Jongmense vra . . .
Hoe kan ek met my woonstelmaat oor die weg kom?
“Ek wou hê dat die kombuis skoon moes wees. Maar dit het my woonstelmaats nie gepla as die skottelgoed nie weggepak is of as daar goed op die stoof bly staan het nie. Dit het net nie vir hulle saak gemaak nie.”—Lynn.a
WOONSTELMAATS. “Hulle kan die beste vriende of die grootste vyande wees”, sê die skrywer Kevin Scoleri. Dalk voel jy nie so sterk daaroor nie, maar om saam met iemand te bly, kan ongetwyfeld ’n groot uitdaging wees.b Probleme tussen woonstelmaats is so algemeen onder universiteitstudente dat baie universiteite volgens die U.S.News & World Report “baie moeite” doen om woonstelmaats te help om oor die weg te kom, deur onder meer “programme vir konflikbemiddeling” en seminare te reël.
Dit kan moeilik wees om ’n woonstel te deel, selfs vir jong Christene wat die huis verlaat het om voltydse evangelisasiewerk te doen. Die goeie nuus is dat konflikte dikwels opgelos kan word deur Bybelbeginsels toe te pas en “praktiese wysheid” aan die dag te lê.—Spreuke 2:7.
Leer mekaar ken
As die opgewondenheid omdat jy getrek het, eers verby is, verlang jy dalk terug na hoe dinge by die huis was (Numeri 11:4, 5). Maar om oor die verlede te tob, gaan dit net vir jou moeilik maak om aan te pas. Prediker 7:10 gee die volgende raad: “Moenie sê: ‘Waarom was die vroeëre dae beter as hierdie dae?’ nie, want dit is nie uit wysheid dat jy hieroor gevra het nie.” Ja, kyk eerder wat jy aan die situasie kan doen.
Eerstens kan jy probeer om jou woonstelmaat beter te leer ken. Woonstelmaats hoef weliswaar nie beste vriende te wees nie. Trouens, hy is dalk nie iemand tot wie jy juis aangetrokke voel nie. Maar as julle gaan saambly, maak dit dan nie sin om so ver as moontlik ’n goeie verhouding met daardie persoon te hê nie?
Filippense 2:4 sê vir ons om “nie uit persoonlike belangstelling ’n oog op net [ons] eie sake [te] hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander”. Sonder om dit te laat klink of jy jou woonstelmaat in kruisverhoor neem, kan jy hom dalk meer oor sy familie, sy belangstellings, doelwitte en voorkeure vra? Vertel hom ook van jouself. Hoe beter julle mekaar leer ken, hoe beter sal julle mekaar begin verstaan.
Tref van tyd tot tyd spesifieke reëlings om dinge saam te doen. Lee sê: “Soms gaan ek en my woonstelmaats saam uiteet of besoek ons saam kunsgalerye.” Woonstelmaats wat Christene is, kan ook geestelike dinge saam doen, soos om vir gemeentelike vergaderinge voor te berei of om aan die evangelisasiewerk deel te neem, wat selfs ’n beter manier is om vriendskapsbande te smee.
David sê: “Toe my woonstelmaat ’n openbare Bybeltoespraak gehou het, het ek sy gemeente besoek om hom te ondersteun.” Hoewel hy en sy woonstelmaat se smaak verskil wat sport en musiek betref, het hulle liefde vir geestelike dinge ’n band tussen hulle geskep. “Ons praat dikwels oor geestelike dinge”, sê David. “Om die waarheid te sê, ons kan ure lank oor geestelike onderwerpe gesels.”
’n Woordjie van waarskuwing: Moenie so geheg aan jou woonstelmaat raak dat jy nie heilsame verhoudings met ander opbou nie. As jou woonstelmaat voel dat hy jou altyd en oral moet saamnooi, kan hy begin voel dat julle verhouding hom versmoor. Die Bybel se raad is dat ons “verruim word” wat ons vriendskappe betref.—2 Korintiërs 6:13.
Lewe volgens die Gulde Reël
Namate julle mekaar beter leer ken, sal julle natuurlik ook agterkom hoe julle gewoontes, smake en beskouings verskil. Soos die jong Mark tereg sê: “Jy moet onvolmaakthede te wagte wees.” As ’n mens onbuigsaam of selfsugtig is, veroorsaak dit spanning. So ook as jy van jou woonstelmaat verwag om groot veranderinge ter wille van jou aan te bring.
Fernando het die volgende gesê oor wat dit beteken om ’n woonstelmaat te wees: “Jy moet onselfsugtig wees en nie net aan jouself dink nie.” Sy opmerking stem ooreen met die bekende Gulde Reël, wat sê: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matteus 7:12). Fernando het byvoorbeeld gou agtergekom dat hy en sy woonstelmaat nie van dieselfde kamertemperatuur hou nie; hy het dit warmer verkies, maar sy woonstelmaat het verkies om in ’n koeler kamer te slaap. Die oplossing? Fernando sê: “Ek het vir my ’n kombers gekry.” Ja, soos Mark dit stel, “wees aanpasbaar. Jy hoef nie alles prys te gee waarvan jy hou nie, maar jy sal dalk een of twee dinge moet prysgee.”
Hier is nog ’n gebied waarop jy die Gulde Reël kan toepas: Leer om verdraagsaam te wees wat jou woonstelmaat se smaak betref. Sê jy dat jy nie van sy musiek hou nie? Wel, heel moontlik voel hy dieselfde oor jou musiek. As jou woonstelmaat se musieksmaak nie sedelik verdorwe is nie, kan jy dalk probeer om verdraagsaam te wees. Fernando sê: “Ek sou verkies het as my woonstelmaat van ander musiek gehou het. Maar ek raak gewoond daaraan.” Aan die ander kant kan ’n mens met oorfone na jou musiek luister sodat jy nie jou woonstelmaat, wat dalk studeer, pla nie.
As ’n mens die Gulde Reël toepas, kan onnodige verskille oor materiële besittings voorkom word. As dit byvoorbeeld jou gewoonte is om sommer net te vat wat in die yskas is—maar dit selde vervang—kan kwade gevoelens ontstaan. Terselfdertyd sal dit ook nie ’n goeie verhouding bevorder as jy kwaad word of jou woonstelmaat skeef aankyk wanneer hy iets gebruik wat jy gekoop het nie. Die Bybel moedig ons aan ‘om vrygewig en mededeelsaam te wees’ (1 Timoteus 6:18). As jy voel dat jy misbruik word, moet jy daaroor praat. Sê op ’n kalm en vriendelike manier wat jou pla.
Respekteer mekaar se persoonlike besittings. Dit is voorbarig om iets sonder toestemming te leen (Spreuke 11:2). Hou ook in gedagte dat jou woonstelmaat ’n behoefte aan privaatheid het. Lê verder in klein dingetjies goeie maniere aan die dag, deur byvoorbeeld te klop voor jy by sy kamer ingaan. As jy respek toon, sal jou woonstelmaat dit waarskynlik ook doen. “Dis nie vir een van ons ’n probleem om by die huis te studeer nie”, sê David. “Ons het albei die grootste respek daarvoor en gun mekaar die stilte wat ons nodig het. Maar soms sal ek in die biblioteek gaan studeer as my woonstelmaat iets anders wil doen.”
Wanneer ’n mens die Gulde Reël toepas, sal jy ook verantwoordelik optree deur byvoorbeeld jou deel van die huur betyds te betaal of jou deel van die huiswerk te doen.
Hoe om verskille op te los
In Bybeltye was daar “’n skerp uitbarsting van toorn” tussen twee gerespekteerde Christenmans, Paulus en Barnabas (Handelinge 15:39). Sê nou dieselfde gebeur met julle? Miskien bots julle persoonlikhede of het hy die een of ander irriterende gewoonte wat jou geduld tot die uiterste beproef. Moet julle paadjies as woonstelmaats noodwendig skei as julle ’n meningsverskil of ’n skerp woordewisseling gehad het? Nie noodwendig nie. Paulus en Barnabas kon blykbaar hulle verskille uitstryk. Dalk kan julle dieselfde doen voordat een van julle die drastiese besluit neem om uit te trek. Hier is ’n paar Bybelbeginsels wat nuttig kan wees.
● ‘Doen niks uit twisgierigheid of uit egotisme nie, maar ag met ootmoed die ander hoër as julleself.’—Filippense 2:3.
● “Laat alle kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal van julle af weggeneem word, saam met alle slegtheid. Maar word goedhartig teenoor mekaar, vol tere medelye, en vergewe mekaar vryelik net soos God julle ook deur Christus vryelik vergewe het.”—Efesiërs 4:31, 32.
● “As jy dan jou gawe na die altaar bring en jy daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar voor die altaar en gaan weg; maak eers vrede met jou broer en offer dan, wanneer jy teruggekom het, jou gawe.”—Matteus 5:23, 24; Efesiërs 4:26.
Die voordele
Talle jong (en ouer) Christene met woonstelmaats het uit eie ondervinding geleer hoeveel waarheid daar in die wyse koning Salomo se woorde steek: “Twee is beter as een” (Prediker 4:9). Ja, baie wat al saam met iemand gebly het, het gevind dat hulle daarby baat gevind het. “Ek het geleer hoe om beter met mense oor die weg te kom en om aanpasbaar te wees”, sê Mark. Renee voeg by: “Jy leer baie omtrent jouself. En woonstelmaats kan terselfdertyd ’n goeie invloed op jou hê.” Lynn erken: “Voordat ek by my woonstelmaats ingetrek het, was ek baie bederf. Maar ek het geleer om nie so onbuigsaam te wees nie. Ek besef nou dat my woonstelmaats nie noodwendig verkeerd is net omdat hulle dinge anders as ek doen nie.”
Dit verg weliswaar inspanning en opoffering om met ’n woonstelmaat oor die weg te kom. Maar as jy hard probeer om Bybelbeginsels toe te pas, sal jy en jou woonstelmaat nie net in vrede kan saamlewe nie—jy vind dalk selfs dat jy dit geniet om ’n woonstelmaat te hê.
[Voetnote]
a Van die name is verander.
b Sien die artikel “Waarom is dit vir my so moeilik om verblyf te deel?” in die nommer van 22 April 2002.
[Prent op bladsy 16]
Dit kan spanning veroorsaak as jy sommer net dinge vat wat nie joune is nie
[Prent op bladsy 17]
Wees bedagsaam teenoor mekaar