Ons beskou die wêreld
Raaiselagtige oorlewing
Hoewel Frankryk se woude in Desember 1999 erg beskadig is deur kwaai storms, toon onlangse waarnemings dat daar nie soveel grootwild gesterf het as wat verwag is nie, berig die Paryse koerant Le Monde. Slegs 20 dooie diere—10 takbokke, 5 reebokke en 5 wildevarke—is gevind in ’n gebied van 10 000 hektaar verwoeste woude in oostelike Frankryk. Deur “meganismes [te gehoorsaam] wat steeds ’n raaisel is”, het die diere dit reggekry om te ontsnap deur moontlik onder bome te skuil wat omgeval het of deur in die buitelug saam te drom. Jean-Paul Widmer van die Franse Nasionale Bosboudepartement sê: “Ons weet minder van die [gedrag] van takbokke en wildevarke as dié van leeus en ander wilde diere.”
“Ekonomiese klas”-sindroom
Gedurende die afgelope agt jaar het 25 passasiers wat by Japan se Narita-lughawe aangekom het, “aan sogenaamde ‘ekonomiese klas’-sindroom gesterf”, berig die koerant The Daily Yomiuri. Ten spyte van die naam kan “‘ekonomiese-klas’-sindroom” ook passasiers in eersteklas raak. As ’n mens ’n paar uur lank sit, kan dit die bloedsomloop in die bene belemmer en bloedklonte veroorsaak. As ’n klont na die longe toe beweeg, kan dit asemhalingsprobleme en selfs die dood tot gevolg hê. Jaarliks ondervind tussen 100 en 150 reisigers wat by Narita-lughawe aankom die een of ander vorm van hierdie sindroom, sê Tosjiro Makino, hoof van die Mediese Fakulteit van die Nippon-universiteit se Nuwe Tokio- Internasionale Lughawekliniek. Hy stel voor: “Passasiers wat meer as sewe of agt uur op ’n slag vlieg, moet meer water as gewoonlik drink en voorsorgmaatreëls neem, soos om hulle bene te strek en te buig.”
Tokio kry ’n warmer klimaat
“Die gemiddelde aantal dae per jaar wanneer die temperatuur in Tokio tot onder vriespunt daal, het tydens die 20ste eeu met 95 persent afgeneem”, berig The Daily Yomiuri. Gedurende die 1990’s was daar gemiddeld net 3,2 dae per jaar met temperature onder vriespunt in Tokio in vergelyking met 61,7 dae vir die eerste tien jaar van die eeu. ’n Ervare weerkundige by Japan se Weerburo het gesê dat aardverwarming voorkom dat temperature so laag soos tevore daal, en hy het sy kommer uitgespreek dat “’n bitter koue winter” in Tokio gou tot die verlede kan behoort. Die weerburo voorspel dat die wêreldtemperatuur gedurende die 21ste eeu met een tot 3,5 grade Celsius sal styg as die vrystelling van kweekhuisgasse teen die huidige vlak voortduur. ’n Styging van 3,5 grade oor Japan sal veroorsaak dat Tokio so warm word soos Nairobi deesdae is.
Die terugkeer van sifilis
Daar is dekades lank byna geen gevalle van sifilis in Frankryk aangemeld nie. Maar verlede jaar het dokters ’n nuwe epidemie van hierdie seksueel oordraagbare siekte hoofsaaklik onder homoseksuele opgemerk, berig die Franse dagblad Le Figaro. Soortgelyke gevalle van sifilis is ook in die jaar 2000 in Brittanje en Ierland opgemerk. Sifilis is ’n bakteriese siekte wat velletsels en -uitslae in die vroeë stadiums veroorsaak en lei tot neurologiese en kardiovaskulêre skade as dit nie behandel word nie. Die terugkeer van sifilis is kommerwekkend, berig Le Figaro, omdat dit “heeltemal onbekend vir die nuwe geslag dokters is, wat gedurende hulle mediese opleiding nooit met ’n enkele geval te doen gehad het nie”. Dokters kan dit dus verkeerd diagnoseer, wat doeltreffende behandeling verhinder. Spesialiste op die gebied van siektes vermoed dat gevaarlike seksuele gebruike vir die terugkeer van sifilis verantwoordelik is. Daarom vrees hulle dat hierdie neiging die voorloper van “’n nuwe, buitengewone toename in die vigs-epidemie” kan wees.
Waarskuwing vir ouer reisigers
Al hoe meer ouer volwassenes reis deesdae na minder ontwikkelende lande, en baie word siek omdat hulle kos of water inneem wat met bakterieë besmet is, sê die Tufts University Health & Nutrition Letter. Die gevolglike “reisigersdiarree” kan tot ernstiger gesondheidsprobleme lei vir mense wat 60 jaar of ouer is. Tensy jy in ’n vyfsterhotel of in ’n restaurant in ’n groot, moderne stad eet, gee die Health & Nutrition Letter die volgende waarskuwing:
□ Moenie kraanwater drink of jou tande daarmee borsel nie. Gebruik slegs gebottelde, gekookte of behandelde water. Moenie ys in drankies gebruik nie tensy jy seker is dat dit van skoon water gemaak is.
