Wat kan die verlede ons leer?
“Niks is belangriker vir geskiedkundiges as om die verband tussen oorsaak en gevolg vas te stel nie.”—GERALD SCHLABACH, ASSISTENTPROFESSOR VAN GESKIEDENIS.
GESKIEDKUNDIGES vra dikwels: Hoe en waarom het sekere gebeure plaasgevind? Die geskiedenis sê byvoorbeeld vir ons dat die Romeinse Ryk ondergegaan het. Maar waarom het dit ondergegaan? Was dit weens korrupsie of die najaging van plesier? Het die ryk te moeilik geword om te regeer en sy leërs te duur geword? Het Rome se vyande eenvoudig te veel en te magtig geword?
In onlangser tye het Oos-Europese Kommunisme, wat voorheen as ’n bedreiging vir die Weste gesien is, skynbaar oornag in die een land na die ander ineengestort. Maar waarom? En watter lesse kan daaruit geleer word? Dit is die soort vrae wat geskiedkundiges probeer beantwoord. Maar in watter mate beïnvloed persoonlike vooroordele hulle beskouing wanneer hulle antwoorde gee?
Kan die geskiedenis vertrou word?
Geskiedkundiges is meer soos speurders as wetenskaplikes. Hulle ondersoek, bevraagteken en betwis verslae van die verlede. Hulle wil die waarheid vind, maar hulle het dikwels net ’n vae idee van waarna hulle soek. Die rede is deels dat hulle werk grotendeels oor mense handel, en geskiedkundiges kan nie gedagtes lees nie—veral nie die gedagtes van die dooies nie. Geskiedkundiges het moontlik ook vooropgesette idees en opinies. Soms is die beste werk dus in werklikheid ’n vertolking—uit die skrywer se eie perspektief.
Die feit dat ’n geskiedkundige sy eie standpunt het, beteken natuurlik nie noodwendig dat sy werk onakkuraat is nie. Die Bybelverslae van Samuel, Konings en Kronieke sluit parallelle verslae in wat deur vyf verskillende persone geskryf is, en tog is daar geen betekenisvolle teenstrydighede of onakkuraathede nie. Dieselfde geld vir die vier Evangelies. Baie Bybelskrywers het selfs hulle eie tekortkominge en dwase foute opgeteken—iets wat selde in sekulêre werke gesien word.—Numeri 20:9-12; Deuteronomium 32:48-52.
Nog ’n belangrike faktor, behalwe moontlike vooroordele, om in gedagte te hou wanneer ’n mens geskiedenis lees, is die motief van die skrywer. “’n Mens moet enige geskiedenis wat deur mense in magsposisies of deur mense wat mag najaag of deur hulle vriende vertel word, met die grootste agterdog bejeën”, sê Michael Stanford in A Companion to the Study of History. Twyfelagtige motiewe is ook duidelik te bespeur wanneer geskiedkundige werke nasionalisme en patriotisme subtiel of selfs openlik aanmoedig. Ongelukkig word dit soms in skoolhandboeke gevind. ’n Regeringsverordening in een land het heel openlik gesê dat die doel van geskiedenisonderrig is “om die nasionalistiese en patriotiese gevoelens in mense se harte te versterk . . . omdat die kennis van die volk se verlede een van die belangrikste dryfvere vir patriotiese optrede is”.
Vervalste geskiedenis
Partykeer is geskiedenis nie net eensydig nie, maar vervals. Die voormalige Sowjetunie het byvoorbeeld “die naam Trotski uit die geskiedenis uitgevee sodat die bewyse van die kommissaris se bestaan verdwyn het”, sê die boek Truth in History. Wie was Trotski? Hy was ’n leier in die Russiese Bolsjewistiese Revolusie, en hy was slegs ondergeskik aan Lenin. Ná Lenin se dood het Trotski met Stalin gebots, is hy uit die Kommunistiese Party geskors en later vermoor. Sy naam is selfs uit Sowjet-ensiklopedieë verwyder. Soortgelyke verdraaiings van geskiedenis, selfs tot die punt waar afwykende boeke verbrand is, was ’n algemene gebruik onder talle diktatoriale regeringstelsels.
