Wat werksplekke gevaarlik maak
“Die werksplek veroorsaak meer sterftes as padongelukke.” Dit is die opvallende opskrif van ’n plakkaat wat versprei word deur WorkCover, ’n veiligheidsorganisasie in Nieu-Suid-Wallis, Australië.
NOODLOTTIGE ongelukke is natuurlik net ’n deel van die probleem. Miljoene doen jaarliks by hulle werksplek ernstige beserings op, selfs beserings wat hulle hele lewe verander. Baie ander sterf ontydig weens blootstelling aan gevaarlike stowwe of as gevolg van spanning by die werk.
Aangesien werkverwante sterftes en ernstige beserings in feitlik al die sektore van die nywerheid en die handel voorkom, is dit gepas om te vra: Hoe veilig is jy by jou werksplek? Watter situasies daar kan jou gesondheid en lewe in gevaar stel?
Drukpotomgewing
Daar word dikwels geweldige druk op werkers geplaas om produktief te wees. In Japan is die woord karosji—“sterfte weens oorwerktheid”—die eerste keer gebruik in die vergoedingseise wat bedroefde gesinne ingestel het. Volgens ’n opname wat jare gelede daar gedoen is, het 40 persent van die Japannese kantoorwerkers gevrees dat hulle moontlik weens oorwerktheid sal sterf. ’n Regsgeleerde wat in sulke eise spesialiseer, het geskat dat daar “elke jaar ten minste 30 000 slagoffers van karosji in Japan” is.
Die polisie in Japan het te kenne gegee dat werkverwante probleme ’n sleutelfaktor in die toename in selfmoord onder 50- tot 59-jariges is. Volgens die boek The Violence-Prone Workplace het ’n hof ’n werkgewer aanspreeklik gehou vir die selfmoord van ’n werknemer wat baie werkverwante bekommernisse gehad het.
Australië se koerant The Canberra Times het gesê dat ‘Amerikaners die Japannese verbygesteek het en nou die langste ure ter wêreld werk’. Daarom vertel nuusberigte met opskrifte soos “Lang ure maak mense dood”, van vermoeide werkers soos ambulansbestuurders, vlieëniers, werkers in die konstruksie- en vervoerbedryf asook nagskofwerkers wat by die werk sterf.
Wanneer maatskappye herorganiseer en afskaal sodat hulle winsgewend kan bly, word groter druk op werknemers geplaas om produktief te wees. Die British Medical Journal het berig dat afskaling ’n nadelige uitwerking op die gesondheid van werknemers het.
Geweld by die werksplek
Oorwerkte en gespanne werknemers is nie net vir hulleself ’n gevaar nie. ’n Britse opname het bevind dat baie kantoorwerkers ’n groot deel van hulle werksdag geïrriteerd is met kollegas en dat hierdie konflik dikwels gewelddadige reaksies uitlok.
“Sowat 15 Amerikaanse werkers word elke week by die werk vermoor”, sê die tydskrif Business Week. Harvard Business Review sê: “Geen bestuurder praat graag oor geweld by die werksplek nie. Maar dit bly ’n feit dat honderde werknemers elke jaar hulle kollegas aanval of selfs doodmaak.”
Aan die ander kant word baie deur hulle kliënte of hulle klante by die werksplek geweld aangedoen. ’n Australiese misdaadverslag sê dat sommige dokters so bang is dat hulle aangerand sal word dat hulle iemand vir beskerming saamneem wanneer hulle huisbesoeke doen. Ander wat in gevaar verkeer, sluit polisiebeamptes en skoolonderwysers in.
Nog ’n vorm van geweld by die werksplek is emosionele mishandeling, wat deur die Internasionale Arbeidsorganisasie as sielkundige geweld erken word. ’n Vername vorm van hierdie mishandeling is intimidasie.
Professor Robert L. Veninga van die Universiteit van Minnesota, VSA, vertel dat “spanning en die gevolglike siektes werkers in feitlik alle wêrelddele raak”. Hy het gesê “die kernprobleem, volgens die Wêreldarbeidsverslag van 1993 deur die Verenigde Nasies se Internasionale Arbeidsorganisasie, is dat spanning die gevolg is van onpersoonlike, immer veranderende en dikwels vyandige werksplekke”.
Die vraag is dus: Wat kan werkgewers en werknemers doen om hulle werksplek veiliger te maak? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.