Die hoender—’n Gunsteling en volop
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KENIA
DIE hoender is waarskynlik die voël waarvan daar die meeste op aarde is. Volgens skattings is daar meer as 13 miljard hoenders! En hulle vleis is so gewild dat meer as 33 miljard kilogram daarvan elke jaar geëet word. Daarbenewens lê henne regoor die wêreld sowat 600 miljard eiers.
In Westerse lande is hoenders volop en nie te duur nie. Amerikaanse kiesers is dekades gelede beloof dat daar ’n hoender in elke pot sou wees mits ’n sekere kandidaat ingestem word. Vandag is hoendervleis egter nie meer so ’n luukse as wat dit was nie, en dit is nie net vir ’n klein groepie mense beskore nie. Hoe het hierdie unieke voël so maklik bekombaar en gewild geword? En wat van armer nasies? Is daar enige kans dat hulle in hierdie oorvloed kan deel?
Die voël se verlede
Die hoender is ’n afstammeling van die rooi boshoender van Asië. Die mens het vroeg reeds uitgevind dat die hoender maklik mak gemaak kan word. Jesus Christus het immers ongeveer 2 000 jaar gelede na die manier verwys waarop ’n hen haar kuikens onder haar beskermende vlerke bymekaarmaak (Matteus 23:37; 26:34). Die feit dat so ’n illustrasie gebruik is, toon dat mense oor die algemeen hierdie voël goed geken het. Maar dit was eers in die 19de eeu dat grootskaalse boerdery met hoenders en eiers ’n kommersiële bedryf geword het.
Vandag is hoender verreweg die gesogste van alle pluimveevleis. Miljoene huisgesinne—insluitende stedelike gesinne—hou hoenders vir huishoudelike en kommersiële doeleindes aan. Daar is in werklikheid min plaasdiere wat op soveel verskillende plekke soos die hoender geteel kan word. Baie lande het hoenderrasse geteel wat geskik is vir die spesifieke klimaatstoestande en besondere behoeftes daar. Van hierdie rasse is: die Australorp van Australië; die bekende Leghorn, wat oorspronklik uit die Mediterreense streek kom maar redelik gewild is in die Verenigde State; die New Hampshire, die Plymouth Rock, die Rhode Island Red en die Wyandotte, wat almal in die Verenigde State geteel word; asook die Cornish, die Orpington en die Sussex van Engeland.
Gevorderde wetenskaplike boederymetodes het die teel van hoenders een van die suksesvolste landboubedrywe gemaak. In die Verenigde State maak boere gebruik van sorgvuldig beheerde voermetodes en hokontwerpe, sowel as wetenskaplike siektebeheer. Volgens baie mense is hierdie massaproduksiemetodes wreed. Maar dit het boere nie gekeer om doeltreffender maniere te ontwikkel om met hierdie voëls te boer nie. Moderne tegnieke maak dit nou vir een mens moontlik om vir 25 000 tot 50 000 hoenders te sorg. Dit neem slegs drie maande vir die voëls om markgewig te bereik.a
’n Bron van vleis
Besoek feitlik enige hotel, restaurant of ander eetplek, en die kans is goed dat jy hoendervleis op die spyskaart sal kry. Trouens, talle kitskosrestaurante oor die hele wêreld spesialiseer in die voorbereiding van hoender. Daar is gemeenskappe waar hoender nog steeds die ideale keuse vir spesiale geleenthede is. In party lande, soos in Indië, is fassinerende maniere al uitgedink om hierdie voël op te dien. Geregte soos rooirissiehoender, lal murgi; snipperhoender, kurgi murgi, en hoender in gemmer gesmoor, adrak murgi, laat ’n mens se mond skoon water!
Waarom is hoender so gewild? In die eerste plek is daar min kossoorte wat saam met soveel verskillende geure voorberei kan word. Hoe hou jy daarvan? In die oond of oor die kole gebraai, gestowe of in ’n bredie? Maak omtrent enige kookboek oop, en jy sal moontlik baie hoenderresepte kry wat bedoel is om die beste uit elke stukkie te kry.
Omdat hoendervleis in baie lande beskikbaar is, is dit ook redelik goedkoop. Voedingkundiges hou ook daarvan, aangesien dit proteïene, vitamiene en minerale bevat wat noodsaaklik vir jou liggaam is. Tog bevat hoendervleis min kilojoules, versadigde vette en ander vette.
’n Voedselbron vir ontwikkelende lande
Nie alle lande het natuurlik ’n oorvloed van pluimveeprodukte nie. Dit is veral betekenisvol in die lig van wat die Raad van Landboukundige Wetenskap en Tegnologie gesê het: “Die wêreldbevolking sal na raming teen die jaar 2020 tot 7,7 miljard toeneem . . . Maar daar word voorspel dat die grootste deel (95%) van die bevolkingsaanwas in ontwikkelende lande sal plaasvind.” Hierdie prentjie lyk selfs donkerder as ’n mens in ag neem dat sowat 800 miljoen mense alreeds aan ondervoeding ly!
Talle deskundiges is nietemin van mening dat die hoender ’n belangrike rol daarin kan speel om hierdie uitgehongerde bevolkings te voed sowel as om ’n broodnodige inkomste aan boere te voorsien. Die probleem is dat dit vir arm boere ’n groot uitdaging kan wees om op groot skaal met hierdie voëls te boer. In die eerste plek word hoenders in arm lande hoofsaaklik op klein, plattelandse plase of in agterplase aangehou. En in sulke lande word hoenders selde in ’n beskutte omgewing aangehou. Die voëls word gedurende die dag toegelaat om rond te loop en na kos te soek, en saans keer hulle terug en slaap soms in bome of in draadhokke.
Dit is dus nie verbasend nie dat baie van die voëls wat in hierdie omstandighede aangehou word, doodgaan—party weens die dodelike Newcastlesiekte en ander as gevolg van roofdiere en diewe. Die meeste boere het nie die kennis of die middele om hulle hoenders genoeg kos te gee, geskikte hokke vir hulle te voorsien of hulle teen siektes te beskerm nie. Om hierdie rede is daar met opleidingsprogramme vir boere in ontwikkelende lande begin. Die Voedsel- en Landbou-Organisasie van die Verenigde Nasies het byvoorbeeld onlangs met ’n vyfjaarprojek begin “om die behoeftiges in plattelandse gebiede van Afrika te help deur verhoogde pluimveeproduksie”.
Ons sal nog moet sien wat van sulke goeie bedoelings gaan kom. Dit stem burgers van welvarende lande dus tot nadenke dat iets so alledaags soos ’n stuk hoender dalk vir die meeste bewoners van die aarde ’n luukse is. Vir sulke mense klink die gedagte van ’n ‘hoender in elke pot’ moontlik maar net na ’n vae droom.
[Voetnoot]
a Hoewel daar ook met hoenders geboer word vir hulle eiers, word 90 persent in die Verenigde State vir hulle vleis geteel.
[Venster/Prente op bladsy 21]
Die veilige hantering van rou pluimveevleis
“Rou pluimveevleis kan potensieel gevaarlike organismes soos salmonella bevat, en daarom is dit noodsaaklik om versigtig te wees wanneer ’n mens dit voorberei. Was altyd jou hande, die snybord, mes en pluimveeskêr in warm seepwater voordat jy pluimveevleis hanteer, en ook daarna. Dit is ’n goeie idee om ’n snybord te gebruik wat in baie warm water gewas kan word . . . en om die snybord, indien moontlik, net vir die voorbereiding van rou pluimveevleis te gebruik. Ontdooi bevrore pluimveevleis heeltemal voordat dit gekook word.”—The Cook’s Kitchen Bible.
[Prente op bladsy 19]
Party hoenderrasse is die wit Leghorn, die grys boshoender, die Orpington, die Poolse hoender en die gespikkelde Sussex
[Erkenning]
Almal behalwe wit Leghorn: © Barry Koffler/www.feathersite.com
[Prente op bladsy 20]
Pogings word aangewend om boere in ontwikkelende lande te help om pluimveeproduksie te verhoog
[Prent op bladsy 20]
In die Verenigde State word 90 persent van die hoenders vir hulle vleis geteel