Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 2/8 bl. 12-15
  • Toerisme—’n wêreldwye bedryf

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Toerisme—’n wêreldwye bedryf
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Baie lande betree die toerismemark
  • Om hedendaagse vakansiegangers tevrede te stel
  • Agter die skerms by ’n oord
  • Die ander sy van die saak
  • Volhoubare toerisme
  • “Die wêreld se grootste werkverskaffer”
    Ontwaak!—2005
  • Die toekoms van toerisme
    Ontwaak!—2005
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2005
  • Wat ons oor die tydskrifte kan sê
    Ons Koninkryksbediening—2005
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 2/8 bl. 12-15

Toerisme—’n wêreldwye bedryf

Deur Ontwaak!-medewerker in die Bahamas

WANNEER laas het jy vir jouself gesê: ‘Ek het ’n vakansie nodig’? Jy het dalk gevoel dat jy eenvoudig moes wegkom van die druk van die daaglikse lewe. Het jy al ooit na die een of ander afgeleë bestemming op vakansie gegaan? Dink hieraan: Net meer as ’n eeu gelede het die meeste mense nie gereeld vakansie gaan hou nie. Daarbenewens het die meeste hulle hele lewe binne ’n paar honderd kilometer van hulle geboorteplek deurgebring. Om na afgeleë bestemmings vir plesier of om opvoedkundige redes te reis, was die voorreg van ’n klein groepie avontuurlustige of welgestelde mense. Maar vandag kan honderdduisende mense die land waarin hulle woon of selfs die wêreld deurkruis. Wat het tot die verandering aanleiding gegee?

Ná die industriële revolusie het miljoene mense by die vervaardiging van goedere en die lewering van dienste betrokke geraak. Die gevolg was ’n groter en uiteindelik meer besteebare inkomste. Die vinnige vooruitgang in tegnologie het ook masjiene voortgebring wat baie van die arbeidsintensiewe werk oorgeneem het. Dit het baie mense meer tyd vir ontspanning gegee. Weens hierdie faktore het die koms van meer bekostigbare massavervoer in die middel van die twintigste eeu toerisme laat floreer. En toe het die nuwe massakommunikasiebedryf die begeerte om te reis, aangewakker deur beelde van verafgeleë plekke uit te saai wat mense regoor die wêreld in hulle huise kon sien.

Die gevolg was ’n snelgroeiende wêreldwye toerismebedryf. Die Wêreldtoerismeorganisasie (WTO) het voorspel dat die aantal mense wat internasionaal reis, van 613 miljoen in 1997 tot 1,6 miljard teen die jaar 2020 sal vermeerder—sonder enige teken van afname op daardie stadium. Hierdie opswaai in aanvraag het gepaardgegaan met ’n ooreenstemmende vermeerdering in die aantal sakeondernemings, oorde en lande wat dienste aan toeriste lewer.

Baie lande betree die toerismemark

Ideaal gesien, is toerisme ’n reëling waaruit almal voordeel trek. Die verbruiker breek weg van sy normale roetine en word gepamperlang, vermaak of iets nuuts geleer. Maar wat kry dié wat die dienste voorsien daaruit? Internasionale toerisme is ’n goeie bron van buitelandse valuta. Die meeste lande het buitelandse valuta nodig sodat hulle vir goedere en dienste wat hulle moet invoer, kan betaal.

Trouens, ’n WTO-verslag het gesê: “Internasionale toerisme is die wêreld se grootste bron van buitelandse valuta en ’n belangrike faktor in die betalingsbalans van baie lande. Buitelandse valuta-ontvangste uit internasionale toerisme het in 1996 R3,8 biljoen bereik, wat meer is as die uitvoer van petroleumprodukte, motorvoertuie, telekommunikasietoerusting, tekstielware of enige ander produk of diens.” Dieselfde verslag het gesê: “Toerisme is die wêreld se grootste groeibedryf” en dit het “tot 10 persent van die wêreld se bruto binnelandse produk” verteenwoordig. Geen wonder dat die meeste lande, wat nou selfs lande van die voormalige Sowjetunie insluit, in die internasionale toerismebedryf is—of hulle haas om dit te betree nie.

Landsinkomste wat deur toerisme verkry word, word gebruik om die infrastruktuur te verbeter, beter opvoeding te verskaf en in ander dringende landsbehoeftes te voorsien. Feitlik alle regerings is daaroor besorg dat hulle burgers werk het. Die werk wat toerisme skep, help om in hierdie behoefte te voorsien.

Om toe te lig watter uitwerking toerisme op ’n land se ekonomie kan hê, kan ons kyk na die voorbeeld van die Bahamas, ’n eilandgroep wat oor die mond van die Golf van Mexiko strek, tussen Florida, in die Verenigde State, en die eiland Kuba. Die Bahamas het nie ’n grootskaalse kommersiële landboubedryf nie en het byna geen nywerheidsgrondstowwe nie. Maar hierdie eilande het wel warm weer, ongerepte tropiese strande, ’n klein bevolking van omtrent ’n kwartmiljoen vriendelike mense, en dit is na aan die Verenigde State geleë—bates wat gekombineer is om ’n florerende toerismebedryf te skep. Maar wat verg dit om vir toeriste ’n genotvolle en veilige vakansie te gee?

Om hedendaagse vakansiegangers tevrede te stel

Toe internasionale toerisme nog in sy beginstadium was, was ’n besoek aan ’n vreemde land uitsonderlik genoeg om baie reisigers tevrede te stel—ten spyte van die ontberinge wat destyds op reise verduur moes word. Maar vandag gee massakommunikasie baie mense die geleentheid om deur middel van die televisie ’n voorsmaak van verafgeleë bestemmings te kry, sonder dat hulle die gemak van hulle huis hoef te verlaat. Oorde moet dus nou die uitdaging die hoof bied om die werklike besoek ’n onvergeetlike ondervinding te maak, terwyl hulle geriewe soos by die huis, of selfs beter, voorsien. En aangesien baie toeriste dikwels reis, ding talle bestemmings op ’n wêreldskaal met ander mee.

Dit het tot die ontstaan van uitsonderlike toeriste-aantreklikhede en oorde aanleiding gegee. Neem die voorbeeld van ’n baie groot, weelderige hotel in die Bahamas. “Die kompleks is ontwerp om jou asem weg te slaan”, sê Beverly Saunders, direktrise van organisasieontwikkeling by die hotel. “Maar ons mik nog hoër. Ons wil hê dat jou interaksie met ons gashere ook jou asem moet wegslaan.” Hoe voorsien hierdie oorde in die behoeftes van hulle gaste?

Agter die skerms by ’n oord

“Wanneer die 2 300 kamers van ons kompleks vol is, kan ons tussen 7 500 en 8 000 gaste op ’n slag hê waarna ons moet omsien”, sê Beverly. “Dit is ’n enorme taak wat fyn en deeglike beplanning verg. Dit vereis net soveel organisasie om in die behoeftes van al die gaste te voorsien as om ’n klein stad te bestuur, maar met bykomende uitdagings. Ons moet kos beskikbaar hê waaraan ons gaste gewoond is. Maar om hulle ondervinding onvergeetlik te maak, moet ons ook eksotiese maaltye en ontspanningsgeleenthede aanbied. In baie oorde word 50 persent of meer van die dienspersoneel gebruik om voedsel en drinkgoed te bedien.”

En tog, soos I. K. Pradhan in sy verhandeling “Sosio-kulturele impak van toerisme in Nepal” sê: “Van al die faktore wat bepaal of ’n mens ware plesier en genot uit ’n reis put, is geen ander faktor belangriker as die wyse waarop gaste deur die plaaslike mense behandel word en die gevoel van veiligheid wat hulle ondervind nie.”

Hoe verseker die suksesvolle toeristeoorde regoor die wêreld dat hulle besoekers die beste diens op hierdie gebiede kry? “Deur opleiding, deur gewenste gedrag by die personeel aan te spoor en deur hulle foute reg te stel—’n nimmereindigende strewe om altyd diens van hoë gehalte te lewer”, was die antwoord van ’n bestuurshoof wat toesig hou oor die opleiding vir die vernaamste oord in die Bahamas. “Die meeste mense van die Bahamas het ’n vriendelike geaardheid. Maar dit is baie moeilik om heeltyd uitgaande, aangenaam en vriendelik by die werk te wees. Dit is waarom ons die belangrikheid daarvan by hulle inskerp om dieselfde professionele benadering tot hulle werk te hê as wat kenmerkend sou wees van ’n dokter, prokureur of versekeringsagent. Ons hou ons by streng internasionale standaarde vir elke element wat die algehele toeristeondervinding uitmaak. Hoe harder ons as ’n span saamwerk om aan hierdie standaarde te voldoen, hoe hoër sal die gehalte deurgaans wees.”

Die ander sy van die saak

Het jy gevind, as jy al ooit gereis het, dat daar ondanks deeglike beplanning, blykbaar altyd onvoorsiene uitgawes is? Toerismeagentskappe ondervind presies dieselfde probleem.

Die “toerismebedryf kan baie voordele vir ons ontwikkelende gemeenskap inhou”, sê Pradhan, wat vroeër aangehaal is. Maar hy sê dat “ongeneeslike maatskaplike probleme ook kan ontstaan” as daar nie behoorlike maatreëls getref word nie. Hy voeg by: “[Ons] moet behoorlik toegerus wees met genoegsame bewustheid van die verskillende gevolge wat moderne toerisme inhou.” Van watter probleme het hy gepraat?

“Lande wat deur groot getalle toeriste besoek word, ondervind byna altyd ’n ernstige verbrokkeling van hulle tradisionele lewenswyse, al is dit nie doelbewus nie. In sommige plekke is die plaaslike kultuur uitgewis.” Dit is hoe Cordell Thompson, ’n hooggeplaaste amptenaar in die Bahamas se Departement van Toerisme, een algemene newe-effek beskryf het. Thompson praat met trots van al die voordele wat toerisme vir sy land inhou. Tog erken hy dat dit baie onvoorsiene gevolge gehad het om in ’n land te woon waar vakansiegangers voortdurend meer as die plaaslike bevolking is—of ’n groot deel daarvan uitmaak.

Byvoorbeeld, sommige wat met toeriste werk, kom uiteindelik verkeerdelik onder die indruk dat die besoeker die hele tyd op vakansie is. Die plaaslike inwoner probeer dalk om hierdie lewenswyse, wat bloot in hulle verbeelding bestaan, na te boots. Ander word nie op so ’n manier beïnvloed nie. Maar omdat hulle baie van hulle vrye tyd in die toeristeoorde deurbring, verleer hulle uiteindelik hulle tradisionele lewenswyse. Soms word die fasiliteite wat vir toeriste gebou word, in so ’n mate deur die plaaslike mense aanvaar dat die gemeenskapsentrums van die plaaslike kultuur uiteindelik verval en, in sommige gevalle, heeltemal verdwyn.

Baie internasionale toeristebestemmings bevind hulle in ’n dilemma. Hulle verwelkom die waardevolle inkomste wat deur die strome toeriste ingebring word. Maar hulle gaan swaar gebuk onder die las van maatskaplike probleme wat ontstaan weens bedrywe wat geskep word om dié toeriste wat hulle ongeoorloofde begeertes wil bevredig, tevrede te stel.

Volhoubare toerisme

Omdat sommige van die grootste voordele van moderne toerisme gevolge voortbring wat sy voortbestaan bedreig, word daar al hoe meer van “volhoubare toerisme” gepraat. Dit toon dat sommige tot die besef kom dat die korttermynvoordele van sekere winsgewende toerismegebruike in werklikheid die ondergang van die bedryf kan beteken. Daar sal werk gemaak moet word van ’n paar netelige kwessies om die bedryf vir ’n onbepaalde tyd te laat voortbestaan.

Die uitwerking van toerisme op die omgewing en op inheemse kulture, die verenigbaarheid van die doelwitte van winsgeoriënteerde oorde en mega-oorde met die nasionale doelwitte van die lande wat hulle huisves—dit is sommige van die botsende belange waartussen daar in die dae wat voorlê, ’n balans gevind sal moet word. In onlangse maande het besorgdheid oor veiligheid en sekuriteit die toeristebedryf kwaai geknou, en dit moet uiteindelik aangespreek word. Hoe dit die groei van moderne toerisme op die langtermyn sal beïnvloed, moet nog gesien word.

Wanneer jy weer besluit om van alles af weg te kom en by ’n oord ver van jou huis af te gaan ontspan, sal jy moontlik nie hierdie wêreldwye bedryf—nasionale en internasionale toerisme—as vanselfsprekend aanvaar nie.

[Volbladillustrasie op bladsy 15]

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel