Die gouewattel verwelkom die lente in Australië
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË
DIE blomme wat hierdie bladsye versier, is nie sommer gewone blomme nie. Dit is welbekend en geliefd in Australië. Trouens, dit pryk al sedert 1912 op Australië se landswapen, en in 1988 is dit tot die amptelike blom van Australië verklaar. Dit het ook al op Australiese muntstukke en seëls verskyn. Waarom is dit so gewild?
Die antwoord kan deels gevind word in ’n gedig wat deur Veronica Mason geskryf en in 1929 uitgegee is. Nadat die gedig die sombere “olyfgroen en bruin en grys” beskryf wat die landskap in die laaste deel van die winter oorheers, maak dit vreugdevol bekend: “Maar nou het die lente gekom / Met bloeisels vir die wattelboom.”
Feitlik almal hou blykbaar van die nuus dat die lente voor die deur is. In Australië begin die lente terwyl die herfs oor die Noordelike Halfrond kruip. Die suidelike vasteland geniet ’n vroeë teken dat die lente op pad is—die gouewattel wat skielik blom. ’n Mens kan dus elke Augustus skoolkinders Mason se gedig hoor opsê. En in 1992 het die goewerneur-generaal van Australië 1 September tot Nasionale Watteldag verklaar.
Die gouewattel kondig natuurlik nie net die lente aan nie—dit doen dit op ’n bekoorlike en pragtige manier. Mason se gedig praat van “sierlike wattelbome wat kniebuigings maak”, met verwysing na die manier waarop die blomryke takke in die lentebriese buig en swaai. Wattelboom is egter nie die amptelike naam van hierdie boom nie. Dit behoort eintlik tot ’n interessante familie wat volop in warm klimate oor die hele wêreld voorkom.
’n Geharde en bekende familie
Die botaniese naam vir die gouewattel is Acacia pycnantha. Dit is ’n struik of kleinerige boom wat tussen vier en agt meter hoog word. Maar daar is ongeveer 600 tot 1 000 soorte akasias in Australië, waar dit wattelbome genoem word. Trouens, meer as die helfte van die akasiasoorte wat in die wêreld bekend is, word in Australië aangetref. In Europa en Amerika word die akasia dikwels mimosa genoem. Nog ’n soort akasia word dikwels in die Bybel genoem. God het beveel dat die verbondsark en dele van die tabernakel van akasiahout gemaak moes word.—Eksodus 25:10; 26:15, 26.
’n Bekende lid van die akasiafamilie is die sambreelvormige soort wat in Afrika voorkom. Die blare van hierdie akasia is ’n gunstelingvoedsel van kameelperde. Trouens, hulle sou die akasia kaal stroop as dit nie vir ’n unieke vennootskap tussen die boom en ’n soort mier was nie. Die boom voorsien die mier van ’n tuiste en nektar om te eet. Op sy beurt byt die mier die gulsige kameelperd, wat die saggeaarde reus aanspoor om aan ’n ander boom te gaan vreet. Lewer sulke vennootskappe nie merkwaardige bewys van intelligente ontwerp nie?
Australië se akasiasoorte word nie deur kameelperde bedreig nie. Dit het nietemin vyande, soos droogte, en hierteen het dit doeltreffende beskerming. Die akasiasaad se buitelaag is so hard dat dit op die een of ander manier beskadig moet word voordat water dit kan binnedring en dit kan begin groei. Hierdie sade is so hard dat tuiniers dit in kookwater moet week sodat die geswelde peule kan ontkiem wanneer dit geplant word. In die natuur kan ’n akasiasaad dekades lank rustend wees! Uiteindelik sal ’n bosbrand die harde saadjie laat ontkiem. Daarom is daar selfs gedurende die ergste droogtes ’n “saadbank” van akasias wat veilig in die grond lê en net wag om te herlewe.
Party geharde Australiese wattelbome word nou al jare lank na Afrika uitgevoer vir gebruik as ’n moontlike voedselbron tydens droogtes. ’n Groot voordeel is dat hierdie akasias in baie dor, onvrugbare grond aan die lewe kan bly. Sekere soorte kan selfs op sandduine groei! Hierdie bome bind die grond saam, voorsien dit van stikstof en dien as windskerms, waardeur dit ook die omgewing vir ander plante verbeter.
Die veelsydige wattelboom
Daar is wetenskaplikes wat sekere wattelsade as ’n moontlike voedselgewas beskou weens die hoë proteïeninhoud daarvan, en hulle vergelyk die voedingswaarde van die sade met dié van ander graansoorte. Die geroosterde sade het ’n aangename neutsmaak; wanneer dit gekook word, smaak sekere soorte soos lensies. Wattelsade is al tot meel gemaal, waarvan brood gebak en selfs pasta gemaak is. Party soorte wattelbome lewer tot tien kilogram saad per jaar.
Die welriekende wattelblom word gebruik om parfuum mee te maak. Daarbenewens word die akasiaboom op groot skaal benut om veevoer te voorsien en gronderosie te bestry. Maar ons het die nut van akasiahout nog skaars genoem.
Vroeë Australiese inboorlinge het boemerangs van akasiahout gemaak. Een soort wattelboom, Acacia acuminata, is al frambooskonfyt genoem omdat die hout ’n reuk soos dié van fyngemaakte frambose afgee net nadat dit gekap is. Maar dit was die gebruik van akasias in bouwerk wat daartoe gelei het dat dit wattelbome genoem is.
Die woord “wattel” is baie oud. Dit is oorspronklik toegepas op die hout wat gebruik is in die Middeleeuse Angel-Saksiese boumetode wat as die klei-en-lat-metode bekend gestaan het. Oorkruis geplaaste latte, wat wattels genoem is, is met ’n laag klei bedek om mure vir die gebou te maak. Vroeë Australiese nedersetters het akasiabome vir hulle klei-en-lat-huise gebruik. Mettertyd het die akasiabome die ou Engelse naam wattel gekry, en die naam word nog steeds gebruik.
Is dit nie merkwaardig hoe nuttig hierdie bome is nie? Maar wanneer dit in Australië lente word, dink mense nie aan die veelsydigheid van die wattelboom nie. Nee, wanneer komberse swaaiende, donsige blomme die heuwelhange goud kleur, word harte vrolik en kom gedigte in die gedagtes op. Die prag sowel as die nut van die boom herinner baie bewonderaars aan die vindingrykheid en briljantheid van die een wat “alles gebou het”, God.—Hebreërs 3:4.
[Prente op bladsy 16, 17]
Wattelblomme en -saadpeule
[Erkenning]
© Australian Tourist Commission
[Foto-erkennings op bladsy 15]
Wattelboom: © Copyright CSIRO Land and Water; seël: National Philatelic Collection, Australia Post; wapen: Used with permission of the Department of the Prime Minister and Cabinet