Mediterreense monnikrobbe—Sal hulle bly voortbestaan?
DEUR ONTWAAK-MEDEWERKER IN GRIEKELAND
HOMERUS, in sy epiese roman die Odyssey, het hulle uitgebeeld waar hulle op die sonnige strande van Griekeland lê en bak. ’n Stad in eertydse Klein-Asië het op een stadium munte met hulle beeld daarop geslaan. Die water van die Middellandse en Swart See het vroeër van hulle gewemel. Vandag is dit egter onwaarskynlik dat jy een van hierdie skugter diere—die Mediterreense monnikrob—sal sien.
Soos met die meeste seesoogdiere wat ’n pels het, is die Mediterreense monnikrob gedurende die 18de en 19de eeu op groot skaal gejag. Duisende is vir hulle pels, olie en vleis doodgemaak.
Die skade wat aangerig is, is nou baie duidelik. Na raming is daar slegs tussen 379 en 530 Mediterreense monnikrobbe oor. Hulle is moontlik op die randjie van uitwissing. Daar moet egter gesê word dat bevolkingskattings “’n ongelooflike, onakkurate wetenskap” is, soos die nuusbrief Monachus Guardian berig.
Is dit werklik te laat om te help? Watter pogings word aangewend om die monnikrobbe te beskerm?
’n Moeilike stryd
Die monnikrob word miskien so genoem omdat die kenmerkende kleur van sy pels met die kleredrag van party kloosterordes ooreenkom. Hulle bly hoofsaaklik tussen die moeilik bereikbare kranse en seegrotte van die Noord-Sporades-eilande in die Egeïese See. Kleiner groepies kan gevind word langs die kus van noordwestelike Afrika en Portugal se Desertas-eilande. Dit is een van die wêreld se grootste robsoorte, wat tot drie meter lank word en tot 275 kilogram kan weeg.
Van sy uitstaande kenmerke sluit in: ’n bolvormige kop wat met ’n silwerige pels bedek is, gitswart oë, ’n snoet met groot neusgate, klein skrefies vir ore, ’n dik, hangende baard en talle vetlae onder sy ken. Sy lyf het kort swart of sjokoladebruin hare met ligter kleure aan die onderkant. Pasgebore robwelpies het daarenteen lang donker hare op hulle rug en ’n titseltjie wit op hulle maag.
Die monnikrobbe se stryd om oorlewing word belemmer deur die feit dat hulle stadig aanteel. Die wyfies skenk geboorte aan net een welpie per jaar. Om sake te vererger, het nie alle volwasse wyfies elke jaar ’n welpie nie.
Maar lae geboortesyfers vertel nie die volle verhaal nie. Dr. Dennis Thoney, kurator van die New Yorkse Akwarium vir Natuurbewaring, sê: “Selfs al het die Mediterreense monnikrobbe ’n lae voortplantingsyfer, vaar die hawerob met dieselfde voortplantingsyfer heel goed. Daar is dus ongetwyfeld ander faktore wat tot hulle uitsterwing lei.”
Hulle habitat word vernietig
Stel jou die verwoesting voor as ’n brand deur jou huis sou versprei. Al jou besittings—meubels, klere, persoonlike besittings en ander aandenkings—sou vernietig word. Jou lewe sou drasties verander. Dit is wat in werklikheid met die Mediterreense monnikrob se tuiste gebeur het. Besoedeling, toerisme, nywerhede en ander bedrywighede van die mens het tot die vernietiging van baie van die rob se natuurlike habitat gelei.
Bowendien het die monnikrob se voedselvoorraad grootliks verminder omdat te veel vis gevang word. Die dierkundige dr. Suzanne Kennedy-Stoskopf sê: “Wanneer daar nie genoeg prooi vir die robbe is nie, beteken dit dat hulle meer energie moet gebruik om hulleself te voed.” Die monnikrobbe het dus nie net ’n groot deel van hulle habitat—hulle tuiste—verloor nie, maar hulle moes ook sukkel net om hulleself te voed!
Weens die feit dat te veel vis gevang word, het dit ook tot gevolg dat robbe af en toe in visnette verstrengel raak en verdrink. Maar robbe word meer dikwels openlik deur vissermanne doodgemaak. Waarom? Omdat robbe geleer het hoe om kos uit visnette te steel, en sodoende word die nette beskadig. Die mens en dier ding dus mee om ’n voorraad vis wat al hoe kleiner word. Hierdie stryd waarin die mens bevoordeel word, het die monnikrobbe nader aan die randjie van uitwissing gedryf.