Die vervalsing van geskiedenis is ’n ou gebruik en het ten minste al in die tyd van Egipte en Assirië plaasgevind. Trotse en verwaande farao’s, konings en keisers het seker gemaak dat hulle ’n vleiende geskiedkundige verslag nagelaat het. Gevolglik is prestasies dikwels oordryf, terwyl enigiets wat ’n verleentheid of ’n skande was, soos ’n nederlaag in ’n oorlog, verklein, uitgevee of partykeer nie eers opgeteken nie. In skerp teenstelling hiermee sluit die geskiedenis van Israel wat in die Bybel opgeteken is die mislukkings sowel as die prestasies van konings en onderdane in.
Hoe bepaal geskiedkundiges die juistheid van ouer geskrifte? Hulle vergelyk dit met dinge soos ou belastingverslae, regskodes, advertensies vir slaweveilings, sake- en privaatbriewe, verslae van saketransaksies en persoonlike besonderhede, inskripsies op potskerwe, skeepsjoernale en voorwerpe wat in grafkelders en grafte gevind is. Hierdie verskeidenheid van bronne werp dikwels bykomende of ’n ander lig op amptelike geskrifte. Waar leemtes of onsekerhede bestaan, sal goeie geskiedkundiges gewoonlik so sê, al probeer hulle moontlik om die leemtes deur hulle eie teorieë te vul. In elk geval, verstandige lesers raadpleeg meer as een naslaanwerk as hulle ’n gebalanseerde uiteensetting wil hê.
Ten spyte van al die uitdagings waarvoor die geskiedkundige te staan kom, kan sy werk baie nuttig wees. Een geskiedenisboek verduidelik: “Al is wêreldgeskiedenis moeilik om te skryf, . . . is dit belangrik, selfs noodsaaklik, vir ons.” Behalwe dat dit ons insig in die verlede gee, kan die geskiedenis ons begrip verbreed van die toestand waarin die mens tans verkeer. Ons ontdek byvoorbeeld gou dat mense van die ou tyd dieselfde menslike eienskappe geopenbaar het as mense van vandag. Hierdie immer teenwoordige eienskappe het ’n groot invloed op die geskiedenis gehad en het moontlik gelei tot die uitdrukking dat die geskiedenis hom herhaal. Maar is hierdie veralgemening waar?
Herhaal die geskiedenis hom?
Kan ons die toekoms akkuraat voorspel op grond van die verlede? Sekere soort gebeure herhaal hulle wel. Die voormalige Amerikaanse minister van buitelandse sake Henry Kissinger het byvoorbeeld gesê: “Elke beskawing wat al ooit bestaan het, het uiteindelik ondergegaan.” Hy het bygevoeg: “Die geskiedenis is ’n verhaal van mislukte pogings, van strewes wat nie verwesenlik is nie. . . . As ’n geskiedkundige moet ’n mens dus met ’n gevoel van die onvermydelikheid van tragedie lewe.”
Daar is nie twee ryke wat op dieselfde manier ondergegaan het nie. Babilon het oornag in 539 v.G.J. voor die Meders en die Perse geval. Griekeland het ná die dood van Aleksander die Grote in ’n aantal koninkryke verdeel en is uiteindelik deur Rome verower. Maar is Rome se ondergang nog steeds ’n geskilpunt. Die geskiedkundige Gerald Schlabach vra: “Wanneer het Rome ondergegaan? Het dit ooit werklik ondergegaan? Iets het tussen 400 G.J. en 600 G.J. in Wes-Europa verander. Maar baie dinge het dieselfde gebly.”a Dit is duidelik dat sekere aspekte van die geskiedenis hulle herhaal en ander nie.
Een les van die geskiedenis wat hom telkens herhaal, is die mislukking van menseheerskappy. Deur die eeue heen was goeie regerings nog altyd ondermyn deur selfsug, kortsigtigheid, hebsug, korrupsie, nepotisme en veral die vurige begeerte om mag te verkry en te behou. Gevolglik lê die verlede besaai met wapenwedlope, mislukte verdrae, oorloë, maatskaplike onrus en geweld, die onregverdige verdeling van rykdom en ekonomieë wat in duie gestort het.
