Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 12/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vuil geld
  • Laesoutdieet vir paaie
  • Uile se geroep verraai hulle gesondheid
  • Belonings as ’n mens vir ’n kind lees
  • Gebrekkige smaakknoppies
  • Moskees skiet oral in die Verenigde State op
  • Siek huise
  • Wêreldleier in melkproduksie
  • Makliker om geld uit te gee
  • Sout—iets waardevols
    Ontwaak!—2002
  • „Julle is die sout van die aarde”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Soutwinning—Met behulp van die son, see en wind
    Ontwaak!—2003
  • “Uit die edelste ouers gebore”
    Ontwaak!—2006
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 12/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Vuil geld

“Papiergeld is vol bakterieë”, sê die Kanadese koerant The Globe and Mail. Onlangse navorsing in die Verenigde State het getoon dat byna alle note wat in omloop is, met streptokokkus, enterobakterieë, pseudomonas sowel as ander kieme besmet is. Hierdie kieme, sê The Globe, “kan gevaarlik wees vir pasiënte met ’n verswakte immuunstelsel, soos die swak bejaardes of mense met MIV-vigs”. Party note dra selfs gevaarliker bakterieë. Navorsers doen aan die hand dat dit dalk tyd is vir letterlike “geldwassery”. In Japan kan verbruikers reeds kontant by “skoon OTMe” trek wat “jen gee wat tot 200 C (392 F) verhit is—warm genoeg om baie bakterieë dood te maak, maar nie die geld sal verbrand nie”. Nadat jy geld hanteer het, raai The Globe aan: “Was jou hande!”

Laesoutdieet vir paaie

Elke winter word daar tussen 400 000 en 1,4 miljoen ton sout op Frankryk se paaie gegooi om sneeu en ys te verwyder, berig die natuurtydskrif Terre sauvage. “Al hierdie sout rig omgewingskade aan wat nou geleidelik vasgestel word.” Padsout hoop in die grond op en kan waterputte, die grondwatervlak, mere en poele besoedel. Dit laat delikate plante binne 50 meter van die paaie wat met sout bedek is, doodgaan en verbrand die wortelpunte van bome. Wanneer dit deur die bome se wortels geabsorbeer word, verhinder dit fotosintese. Wanneer bome herhaaldelik daaraan blootgestel word, raak hulle swak en gaan hulle dood. Diere wat na die paaie kom om die sout af te lek, word dikwels deur voertuie raakgery of sterf omdat hulle te veel sout te vinnig inneem. Onder sekere omstandighede kan sout ook tot die vorming van gevaarlike gladde ys bydra. Op ’n sneeubedekte pad is bestuurders gewoonlik versigtig, maar baie vat kanse op paaie sonder sneeu, onbewus van die feit dat gladde ys dalk gevorm het. Gesaghebbendes beveel aan: “Minder sout is beter.”

Uile se geroep verraai hulle gesondheid

Wanneer Europese bosuile roep, verraai hulle wat hulle gesondheidstoestand is, sê The Economist. “Stephen Redpath van Brittanje se Sentrum vir Ekologie en Hidrologie en sy kollegas het 22 Europese bosuile in die Kielderwoud in noordelike Engeland bestudeer.” Die navorsers “het opnames van die geroep van ’n onbekende mannetjie gespeel en gemeet hoe lank dit die proefvoëls neem om te reageer”. Die uile met meer parasiete in hulle bloedstroom het langer geneem om die roep te beantwoord—dié met die meeste parasiete het meer as twee keer so lank as die uile sonder parasiete geneem. Wanneer die bosuile met meer parasiete wel teruggeroep het, het hulle ook teen ’n laer toon geroep as die gesonde voëls. “Vir die uile self vertel dit ongetwyfeld alles”, sê The Economist.

Belonings as ’n mens vir ’n kind lees

“Wanneer [kinders] sien dat hulle ma en pa uit vrye wil lees, probeer hulle hulle naboots”, sê die Poolse weekblad Przyjaciółka. In ’n tyd waarin kinders al hoe meer TV kyk, sê die artikel, is dit die moeite werd om vir kinders te lees, al is hulle net twee jaar oud, en hulle aandag op prente te vestig en dit aan hulle te verduidelik. Ouers kan ’n kind uitvra oor wat hulle so pas gelees het om te sien of hy of sy die inligting begryp. “En as die kind skielik verveeld raak . . . , moet jy probeer om die lesery lewendiger te maak met lewendige gebare en stembuiging.” Ouers word aangemoedig om uit te vind waarvan hulle kind hou en met hom daaroor te gesels. “Praat oor jou geliefkoosde kinderboeke en stel ’n paar interessante titels voor. . . . Moenie ophou om vir jou kinders te lees nie, selfs wanneer hulle dit self kan doen”, sê Przyjaciółka. “Soms is dit genoeg om ’n paar van die eerste bladsye te lees om hom aan te moedig, en die kind sal met graagte verder lees.”

