Ons beskou die wêreld
Truie vir pikkewyne
Meer as 1 000 truie wat deur vrywilligers in alle wêrelddele gemaak is, is na Tasmanië, Australië, gestuur. Wie gaan dit dra? Kleinbloupikkewyne—klein voëls wat omtrent ’n kilogram weeg en in ’n gebied woon wat dikwels deur oliestortings geteister word. “Wanneer hulle hulle vere glad stryk”, verduidelik Kanada se National Post, “sluk hulle die giftige olie in wat aan hulle vere vassit. Vrywilligers trek die truie aan vir voëls wat vol olie is, om te voorkom dat hulle die olie inkry [voordat] hulle skoongemaak kan word.” Boonop help die truie die pikkewyne, volgens die Post, om warm te bly. Jo Castle, woordvoerster vir die Tasmaanse Bewaringstrust, sê dat truie ook al vir seevoëls in die Noordelike Halfrond gebruik is, maar dat die patroon “vir die pikkewyntjies in die Suidelike Halfrond aangepas is”.
Slurpgeskil
Moet ’n mens slurp of nie, dit is die vraag—ten minste vir klante in Japan se gewilde noedelsoprestaurante. Baie middeljarige en ouer Japannese meen dat die lang noedels eintlik beter smaak as dit saam met die sop ingeslurp word, en terwyl dit nog warm is. Hulle beskou dit as normaal om hard te slurp en meen dit wys dat ’n mens die ete werklik geniet. Maar ’n nuwer geslag Japannese het ’n ander beskouing oor noedel-etiket. The Japan Times berig: “Jonger Japannese is meer daaroor besorg om die sop nie op hulle sydasse en [ontwerpers]rokke te mors nie. Aangesien hulle volgens Westerse maniere en op ’n meer Westerse dieet grootgemaak is, sal hulle waarskynlik aanstoot neem as mense om hulle slurp.” Hierdie slurpgeskil het ’n deel van Japan se generasiegaping geword en laat party oueres selfbewus voel om te slurp wanneer hulle in die openbaar noedels eet. ’n Groot Japannese koerant het die ouer geslag se kant gekies en gesê: “Dit gaan maar eensaam wees as niemand meer enige slurpgeluide maak nie.”
Alkoholgevare
“Alkoholverwante beserings, gebreke en sterftes onder jonger ouderdomsgroepe in Europa het in onlangse jare onrusbarend toegeneem”, berig Brittanje se mediese tydskrif The Lancet. In Europa, waar alkoholinname die hoogste ter wêreld is, veroorsaak alkohol elke jaar die dood van 55 000 jongmense. Toe skoliere in Brittanje, Denemarke, Finland, Groenland en Ierland oor hulle drinkgewoontes uitgevra is, het ’n derde van dié met wie ’n onderhoud gevoer is, erken dat hulle ten minste drie keer gedurende die vorige maand dronk was. Volgens ’n studie van 100 000 skoliere wat 15 tot 16 jaar oud is in 30 Europese lande het alkoholgebruik deur jongmense die meeste toegeneem in Litaue, Pole, Slowenië en die Slowaakse Republiek. Soos die Londense koerant Independent berig het, waarsku Brittanje se Koninklike Kollege van Geneeshere dat “gevorderde lewersirrose, wat gewoonlik voorkom by mans in hulle veertiger- en vyftigerjare wat gereeld baie drink, nou gediagnoseer word” by vroue in hulle vroeë twintigerjare. Die kollege “het alkohol een van Brittanje se duurste openbare gesondheidsprobleme genoem”.
Oor die Stille Oseaan in ’n roeiboot
’n Man het op sy eentjie, sonder die hulp van seile of ’n enjin, in ’n gedeeltelik bedekte bootjie oor die Stille Oseaan geroei. Die Brit Jim Shekhdar het die kus van Peru in Junie 2000 verlaat, berig Lima se koerant El Comercio. Die avontuurlustige seevaarder het ’n draagbare waterontsouter saamgeneem, asook ’n radio, vier satellietverbindingstelsels en ’n sonpaneel om krag vir dit alles te voorsien. In Maart 2001, nege maande en 8 000 seemyl later, het die man wat party “die mal seevaarder” genoem het, in Australië voet aan wal gesit. Tydens sy reis het hy tien haai-aanvalle oorleef en het ’n olietenkskip hom byna getref. Maar sy laaste uitdaging het op die heel laaste dag gekom toe golwe sy roeiboot omgegooi het en hy die laaste 100 meter moes swem tot in die arms van sy wagtende familie.
Goeie siekekamermaniere bevorder herstel
“’n Vriendelike dokter wat pasiënte gerusstel en goeie siekekamermaniere het, kry werklik beter resultate”, sê The Times van Londen. Nadat navorsers van die universiteite van York, Exeter en Leeds, in Engeland, 25 studies oor hierdie kwessie ontleed het, het hulle tot die slotsom gekom: “Daar is gevind dat geneeshere wat ’n hartlike en vriendelike verhouding met hulle pasiënte probeer opbou het en hulle gerusgestel het dat hulle gou beter sou word, meer welslae behaal het as geneeshere wie se besoeke onpersoonlik, formeel en onseker was.” In Swede het ’n studie getoon dat pasiënte “gouer herstel het en meer tevrede was wanneer hulle behandel is deur ’n dokter wat hulle verseker het dat hulle beter sou word, hulle aangemoedig het om vrae te vra en ’n ekstra paar minute by hulle deurgebring het”.
Die waarde van gereelde oefening
Baie mense probeer vetsug, hartsiektes en ander gesondheidsprobleme wat die gevolg van ’n onbedrywige kantoorroetine is, voorkom deur nou en dan flink te oefen. Maar ’n onlangse studie toon dat gereelde matige oefening beter is om die liggaam se metabolisme te versnel as uitermatige maar ongereelde oefening, berig Duitsland se Süddeutsche Zeitung. Die Nederlandse navorser dr. Klaas Westerterp het ’n studie gemaak van hoeveel energie 30 vrywilligers minuut vir minuut verbruik. Die resultate het getoon dat dit beter is om meer fisiese bedrywigheid in die daaglikse lewe in te sluit as om “onbedrywige fases met vlae van uitermatige bedrywigheid [te probeer] afwissel”. Die berig stel voor: “Wissel sit en staan so dikwels moontlik af met matige bedrywigheid soos stap of fietsry.”
Vinnige Franse treine
In 1867 het die treinrit van Parys na Marseille in die suide meer as 16 uur geduur. In die 1960’s het dit sewe en ’n half uur geduur. Maar in Junie 2001 het die Franse Nasionale Spoorweë ’n nuwe hoëspoedspoorverbinding tussen die twee stede geopen. Nou kan passasiers teen ’n spoed van oor die 300 kilometer per uur ry en die afstand van 740 kilometer in net drie uur aflê. Op een stuk spoorlyn van 250 kilometer suid van Lyon ry treine oor meer as 500 brûe, oor 17 kilometer van pragtige boogbrûe en deur ’n tonnel wat byna 8 kilometer lank is. Indien nodig kan tot “20 treine per uur in albei rigtings onder die beste veiligheidstoestande loop”, sê die Franse dagblad Le Monde. Dit is een trein elke drie minute.
Kinders en spanning
“Die kinderjare is nie meer die tyd wanneer kinders buite speel, ontspan en rustig is, soos jare gelede nie”, sê Mexikostad se koerant El Universal. Navorsers het tot die gevolgtrekking gekom dat ’n 10-jarige kind vandag te kampe het met ’n spanningsvlak wat soortgelyk is aan dié wat ’n 25-jarige in 1950 gehad het. Baie van hierdie spanning is die gevolg van klasse en ander bedrywighede wat ouers hoop hulle kind sal help om ’n beter toekoms te hê. Maar die ekstra las “het ’n uitwerking op sy gesondheid, sy rus en selfs sy ontwikkeling”, sê die koerant. Die verslag stel voor dat ouers weer hulle kinders se verpligtinge in oënskou neem sodat die kinders meer tyd by die huis kan deurbring. Maar “die idee is dat hulle buite met ander kinders gaan speel, hardloop, fietsry, vernufspeletjies speel of teken”, en nie dat hulle ná skool niks doen of vasgenael voor die TV of rekenaar sit nie.
Seeverwarming beïnvloed natuurlewe
Tydens ’n onlangse besoek aan die afgeleë Heard-eiland, wat 2 500 seemyl suidwes van Australië lê, het wetenskaplikes opvallende veranderinge in die plaaslike plant- en dierbevolkings ontdek. “Koningpikkewyn-, pelsrob- en kormoraanbevolkings het vermenigvuldig, en in gebiede wat vroeër deur gletsers bedek is, is daar welige plantegroei”, berig die koerant West Australian. Die bioloog Eric Woehler het gesê dat hulle in 1957 net van drie broeipare koningpikkewyne op die eiland geweet het. “Nou”, sê hy, “het ons meer as 25 000.” Woehler het gesê dat die see se oppervlaktemperatuur oor die afgelope 50 jaar met sowat ’n driekwart van ’n graad Celsius gestyg het. Hy het bygevoeg: “Al klink dit nie baie nie, is dit meer as genoeg om die soort veranderinge teweeg te bring wat ons sien.” Woehler se mening is dat die eiland se klimaat uiteindelik so warm kan word dat party plante en diere nie daar sal kan bestaan nie.