’n Onverwagse ontmoeting met marmotte
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË
WIL jy graag meer uitvind omtrent ’n sku, fassinerende diertjie wat nogal vermaaklik kan wees? Kom ek vertel jou van ’n onverwagse ontmoeting wat ek en my vrou gehad het met ’n groep wollerige diertjies wat marmotte genoem word.
Ons is in die Dolomitiese Alpe, ’n bergreeks in noordelike Italië, vanwaar ons twee majestueuse bergpieke—die Latemar en die Catinaccio—kan sien. Die steil paadjie wat ons gekies het, lei na die hange van die Catinaccio. ’n Verskeidenheid blomme groei in die ooptes. Ons staan ’n rukkie stil om die pragtige Turkse kappie te bewonder. Iets anders wat ons aandag trek, is die swart vanielje-orgidee, ’n klein saamgestelde blom met ’n kenmerkende vanieljegeur. Teen die middel van die oggend het die son die bas van die verspreide naaldbome—Switserse steendenne, fynsparre en lorkebome—warm gebak sodat dit die lug met ’n sterk balsemgeur gevul het.
Later kom ons op ’n vallei sonder bome af. Aan ons regterkant is daar ’n steil, grasryke helling. Die gebied aan ons linkerkant is vol groot rotse. Skielik is daar ’n vinnige beweging. Ek kyk instinktief in daardie rigting, maar ek sien niks nie. Toe ek weer mooi kyk, sien ek ’n marmot wat op die punt van ’n rots sit. Miskien het ’n kolonie hulle tussen die rotse kom vestig.
Die marmot is die grootste lid van die eekhoringfamilie. Een van die bekendste spesies van hierdie mollige knaagdier is die aardmarmot van Noord-Amerika. Die marmotte wat in ons deel van die wêreld gevind word, is alpemarmotte. Hulle is sosiale diere en woon in kolonies.
Ons verlaat die paadjie en probeer hom van naderby bekyk, maar die marmot is weg. Ons wag en hoop dat die sku diertjie weer sal uitkom. Oomblikke later wys my vrou opgewonde na iets. ’n Marmot loer van agter ’n rots vir ons! Sy grysbruin pels lyk baie soos die rots, wat hom byna onsigbaar maak. Wanneer ek mooi kyk, sien ek dat ’n jonger marmot ook vir ons loer. ’n Bietjie verder weg sien ons nog ’n marmot—wat seker die pa moet wees. Hoewel ons nie seker is nie, dink ons dat dit ’n marmotgesinnetjie is.
Die “pa”-marmot is sowat 45 sentimeter lank en sit op sy agterpote, asof hy wag staan. Intussen beweeg die ander twee marmotte tussen die rododendronstruike rond. Wanneer marmotte kos soek, grawe hulle in die grond met hulle voorpote, wat met sterk kloue toegerus is. As hulle ’n wortel kry waarvan hulle hou, sit hulle regop en hou dit met hulle voorpote vas terwyl hulle daaraan knaag. Marmotte eet vroeg in die oggend en in die aand en neem ’n middagslapie tussenin. Hulle eet plante, sprinkane, kewers, wurms en voëleiers, maar hulle bêre nie kos in hulle ondergrondse gate nie.
Dit is vermaaklik om die marmotgesinnetjie dop te hou, maar wanneer ek nader probeer kom om foto’s te neem, bly hulle al drie roerloos staan. Wanneer ek weer beweeg, word die stilte in die vallei verbreek deur die “pa”-marmot wat twee keer skril fluit. Die “ma” en “kleintjie” verdwyn blitsvinnig deur twee nou openinge onder die rotse. Die “pa” kyk ’n oomblik stip na my. Dan fluit hy nog twee keer en hardloop vinnig weg om by die res van die gesin aan te sluit.
Verder af in die vallei vind ek ’n rots wat na ’n ideale waarnemingsplek lyk. Ek gaan lê bo-op die rots en wag. Nie lank daarna nie kom nog twee marmotte uit. Een klim op ’n groot rots en gaan lê plat op sy maag. Die ander een klim van die ander kant af op dieselfde rots. Wanneer hy by sy maat uitkom, lyk dit of hulle mekaar soen.
Ek hou die marmotte die hele tyd dop en verwonder my aan die feit dat hulle so vinnig beweeg en dan kort-kort gaan staan. As ek enigsins beweeg, bly hulle doodstil staan, lig hulle hulle kop op en kyk hulle waaksaam rond. Dan geniet hulle hulle middagslapie, asof ek nie eers daar is nie.
Ek kan sien dat die gras voor my vol gate is, want oral is daar hopies ligkleurige grond. Dit is die openinge tot die marmotte se noodgange, waarin hulle skuiling soek as hulle bewus word van gevaar gedurende die kort tye wat hulle uitkom om te eet. Die ondergrondse gange het ’n sentrale woongat wat met verskillende sytonnels verbind is. Elke tonnel kan tussen een en ses meter lank wees, en die marmotte gebruik hulle swart snorbaard om hulle pad deur hierdie doolhof te vind.
Gedurende die strawwe winter kom groepies van 10 tot 15 marmotte in woongate bymekaar waarin hulle hulle winterslaap deurbring. Jong en ou marmotte wat in die somer in verskillende woongate bly, kom nou in hierdie woongate bymekaar, wat voorheen vol hooi was, en gaan lê opgekrul langs mekaar vir hulle lang slaap. Hulle liggaamstemperatuur daal tot minder as agt grade Celsius, hulle hartklop neem af tot tussen drie en vyf slae per minuut en hulle haal net twee of drie keer per minuut asem—dit hou die marmotte net-net aan die lewe. Hulle word ongeveer een keer per maand wakker om hulle te ontlas op plekke wat spesiaal in ’n ander deel van die gang uitgegrawe is en lugdig afgeskort is. Die verskillende woongate waarin die marmotte hulle winterslaap deurbring, word ook met afskortings van mekaar geskei, maar dit word nie lugdig verseël nie. Sodoende sirkuleer net ’n bietjie lug deur die gange.
Wetenskaplikes probeer al lank om te verstaan hoe marmotte gedurende die winter aan die lewe bly. Daar is onlangs vasgestel dat hulle winterslaap deur sekere endokriene kliere, veral die skildklier, gereguleer word. Trouens, wanneer diere met ’n hormoonekstrak ingespuit word, gaan hulle nie in ’n winterslaap nie. Maar dit is interessant dat diere wat gedurende die somer aan intense koue blootgestel word, hierop reageer deurdat hulle skildklier en metabolisme vinniger werk sodat hulle ’n normale liggaamstemperatuur kan handhaaf. Klaarblyklik weet hulle instinktief dat dit nog nie tyd vir hulle winterslaap is nie.
Ons geniet dit so om die marmotte dop te hou, dat ons nie besef hoe laat dit is nie. Dit is al middag en ons moet van hulle afskeid neem en teruggaan tot onder in die vallei. Dit is skemer wanneer ons daar aankom. Ons het vandag baie natuurwonders gesien, maar die hoogtepunt van ons dag was ons onverwagse ontmoeting met die marmotte.
[Prent op bladsy 16]
Marmotte wat mekaar groet
[Prente op bladsy 17]
Alpeblomme
Baardklokkie
Turkse kappie
Edelweiss
[Foto-erkenning op bladsy 15]
Marmotte: Gerken/Naturfoto-Online.de
[Foto-erkenning op bladsy 16]
Marmotte: Gerken/Naturfoto-Online.de