Gebrekkige smaakknoppies

Volgens die oor-, neus- en keelspesialis Hirosji Tomita is daar in Japan jaarliks meer as 140 000 mense, waaronder meer jongmense as ooit tevore, wat hulle smaaksin verloor. Hoewel medisyne en gesondheidsprobleme tot die versteuring aanleiding kan gee, sê die verslag in The Daily Yomiuri, glo Tomita dat sowat 30 persent van die gevalle verband hou met ’n lae inname van sink, ’n noodsaaklike spoormineraal. “Sink”, sê die artikel, “speel ’n belangrike rol daarin om nuwe smaakknoppieselle voort te bring, en ’n [sink]tekort lei tot ’n geleidelike verlies van ’n mens se smaaksin.” Gemorskos, verwerkte kos en ’n gebrek aan verskeidenheid in die dieet dra alles tot die probleem by. Die artikel verduidelik dat “bymiddels soos fosfaat, wat in talle klaargaar kossoorte voorkom, die liggaam se sinkvoorraad uitput en die opneming daarvan belemmer”. Vir diegene wat kos smaakloos vind, beveel Tomita kossoorte aan wat ryk is aan sink. Dit sluit oesters, kleinvis en lewer in. ’n Gesonde dieet met ’n verskeidenheid kossoorte kan smaakknoppies herstel, maar as ’n ernstige geval meer as ses maande lank nie behandel word nie, is daar ’n kleiner kans op herstel, se Tomita.

Moskees skiet oral in die Verenigde State op

’n Teken dat die Moslembevolking al hoe groter word, is dat “die aantal moskees in die Verenigde State in ses jaar met ongeveer 25 persent, tot meer as 1 200, toegeneem het”, sê The New York Times. John Esposito, direkteur van die Sentrum vir Begrip tussen Moslems en Christene by die Universiteit van Georgetown, meen dat die huidige Moslembevolking “sowat vier- tot sesmiljoen” is. Volgens ’n onlangse studie wat deur vier Amerikaans-Islamitiese organisasies geborg is, kan die syfer selfs hoër wees. Wat die geval ook al is, “voortgesette immigrasie en die feit dat baie Moslemgesinne redelik groot is”, sal die groei laat voortduur, het Esposito gesê. “Binne ’n paar dekades sal Islam die tweede grootste godsdiens in Amerika wees.” Daar is gevind dat “meestal mans” na moskees gaan, sê die Times. Die studie het ook getoon dat “aanbidders van uiteenlopende etniese agtergronde gekom het: een derde is Suid-Asiaties, 30 persent swart Amerikaners, 25 persent Arabies”.

Siek huise

“Huise in Melbourne [Australië] wat minder as ’n jaar oud is, het tot 20 keer meer vlugtige organiese verbindings (VOV’s) as die veiligheidsgrens wat deur die Nasionale Gesondheids- en Mediese Navorsingsraad aanbeveel word”, sê New Scientist. Een van hierdie chemikalieë is formaldehied, “wat velirritasies en moontlik kanker veroorsaak”. Formaldehied word in die lug vrygestel deur boumateriaal soos vloerplanke en meubels. Nuwe matte stel stireen vry, wat ook ’n moontlike kankerwekkende stof is, “terwyl verwe en oplosmiddels ’n verskeidenheid giftige verbindings afgee”, verduidelik die berig. “Die chemikalieë sal waarskynlik nie ’n ernstige gevaar vir die meeste mense se gesondheid inhou nie. Maar dit kan tot hoofpyne lei en ’n nadelige uitwerking hê op ’n klein groepie uiters sensitiewe mense.”

Wêreldleier in melkproduksie

Indië is nou die wêreld se grootste melkprodusent, sê The Hindustan Times. “Die omgewingsbewuste Worldwatch-instituut [in Washington, DC] het Indië se melkrevolusie geprys”, sê die berig. “Sedert 1994 het melk Indië se vernaamste plaasproduk geword en in 1997 het die land die VSA oortref en die wêreld se grootste melkprodusent geword.” Lester Brown, voorsitter van die Worldwatch-instituut, se woorde word soos volg aangehaal: “Dit is merkwaardig dat Indië dit gedoen het deur plaasbyprodukte en oesoorblyfsels pleks van graan as voer te gebruik. Indië het dit reggekry om die proteïenvoorraad te vergroot sonder om die graan wat vir menslike gebruik bedoel is, vir beeste te gee.”

Makliker om geld uit te gee

Gevorderde tegnologie het inkopies vir baie Kanadese in ’n nasionale tydverdryf verander, wat hulle 24 uur per dag, 7 dae per week kan beoefen, berig die koerant Calgary Herald. “Verbruikers kan enige tyd van die dag of nag inkopies doen oor die Internet, The Shopping Channel [’n televisiekanaal], deur middel van katalogusse vir posbestellings, of hulle kan items onmiddellik met ’n kredietkaart koop.” Kredietkaarte met hoë kredietperke spoor mense aan om te veel te spandeer. Party kredietkaarte bied selfs verdere aansporings. Larry Wood, ’n professor in ekonomie aan die Universiteit van Calgary, het gesê: “Mense sal die kontant hê om iets te koop, maar dit met hulle kredietkaart betaal om die belonings of punte te kry en dink dat hulle die kontant sal gebruik om dit aan die einde van die maand af te betaal. Dan gebruik hulle die kontant en het hulle ook die kredietkaartskuld.” Maar Wood meen dat die probleem selfs dieper gaan. Verbruikers wat ’n hoë lewenstandaard probeer handhaaf, sal eerder skuld maak as om minder te verbruik. Volgens ’n opname in 1999 deur Statistics Canada het Kanadese kredietkaartskuld meer as R71 miljard beloop.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel