Vorm ’n akkurate beeld
Dit is moeilik om ’n akkurate beeld van verskeie sake te vorm. Regerings en maatskappye vertel halwe waarhede. Die massamedia beloof dikwels om onbevooroordeeld te wees in hulle verslaggewing, maar is nie altyd nie. Dokters verduidelik nie altyd presies watter newe-effekte die medikasie kan hê wat hulle ons gee nie. Is daar ’n manier om betroubare inligting te verkry?
Met die koms van die Internet het baie gedink dat dit die antwoord sou wees om toegang te verkry tot betroubare bronne van inligting van regoor die wêreld. Dit is natuurlik moontlik, as jy weet presies waar jy met jou muis moet kliek. “Op sy beste kan die Internet meer mense gouer leer as enige ander instrument van die media. Op sy ergste kan dit mense gouer dom maak as enige ander instrument van die media”, het ’n hoofartikel in The New York Times gesê.
Die artikel het verder gesê: “Omdat die Internet deur ’n aura van ‘tegnologie’ omring word, glo oningeligtes die inligting wat hulle daarop kry, selfs makliker. Hulle besef nie dat die Internet, op sy ergste, maar net soos ’n oop rioolpyp is nie: ’n elektroniese kanaal vir onbehandelde, ongefiltreerde inligting.” Soos die skrywer getoon het, is daar ongelukkig geen sagteware wat van die gemors ontslae kan raak nie.
Enigiemand kan enigiets op die Internet, in ’n tydskrif of in ’n boek plaas. Ons moet derhalwe onderskeidingsvermoë gebruik en onsself opvoed sodat ons nie alles wat ons lees, vir soetkoek opeet nie. As ons akkurate inligting wil hê, moet ons seker maak dat dit van ’n betroubare bron kom. Dit kan tyd neem. Maar nadat ons dit gedoen het en ’n vollediger beeld van sake gevorm het, sal ons belangrike besluite met gesonde verstand, goeie oordeel en vertroue kan neem.