Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 1/8 bl. 10-12
  • Ondersteuning en medelye uit alle oorde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ondersteuning en medelye uit alle oorde
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Getuies bied praktiese hulp
  • “Tyd en lotgeval”
  • ’n Bediening van vertroosting
  • Dit behoort ons te laat dink
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—2002
  • Die dag toe die tweelingtorings geval het
    Ontwaak!—2002
  • Vertroos dié wat treur
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Troos van “die God van alle vertroosting”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 1/8 bl. 10-12

Ondersteuning en medelye uit alle oorde

VRYWILLIGERS het uit ander dele van die Verenigde State sowel as van ander lande gekom. Een van hierdie vrywilligers was Tom (foto bo), 29, ’n brandweerman uit Ottawa, Kanada. Hy het vir Ontwaak! gesê: “Ek het op TV gesien wat gebeur het en wou morele ondersteuning gee aan my medebrandweermanne in New York. Ek het Vrydag daarheen gery en Saterdag na Ground Zero [die rampgebied] gegaan om my hulp aan te bied. Ek is gestuur om saam met die sogenaamde emmerbrigade te werk, wat stukke puin emmer vir emmer verwyder het.

“Ons het stadig deur die puin gesif, ’n graafvol op ’n slag, en het na enigiets gesoek wat leidrade kon gee oor die identiteit van brandweermanne wat gesterf het. Ek het ’n Halligan-werktuig gekry, wat gebruik word om deure wat gesluit is, oop te breek, sowel as koppelings van ’n brandslang. Ons het pynlik stadig gewerk. Met sowat 50 vrywilligers het dit omtrent twee ure geneem om ’n stortbakvragmotor vol te maak.

“Maandag, 17 September, het ons die liggame van ’n paar brandweermanne uitgehaal wat die vorige Dinsdag in die gebou ingestorm het. Ek sal nooit daardie toneel vergeet nie—al die reddingswerkers het opgehou werk, hulle harde hoede en helms afgehaal en gestaan—uit respek vir ons kollegas wat omgekom het.

“Terwyl ek daar by Ground Zero om my gestaan en kyk het, het ek besef hoe onseker die lewe vandag is. Dit het my oor my lewe, my werk en my gesin laat nadink. Ondanks die gevare is my werk baie bevredigend—om mense te kan help en selfs lewens te kan red.”

Getuies bied praktiese hulp

Die eerste twee dae ná die ramp het omtrent 70 mense skuiling gesoek by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies. Party wat hulle hotelkamers en bagasie verloor het, is verblyf en ander klere gegee. Hulle het kos gekry. Maar moontlik van groter belang is dat Christen- ouer manne emosionele ondersteuning aan hulle gegee het.

Jehovah se Getuies het ook noodsaaklike noodtoerusting en voorraad gestuur vir die reddingspanne wat gewerk het by wat as Ground Zero bekend geword het. Vervoer is ook aan die brandweer beskikbaar gestel om brandweermanne by die reddingsgebied te kry. Ricardo (regs bo), ’n 39-jarige Getuie en vullisverwyderaar, het elke dag saam met honderde ander gehelp om tonne puin te verwyder. Hy het vir Ontwaak! gesê: “Dit was iets vreesliks om te sien, veral vir die brandweermanne wat na hulle verlore makkers gesoek het. Ek het gesien hoe hulle een brandweerman lewend uithaal. ’n Ander brandweerman is dood toe iemand van bo af op hom geval het. Baie brandweermanne het gehuil. Ek het in trane uitgebars. Op daardie dag was niemand so dapper soos hulle nie.”

