Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 7/8 bl. 14-17
  • Barcelona—’n Opelugmuseum met kleur en styl

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Barcelona—’n Opelugmuseum met kleur en styl
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Nuwe stad verrys
  • Nuwe kuns om die stad te verfraai
  • Tussen die berge en die see
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2003
  • ‘Gelukkig is almal wat op Jehovah bly wag’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Die Olimpiese Spele in Barcelona—Roem teen watter prys?
    Ontwaak!—1993
  • “Aangesien ons hierdie bediening het . . . , gee ons nie moed op nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 7/8 bl. 14-17

Barcelona—’n Opelugmuseum met kleur en styl

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE

STEL jou vir ’n oomblik voor dat jy deur ’n groot kunsgalery stap. Talle interessante kunswerke word ten toon gestel wat onmiddellik jou verbeelding aangryp. Oral waar jy kyk, sien jy ’n eindelose verskeidenheid asemrowende, buitengewone vorms, ontwerpe en kleure. Maar hierdie ongewone kunsversameling word nie in ’n gebou of paleis gevind nie. Die stad Barcelona is hierdie ontsaglike opelugkunsmuseum—en die Quadrat d’Ora (Goue Buurt) is veral noemenswaardig. Die kunswerke wat ten toon gestel word, is nie skilderye of beeldhouwerke nie, maar die geboue self. En dit bied besoekers ’n ongelooflike verskeidenheid styl en versierings.

Barcelona is geleë langs Spanje se noordoostelike Mediterreense kus, net 160 kilometer suid van die Franse grens, en lyk waarskynlik meer soos ’n Europese stad as enige ander stad in Spanje. Oor die afgelope honderd jaar het dit sinoniem geword met argitektoniese nuwighede en artistieke styl.

Hoewel Barcelona van tyd tot tyd deur die Romeine, die Wes-Gote, die More en die Franke verower is, het dit as ’n handelsentrum gegroei. Teen die 14de eeu het dit Spanje se belangrikste nywerheidstad en hawe langs die Mediterreense kus geword. Die Gotiese geboue en die katedraal, wat vandag bekende geboue in die hartjie van die stad is, dateer uit daardie eeu. Die prag van Gotiese argitektuur (1), waarin gevorderde en ingewikkelde boutegnieke gebruik is, getuig van Barcelona se rykdom en welvaart gedurende daardie tyd.

In die 16de eeu het Spanje hom op die Weste begin toespits, aangesien handel met die kolonies winsgewender was. Maar toe die industriële revolusie in die 19de eeu begin het, het Barcelona die hoofstad van Spanje se tekstielnywerheid geword, en die stad het weer begin floreer.

’n Nuwe stad verrys

Die vinnige uitbreiding gedurende die 19de eeu het rykdom vir die stad beteken, maar dit het ook probleme veroorsaak. Gedurende die tweede helfte van daardie eeu was daar ’n bevolkingsontploffing in Barcelona, en tog het die stadsgebied nie uitgebrei nie. Iets moes aan die oorbevolking gedoen word. Die siviele ingenieur Ildefons Cerdà is die taak opgedra om ’n plan te ontwerp om die omliggende gebied te ontwikkel en die stad uit te brei.

Cerdà se plan, wat in 1859 ontwerp is, het as L’Eixample, of die uitbreiding, bekend gestaan, en dit is wat hierdie middestadsgebied vandag genoem word. Volgens sy plan sou boomryke strate en vierkantige blokke geboue—feitlik volmaak simmetries gerangskik—’n kruis-en-dwars-ruitpatroon vorm. ’n Nuwe indrukwekkende, gesonder Barcelona sou verrys.

Die stad het vinnig in ooreenstemming met Cerdà se plan uitgebrei. Elke blok geboue het ’n unieke ontwerp, wat besoekers vandag die geleentheid gee om karaktervolle, uiteenlopende en pragtige argitektoniese style te sien. Stylvolle lane en boulevards is ook by die ontwerp ingesluit. Volgens Robert Hughes se boek Barcelona is L’Eixample ‘weens sy argitektuur een van die interessantste stadsgebiede in Europa’.

Danksy Barcelona se groeiende welvaart was dit die gasheerstad vir die Wêreldtentoonstelling in 1888. Die Arc de Triomf (2) (Triomfboog), wat naby die middel van die stad geleë is, is gebou om daardie belangrike gebeurtenis te herdenk. Maar hierdie ongewone monument getuig ook van die koms van ’n kunsbeweging wat Barcelona uniek onder die stede van die wêreld gemaak het.

Nuwe kuns om die stad te verfraai

Aan die begin van die 20ste eeu het Art Nouveau—’n sierkunsstyl wat deur vorms in die natuur beïnvloed is—regoor Europa en die Verenigde State begin floreer.b Barcelona het die nodige geld gehad sowel as ’n reeds ontwerpte plan om die stad te verfraai en argitekte met nuwe idees wat gretig was om te eksperimenteer. Art Nouveau het die stad dus sy unieke voorkoms gegee. Antoni Gaudí (1852-1926) was die grootste voorstander van die nuwe kunsvorm, en hy het ’n onuitwisbare merk op Barcelona se voorkoms gelaat.