Let byvoorbeeld op wat The Columbia History of the World oor die invloed van die Westerse beskawing op die res van die wêreld sê: “Ná Columbus en Cortes Wes-Europa van die moontlikhede bewus gemaak het, het ’n sterk begeerte by hulle ontstaan om bekeerlinge en wins te maak sowel as roem te verwerf, en die Westerse beskawing is amper regoor die wêreld, hoofsaaklik met geweld, ingevoer. Toegerus met ’n onversadigbare drang om uit te brei en ook met beter wapens het veroweraars die res van die wêreld onwillige onderhoriges van die groot Europese moondhede gemaak . . . Die mense van hierdie vastelande [Afrika, Asië en die Amerikas] was, eenvoudig gestel, die slagoffers van wrede, onversetlike uitbuiting.” Hoe waar is die woorde van die Bybel in Prediker 8:9 tog: “Die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk”!
Miskien het hierdie betreurenswaardige geskiedenis een Duitse filosoof beweeg om te sê: die enigste ding wat die geskiedenis ons leer, is dat mense niks uit die geskiedenis leer nie. Jeremia 10:23 sê: “Die weg van die mens is buite sy beheer, en dit is ook nie in die mens se mag om te loop en sy voetstappe te rig nie” (The Jerusalem Bible). Hierdie onvermoë om ons voetstappe te rig, moet ons veral vandag tot nadenke stem. Waarom? Omdat ons deur probleme geteister word wat in getal sowel as omvang ongeëwenaard is. Hoe sal ons dit dus die hoof bied?
Ongeëwenaarde probleme
In die hele mensegeskiedenis is die ganse aarde nog nooit bedreig deur die gesamentlike kragte van ontbossing, gronderosie, woestynvorming, die grootskaalse uitsterwing van plant- en dierespesies, atmosferiese osoonvernietiging, besoedeling, aardverwarming, sterwende oseane en ’n bevolkingsontploffing nie.
“Nog ’n uitdaging waarmee hedendaagse gemeenskappe te kampe het, is die ongelooflike tempo waarteen veranderinge plaasvind”, sê die boek A Green History of the World. Ed Ayres, redakteur van die tydskrif World Watch, skryf: “Ons het te doen met iets wat so geheel en al buite ons gesamentlike ondervinding is dat ons dit nie werklik verstaan nie, ten spyte van die feit dat die getuienis oorweldigend is. Vir ons is daardie ‘iets’ ’n stortvloed van enorme biologiese en fisiese veranderinge in die wêreld waardeur ons onderhou word.”
In die lig van hierdie en verwante probleme sê die geskiedkundige Pardon E. Tillinghast: “Die rigtings waarin die samelewing beweeg, het oneindig ingewikkelder geword, en vir baie van ons is die dilemmas skrikwekkend. Watter leiding kan professionele geskiedkundiges vandag aan verwarde mense bied? Blykbaar nie veel nie.”
Professionele geskiedkundiges weet dalk nie wat om te doen of watter raad om te gee nie, maar dit is tog sekerlik nie waar van ons Skepper nie. Trouens, hy het in die Bybel voorspel dat die wêreld in die laaste dae ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’, sal ondervind (2 Timoteus 3:1-5). Maar God het selfs verder gegaan en iets gedoen wat onmoontlik vir geskiedkundiges is—hy het getoon wat die oplossing is, soos ons in die volgende artikel sal sien.
[Voetnoot]
a Schlabach se waarnemings is in ooreenstemming met die profeet Daniël se voorspelling dat die Romeinse Ryk opgevolg sou word deur ’n uitgroeisel wat uit homself sou voortkom. Sien hoofstukke 4 en 9 van Gee ag op Daniël se profesie!, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Lokteks op bladsy 5]
“’n Mens moet enige geskiedenis wat deur mense in magsposisies . . . vertel word, met die grootste agterdog bejeën.”—MICHAEL STANFORD, ’N GESKIEDKUNDIGE
[Prent op bladsy 4]
Keiser Nero
[Erkenning]
Roma, Musei Capitolini
[Prente op bladsy 7]
Deur die eeue heen ‘het die een mens oor die ander geheers tot sy ongeluk’
[Erkennings]
“The Conquerors,” deur Pierre Fritel. Sluit in (van links na regs): Ramses II, Attila, Hannibal, Tamerlane, Julius Caesar (middel), Napoleon I, Aleksander die Grote, Nebukadnesar en Karel die Grote. Uit die boek The Library of Historic Characters and Famous Events, Vol. III, 1895; vliegtuie: USAF photo