Katolisisme met ’n Afrikageur
Deur Ontwaak!-medewerker in Brasilië
IN Salvador, die hoofstad van die staat Bahia, Brasilië, word die nuwe jaar met ’n groot fees ingelui. Honderde vroue lei ’n optog na die Katolieke kerk van Bonfim, waar hulle die kerk se trappies met geparfumeerde water was. Hierdie ritus vereer Oxalá, die Afrikagod van die skepping.
Tot ’n miljoen toeskouers kom kyk na hierdie seremonie. Daarna geniet hulle die uitbundige straatpartytjie op die ritme van Afrika-slaginstrumente.
Hierdie 250 jaar oue ritueel is ’n treffende voorbeeld van sinkretisme, ’n term wat na ’n mengsel van godsdiensoortuigings verwys en ’n kenmerk van Katolisisme in Brasilië is. Meer as 70 miljoen Brasiliane is na bewering direk of indirek verbonde aan Candomblé, Umbanda, Xangô en ander Afro-Brasiliaanse godsdienste. Maar terselfdertyd sê die oorgrote meerderheid van hulle dat hulle Katoliek is.
Hoe het hierdie samesmelting plaasgevind? Hoe beskou die Katolieke Kerk dit? En is die vermenging van godsdiensoortuigings iets wat geprys of verwerp moet word?
‘’n Trapklip na die ware geloof’
Skattings verskil, maar meer as sesmiljoen Afrikane van die Joroeba-, Bantoe- en ander stamme is waarskynlik van die middel van die 16de eeu af tot 1888, toe slawerny uiteindelik afgeskaf is, as slawe na Brasilië gebring. Die mengsel van tradisionele Afrika-godsdiensoortuigings en Katolisisme in Brasilië is dus ’n erfenis van slawerny.
Hoewel die Katolieke Kerk op die bekering van alle slawe aangedring het, het dit nogtans die vermenging van Katolisisme en sekere elemente van Afrikagodsdienste goedgekeur. Volgens die geskiedkundige Roger Bastide het Jesuïetesendelinge geglo dat Afrikane, soos kinders, na die Katolieke geloof gelok moes word deur middel van musiek en dans sowel as hulle liefde vir titels en ereposisies. “Hulle moet nie gedwing word om heeltemal van hulle tradisionele gebruike afstand te doen nie”, het Bastide geskryf, “maar dit moet geëvalueer word, en die aanvaarbare gebruike moet as ’n trapklip dien om hulle te help om die ware geloof te vind.”
In verskillende godsdiensbroederskappe wat net uit Afrikane bestaan, soos dié wat aan die Katolieke “heilige” Benedictus en die Maagd van die Bidsnoer gewy is, het baie Afrikatradisies ’n “Christelike” vernis gekry. Een keer per jaar, op “sint” Benedictus se feesdag, het hierdie broederskappe ’n koning en koningin uit hulle geledere gekies, ’n gebruik wat afkomstig is van die opeenvolging van stamkonings in Afrika.
“Heiliges” of orixás?
Die oortuiging dat daar baie middelaars is tussen God en die mens, word in Katolisisme sowel as Afrikagodsdienste aangetref. Die Joroeba het byvoorbeeld in orixás geglo. Hulle was glo vergoddelikte krygers en konings wat die natuurkragte beheer het en as tussengangers tussen die mense en hulle oppergod, Olorun, gedien het. Rooms-Katolieke glo ook dat “heiliges” as middelaars tussen die mens en God optree. En hulle wend hulle tot spesifieke “heiliges” vir beskerming in verband met sekere bedrywighede.
Baie slawe het nie hulle orixás die rug toegekeer nie, maar het hulle toewyding aan die orixás eenvoudig verbloem deur “heiliges” met soortgelyke eienskappe te vereer. Die Joroebas se god van oorlog, Ogun, het dus die identiteit van die Katolieke “heiliges” Antonius of Joris aangeneem, albei soldate en helde van die Christendom.
So ook het Yemanjá, die moeder van al die orixás en die godin van die seë, ooreengekom met verskillende “gedaantes” van die Maagd Maria. Die Heer van Bonfim, Salvador se gewildste “heilige”, is gelykgestel met Oxalá, die belangrikste orixá van die Joroeba se godedom. Hierdie assosiasie word nog steeds gevier met die jaarlikse ritueel waartydens die kerk se trappies gewas word.a
“Hier glo mense opreg en met dieselfde oortuiging in Jesus, in die Katolieke heiliges en in die orixás”, sê een Katolieke leier van die stad Salvador. “Baie van hulle gaan maklik van die een godsdiens na die ander”, voeg ’n Brasiliaanse antropoloog by. “Hulle verlaat die mis in ’n Katolieke kerk en gaan reguit na [’n Afrika] candomblésentrum.”
Hierdie samesmelting van Katolisisme en Afrika-oortuigings is ’n sensitiewe saak. Lucas Moreira, ’n voormalige president van die Brasiliaanse Katolieke Episkopaalse Konferensie, het gesê: “Elkeen behoort sy eie geloof te volg, sonder enige vermenging.” Tog sê ’n ander Katolieke biskop: “Sinkretisme is ’n werklikheid waarteen die kerk ’n verlore stryd voer.”
Daar is twee onverenigbare kampe in hierdie saak. Konserwatiewe kerkleiers stry teen iets wat hulle as heidens en demonies beskou, terwyl ander daarop aandring dat Afrikasimbole en -danse by die ritusse van die Katolieke Kerk ingesluit word.
Wat sou Jesus sê?
Jesus Christus, die Stigter van die Christelike godsdiens, het vir verskeie godsdiens- en etniese groepe getuig. Maar hy het nadruklik gesê: “Ware aanbidders [sal] die Vader met gees en waarheid . . . aanbid, want die Vader soek inderdaad sulke mense om hom te aanbid” (Johannes 4:23). Verder het Jesus verduidelik dat die Vader, Jehovah God, die waarheid deur middel van Sy Woord, die Bybel, openbaar.—Johannes 17:17.
Jesus het sy volgelinge die opdrag gegee om ‘mense van al die nasies te leer om alles te onderhou wat hy hulle beveel het’ (Matteus 28:19, 20). Hy het nooit voorgestel dat hulle sy leringe aanpas om mense te lok wat ander tradisies en oortuigings gehad het nie. In die dae van die apostels het party wel probeer om idees en gebruike in te bring wat aan ander godsdienste ontleen is. Sulke pogings is egter veroordeel. “Gaan . . . onder hulle uit en sonder julle af”, het die apostel Paulus geskryf, “en [God] sal julle inneem.”—2 Korintiërs 6:17.
[Voetnoot]
a Volgens die Dicionário de Cultos Afro-Brasileiros (Woordeboek van Afro-Brasiliaanse Godsdienste) is daar ’n noue verband tussen die ritueel waartydens die trappies van die kerk van Bonfim gewas word en ’n Joroeba-seremonie wat water van Oxalá genoem word. Dit behels dat die otás (heilige stene) van Oxalá op rituele wyse gewas word.
[Prente op bladsy 12]
Afro-Brasiliaanse priesteresse was die kerk se trappies
Skares op die trappies van die kerk van Bonfim, in Brasilië
[Erkennings]
Bo: De: A Tarde—Wilson da Rocha Besnosik; onder: De: A Tarde—Antônio Queirós