“Tyd en lotgeval”

Duisende mense het in die ramp gesterf. Onder hulle is daar ten minste 14 Getuies, wat op of naby die toneel van die ramp was. Joyce Cummings, 65 jaar oud en oorspronklik van Trinidad, het ’n tandartsafspraak naby die World Trade Center gehad. Ongelukkig was dit om en by die tyd dat die ramp plaasgevind het. Sy is blykbaar deur die rook oorweldig en is na ’n hospitaal daar naby geneem. Hulle kon haar nie red nie. Sy is net een van baie mense wat slagoffers word van “tyd en lotgeval” (Prediker 9:11). Sy was bekend as ’n baie ywerige evangeliedienaar.

Calvin Dawson (sien venster) het by ’n makelaarsfirma op die 84ste verdieping van die suidelike toring gewerk. Hy was in sy kantoor en kon die noordelike toring duidelik sien onmiddellik nadat die vliegtuig daarin vasgevlieg het. Sy werkgewer, wat nie op kantoor was nie, het gebel om uit te vind wat gebeur het. Hy het gesê: “Calvin het my probeer vertel wat hy sien. Hy het gesê: ‘Mense spring!’ Ek het vir hom gesê om daar uit te kom en die ander ook uit die kantoor te kry.” Calvin het dit nie gemaak nie. Sy werkgewer het voortgegaan: “Calvin was ’n wonderlike man en ons almal het hom waardeer, selfs dié van ons wat nie geestelik ingestel is nie. Ons het sy godvresendheid en mensliewendheid bewonder.”

Nog ’n Getuie-slagoffer was James Amato (regs onder op oorkantste bladsy), die vader van vier kinders en ’n kaptein in die New Yorkse brandweer. Dié wat hom geken het, het gesê dat hy so dapper was dat “hy in ’n brandende gebou sou ingaan selfs wanneer ander gevlug het”. James is in sy afwesigheid tot die rang van bataljonhoof bevorder.

Nog ’n Getuie-brandweerman, met sewe jaar ondervinding, was George DiPasquale. Hy was getroud met Melissa en het ’n tweejarige dogtertjie, Georgia Rose, gehad. Hy was ’n ouer man in ’n gemeente van Jehovah se Getuies op Staten Island en was op die tiende verdieping van die suidelike toring toe dit ineengestort het. Ook hy het met sy lewe betaal om ander te probeer red.

Hulle is maar net twee van die honderde brandweermanne, polisiemanne en noodwerkers wat hulle lewe verloor het terwyl hulle mense moedig probeer red het. Die onverskrokkenheid van hierdie reddingswerkers kan nie oorbeklemtoon word nie. Die burgemeester van die stad New York, Rudolph Giuliani, het later vir ’n groep brandweermanne wat bevorder is, gesê: “Julle bereidwilligheid om onbevrees en in die moeilikste omstandighede voort te gaan, is vir ons almal inspirerend. . . . En daar is . . . geen groter voorbeeld van moed as die Brandweer van die stad New York nie.”

’n Bediening van vertroosting

Gedurende die dae ná die tragedie het omtrent 900 000 van Jehovah se Getuies in die Verenigde State landwyd ’n doelgerigte poging aangewend om vertroosting aan die bedroefdes te bring. Naasteliefde het hulle beweeg om dié wat treur, te vertroos (Matteus 22:39). In hulle bediening het hulle ook die aandag op die enigste ware hoop vir die geteisterde mensdom probeer vestig.—2 Petrus 3:13.

Die Getuies was medelydend in hulle benadering tot die publiek. Hulle bedoeling was om vertroosting uit die Skrif te bied en om die verkwikkende voorbeeld van Christus na te volg, wat gesê het: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind. Want my juk is sag en my vrag is lig.”—Matteus 11:28-30.

Groepe ouer manne van plaaslike gemeentes van Jehovah se Getuies in Manhattan is toegelaat om in die Ground Zero-gebied in te gaan om met reddingswerkers te praat en hulle te bemoedig. Die reaksie was baie gunstig. Hierdie bedienaars het vertel: “Die manne het trane in hulle oë gehad wanneer ons vir hulle tekste gelees het.” Reddingswerkers het op ’n boot by ’n vasmeerplek gerus. “Die manne het so verwese gelyk; hulle koppe het gehang en hulle kon net nie verwerk wat hulle gesien het nie. Ons het by hulle gaan sit en vir hulle tekste uit die Bybel gelees. Die manne het ons opreg bedank dat ons gekom het, en gesê dat hulle regtig hierdie vertroosting nodig gehad het.”

Mense met wie daar ná die ramp gepraat is, wou dikwels iets hê om te lees, en duisende brosjures is versprei. Dit was onder meer die brosjures Wanneer ’n geliefde sterf, Gee God werklik vir ons om? en Will There Ever Be a World Without War? Die voorbladreekse van twee nommers van die Ontwaak! het ook spesiale aandag geniet: “’n Nuwe soort terrorisme” (22 Mei 2001) en “Hoe om posttraumatiese stres te verwerk” (22 Augustus 2001). In baie gevalle het die Getuies die Bybel se hoop op ’n opstanding verduidelik (Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15). Miljoene mense is moontlik met hierdie vertroostende boodskap bereik.

Dit behoort ons te laat dink

Tragedies soos hierdie een in die stad New York behoort ons almal te laat dink oor wat ons met ons lewe doen. Lewe ons net vir selfsugtige strewes, of probeer ons om tot die geluk van ander by te dra? Die profeet Miga het gevra: “Wat anders vra Jehovah van jou terug as om geregtigheid te beoefen en goedhartigheid lief te hê en beskeie te wandel met jou God?” (Miga 6:8, NW). Beskeidenheid behoort ons aan te spoor om die ware hoop vir die dooies in God se Woord te soek en uit te vind wat God binnekort gaan doen om paradystoestande op hierdie aarde te herstel. As jy graag meer omtrent die Bybel se beloftes wil uitvind, spoor ons jou aan om met Jehovah se Getuies in jou omgewing in verbinding te tree.—Jesaja 65:17, 21-25; Openbaring 21:1-4.

[Venster/Prente op bladsy 11]

TATIANA SE GEBED

Calvin Dawson se weduwee, Lena, het vir Ontwaak! vertel van die gebed van haar sewejarige dogtertjie ’n paar dae nadat sy gehoor het dat haar pa nie huis toe gaan kom nie. Lena het ’n gebed gedoen, en toe vra Tatiana: “Kan ek ook bid, Mamma?” Sy het ingestem. Tatiana het gebid: “Jehovah, ons hemelse Vader, dankie vir die kos en vir hierdie dag. En ons vra dat u gees met my en met Mamma sal wees sodat ons sterk kan wees. En ons vra dat u gees met Pappa sal wees sodat hy sterk kan wees wanneer hy terugkom. En wanneer hy terugkom, dat hy goed, sterk en gelukkig en gesond sal wees en dat ons hom weer sal sien. In Jesus se naam . . . o, en moenie vergeet om vir Mamma sterk te laat wees nie. Amen.”

Lena was nie heeltemal seker of Tatiana verstaan nie, en het gesê: “Tiana, dit was pragtig. Maar, my skat, weet jy dat Pappa nie gaan terugkom nie?” Daar was onmiddellik ’n geskokte uitdrukking op Tatiana se gesiggie. “Gaan hy nie?” het sy gesê. “Nee”, het haar ma geantwoord. “Ek het gedink ek het vir jou vertel. Ek het gedink jy verstaan dat Pappa nie gaan terugkom nie.” Tatiana het gesê: “Maar Mamma het dan gesê dat hy in die nuwe wêreld gaan terugkom!” Lena het toe besef wat haar dogter bedoel het en gesê: “Ek’s jammer, Tatiana. Ek het jou verkeerd verstaan. Ek het gedink jy bedoel Pappa kom môre terug.” Lena het gesê: “Ek was bly om te besef dat die nuwe wêreld vir haar so werklik is.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel