Kuba, vereenselwig word.
[Prent op bladsy 24]
Santeria-voorwerpe word in ’n “botanica” vertoon