Omdat die monnikrobbe naby die bopunt van die voedselketting is, stel party wetenskaplikes voor dat hierdie seesoogdier ’n “aanwyserspesie” is. Dit beteken: as dit nie met hulle goed gaan nie, is dit ’n duidelike aanduiding dat dit ook nie met die res van die voedselketting goed gaan nie. As dit die geval is, hou die situasie niks goeds in vir die bewaring van die Mediterreense ekosisteem nie, want die monnikrob is Europa se mees bedreigde spesie.
Sal hulle voortbestaan?
Die mens is ironies genoeg die Mediterreense monnikrob se grootste bedreiging, en terselfdertyd is hulle hulle grootste ondersteuners. Private en staatsinstansies is al gestig om die robbe te beskerm. Toevlugsoorde is vir hulle opsy gesit. Talle veldstudies is al gedoen om te leer hoe om hierdie pragtige diere te help.
In 1988 is die Helleense Genootskap vir die Bestudering en Beskerming van die Mediterreense Monnikrob (MOm) gestig. Navorsers vir MOm besoek gereeld die habitat van monnikrobbe om hulle getalle te bepaal en ander inligting te versamel wat gebruik kan word om hulle te beskerm.
’n Span veiligheidswagte patrolleer beskermende gebiede met snelbote. Die span gee ook inligting en aanwysings aan besoekers en vissermanne wat na Griekeland se Nasionale Mariene Park op Alónnisos, in die Noord-Sporades-eilande, reis. Wanneer siek of beseerde robbe gevind word, voorsien die span die nodige hulp aan die diere en vervoer hulle die diere na die MOm-rehabilitasiesentrum.
Die Behandeling- en Rehabilitasiesentrum vir Robbe kan verweesde, siek of beseerde welpies versorg. Hulle word behandel en versorg totdat hulle op hulle eie kan voortbestaan. Tot dusver is die resultate belowend. Ná jare van vinnige afname toon die getalle van monnikrobbe in die Noord-Sporades die eerste tekens van herstel.
Sal hierdie pogings suksesvol bly? Die tyd sal leer. Maar dit is duidelik dat nog baie meer werk gedoen moet word as hierdie bedreigde spesie gaan voortbestaan. Dr. David Wildt van die Smithsonian-instituut het aan Ontwaak! gesê: “Die seelewe is oor die algemeen in ’n slegte toestand. Die probleem is dat ons nie werklik genoeg weet oor wat daar buite is nie, en ons weet beslis nog nie hoe om dit te beskerm nie.”
[Venster op bladsy 17]
Ander robbe word ook bedreig
Monnikrobbe kan ook in ander oseane regoor die wêreld gevind word, maar hierdie robbe word ook bedreig. Die tydskrif National Geographic sê die Karibiese, of Wes-Indiese, monnikrob was “die eerste rob wat Columbus in die Nuwe Wêreld gesien het. Monnikrobbe wat daarvan hou om naby die kus te wees en maklik gevang kan word, is spoedig in groot getalle doodgemaak. . . . Die laaste opgetekende Karibiese monnikrob is in 1952 gesien.”
Die Franse Frigat-kusmere, in die Hawaii-eilande se Nasionale Wildbeskermingsgebied, is dalk die laaste toevlugsoord vir die Hawaise, of Laysan-, monnikrobbe. Maar die ongeveer 1 300 oorblywende robbe word “deur probleme geteister”, ondanks ywerige pogings om hulle te beskerm.
Sedert die lente van 1997 is ongeveer driekwart van die 270 Mediterreense monnikrobbe wat langs Wes-Afrika se Mauritaniese kus lewe deur ’n epidemie uitgewis. Volgens ’n berig in Science News het die meeste robbe wat ondersoek is “’n dolfyn-morbillivirus [gehad], ’n virus wat soortgelyk is aan dié wat hondesiekte veroorsaak”.
[Prente op bladsy 16]
Monnikrobbe het talle unieke kenmerke, soos ’n bolvormige kop en groot neusgate
Instansies is al gestig om die robbe te beskerm
[Erkenning]
Panos Dendrinos/HSSPMS
[Prente op bladsy 17]
Ná jare van vinnige afname toon die getalle van monnikrobbe in die Noord-Sporades die eerste tekens van herstel
[Erkennings]
P. Dendrinos/MOm
D. Kanellos/MOm
[Prent op bladsy 17]
Hawaise monnikrob
[Foto-erkenning op bladsy 15]
Panos Dendrinos/HSSPMS