Die meeste voorbeelde van Gaudí se beste werke, waarvan verskeie Wêrelderfenisgeboue is, kan in Barcelona gevind word. Casa Milà (3), of La Pedrera, wat naby die middestad op die Passeig de Gràcia geleë is, is ’n noemenswaardige voorbeeld. Daar is nie een reguit muur in die gebou nie. Die golwende voorkant lyk of dit uit sandsteen gebeitel is. Smeeysterrelings wat soos trosse blare en braambosranke lyk, versier die buitekant van die gebou. Binne neem geboë plafonne en kolomme elke denkbare vorm aan.

Nog ’n uitsonderlike voorbeeld van Gaudí se vernuf is die Casa Batlló (4), wat ook op die Passeig de Gràcia geleë is. Gaudí het van 1904 tot 1906 ’n gebou herskep wat aan Josep Batlló i Casanovas, ’n ryk nyweraar, behoort het. Die argitek het ’n huis ontwerp wat lyk of dit uit ’n sprokieswêreld kom. Die golwende dak lyk soos ’n dinosourus se ruggraat, en die teëls is soos visskubbe. ’n Mens moet die gebou sien om dit te glo.

Gaudí se onvoltooide meesterstuk, die Sagrada Familia-kerk (5), is moontlik die merkwaardigste voorbeeld van sy oorspronklikheid. Die vier torings aan die noordelike voorkant lyk soos gestolde was wat langs die kante van vier toringhoë kerse afgeloop het. Hierdie torings staan hoog bo die omliggende geboue uit en het die internasionale simbool van Barcelona geword.

Net so ongewoon is die Parc Güell (6), ’n park wat deur Gaudí ontwerp is en op ’n heuwel aan die westekant van die stad geleë is. Vervormde beeldhouwerke en pilare, veelkleurige mosaïeke en buitengewone geboue en skoorstene vorm ’n kontras met die pragtige tuine. Nog ’n fees van vorm en kleur is die Palau de la Música Catalana (7) (Musiekpaleis) wat deur Gaudí se tydgenoot, Domènech i Montaner, ontwerp is.

Tussen die berge en die see

Barcelona se ligging, sowel as sy argitektoniese erfenis, gee die stad ’n besondere atmosfeer. Die Collserola-berge omsluit die stad aan die weste, en die Middellandse See is sy oostelike grens. Die see het baie bygedra tot Barcelona se welvaart as Spanje se belangrikste handelshawe. Dit is geen wonder dat ’n standbeeld van Christophorus Columbus (8) naby die hawe in die rigting van die see wys nie.

Die berge en die see gee die stad ook ’n gematigde klimaat wat ideaal is vir lewe in die buitelug. Die strate is heeljaar van vroegoggend tot laataand vol mense. Op so te sê elke hoek is daar straatkafees en restaurante wat verbygangers met die geur van varsgemaalde koffie lok of hulle die geleentheid gee om plaaslike disse te proe. Voedselmarkte, soos die beroemde Boquería langs die boomryke La Rambla-laan, verkoop feitlik alle soorte vrugte, groente of vis denkbaar.

Maar ’n mens kan nie Barcelona besoek sonder om na die Montjuïc, ’n styl heuwel naby die see, te gaan nie. Daar kan besoekers museums en kunsgalerye besoek, asook asemrowende uitsigte oor die stad en die Middellandse See geniet. Die hoofkompleks wat vir die Olimpiese Spele van 1992 gebruik is, is ook op die Montjuïc. Jehovah se Getuies gaan Barcelona van 31 Julie tot 3 Augustus vir ’n internasionale byeenkoms besoek. Hierdie byeenkoms sal by die ontsaglike Camp Nou-sokkerstadion gehou word, waar daar genoeg plek vir al die afgevaardigdes sal wees.

Hoewel Barcelona, soos die meeste groot stede, sy probleme het, geniet besoekers gewoonlik sy Mediterreense atmosfeer. Die blommestalletjies en kafees van La Rambla, die nou straatjies en antieke prag van die Gotiese Buurt en die stad se fassinerende argitektuur maak Barcelona ’n opelugmuseum met kleur en styl wat min mense kan vergeet.

[Voetnote]

a Hierdie naam is Katalonies, die amptelike taal van Barcelona en die omliggende streek Katalonië. Dit is ’n Romaanse taal wat aan Spaans en Frans verwant is. Die meeste mense in die stad praat Spaans en Katalonies.

b In Spanje word hierdie kunsstyl Modernismo genoem.

[Kaart op bladsy 14]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Barcelona

Madrid

Sevilla

[Prent op bladsy 16]

Ventilators en skoorstene van Casa Milà

[Erkenning]

Godo-Foto

[Foto-erkennings op bladsy 15]

Foto’s hierbo: Godo-Foto

[Foto-erkennings op bladsy 17]

Sandra Baker/Index Stock Photography

Godo-Foto

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel