Wanneer dit in die middel van die dag donker word
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKERS IN ANGOLA EN ZAMBIË
‘DONKER in die middel van die dag? Onmoontlik!’ sê party dalk. Dit is nie net moontlik nie, maar gebeur etlike kere elke dekade—wanneer daar ook al ’n algehele sonsverduistering is. Wat veroorsaak ’n sonsverduistering, en waarom is dit so ’n skouspelagtige gesig? Die antwoord begin met die maan.
Weet jy hoe die maan se voorkoms verander terwyl dit om die aarde wentel? Wanneer die maan en die son aan teenoorgestelde kante van die hemel is, sien ons wat ons ’n volmaan noem in die ooste opkom terwyl die son in die weste ondergaan. Namate die dae verbygaan, kom die maan elke aand later op en beweeg dit stadigaan oor die hemelruim in die rigting van die opkomende son. Die verligte deel van die maan word al hoe kleiner totdat dit uiteindelik net ’n sekelmaan is. Wanneer die maan die hele dag in dieselfde deel van die hemel as die son is, verdwyn selfs daardie sekelmaan en is die maan, met sy donker kant na die aarde toe, feitlik onsigbaar. Dit word ’n nuwemaan genoem. Daarna keer die proses om, met die maan wat weg van die son af beweeg en uiteindelik weer vol word. Hierdie kringloop word nagenoeg elke 28 dae herhaal.
Die sleutel tot ’n sonsverduistering is die nuwemaan. Gewoonlik beweeg dit eenvoudig in die daglig verby die son sonder dat ons daarvan bewus is omdat die wentelbane nie op dieselfde vlak is nie. Maar soms lê die son, maan en aarde in ’n reguit lyn. Dan val die skaduwee van die maan op die aardoppervlak en veroorsaak dit ’n verduistering.
Sonsverduisterings is die gevolg van ’n unieke verhouding tussen die son, die maan en die aarde. Die son is ontsaglik groot, met ’n deursnee sowat 400 keer groter as dié van die maan. Maar interessant genoeg, die son is ongeveer 400 keer verder van ons af as die maan. Gevolglik lyk dit vir ons of die son en die maan omtrent ewe groot is. Daarom kan dit soms voorkom of die maan die son bedek.
So ’n algehele sonsverduistering kan net plaasvind wanneer die son, die maan en die aarde in ’n reguit lyn lê en die maan terselfdertyd in dié deel van sy wentelbaan is wat naby aan die aarde is.a Dan veroorsaak die punt van die maan se keëlvormige skaduwee donkerte al langs ’n smal strook van die aardoppervlak.
In die geval van die algehele verduistering van 21 Junie 2001 sou die skaduwee tot 200 kilometer wyd wees. Die skaduwee sou met sonop naby die oostelike kus van Suid-Amerika begin en oor die Suid-Atlantiese Oseaan beweeg, waar dit die langste sou duur, byna vyf minute. Nadat dit oor Angola, Zambië, Zimbabwe en Mosambiek beweeg het, sou dit met sononder naby die ooskus van Madagaskar eindig. Kom ons kyk hoe hierdie skouspelagtige verskynsel in die hemelruim vir waarnemers in Angola en Zambië gelyk het.
Voorbereidings vir die gebeurtenis
Professionele navorsers, amateursterrekundiges en baie ander het met hoë verwagtings na Afrika gestroom vir die eerste algehele verduistering van die nuwe millennium. Aangesien Lusaka, Zambië, die enigste hoofstad op die roete van die verduistering was, het baie besoekers daarheen gegaan om dit waar te neem.
Dit was moontlik die grootste toeriste-aantreklikheid wat Zambië al ooit gehad het. Net ’n paar dae voor die verduistering het Lusaka gewemel van duisende besoekers. Voorbereidings vir die gebeurtenis is maande voor die tyd getref. Hotelle, gastehuise, kampeerterreine en woonhuise was almal vol bespreek om die menigte besoekers te huisves.
Openbare uitkykplekke het die Lusaka-lughawe ingesluit, waar besoekers in die oggend kon aankom, die gebeurtenis kon waarneem en dan in die aand kon vertrek. Weke lank het televisie- en radiostasies die komende verskynsel aangekondig en herhaaldelik gewaarsku hoe gevaarlik dit is om met die blote oog na die son te kyk. Verkope van spesiale sonbrille het alle verwagtings oortref, en in baie winkels is dit uitverkoop.
Maar die verduistering op die vasteland van Afrika sou heel eerste in Angola, by die kusdorp Sumbe, waargeneem word. Daar sou waarnemers ’n algehele verduistering van vier en ’n half minute sien, die langste verduistering oor land.
Maande voor die verduistering is reklameborde wat die verduistering aangekondig en teen die gevare daarvan gewaarsku het, in Angola se hoofstad, Luanda, en in ander groot stede opgerig. Die maan se skaduwee sou deur die middel van die land beweeg, en daarom sou die hele Angola ten minste ’n goeie gedeeltelike verduistering sien. Luanda sou sien hoe 96 persent van die sonskyf bedek word. Die regering het in samewerking met privaat maatskappye gereël om miljoene spesiale sonbrille vir verspreiding in te voer. Baie is gratis vir die minderbevoorregtes gegee.
Die middelpunt van Angola se bedrywighede in verband met die verduistering was Sumbe, wat op ’n pragtige smal kusvlakte tussen die Suid-Atlantiese Oseaan en die Angolese sentrale plato geleë is. Die Sumbe-gebied het die ergste van die konflikte wat Angola geteister het, vrygespring, en besoekers vind dus ’n onbeskadigde dorp met ongeveer 25 000 inwoners, wat hartlik, vriendelik en uitgaande is. Om al die besoekers te huisves, is reëlings vir bykomende toeristegeriewe getref, en die plaaslike kragstelsel is verbeter. ’n Spesiale werkswinkel oor verduistering is vir wetenskaplikes, regeringsministers en humanitêre werkers van Angola en ander lande gereël. ’n Ontsaglike verhoog is op die strand opgerig vir die grootste vermaaklikheidsprogram wat tot nog toe in Sumbe gehou is.
Die groot dag breek aan
Een van die voordele daarvan om die verduistering in Angola waar te neem, was dat dit nie gewoonlik in Junie reën nie. Maar stel jou die ontsteltenis voor toe wolke die dag voor die verduistering oor die Sumbe-gebied inbeweeg het! Die hele aand en tot die volgende oggend toe het ’n dik kombers wolke oor die dorp gehang. Sou almal teleurgestel word wat daarna uitgesien het om die verduistering te sien? Teen die middel van die oggend het die lug begin ooptrek, en teen die einde van die oggend was die hemel blou en wolkloos. Wat ’n verligting! Net so was daar kommer in Zambië toe die hemel met dagbreek dynserig en bewolk was. Maar ook daar het dit net betyds oopgetrek. Luister terwyl ooggetuies vertel wat gebeur het.
Angola: “Ons het besluit om die verduistering waar te neem vanaf ’n hoë plek wat oor die see uitkyk. Terwyl die tyd nader gekom het, het menigtes op die dorp se strand bymekaargekom, asook by die uitkykplekke wat vir die waarneming van die gebeurtenis opsy gesit is. Om twaalfuur, kort voordat die verduistering sou begin, het baie hulle beskermende brille opgesit en begin kyk om die maan se eerste ‘hap’ uit die sonskyf te sien. Kort ná twaalfuur het die verduistering begin. Deur ’n verkyker of teleskoop was etlike sonvlekke—donker kolle op die son se oppervlak—sigbaar. Waarnemers het gesien hoe hierdie kolle die een na die ander deur die skaduwee verswelg word. Namate die verduistering gevorder het, het die temperatuur merkbaar gedaal en het die lig ’n onnatuurlike kleur begin aanneem. Eindelik, toe die laaste sekelvormige stukkie son voor die voortbewegende skaduwee geswig het, het dit donker geword.”
Zambië: “Die takkantoor van Jehovah se Getuies in Zambië is in Makeni, Lusaka, en was feitlik ideaal geleë vir die waarneming van die algehele sonsverduistering. Om 3:07 nm. het die maan voor die son begin inbeweeg. Skadustroke het oor die mure van geboue beweeg, en dit het gelyk soos lig wat op waterrimpels skyn. Die wind het gaan lê, en die voëls het stil geword. Die diere het hulle vir ’n nag se slaap begin voorberei. Om 3:09 nm., ’n paar sekondes voordat die son heeltemal verduister is, was daar van die sonskyf nog net ’n paar glinsterende ligpunte oor, en toe net een. Hierdie verskynsels staan onderskeidelik bekend as Baily-krale en die diamantring.b Daarna kon die chromosfeer, ’n ligrooi flits, gesien word, waarna die son heeltemal verduister is en dit donker geword het!”
Angola: “Die skitterende diamantringverskynsel het mense na hulle asem laat snak en laat uitroep. Toe, om 1:48 nm. plaaslike tyd, is die son heeltemal verduister. Reaksies het baie verskil. Party het net daarin belanggestel om foto’s te neem. Ander het saam begin uitroep: ‘Heeltemal! Heeltemal! Heeltemal!’ Ander weer het begin fluit en verbaas uitgeroep toe dit in die middel van die dag donker word. Dit het gelyk of vlamtonge van die son se atmosfeer, wat ’n temperatuur van ’n miljoen grade het, in alle rigtings uitskiet om die ligkrans te vorm. Ons kon boë brandende gas om die maan se donker buiterand sien. Skielik, asof tyd vorentoe gespring het, was die son nie meer heeltemal verduister nie en het ’n sonstraal van die anderkant van die skaduwee af geskyn.
“Toe die sonskyf begin verskyn, het ons gesien hoe die sonvlekke, wat vroeër verswelg is, een vir een uit die donkerte te voorskyn kom terwyl die son weer stadigaan sy bekende sirkelvorm aangeneem het.”
Zambië: “Die algehele verduistering hier het 3 minute en 14 sekondes geduur; daar was dus tyd om die ontsagwekkendheid van die gebeurtenis in te neem. Dit was donker, maar daar was ’n skemergloed bo die horison. Hoewel die hemel nog blou was, was planete sigbaar wat gewoonlik deur die son verberg word—Jupiter en Saturnus was byvoorbeeld duidelik sigbare ligpunte. Die skouspelagtigste aspek van die verduistering was seker die son se ligkrans. Dit was ’n pienk-wit gloed om ’n swart skyf. Waarnemers was in vervoering en het dit as ‘eenvoudig verbasend, pragtig’ beskryf. Die maanskyf het geleidelik verbybeweeg sodat al hoe meer van die son se oppervlak gesien kon word en die sonstrale die aarde weer ongehinderd kon bereik. Teen 4:28 nm. was die verduistering verby!”
Lesse wat uit die verduistering geleer kan word
Agterna het baie mense vertel hoe aangrypend die ondervinding vir hulle was. In Angola het ’n vrou gesê dat sy byna tot trane beweeg is. ’n Ander het gepraat van die pragtige gawe wat God voorsien het. En nog ’n ander het gesê dat net ’n liefdevolle Skepper hierdie skouspelagtige verskynsel sou voorsien sodat mense die ongelooflike prag van die aarde se kragbron kan waardeer.
Dit was duidelik dat baie mense in Afrika groot eerbied vir die Skepper en die Bybel het. Toe Jehovah se Getuies in die dorp Sumbe met ander oor die verduistering gepraat en genoem het dat dit maar net een van die wonderlike werke van Jehovah, ons Skepper, is, het die inwoners groot belangstelling getoon om die saak te bespreek. Baie het eksemplare van ’n onlangse Wagtoring oor hierdie wonderlike werke met graagte geneem.
Hierdie gebeurtenis in die hemelruim het miljoene mense gehelp om ’n paar minute lank van hulle probleme te vergeet en die aandag te vestig op iets wat waarlik opbouend en ontsagwekkend is. Nadat hulle pragtige aspekte van die son gesien het wat gewoonlik onsigbaar is, het party gedink aan die onsigbare maar selfs wonderliker heerlikheid van die Skepper daarvan, Jehovah God.
[Voetnote]
a Aangesien die wentelbane van die maan en die aarde ellipties is, verskil die skynbare grootte van die son en die maan effens na gelang van waar hulle in hulle wentelbane is. Wanneer die maan op die verste punt van sy baan om die aarde is, sal die donkerste deel van die maan se skaduwee dalk nie die aardoppervlak bereik nie. Wanneer dit gebeur, sien waarnemers op aarde wat in lyn met daardie skaduwee is, ’n ringverduistering, met die son wat as ’n helder ring om ’n donker skaduwee sigbaar is.
b Die verskynsel wat as Baily-krale bekend staan, word veroorsaak wanneer die sonlig deur die maandale skyn net voordat die son heeltemal verduister word. Die uitdrukking “diamantring” beskryf die voorkoms van die son net voordat dit heeltemal verduister word—’n klein deeltjie van die son steek nog uit, en dit lyk soos ’n wit ring met ’n helder skittering, soortgelyk aan dié van ’n diamantring.
[Diagram op bladsy 21]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
→ →
Son → Maan ⇨ Donker gebied ⇨ Aarde
→ →
[Erkenning]
© 1998 Visual Language
[Prente op bladsy 23]
Baily-krale
Heeltemal verduister
Diamantring
[Erkenning]
Courtesy Juan Carlos Casado, www.skylook.net
[Prent op bladsy 23]
Waarnemers van die verduistering in Lusaka, Zambië