’n Reusetragedie
Erika is ses maande oud. Maar sy gewig en lengte is skaars dié van ’n een of twee maande oue baba. Al is hy so ondergewig, is sy bene en maag opgeswel en sy gesig is opgeblase en rond. Hy is bleek, sy hare is bros en dof en hy het letsels op sy vel. Hy is neulerig. Terwyl die dokter Erik se oë ondersoek, moet hy baie versigtig wees, want sy oogweefsel kan maklik skeur. Erik se verstandelike ontwikkeling is waarskynlik belemmer. Ongelukkig is hierdie kind se situasie glad nie uniek nie.
“DIT is ’n faktor by meer as die helfte van alle kindersterftes regoor die wêreld—’n verhouding wat deur geen ander besmetlike siekte sedert die Swart Dood geëwenaar is nie. En tog is dit nie ’n besmetlike siekte nie. Dit teister ook die miljoene oorlewendes wat kreupel, chronies vatbaar vir siekte en intellektueel gestrem gelaat word. Dit bedreig vroue, gesinne en uiteindelik die lewensvatbaarheid van hele gemeenskappe.”—The State of the World’s Children, Verenigde Nasies-kinderfonds.
Watter siekte word hier beskryf? Wanvoeding—spesifiek proteïen-energietekort (PEM), wat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) al “die stille noodtoestand” genoem het. Wat is die omvang van hierdie tragedie? Die WGO sê dat dit “’n rol speel by ten minste die helfte van die 10,4 miljoen kindersterftes elke jaar”.
Wanvoeding sluit ’n groot verskeidenheid siektes in, van ondervoeding weens ’n gebrek aan een of meer voedingstowwe—soos vitamiene en minerale—tot vetsug en ander dieetverwante chroniese siektes. Maar PEM “is verreweg die dodelikste vorm van wanvoeding”, sê die WGO. Die slagoffers is hoofsaaklik kinders onder vyfjarige ouderdom.
Dink vir ’n oomblik aan Erik, wat aan die begin genoem is, en aan die miljoene kinders wat aan wanvoeding ly. Hulle is nie verantwoordelik vir die situasie waarin hulle hulle bevind nie, en hulle kan ook nie daaruit kom nie. Die kindervoedingkundige Georgina Toussaint het vir Ontwaak! gesê: “Diegene wat ly en die prys betaal, is die onskuldigste en tog die kwesbaarste.”
Party neem dalk aan dat die probleem onvermydelik is—dat daar eenvoudig nie genoeg kos vir almal is nie. Die ironie van die saak is dat ons volgens die WGO “in ’n wêreld van oorvloed lewe”. Daar is genoeg kos vir alle mense op aarde—trouens, meer as genoeg. Daarbenewens is wanvoeding die maklikste siekte om te voorkom en die goedkoopste om te genees. Laat hierdie feite jou nie verontwaardig voel nie?
Wie is die slagoffers?
Wanvoeding is nie tot kinders beperk nie. Volgens ’n WGO-verslag van Julie 2001 “werp wanvoeding lang skaduwees oor byna 800 miljoen mense—20% van alle mense in die ontwikkelende wêreld”. Dit beteken dat 1 uit elke 8 mense in die wêreld daaraan ly.
Hoewel die meeste ondervoede mense in Asië gevind word—hoofsaaklik in die suidelike en sentrale gebiede—het Afrika die bevolking met die hoogste persentasie ondervoede mense. Party ontwikkelende lande in Latyns-Amerika en die Karibiese eilande is volgende op die lys.
Kom wanvoeding ook in ontwikkelde lande voor? Ja. Volgens The State of Food Insecurity in the World 2001 ly 11 miljoen mense wat in nywerheidslande woon, aan wanvoeding. ’n Verdere 27 miljoen ondervoede mense woon in lande wat in ’n sogenaamde oorgangsfase is, veral dié in Oos-Europa en die republieke van die voormalige Sowjetunie.
Waarom het wanvoeding so ’n ernstige probleem geword? Is daar enigiets wat die toestand van ondervoede mense nou reeds kan verbeter? Sal ons planeet ooit vry wees van wanvoeding? Die volgende artikel sal hierdie vrae bespreek.
[Voetnoot]
a Nie sy regte naam nie.
[Tabel/Kaart op bladsy 4]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
LANDE MET BEVOLKINGS WAT DEUR WANVOEDING BEDREIG WORD
LAE RISIKO
MEDIUMRISIKO
HOË RISIKO
GEEN RISIKO OF ONVOLLEDIGE DATA
[Prent op bladsy 3]
Mense in Soedan wag vir noodleningsvoorraad
[Erkenning]
UN/DPI Photo by Eskinder Debebe