□ Moenie vis of vleis eet nie tensy dit deeglik gekook is.
□ Moenie ongepasteuriseerde melkprodukte of rou groentesoorte eet nie.
□ Moenie vrugte eet nie tensy jy dit self afgeskil het nadat jy dit in skoon water gewas het. Ná jy dit afgeskil het, moet jy eers jou hande was voordat jy dit eet.
□ Moenie kos eet wat deur straatsmouse verkoop word nie, selfs al word dit warm bedien.
Miljoene “binnelandse uitgewekenes”
“Daar is net soveel van hulle as die aantal mense met MIV en dubbel die getal vlugtelinge. Die internasionale ondersteuningsgroep noem hulle die ‘binnelandse uitgewekenes’”, berig The Independent van Londen. Hoewel hulle weens oorlog uit hulle huise moes vlug, bly hulle in hulle eie land. Die VN skat dat daar wêreldwyd 25 tot 30 miljoen uitgewekenes is. Die meeste woon nie in vlugtelingkampe nie, maar saam met ander gesinne of op die straat. Dennis McNamara, die VN se spesiale koördineerder vir die probleem, sê dat hierdie persone nie in ’n ander land skuiling soek nie, maar “baie [van hulle] probeer so na as moontlik aan die huis bly: dit is waar hulle landbougrond is”. Noodlenigingskomitees word soms nie toegelaat om sulke mense te help nie. Tot 90 persent is vroue en kinders. “Dit is die mans wat oorlog voer”, sê McNamara. “Die vroue en kinders is die slagoffers. Uitgeweke vroue loop gedurig die gevaar om verkrag te word deur die magte wat hulle vervolg.”
’n Suigende tong
Hoe kan ’n verkleurmannetjie ander akkedisse en selfs voëls vang wat tot 10 persent van sy eie gewig weeg? Tot nou toe is daar geglo dat die prooi aan die growwe en klewerige oppervlak van die verkleurmannetjie se tong vassit. Maar dit het nie verduidelik hoe hierdie diertjie betreklike swaar prooi kan vang nie. Om uit te vind, het wetenskaplikes in Antwerpen, België, hoëspoedvideo-opnames gemaak van die verkleurmannetjie se blitsvinnige tong in aksie, berig die Duitse wetenskaplike nuusdiens Bild der Wissenschaft-Aanlyn. Die wetenskaplikes het gevind dat die verkleurmannetjie se tong ’n bal aan die punt vorm wanneer hy dit uitskiet. Net voordat dit die prooi tref, trek twee spiere in die tong saam om die punt in ’n suigende tong te verander wat aan die prooi kleef.
Die woestyn brei uit
“Die Sahara steek nou die Middellandse See oor, namate ’n dodelike kombinasie van grondverarming en klimaatsveranderinge dele in suidelike Europa in woestyn verander”, berig The Guardian van Londen. By ’n konferensie van die Verenigde Nasies oor hoe om woestynvorming te bekamp, wat in Desember 2000 gehou is, het een deskundige wêreldwye boerdery deels die skuld daarvoor gegee, want dit maak dit vir talle kleinboere moeilik om mee te ding. Daarom verlaat boere hulle landerye wat duisende jare lank deur middel van terrasse en sorgvuldige besproeiing in stand gehou is, en die grond spoel uiteindelik weg. Die situasie is ernstig in suidelike Italië, Spanje en Griekeland. Bulgarye, Hongarye, Roemenië, Moldowa, Rusland en China staar ook ’n toename in woestynvorming in die gesig. Klaus Töpfer, uitvoerende direkteur van die VN se Omgewingsprogram, het gesê: “Grond is ’n natuurlike hulpbron wat net soos skoon water en skoon lug belangrik is vir die mens se welsyn en die omgewing.”
Die oorsprong van die Amasone ontdek
’n Span van 22 ontdekkingsreisigers het “die oorsprong van die wêreld se grootste rivier [bevestig], wat dekades van bespiegeling en teenstrydige bevindings beëindig”, berig The Times van Londen. Die Amasone begin as ’n stroompie in die Nevado Mismi, ’n piek van 5 000 meter in die suidelike Peruaanse Andes. Van daar af kronkel die rivier deur ’n vallei van gras en moerasse, waar ander strome en riviere daarby aansluit voordat dit meer as 6 000 kilometer na die Atlantiese Oseaan vloei. Andrew Pietowski, die spanleier, het die rivier se oorsprong so beskryf: “Dit is in ’n pragtige omgewing. Jy staan in ’n groen vallei aan die voet van ’n indrukwekkende, byna swart, krans wat ongeveer 40 meter hoog is. Alles is doodstil en baie rustig daar.”