Die Anglikaanse Kerk—’n verdeelde huis
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN GROOT-BRITTANJE
DIE 13de Lambeth-Konferensie van die Anglikaanse Kerk is in 1998 in Kantelberg gehou naby die stad se 900 jaar oue katedraal. Biskop William E. Swing het die konferensie toegespreek en die treffende opmerking gemaak: “Godsdiens moet ophou om die probleem te wees en die oplossing begin voorsien. Daar sal nooit vrede tussen nasies wees tensy daar vrede tussen godsdienste is nie.”
Die verdeeldheid wat tussen godsdienste bestaan, is opvallend, soos ook die verdeeldheid onder gemeentelede en geestelikes van dieselfde godsdiens. Een biskop het geweier om die konferensie, wat elke tien jaar sedert 1948 gehou word, by te woon omdat vroulike biskoppe teenwoordig was. Sommige wat dit bygewoon het, was gekant teen Bybelbesprekings met hierdie vroue.
Hoewel die kwessie van die ordening van vroue die besprekings van die 1988-konferensie oorheers het, was homoseksualiteit die vernaamste geskilpunt in 1998. Op die ou end het die biskoppe beslis dat homoseksualiteit “teen die Skrif” is. Wat het tot hierdie besluit aanleiding gegee?
Een faktor was moontlik die Anglikane se gretigheid om bande met die Rooms-Katolieke Kerk te versterk. En hulle het besef dat hulle kerk nie samesprekings tussen die twee organisasies sou bevorder as hulle voortgaan met “’n standpunt ten gunste van homoseksuele geestelikes” nie. ’n Ander onderliggende rede vir die besluit was dalk ’n vrees vir Islam. As ’n resolusie aangeneem is dat homoseksuele priesters aanvaar kon word, sou dit, soos biskoppe uit Afrika dit gestel het, “evangeliese selfmoord” in die Islamitiese state gewees het.
The Sunday Telegraph het aangaande ’n ander verdelende geskil by die konferensie berig: “Die vernaamste kwessie waarmee sendelinge in dele van Afrika te kampe het, is veelwywery.” Een biskop het oor die dilemma waarvoor Anglikane in Afrika te staan gekom het, gesê: “As iemand ’n groot bydrae aan die Kerk gee, maar meer as een vrou het, wat staan hulle dan te doen?” The Times van Londen het die voorspelbare afloop van die debat so opgesom: “Anglikaanse biskoppe sal swyg oor veelwywery.”
Anglikaanse biskoppe het vir die eerste keer hulle verhouding met Islam bespreek. “Daar is ’n diepgewortelde haat tussen Christene en Moslems in Nigerië”, het die biskop van Kaduna, Nigerië, gesê, en hy beweer dat meer as 10 000 mense hulle lewe in godsdienskonflikte in sy land verloor het. Daar is gesê dat ’n heilige oorlog in Afrika alleenlik vermy kan word deur ’n kennis van Islam op te bou.
Wat lê voor vir die 70 miljoen mense regoor die wêreld wat, volgens ’n omstrede bewering, lidmate van die Anglikaanse kerk is?a Die situasie lyk nie rooskleurig nie, soos The Times dan ook berig het: “Die konferensie het baie waarnemers en deelnemers verbaas, want dit het soms eerder met ’n politieke vergadering ooreengekom as met ’n Christelike kerk wat aanbid.”
Dit is nie verbasend nie dat The Sunday Times gesê het dat ‘die vergadering deur vyandigheid en bitterheid gekenmerk is’.
[Voetnoot]
a Hierdie syfer van 70 miljoen “klink indrukwekkend”, sê The Times, maar “daar word selde genoem dat 26 miljoen van hulle in die Anglikaanse Kerk in Engeland is. Skaars eenmiljoen gaan deesdae hier [in Brittanje] kerk toe, en die res is net in naam Anglikane.”
[Prent op bladsy 24]
Die 900 jaar oue Kantelberg-katedraal